Bemesting van dekgewasse – ’n holistiese benadering

340
Fritz Otto,
onafhanklike
regeneratiewe
landboukundige

Dekgewasse vorm ’n integrale deel van bewarings­landbou. Die bestuur en benutting daarvan is belangrik vir die herstel en ontwikkeling van die natuurlike omgewing waarin geboer word.

Elke produsent sal moontlik sy eie doelwitte en gebruike vooropstel vir die implementering van dekgewasse. Ten einde die bestuursdoelwitte te bereik, moet die toepassings, keuse asook bestuur van dekgewasse deeglik verstaan word. Dekgewasse is sinoniem met die afwisseling van kontantgewasse met ’n beweibare gewas in ’n gemengde produksiestelsel. Soms gee monokultuurdekgewasse hoër droëmateriaalopbrengste as multispesiedekgewasse. Produsente moet dus op een gewas of op ’n kombinasie van gewasse besluit.

Dekgewasse word gesien as ’n metode om biodiversiteit in produksiestelsels te bring, maar ook om die grond te laat rus tydens die dekgewas se groeiperiode. Kombinasies van grasse, brassicas, peul- en knolgewasse en klawers word aangeplant en meestal bewei, wat dan bydra tot grondherstel vir die op­bou van energie, die vrystelling van voedingstowwe en die ontwikkeling van grondmikrobevariasie.

Die gebruik van dekgewasse vir tussenry-toepassings of intercropping word deesdae al hoe gewilder. Een van die vele voordele hiervan is om vir so lank as moontlik lewendige wortels in die grond te hê. Hierdie gewasse help verder met die vaslegging van sonligenergie deur fotosintese en bevorder dus koolstofdeponering in die grond.

Kommersiële dekgewasse is oor die algemeen maklik aanpasbaar en kan bewei word. Dekgewasse dra by tot grondstruktuurontwikkeling asook verhoogde water- en lugpenetrasie omdat die grond heeltyd met materiaal bedek is. Wortels sal makliker in die grond verteer word en na humus omgeskakel word deur swamaktiwiteit wanneer die grond minimaal versteur word. Dekgewasse het verder ’n positiewe effek op erdwurms en ander voordelige insekpopulasies en skep geleentheid dat hulle getalle herstel kan word.

Selfs onkruid kan as ’n dekgewas geklassifiseer word, maar met min ekonomiese waarde. Onkruide kan ook grondminerale en grondstruktuur goedkoop herstel, maar dit het nie noodwendig ander byvoordele nie.

Grondbiologiese samestellings
Enige plant en plantspesie het ’n unieke wortelstelsel en ’n stel voorkeur-mikroörganismes wat simbioties saam met die plant funksioneer. Baie van hierdie organismes word tussen plant­spesies gedeel en kom algemeen voor.

Deur net na die plante wat dominerend in ’n land voorkom, te kyk, kan ’n aanduiding verskaf van die grondmine­raalbalans asook watter tipe biologie in die wortelsone domineer. Sekere on­kruidspesies groei uitstekend in versteurde gronde en kan selfs heeltemal dominant raak, terwyl ander glad nie aard en groei nie. Hieruit kan afgelei word dat die grond- biologiese samestelling ook kenmerkend sal wees van die soort plante wat gemaklik in ’n tipe grond sal groei.

Teen hierdie agtergrond word die stelling gemaak dat die biologiese diversiteit van dekgewasse wat deur diere benut kan word, waarskynlik ook voordelig is vir gesonde biologiese ontwikkeling van die grond. Hoekom so? Soos wat plantegroei deur aanpassingsfases in enige ontwikkelende ekologiese stelsel gaan, sal die grondbiologie ook aanpas en in pas bly met die gewasse wat verbou word. Hierdie verskynsel word grondsuksessie-ontwikkeling genoem en dekgewasse versnel hierdie ontwikkelingsproses. Met ander woorde, die natuur sal altyd poog om mens en dier binne die geografiese en klimatologiese potensiaal te onderhou.

