Wintersaad so lyk pryse vanjaar

Gepubliseer: 4 Maart 2024

358
Christiaan Vercueil,
landbou-ekonoom,
Graan SA, christiaan@grainsa.co.za

Saad bly seker een van ’n produsent se heel belangrikste insette, alhoewel die prys nie so beduidend soos ander insette s’n is nie. Die genetiese potensiaal van ’n kultivar bepaal uiteindelik die potensiële produksie en winsgewendheid van ’n wintergraanprodusent en is daarom die beginpunt om ’n suksesvolle oes te vestig.

Vandat die teling-en-tegnologie-heffing op koring agt jaar gelede geïmplementeer is, is baie goeie vordering in die saadmark opgemerk:

  • Nuwe saadmaatskappye het die koringsaadmark betree, asook ’n tegnologieverskaffer.
  • In 2023 is elf nuwe kultivars deur die tegniese komitee vir koring goedgekeur vir finale vrystelling.
    1. Van hierdie elf was vyf vir besproeiing, vyf vir die Wes-Kaap en een vir die noordelike droëlandareas.
    2. Daar is ook 20 ander kultivars op voorlopige vrystelling goedgekeur.
  • Nuwe tegnologie in die pyplyn sluit in Bioceres se HB4-droogtebestande geen wat op koring getoets gaan word.

In hierdie artikel word die jongste saadpryse van koring- en garskultivars wat kommersieel in die mark beskikbaar is met produsente gedeel asook wenke om seker te maak die beste word uit die saad gehaal.

Alle maatskappye wat koring- en garssaad bemark, is genader om aan die prysvergelykings deel te neem.

Tabel 1 dui wintergraansaadpryse vir 2024 aan. Daar is altesaam nege koringkultivars vir die noordelike droëlandgebiede en 18 besproeiingskultivars beskikbaar, terwyl agt verskillende kultivars vir die Wes-Kaap kommersieel beskikbaar is. Daar is vier garskultivars waaruit produsente in die Wes-Kaap kan kies.

Koringsaadpryse het in 2024 met ge­middeld 1,4% gestyg. Sommige maatskappye se kultivars het met 10,3% gestyg terwyl ander maatskappye se kultivars in geheel goedkoper geword het. Dit is interessant om daarop te let dat koringsaad in die noordelike produksiegebiede gemiddeld R601 kos vir ’n 25 kg-sak, terwyl saad in die Kaap R572 per 50 kg-sak kos.

Die inligting in Tabel 1 neem nie afslag vir vroeë bestellings en grootmaataankope in ag nie. Dit is belangrik om self navraag by die saadmaatskappye te doen om te verseker dat die beste moontlike prys beding word.

Kultivarkeuse
Belangrike riglyne wat gevolg behoort te word wanneer kultivarkeuses uitgeoefen word, sluit die volgende in:

  • Plant ’n pakket van kultivars om risiko’s ten opsigte van agronomiese eienskappe, plaag- en siekteweerstand, valgetal en gradering te versprei.
  • Moet nie ’n staatmakerkultivar summier met ’n nuwe en onbekende kultivar vervang nie. Plant die nuwe/onbekende kultivar eers op ’n kleiner skaal aan en maak seker dat dit aan persoonlike vereistes voldoen.

Raadpleeg die LNR-Kleingraan se handleidings vir wintergraanverbouing en verseker dat die kultivar onafhanklik geëvalueer en volgens eienskappe wat op die plaas belang­rik is, presteer. Sien ook die wintergraankultivarbylaag waarin die resultate van die nasionale kultivarevaluasieprogram deur die LNR-Kleingraan gepubliseer is. Raadpleeg die betrokke kundiges indien inligting ontbreek of onsekerheid bestaan. Waak daarteen om ’n ongetoetste kultivar aan te plant.