Maak só plan met droogtemielies

Pieter le Roux, hoofdier- en -weidingwetenskaplike, NWK
Gepubliseer: 5 Maart 2024

1366

Net soos gedurende die 2015/2016-droogte beleef baie produsente tans ernstige hittegolwe en gepaardgaande vogtekorte. Hierdie toestande het tot gevolg dat blokke graanlande reeds skade gely het en produsente is op soek na ’n alternatiewe aanwending van hierdie lande, meestal as voer.

Droogtegeteisterde mielies kan op verskeie maniere aangewend word, maar dit word hoofsaaklik vir voer gebruik. Die aanwending daarvan word natuurlik deur die mate van droogteskade bepaal. Dit kan enigiets wees tussen “jaag die diere in en wei dit af” of “sny af vir kuilvoer”. Die fokus hier is die oorwintering van die vee. Produsente wat nie oor ’n veevertakking beskik nie, het nie nodig om hierdie keuses te maak nie. Sekere produsente moet oor slegs ’n deel van die graanvertakking besluit, want alhoewel daar ’n veevertakking is, is daar nie genoeg diere om al die betrokke graan te benut nie. Ander gaan bo en behalwe hul beskikbare graanlande nog voer moet bykoop om deur die winter te kom of sal die kudde moet kleiner maak om met die beskikbare voer deur te kom. Elke individuele situasie is uniek en berekenings moet self vir lande en plase gemaak word.

As gevolg van verskillende plantdatums, bewerkingspraktyke en liggings word mielies (en ander grane) tot ’n meerdere of mindere mate deur die droogte geaffekteer. Die hoeveelheid graan wat moontlik gestroop kan word en die heersende graanpryse moet dus in berekening gebring word by die besluit. In die vergelyking van verskillende aanwendingsopsies van droogtegeteisterde graan word die koste van produksie nie ingesluit nie, aangesien dit reeds aangegaan is en nie meer verhaal kan word nie.

Stroop
Dit is moontlik dat die hoeveelheid graan die stroopkoste oorskry, in welke geval stroop die beste opsie sal wees. Waar mielies gestroop word, is die beskikbare oesreste ’n bykomende voordeel om te help om die vee te oorwinter.

NWK se bedryfstakbegrotings vir die 2023/2024-produksieseisoen dui die stroopkoste van mielies aan as R949/ha teen ’n graanopbrengs van 3 t/ha tot 4 t/ha in die hoofmielieproduserende area van sy bedieningsgebied. Na beraming beloop die stroopkoste van 1 ton graan/ha sowat R860. Die huidige geelmielieprys wat in Lichtenburg realiseer is R3 720/ton (Safex, 29 Februarie 2024). Daar is natuurlik bykomende koste, byvoorbeeld die vervoer na die silo, maar die inkomste oortref minstens die stroopkoste met sowat R2 860/ha.

Daarmee saam kan 1 ha se oesreste sowat 1,5 beeste vir ’n maand van voer voorsien. Hierteenoor sou aangekoopte grashooi as alternatief vir die oesreste sowat R1 013 per maand vir die 1,5 beeste gekos het (Smutsvingergras word tans geadverteer teen R1 500/ton hooi). Hierdie besparing saam met die wins bo stroopkoste beloop dus R3 873/ha. Die beraamde inkomste vanaf die beeste asook die verlies aan insetkoste van die mielies word nie hierin verreken nie.

Weiding
Alternatiewelik kan die mielies as staande hooi op die land gelaat word om in die winter te bewei. Waar daar ’n redelike hoeveelheid materiaal per hektaar beskikbaar is, kan daar ongeveer drie beeste vir ’n maand op die mielies gehou word. As mielies net deur beeste bewei word, kom daar heelwat vermorsing voor en dit maak die inbring van skape die moeite werd. Wees egter waaksaam teen suurpens in die geval van mielies waar daar wel nog graan saam met die plante beskikbaar is. Diere moet vooraf oor ’n periode van 10 dae tot 14 dae aangepas word deur daagliks die weityd te verleng. Dié praktyk word tipies met skape gedoen. Waar beeste gebruik word, is dit raadsaam om skape saam met die beeste of later in te bring om graan wat op die grond geval het, te benut. Die beweiding van staande mielies is ’n goedkoop alternatief. Addisionele koste sluit die voorsiening van ’n winterlek in, verkieslik een wat ’n buffer bevat. Daar is sulke lekke in die handel beskikbaar, bespreek dit gerus met die veevoerverteenwoordiger of plaaslike landboumaatskappy.

