Groot onkunde heers by die gebruik van swammiddels

Gepubliseer: 4 Maart 2024

355
Sakkie Koster, akkerbou-raadgewer

Dit is verstommend hoe verskillend bespuitingspraktyke in die veld verstaan word – en hoeveel onkunde daar eintlik is wanneer dit by swammiddels kom. Die eienskappe van gewasbeskermings­produkte verskil aansienlik in hulle opname, translokasie en werking en dié middels moet dus korrek aangewend word.

Watervolumes kan nie sonder meer na goeddunke gesny word of na die produk wat die laagste watervolume vereis, aangepas word nie. Swammiddels het spesifieke eienskappe waarvan kennis geneem moet word. In hierdie artikel word daar veral op hierdie eienskappe gefokus om doeltreffende toe­diening te verseker.

Die eerste beginsel om van kennis te neem is die verskil tussen voorkomende en kuratiewe bespuiting. Dit kan die beste geïllustreer word aan die hand van Figuur 1. Sigbare letsels word eers op ’n baie laat stadium waargeneem, nadat die myselium alreeds in die blaar versprei het om sodoende letsels te maak.

Figuur 1: Verduideliking van wat voorkomende behandeling is en wat kuratiewe behandeling is.

Swammiddels se werking
Swammiddels is besonder spesifiek in hulle werking. Sekere middels soos die strobiluriene is uiters goed as dit voorkomend of in ’n vroeë stadium van infeksie aangewend word, maar minder effektief as dit kuratief aangewend word. Die triasole daarteenoor het ’n heelwat wyer aanwending en sommige van hulle kan selfs sporulasie onderdruk. In die meeste gevalle van sigbare letsels is dit beter om ’n kombinasie van die twee produkte te gebruik omdat al die bogenoemde stadiums voorkom. Lees dus die etiket deeglik om kennis te neem van die eienskap en tyd van aanwending van elke produk.

Translokasie
Die tweede belangrike eienskap van swammiddels­ is dat hulle uiters swak in die plant getranslokeer word. So is gevind dat translokasie wel in die xileem kan plaasvind, maar nie in die floëem nie. Die produk word dus vorentoe in die blaar getranslokeer, maar nie terugwaarts nie. Dan is daar sommige van die swammiddels wat glad nie getranslokeer word nie, soos in Figuur 2 getoon. Dit is dus algemeen bekend dat swammiddels heelwat meer effektief is as dit voorkomend aangewend word.

Figuur 2: Die translokasie van swammiddels vanaf die area toegedien.

Watervolume
In al die gevalle is die deeglike benatting van die hele plant besonder belangrik, veral van die onderste blare. Die aanbevole druppels per vierkante sentimeter (en dus die aanbevole watervolume per hektaar) is van die uiterste belang vir doeltreffende beheer. In Tabel 1 is ’n opsomming van die verskeie etikette om ’n aanduiding te gee van wat die verwagte watervolume behoort te wees vir doeltreffende beheer van verskeie produkte.

Navorsing het getoon dat waar daar teruggesny word op die watervolume, die aantal druppels per vierkante sentimeter drasties afneem – eintlik tot onder die aanvaarde norm – veral op die onderste blare. In Tabel 2 is dit duidelik dat die gewenste aantal druppels aansienlik afgeneem het met die vermindering in die watervolume wat gespuit word.

Toerusting
Verdere navorsing het getoon dat die gebruik van kousbalkspuite om binne die gewas te penetreer, baie beter resultate lewer as ’n gewone spuit. Daar is ook voorgestel dat die spuitpunt met ’n hoek van 35˚ na voor gestel word om beter penetrasie te gee. Waar gewone spuite gebruik is, het die twin flat-spuitpunte beter resultate gelewer as die gewone platwaaierspuitpunte. Die gebruik van die spuitpunt teen die regte druk en spoed is uiters belangrik en die inligting word van die tabelle af­gelees. Figuur 3 toon duidelik die doeltreffendheid van twee identiese spuite, een met ’n kousbalk en een sonder kousbalk.

Figuur 3: Die eerste stel watersensitiewe papiertjies is die van ’n gewone spuit en die tweede stel is die van ’n kousbalkspuit, beide teen 150 ℓ/ha water op sojabone.

Let op dat geen penetrasie binne die gewas verkry is met die gewone spuit nie. Die doelwit om bolwurm (ook ’n swam) raak te spuit, het dus misluk, alhoewel die blaredak bo-op redelik benat is. Die kousbalkspuit het wel sy teiken bereik en die bolwurm is doeltreffend beheer. Dit is noodsaaklik dat watersensitiewe papiertjies uitgesit word om die doeltreffendheid van die spuitaksie te meet en om seker te wees die teiken is bereik.

Spoed is natuurlik die ander groot pro­bleem wat die doeltreffendheid van die spuittoerusting beïnvloed. Vervaardigers van spuittoerusting beveel maklik ’n spoed van tot 20 km/h aan. Die vervaardigers van spuitpunte vertel egter ’n ander storie. Hulle beveel aan: “Apply crop protection chemicals according to good, professional practices at maximum operating speeds of 6 km/h tot 8 km/h (with air induction type nozzles, up to 10 km/h). As wind velocities increase, reduce operating speed.” Spuit­punte word dus ontwikkel om ’n sekere watervolume teen ’n spesifieke druk en spoed te lewer om die vereiste druppels per vierkante sentimeter te lewer.

Hierdie feit word in Figuur 4 geïllustreer waar die spoed verhoog is vanaf 8 km/h na 15 km/h. In dié geval is dit duidelik dat die bespuiting teen 15 km/h se spoed te hoog was en dat die agterkant van die aar slegs 37% benat is teenoor 51% toe daar teen 8 km/h gespuit is.

Figuur 4: Die effektiwiteit in benatting tussen ’n bespuiting teen 8 km/h en 15 km/h.

Die keuse van die regte spuitpunt is dus deurslaggewend. Waar die spuitpunt op die grond gerig is, is die gebruik van ’n “air induction even flat-tipe” ’n goeie keuse omdat dit minder windgevoelig is. Sodra die gewas ’n blaredak vorm, moet eerder oorgeskakel word na ’n dubbele” flat fan-tipe” wat 35˚ na voor en agter wys om beter penetrasie te kry. Hoëveld Toerusting te Bethal het onderneem om die verskillende spuitpunte (veral die nuwes) te evalueer sodra die gewasse ’n blaredak vorm in die seisoen. Hulle sal dan terugvoer gee rakende die effektiwiteit van die spuitpunte om die blaredak te penetreer.

Gevolgtrekking
Landbou bly ’n wetenskap wat van die begin tot die einde korrek uitgevoer moet word vir optimale produksie. So is bespuiting ook ’n wetenskap wat gebaseer is op die korrekte uitvoering van die bespuitingspro­ses. Die gevolg van verkeerde uitvoering is weerstand: weerstand by swamme, weerstand by insekte en weerstand by onkruide – met die produsent wat daarvoor moet betaal. Die voorgeskrewe watervolume of druppels per vierkante sentimeter is ’n vereiste vir volgehoue doeltreffende beheer.

Bronne

  1. Riaan van der Merwe, Corteva
  2. Hoëveld Toerusting, Bethal
  3. Michigan State University
  4. Ohio State University