Veldryers van formaat

Gerrie Smit, lid van die SA Gilde vir Motorjoernaliste
Gepubliseer: 28 Oktober 2020

873

Hoewel die Mitsubishi-maatskappy aangekondig het dat produksie van die “oorspronklike” Pajero binnekort gestaak word, is daar twee ander veldryvoertuie in sy Suid-Afrikaanse stal wat steeds beskikbaar sal wees.

Dit is die Triton-bakkiereeks en die Pajero Sportsportnutsvoertuig. Interessant genoeg deel beide hierdie voertuie dieselfde onderstel. Die Pajero Sport het dus dieselfde gehardheid as die Triton wanneer dit by ’n rowwe padop­pervlak kom.

Die jongste geslag van die Triton is in 2019 in Suid-Afrika bekendgestel. Die Triton-dubbelkajuit bied ’n keuse tussen ’n 4×2- en 4×4-weergawe. Beide is toegerus met dieselfde 2,4 ℓ-turbodieselenjin wat 133 kW teen 3 500 toere opwek en ’n wringkrag van 430 Nm teen 2 500 toere lewer. Albei modelle is beskikbaar met ’n hand- of outomatiese ratkas, elk met ses ratte. Die 4×4-modelle het Mitsubishi se Super Select II 4×4-stelsel, wat verseker dat die rat en vastrapvermoë outomaties oor die vier wiele versprei word soos die oppervlak vereis. Die hele Triton-reeks spog met veiligheidskenmerke soos se­we lugsakke, syslagstawe, stabiliteits- en vastrapbeheer, ABS-remme met elektroniese remkragverspreiding en noodremhulp, ’n truka­mera en deure wat outomaties sluit wanneer die voertuig wegtrek.

Die nuut opgeknapte Pajero Sport.

Mitsubishi het ook die Pajero Sport so pas opgeknap om nóg beter te werk en te vertoon. Die drie modelle is ’n 4×2, ’n 4×4 en die nuutste toevoeging, die 4×4 Exceed, wat met nog hoër spesifikasie­vlakke spog.

Die meganiese spesifikasies van die Pajero Sport stem byna presies ooreen met dié van die Triton, behalwe dat ’n handratkas glad nie vir die Pajero Sport aangebied word nie. Die jongste weergawe van die Sport beskik egter oor ’n nuwer outomatiese ratkas as die Triton. Dit het ook die Super Select-stelsel op die 4×4, parkeersensors asook outomatiese kopligte en ruitveërs.