Heelplantmielies sonder kop bevat ongeveer 85% se droëmateriaal (DM), 10,8% se ruproteïen en 6,9 MJ metaboliseerbare energie. Daarby is die voerbehoefte van ’n gemiddelderaam- droë koei ongeveer 12 kg DM per dag. Die tipe ruvoer en sy DM-inhoud sal dus bepaal hoeveel so ’n koei van die voer per dag sal benodig. In hierdie geval, teen ’n 85%-DM-inhoud, sal die koei hierbo sowat 14,1 kg voer per dag benodig. Die aantal diere wat op sulke mielies gedra kan word, kan as volg bereken word:

  • Hoeveelheid materiaal beskikbaar
    Maak ’n beraming van die hoeveelheid materiaal op ’n land deur kort (10,0 m) stukke rye op ’n paar verteenwoordigende plekke te sny en te weeg. Die rywydte en spore sal bepaal wat die totale lengte van die rye op ’n hektaar is. Byvoorbeeld, indien daar in 90 cm-rye geplant is, behoort daar 111 rye/ha te wees, elk 100 m lank. Indien die gemiddelde gewig van die materiaal byvoorbeeld 10 kg/10 m (of 1,0 kg/m) is, sal die gemiddelde hoeveelheid materiaal dus 11,1 t/ha wees. Dit is dan ekwivalent aan 9,4 ton DM/ha (teen ’n 85%-DM-inhoud).
  • Drakragberekening
    Soos reeds genoem, word 14,1 kg DM per dier per dag benodig. Daar is dus, in die voorbeeld hierbo, 667 weidae/ha beskikbaar op die land. Hierdie weidae kan volgens behoefte aangewend word. Een produsent kan besluit hy wil vir drie maande daarmee deurkom – hy sal dus 7,4 koeie/ha vir 90 dae daar kan dra. ’n Volgende produsent kan besluit hy wil 100 koeie daar dra. Hy sal dus sy 100 koeie vir sowat sewe dae op een hektaar kan dra. Dit is duidelik dat elke produsent hier sy eie berekeninge moet maak.
  • Vermorsing
    Daar kan afhangend van omstandighede redelike hoeveelhede vermorsing voorkom. Verliese kom hoofsaaklik voor weens verwering en wind asook vertrapping. Die effek hiervan vererger natuurlik oor tyd en dit is raadsaam om nie die materiaal vir te lank op die land te laat staan voordat dit bewei word nie. Andersins moet dit eerder op ’n ander manier geberg word. Neem nietemin in ag dat daar tot soveel as 50%-vermorsing kan voorkom.

Inkuiling
’n Beter alternatief om voedingswaarde te preserveer, is die inkuiling van die gewas. Die oorweging mag dalk juis wees om die gewas op te berg en nie dadelik te gebruik nie. Onthou egter dat hierdie mielies min of geen graan bevat en daarom nie kuilvoer van goeie kwaliteit maak nie – te min energie veroorsaak dat die fermentasieproses vir preservering minder suksesvol voltooi word. Sulke kuilvoer moet gewoonlik tydens inkuiling aangevul word met ’n energiebron soos mieliemeel of melassestroop wat weer die koste aan ’n reeds minderwaardige kuilvoer verder verhoog. Die kerfkoste van mieliekuilvoer (met eie toerusting) beloop reeds R1 672/ha (brandstof ingesluit). Ander koste soos seile, vervoer, kompaktering en arbeid is nie hierby ingesluit nie – dit maak die inkuil van ’n minderwaardige voerbron net al hoe duurder. Verder moet hierdie kuilvoer weens die verlaagde kwaliteit liefs in dieselfde jaar reeds aangewend word. Dit is egter moontlik om soveel as ses beeste vir ’n maand te voer met een hektaar se mieliekuilvoer, mits daar ’n redelike hoeveelheid op die land beskikbaar was met inkuiling.

Greenchop
Plante kan ook, terwyl hulle nog tot ’n mate groen is, op daaglikse basis gesny, gekerf en aan diere gevoer word (greenchop). Hier kan daar ook, soos met kuilvoer, vir ongeveer ses beeste per hektaar vir een maand lank gesorg word. Dit sal natuurlik slegs oor ’n kort vensterperiode beskikbaar wees totdat die plante te droog raak. Die voordeel hiervan is wel dat die voerkwaliteit beter is as waar die gewas as staande hooi geberg word. Die oorweging sal weer eens wees op watter stadium die voer benodig of gebruik gaan word.

Stoekmielies
As alternatief het produsente in die verlede stoekmielies gesny, gepak en gemaal. Daar is egter min voordeel aan hierdie praktyk teenoor om die land net later as staande mielies te bewei. Een hektaar se stoekmielies kan sowat drie tot vier beeste vir ’n maand van kos voorsien. Die arbeid- en maalkoste van stoekmielies oorskry egter die landverwering en verlaagde kwaliteit wat by mielies as staande hooi kan voorkom.

Sny, hark en baal
Die materiaal kan ook gebaal word. Die bykomende koste van sny, hark en baal moet egter oorweeg word teenoor die opsie om dit net te bewei. Meganisasiekoste het die afgelope tyd dermate verhoog dat enige aksie wat daarmee gepaard gaan deeglik geweeg moet word teen die kwaliteit van die voer wat verkry word asook die behoefte om die voer op te berg om later te gebruik.

Bronne

  1. Botha, P & Van Pletzen, H. 2015. Riglyne vir die benutting van verdroogde graangewasse en oesreste. SA Graan/Grain.
  2. Van Zyl, B & Mouton, J. 2015. Drought-ridden maize as feed. Farmer’s Weekly, 27 March 2015.