Industriële Hennep ‘n nuwe alternatief vir gewasrotasiestelsels

Gepubliseer: 4 Maart 2024

464
Dr Andre Malan, streeksdirekteur en agronoom, CO2Evolve

Hennep (hemp in Engels) is deel van die genus Cannabis wat in die volksmond bekend staan as dagga. Die verwarring tussen hennep en dagga is dat beide morfologies dieselfde lyk en slegs op grond van die THC-inhoud verskil.

Per definisie is hennep hoog in vesel en laag in aktiewe tetrahidrokannabinol (THC), die psigo-aktiewe bestanddeel in dagga wat sommige cannabis-kultivars ’n dwelm maak. Alhoewel hennep se produksieregulasies in Suid-Afrika baie verslap is, word die THC-vlakke daarvan steeds streng gemonitor om seker te maak die kultivars voldoen aan die minimumvereiste vir THC-inhoud van minder as 0,3%.

Voordele van hennep in ’n wisselboustelsel
Hennep is ’n somergewas wat van vroeg Oktober tot begin Desember geplant kan word na gelang van die produksiegebied. Hennepkultivars se groeiperiode wissel tussen 90 to 160 dae afhangend van die kultivar wat verbou word. Dit het goeie grondvog nodig vir die eerste tien dae na plant om goeie ontkieming te verseker, maar vandaar is dit redelik droogteverdraagsaam. Hennep is van die min plante waarvan beide biobrandstof en biodiesel gemaak kan word en daarom is dit ’n uiters belangrike sleutel in landbou se groenrewolusie wêreldwyd.

Dit is ’n struikagtige plant wat tot 4 m hoog kan groei afhangend van die kultivar en die produksie-omgewing waarin dit geproduseer word. Dit is dagliggevoelig wat kleiner plante tot gevolg kan hê en daarom word hennep teen ’n saaidigtheid van 1 500 000 tot 2 000 000 plante/ha geplant. Dit verseker dat genoeg saad en bio­massa per hektaar geproduseer word in die geval waar die oes vir biobrandstof aangeplant word. Wanneer dit vir vesel vir die tekstielbedryf geplant word, is dit ’n egter ’n ander storie, want dan is lang vesels van goeie kwaliteit nodig. Dít is nie moontlik as die plante vinnig deur hul groeistadiums gaan nie.

Navorsing het getoon dat hennep sekere aspekte van grondgesondheid kan help regstel en die gebruik van plaagdoders en kuns­mis kan verminder. Dit het boonop minder besproeiing nodig as ander kontantgewasse.

Bykans alle hennepkultivars het ’n natuurlike weerstand teen die meeste insekplae, wat die gebruik van insekdoders in ’n wisselbou­stelsel verminder. Die plant is ook bekend daarvoor dat dit besonder verdraagsaam is teen uiterste weerstoestande – droogte sowel as baie nat toestande. Hierdie eienskap hou waarskynlik verband met die plant se wortelstelsel. Hennep het ’n penwortel wat tot 1,5 m diep kan groei by sekere produk­sie­toestande en grondtipes, wat die plant in staat stel om voedingstowwe en water dieper uit die grondprofiele te haal. Dié wortelstelsel help om grondstruktuur, waterinfiltrasie en ander grondeienskappe te verbeter, soos waterhouvermoë en deurlugting van die grond. Die hennepwortel kan ook verbin­dings produseer wat bekend is om grondmikro­biese diversiteit te verhoog, wat uiteindelik grondgesondheid verbeter.

Wat is die verskil tussen industriële hennep en sunn-hennep?
Crotalaria juncea en Cannabis sativa is albei plante wat histories gekweek is vir vesel­produksie en daarom word hulle albei “hennep” genoem. Sunn-hennep (C. juncea) is egter ’n peulgewas uit Indië, terwyl C. Sativa, ’n niepeulplant, uit China afkomstig is. Sunn-hennep produseer nie kannabinoïde nie, terwyl hennep wel ’n lae persentasie produseer. Produsente moet dus nie die twee gewasse verwar nie.

’n Droëlandaanplanting van ’n hennepkultivar, Anka, in Kanada.

