Byvoegmiddels het groot rol in gewasbeskerming

Gepubliseer: 4 Maart 2024

226
Dr Brian de Villiers, onafhanklike byvoeg­-middelkonsultant

Elke gewasbeskermingsproduk (GBP) het ’n sekere potensiaal wat dit kan bereik as alles perfek is. Ongelukkig is daar omgewings- en ander faktore wat veroorsaak dat die GBP nooit hierdie volle potensiaal bereik nie.

Waterkwaliteitsfaktore soos opgeloste katione, pH en oppervlakspanning kan die effektiwiteit van verskeie produkte benadeel. Verder kan die toedieningsproses ook tot swak beheer bydra. ’n GBP moet opgeneem word of op die blaar werk lank nadat die water verdamp het. Hierdie prosesse ge­skied dikwels onder suboptimale omgewingstoestande. Sommige van die faktore is beheerbaar, maar ongelukkig is daar heelwat faktore waaroor die produsent minder beheer het.

Verskeie GBP’s is egter met byvoegmiddels ge­registreer, juis om die invloed van eksterne faktore te minimaliseer. Byvoegmiddels verminder die invloed van nadelige faktore sodat die GBP meer van die volle potensiaal bereik. Sodoende word beheer verhoog, die kans op ’n herbespuiting verlaag en die kompetisie van onkruide en die skade van siektes en insekte so ver moontlik beperk.

Sulfonielureum-oplosbaarheid by ’n alkaliese (links) versus ’n suur pH.

Dit begin in die spuittenk
Water wat vir spuitdoeleindes gebruik word, is gewoonlik alkalies. Dit beteken dat dit ’n pH van meer as 7 het en dat dit byvoorbeeld insekdoders aan alkaliese toestande blootstel. Dit veroorsaak ’n afbraakproses van die insekdoder bekend as alkaliese hidrolise. Indien niks omtrent die pH gedoen word nie, word ’n laer as beplande dosis dus toegedien. Gelukkig is daar buf­fers op die mark wat die pH van die water hanteer en die leeftyd van insekdoders drasties verleng. Indien insekdoders dus met buffers geregistreer is, moet dit gebruik word.

Wees egter bewus daarvan dat daar sekere on­kruiddoders soos die sulfonielureums is waar die oplosbaarheid en effektiwiteit deur ’n lae pH benadeel word. ’n Lae pH kan ook soms tot onmengbaarheid bydra. Dit is dus belangrik om etikette deeglik te be­studeer en altyd die geregistreerde byvoegmiddel te gebruik. Hou ook deurgaans al die tenkmengselkomponente in ag.

Vanaf die spuitpunt tot op die blaar
Nadat die spuitdruppel uit die spuitpunt vrygelaat is, word dit aan vele nadelige faktore blootgestel. Ultrafyn spuitdruppels mag dalk nooit die teiken bereik nie en kan vinnig verdamp. Verder kan die bedekking en blaredak-indringing van fyn spuitdruppels baie swak wees. Dit is gewoonlik nie goed genoeg om net die boonste dele van die plant te bedek nie. Spuitdruppels behoort alle dele van die gewas of onkruid te bereik. Dit is hier waar neerslaghulpmiddels help om meer druppels op alle dele van die plant te kry. Verder verlaag dit ook wegdrywing om moontlike skade op aangrensende gewasse te beperk.

Dit is egter nutteloos om meer druppels op die teiken te kry indien dit nie behou word nie. Omdat water ’n hoë oppervlakspanning het, is spuitdruppels geneig om van die blaar af te spat. Dit beteken dat daar minder bedekking is en dat die beheer verswak. Dit is een van die redes waarom benatters en oliebyvoegmiddels soms aanbeveel word. Beide hierdie byvoegmiddels verlaag die oppervlakspanning van water. Dit beteken dat druppels minder van die blaar afspat en meer bedekking bewerkstellig. Dit is uiters noodsaaklik om altyd die etiket-aanbevole benatter of olie te gebruik om die bedekking te optimaliseer.

