Dis bakkie-wêreld dié

Gerrie Smit, lid van die SA Gilde vir Motorjoernaliste
Gepubliseer: 27 Oktober 2020

1397

Die feit dat die Toyota Hilux- en Ford Ranger-modelle ons land se topvoertuigverkopers is, bewys dat Suid-Afrika bakkiewêreld is. Tot ongeveer 20 jaar gelede is bakkies hoofsaaklik aan produsente en die konstruksiebedryf bemark.

Dinge het egter verander met die toetrede van dubbelkajuite en die gesofistikeerdheid wat hierdie voertuie begin bied het. Bakkies was nie meer net werkesels nie, maar het nou ook ’n weelderige en praktiese voertuig vir enige gesinsman geword. Met Mercedes-Benz se kortstondige toetrede tot die bakkiemark met hulle X-klas, is nie eers een landboujoernalis na hulle mediabe­kendstelling uitgenooi nie omdat dit glo op die “modebewuste” en “avontuurlustige” jonger stedeling gemik was. Die X-klas het egter gefaal – en weer eens bewys die bakkie kan maar luuks wees, solank dit net ook veldpadvriendelik is.

Staatmakers
Suid-Afrika se topverkoper is die Toyota Hilux en die nuwe reeks is pas bekendgestel. Die reeks enjins bestaan uit drie petrolenjins van 2,0 ℓ, 2,7 ℓ en 4,0 ℓ en twee 2,4 ℓ- en 2,8 ℓ-turbodieselenjins gekoppel aan hand- of outomatiese ratkaste met ses gange elk.

Die Ford Ranger bied tans die grootste verskeidenheid modelle in die bakkiemarksegment, met ’n keuse van vyf turbodieselenjins. Daar is twee weergawes van die 2,2 ℓ-enjin beskikbaar, ’n 3,2 ℓ- en twee 2 ℓ-enjins, met een of twee turbo-aanjaers. Die 2,2 ℓ-modelle bied ’n keuse van ’n hand- of outomatiese ratkas, elk met ses gange, terwyl laasgenoemde ratkas standaardtoerusting vir die 3,2 ℓ-modelle is. Die 2 ℓ-enjins word gekoppel aan ’n outomatiese ratkas met tien gange. Daar is drie bakvorms beskikbaar, naamlik ’n enkelkajuit, ’n Super Cab (kajuit-en-’n-half) en ’n dubbelkajuit. Die vlakke van afwerking wissel van die intreemodel tot by die XL, XLS, XLT, Wildtrak en Raptor, terwyl die Thunder ook onlangs bygevoeg is. Die Wildtrak, Raptor en Thunder spog met die kragtigste enjin wat tans vir ’n bakkie beskikbaar is; dit het ’n kraglewering van 157 kW teen 3 000 toere en ’n wringkrag van 500 Nm teen 1 500 toere.

Die Ford Ranger Wildtrak. Sy 2 ℓ-dieselenjin met twee turbo-aanjaers is die kragtigste enjin wat tans vir bakkies in Suid-Afrika beskikbaar is.

Alhoewel die Isuzu D-Max reeds in 2013 in Suid-Afrika bekendgestel is, toe dit nog as die KB bekendgestaan het, is dit steeds een van Suid-Afrika se gewildste bakkies. Die reeks, wat ’n keuse van ’n enkelkajuit, Extended Cab en dubbelkajuit bied, is beskikbaar met een van drie enjins, naamlik twee weergawes van die 2,5 ℓ-turbodieselenjin en ’n 3,0 ℓ-turbodieselenjin. Die vlakke van afwerking wat beskikbaar is, is die intreemodel, Fleetside, LE, LX en die uiters gewilde X-Rider. Die nuwe geslag D-Max sal eers in 2022 in Suid-Afrika bekendgestel word.

Die gewildheid van die Mahindra Pik-Up, wat in 2017 in Suid-Afrika bekendgestel is, het gesorg dat ’n monteeraanleg vir hierdie voertuig naby Durban opgerig is. Daar is net een enjin, naamlik ’n 2,2 ℓ-turbodieselenjin beskikbaar, maar voornemende kopers kan kies tussen ’n hand- of outomatiese ratkas. Die enkelkajuitreeks bestaan uit die S4 en S6, albei beskikbaar as ’n 4×2 en 4×4. Die dubbelkajuitreeks bestaan uit die S6, die S10-handrat en die S11 met ’n outomatiese ratkas, almal in 4×2 of 4×4. Hierdie modelle is ook beskikbaar met die plaaslik ontwikkelde Karoo-pakket, wat onder meer bestaan uit swart wiele, ’n bosbreker, ’n rolstaaf en ’n bakseil.

Tien jaar gelede is die Volkswagen Amarok in Suid-Afrika bekendgestel. Hoewel daar voorheen ’n turbopetrolenjin en enkelkajuitmodelle beskikbaar was, is die reeks só verander dat turbodieselenjins en ’n dubbelkajuitbakwerk standaardtoerusting is. Die twee enjins is ’n 2 ℓ met twee turbo-aanjaers en ’n 3 ℓ-V6. Daar is vier spesifikasievlakke beskikbaar, naamlik die Highline en Highline Plus vir die 2,0 Bi TDi-modelle en die Highline, Highline Plus, Canyon en Extreme vir die V6-modelle.

Volkswagen se Amarok 3,0 V6 TDI-dubbelkajuit Canyon 4Motion.

Die jongste weergawe van die Mitsubishi Triton is in 2019 be­kendgestel. Die reeks bestaan uit vier dubbelkajuitmodelle, wat almal die 2,4 ℓ-turbodieselenjin kry. Hulle is beskikbaar met ’n hand- of outomatiese ratkas en met twee- of vierwielaandrywing.

Die nuutste in die Triton-bakkiereeks is in 2019 in Suid-Afrika bekendgestel.

Binnekort nuut op die mark
Daar is drie splinternuwe bakkies wat in 2021 in Suid-Afrika op die mark kom asook een wat ingrypend verander gaan word en sake vir die markleiers deurmekaar kan krap. Die Chinees-geboude GWM P-reeks, wat op die onderstel van die Haval H9 gebou word, behoort al teen die einde van 2020 by handelaars te wees. Daar word bespiegel dat turbo-aangejaagde petrol- en dieselenjins beskikbaar sal wees. Die reeks sal na verwagting enkel- en dubbelkajuitmodelle insluit.

Die nuwe Mazda BT 50 word in 2021 verwag. Die nuwe BT 50 sal met dieselfde 3 ℓ-turbodieselenjin as die nuwe 2022-Isuzu beskikbaar wees. In die 1960’s en 1970’s was die Peugeot 403- en 404-bakkies groot gunstelinge onder die Suid-Afrikaanse publiek en in 2021 gaan dié vervaardiger na die bakkiesegment terugkeer. Die nuwe bakkie sal as die Peugeot Landtrek bekendstaan en met enkel- en dubbelkajuitbakwerke beskikbaar wees. Daar sal ’n keuse tussen ’n 1,9 ℓ-turbodiesel- en ’n 2,4 ℓ-petrolenjin wees.

’n Modelreeks wat ingrypend verander gaan word, is die Nissan Navara. Daar word bespiegel dat enkelkajuitmodelle ook deel van die nuwe reeks gaan wees. Indien dit die geval is, is dit onseker wat die toekoms vir die NP 300 sal inhou. Die nuwe Navara sal in Suid-Afrika vervaardig word, maar dis te vroeg om te sê of die nuwe modelle dieselfde enjins as die huidige reeks sal hê.