Waarom word hennep nie tans op kommersiële skaal in Suid-Afrika verbou nie?
Aangesien industriële hennep deel van die genus Cannabis is, is die kommoditeit tot en met Oktober 2021 as onwettig beskou. Die Departement van Landbou, Grondhervor­ming en Landelike Ontwikkeling (DALRRD) het toe wysigings aan die bestaande regulasies aangebring wat Cannabis sativa L, algemeen bekend as hennep, as ’n landbougewas verklaar het ingevolge die Plantverbeteringswet, 1976 (Wet Nr. 53 van 1976). Dit het die potensiaal ontsluit om hennep as ’n hoogs winsgewende kommoditeit in Suid-Afrika te vestig.

Aangesien hennepverbouing onwettig was, is daar nie baie klem gelê op kultivar­ontwikkeling, verbouingsnavorsing en die ontwikkeling van markte vir kommersiële produksievolumes van hennepsaad en biomassa nie.

Daar is tans nog geen hennepkultivar op die Suid-Afrikaanse variëteitslys geregi­streer nie. Daar is ook beperkte toegang tot kultivars vir die verbouing van saad en biomassa en geen gesertifiseerde saad is in Suid-Afrika beskikbaar nie.

Anka word gestroop.

Potensiële markte
Gesertifiseerdesaadmark
Gesertifiseerde saad is die eerste prioriteit om ’n groot genoeg hennepbiomassa en -saadproduksie in Suid-Afrika te verseker om die geïdentifiseerde markte plaaslik en internasio­naal te kan ontsluit. Kultivaregte saad van goeie kwaliteit is die grondslag vir die suksesvolle ontsluiting van nuwe markte. Konstante kwaliteit en hoe­veelhede roumateriaal is absoluut noodsaaklik om suksesvol te wees in die ontwikkeling van die nuwe markte.

Biomassa sal aanvanklik gebruik word vir die produksie van biochar wat gebruik word om grondvrugbaarheid te verbeter en as ’n meer volhoubare, organiese, kostedoeltreffende alternatief vir kunsmisprodukte te dien. Biochar gaan ook ’n belangrike rol speel in die verkryging van koolstofkrediete indien die produsente sou belangstel om na hierdie addisionele inkomstebron op hulle grond te kyk.

Wat is biochar?
Biochar is ’n koolstofryke, soliede materiaal wat geproduseer word gedurende pirolise, wat die termiese degradasie van biomassa onder suurstof-beperkte omstandighede behels. Biochar kan gebruik word as ’n grondverbeteringsmiddel om die agronomiese produktiwiteit van grond te verhoog.

Tans sukkel kommersiële produsente in Suid-Afrika om mededingend in die internasionale mark te bly as gevolg van swakker opbrengste, hoë insetkoste sowel as internasionale graanpryse.

Opbrengs word hoofsaaklik beïnvloed as gevolg van die volgende faktore:

  • Ongereelde reënval in die droëlandproduksiegebiede.
  • Grondsuurheid
  • Natuurlike mineralisasie van grond
  • Gebruik van oormatige hoeveelhede kunsmis
  • Klimaatsverandering bedreig voedsel­sekerheid wêreldwyd

Wanneer produsente biochar vir grondverbetering gebruik, sal hulle voordeel trek uit:

  • Ryker grondlewe
  • Gesonder grond
  • Laer grondsuurheid
  • Beter waterhouvermoë
  • Verhoogde opbrengs

Die gebruik van biochar verhoog die waterhouvermoë van grond wat die produsente sal help om grondvog gedurende droë tye beter te bestuur wat dan hoër opbrengste tot gevolg het.

Biochar sal ook voedingstowwe in die boonste 60 tot 100 cm van die grondprofiel vashou wat dit meer toeganklik vir die opvolggewasse sal maak aangesien die meeste landbougewasse hul voedingstowwe uit dié deel van die grondprofiel onttrek.

Biochar verminder loging van voedingstowwe, wat sal lei tot vermindering in die gebruik van kunsmis wat weer ’n direkte invloed op die vermindering van grondsuurheid sal hê. Die verlaging in insetkoste sal kontantgewasse meer winsgewend vir die produsente maak in ’n hoogs kompeterende internasionale mark en met verhoogde opbrengs sal dit direk bydra tot voedselsekerheid in Suid-Afrika.

Huidige produksie van hennep in die Vrystaat.

Biobrandstof
Daar is reeds planne in plek om teen 2026 roumateriaal (saadolie, etanol) aan raffinaderye te voorsien of self die verwerking verder te neem. Markte is reeds geïdentifiseer vir biobrandstof vir motors, skeepsvaart en lugvaart, sowel as markte vir biodiesel.