Terwyl die spuitdruppel op die blaar vertoef
Die tydperk wat die spuitdruppel op die blaar vertoef, is een van die belangrikste fases vir effektiwiteit. Soos die druppel op die blaar uitdroog, verminder die oplosbaarheid van produkte in die spuitmengsel. Dit is die fase waar antagonistiese katione aan sensitiewe onkruiddoders soos glifosaat en kletodim bind. Dit beteken dat die onkruiddoder wat vir opname beskikbaar is, nie meer glifosaat of kletodim is nie, maar eerder die kalsium-, magnesium- of natriumsout van die onkruiddoders. Kalsium-glifosaat is baie minder opneembaar as glifosaat alleen en dit beïnvloed die totale opname asook die opnametempo. Dieselfde beginsel geld vir magnesium, natrium en swaarmetale soos yster wat in spuitwater voorkom. Hierdie reaksies kan ook vir antagonistiese blaarvoedings en ongeregistreerde mengsels geld. Dit is waarom dit so belangrik is om altyd by etiketaanbe­velings oor waterkwaliteit en tenkmengsels te hou.

Gelukkig is daar ammoniumsulfaat-byvoegmiddels wat geregi­streer is om opgeloste antagonistiese katione onskadelik te stel. Die sulfaatioon bind aan die antagonistiese katioon voordat die katioon aan die glifosaat kan bind. Dit stel die onkruiddoder in staat om vinniger en meer effektief opgeneem te word. Die ammonium-katioon speel ook ’n belangrike rol om opname te verbeter. Neem asseblief kennis dat ammoniumsulfaat nie ’n wonderbyvoegmiddel is nie, daarom sal dit nie altyd die antagonisme van ongeregistreerde tenkmengsels oplos nie. Gebruik ook slegs die waterkondisioneerder wat spesifiek op die onkruiddoderetiket aanbeveel word.

’n Verdere probleem op die blaar is swak bedekking omdat individuele spuitdruppels as gevolg van oppervlakspanning nie genoeg versprei nie. Omdat die spuitoplossing ’n hoë oppervlak­spanning het, is die druppel baie rond, met min kontak met die blaar. Dit is hier waar benatters en olies ’n verdere rol speel. Omdat beide hierdie byvoegmiddelgroepe die oppervlakspanning verlaag, veroorsaak dit druppels wat meer uitsprei en ’n groter kontak­area met die blaar het.

Spuitdruppelresidufase
Die spuitdruppelresidufase is die volle tydperk nadat die water uit die spuitdruppel verdamp het totdat die GBP die volle werking op die blaar verrig het. Die spuitdruppelresidu moet van so ’n aard wees dat dit ’n optimale omgewing vir beide kontak- en sistemiese GBP’s bied, lank nadat die water verdamp het. Alles kan tot op hierdie stadium perfek wees, maar die spuitdruppelresidufase is die finale toets vir GBP-effektiwiteit. Dit is hier waar benatters, olies en kleefmiddels die produk in staat stel om optimale opname en/of kontak-­aksie te hê. Selfs ammoniumsulfaat speel hier steeds ’n rol met sekere onkruiddoders om opname verder te optimaliseer. Die keuse van byvoegmiddel is deurslaggewend vir hierdie fase. Dit is van kardinale belang om die korrekte byvoegmiddels te gebruik om hierdie finale fase vir GBP-effektiwiteit te optimaliseer.

Druppelverspreiding met verskillende benatters.

Slot
Dit is noodsaaklik om die etiket-aanbevole byvoegmiddels te gebruik om meer van die GBP se potensiaal te bereik. Byvoegmiddels speel ’n rol vandat die GBP in die spuitwater gevoeg word totdat die GBP finaal opgeneem is of die volle kontakwerking verrig is. Alle GBP’s wat met byvoegmiddels geregistreer is, is deeglik daarmee getoets. Dit is onverantwoordelik om die etiket-aanbevole byvoegmiddel uit te laat of met ’n ander byvoegmiddel te vervang. Hierdie praktyk kan die GBP in verskeie fases nadelig beïnvloed. Indien daar enige twyfel oor byvoegmiddelkeuse is, skakel jou gewasbe­skermingsadviseur. Hou ook altyd al die komponente in die spuittenk in gedagte om optimale effektiwiteit te verseker, sonder enige onmengbaarheid.

Kontak dr Brian de Villiers by 082 880 0974 vir meer inligting oor byvoegmiddels en waterkwaliteit.