Hennepsaad vir menslike gebruik en veevoerbymiddels
Hennepsaad bevat al nege essensiële aminosure wat deur die mens benodig word om sy liggaam in stand te hou. Die saad is ’n goeie bron van proteïene, omega 6- en omega 3-vetsure, antioksidante en noodsaaklike minerale soos kalium, natrium, magnesium, kalsium, yster, fosfor en sink.

Die sade bevat oor die algemeen 27% proteïen, 28% vette en 37% vesel; hierdie waardes verskil egter ook volgens kultivars. Weer eens bewys dit die belangrikheid van kultivarsuiwer saad. Die aminosuurprofiel sluit hoë hoeveelhede arginien en glutamien in, maar lae hoe­veelhede lisien.

Olie kan onttrek word uit hennepsade deur koue kompressie en oplosmiddelekstraksiemetodes. Dit is bekend dat hierdie olie 90% onversadigde vetsure bevat, soos oliesuur, alfa-linoleensuur en linoleïensuur. Geen ander plant-onttrekte olie bevat meer as 90% onversadigde vetsure nie.

Oliekoek is steeds ’n goeie proteïenbron wat vir dierevoeding aangewend kan word.

Daar is reeds met die Suider-Afrikaanse Graan­laboratorium (SAGL) geskakel om die voedings­waarde van hennep te bepaal. Vyf kilogram saad word ingevoer om die data van ons kultivars te be­vestig.

Dit is egter belangrik om daarop te let dat ’n produksiepaspoort benodig word, aangesien nie alle geproduseerde hennepsaad vir menslike gebruik of dierevoeding gebruik kan word nie. Hennep wat op gekontamineerde grond geplant is om grond te rehabiliteer, kan nie gebruik word nie, aangesien daar skadelike swaarmetale of ander giftige kontaminante soos arseen in die saad teenwoordig gaan wees.

Registrasie van ’n koolstofsekwestrasieprojek in Suid-Afrika
Wat is koolstofkrediete?
Wêreldwyd betaal maatskappye koolstofbelasting op die hoeveelheid CO2 wat hulle in die atmosfeer vry­stel. As hulle kan toon dat hulle koolstofkrediete van enige plek in die wêreld gekoop het om hul kool­stofvrystelling te balanseer, is hulle vrygestel van hierdie belasting wat baie hoog is. Koolstofkrediete is goedkoper as die belasting, terwyl die maatskappye ook kan wys hulle is daartoe verbind om aardverwarming te beveg. Dit is hoe koolstofkrediete as kommoditeit ontwikkel is. Suid-Afrikaanse produsente kan ook daarby baat as hulle voldoen aan produksiepraktyke om vir koolstofkrediete te kwalifiseer.

Registrasieproses
Die registrasie van ’n koolstofsekwestrasieprojek behels die stappe soos uiteengesit in Figuur 1.

Figuur 1: Stappe vir die registrasie van ’n koolstofsekwestrasieprojek.

Dit kos ongeveer R6 000 000 om so ’n projek te registreer – dit is dus nie vir ’n individuele produsent die moeite werd om op sy eie sy plaas te registreer nie.

Die hele proses om vir krediete te kwalifiseer, neem drie jaar. Indien die registrasie suksesvol is, is dit ’n jaarlikse passiewe-inkomstemoontlikheid mits die produsent die bepalings nakom en die grond in stand hou. Dit is waar biochar ’n rol kan speel in die verkryging van krediete.

CO2Evolve Suid-Afrika het ’n beheermaatskappy in Kanada met die doelwit om hennep as ’n winsgewende kommoditeit in Suid-Afrika te vestig en markte te ontsluit. Ons sal graag saam met produsente ’n pad wil stap om so ’n projek in Suid-Afrika te ontwikkel indien daar genoeg produsente en grond is om dit finansieel die moeite werd te maak. ’n Kommoditeitsliggaam sal genader word om die administrasie van die krediete vir die produsente te doen. Onthou alle kommo­diteite kan krediete verwerf, maar die hoeveelheid krediete verskil van gewas tot gewas. Hennep is een van die gewasse wat tot 15 ton CO2/ha kan sekwestreer in die drie maande wat dit op die land is. Dit is dan ook een van die gewasse wat meer CO2 fikseer as wat dit CO2 in die atmosfeer vrystel. Om dié rede word hennep as kool­stofnegatief geklassifiseer.

Indien produsente sou belangstel of meer vrae het, is hulle welkom om dr Malan te skakel by 072 401 7536 of ’n e-pos te stuur na andre@co2evolve.com. Vir meer inligting besoek co2evolve.com.