Dekgewasse is oor dekades geselek­teer vir hulle toepaslikheid – elkeen het sy eie profiel van aanpasbaarheid by sy omgewing met sy eie voedingskwaliteite. Sommige dekgewasse is uitstekende onttrekkers van byvoorbeeld nitraat-N en ander weer van kalsium, magnesium of fosfate en ander minerale en kombinasies daarvan.

Die effektiewe werking van hierdie onttrekkingstelsels berus op die outo­reguleringsmeganismes in plante, wat tydens tekorte of oormaat van minerale aan- of afgeskakel word. ’n Voorbeeld hiervan is nodulering in peulplante, wat afgeskakel word met hoë vlakke van nitrate in die grond, terwyl baie onkruide en sommige grasspesies se aktiwiteit juis deur hoë nitrate aangeskakel word.

Dekgewasse neem nitraat-N op en skakel dit deur mikro­biologie om na organiese stikstof. So word stikstof vir die volgende aanplantings herwin. Soos produsente meer begin verstaan oor die doel en werking van dekgewasse in ’n kommersiële wisselboustelsel, raak dit duideliker of en hoe dekgewasse bemes moet word.

Doelwitte van bemesting
Sou dit ’n produsent se keuse wees om geen bemesting by ’n dekgewas te doen nie, word die plant dalk geforseer om aan te pas by die omstandighede vir oorlewing en mag die ware potensiaal moontlik nie in een seisoen bereik word nie. Sou die produsent egter graag die beste van die dekgewas se potensiaal wil benut, moet die doelwitte van dekgewasbemesting oorweeg word, naamlik:

  • Ondergrondse en bogrondse groei en ontwikkeling word bevoordeel met ’n klem op wortelontwikkeling.
  • Die grondmineraalbalans word herstel deur die oormaat minerale te onttrek en dit weer, sodra die dekgewas deur biologiese aktiwiteit verteer word, oor tyd vry te stel.
  • Grond- fisiese verandering, byvoorbeeld deur radystipes, wat grondskeuraksies bewerkstellig.
  • Verhoogde grond- organiese materiaalinhoud wat ook bydra tot grondvogbewaring.
  • Goeie grondbiologie neutraliseer chemiese residue in die grond.
  • Verhoging in die mikroörganismevariasie (biodiversiteit) en po­pulasiegroottes. Die effek van gepaste bemesting kan ’n reuse-invloed op hierdie mikroörganismes se populasiegroottes hê en meer prosesse kan vinniger in die grond plaasvind. Opvolggewasse sal dus beter groei en produseer.

Indien die funksies van dekgewasse reg vertolk word, behoort die fokus te verskuif na die bevordering van mikrobiologie wanneer bemesting oorweeg word.

Op hierdie stadium is dit bekend dat netto koolstofvaslegging (humusvorming) eers kan plaasvind wanneer die grondbiologie nie koolstof deur respirasie uitbrand nie. Hierdie vorming van humus gebeur hoofsaaklik deur voordelige swamgroei, wat slegs reg funksioneer in gronde met gesonde mikrobiologiese aktiwiteit.

Om te meet, is om te weet
Om dekgewasse te bemes, is dus nie ’n ligtelike besluit nie. Alhoewel dekgewasse definitief vir produksie bemes kan word, moet die produsent die doelwit voor oë hou.

Die doelwitte is om die grond maksimaal te herstel, mikrobio­logie te bevorder en benutting met byvoorbeeld vee te optimaliseer. Dit is belangrik om selfs in die seisoen wanneer die dekgewas geplant word, ook grondmonsters te neem (op ’n diepte van 0 cm tot 30 cm – merk die punt met ’n GPS waar moontlik).

Hierdie grondmonsters moet ontleed word om die volgende te verkry:

  • Makro- asook mikro- minerale ontleding.
  • Anorganiese stikstofwaardes vanaf ammonium (NH4-N) asook nitraat (NO3-N).
  • Koolstof-waarde (C-waarde) moet bepaal word. Vir elke 1% C bokant die eerste 0,5% C op die ontleding is sowat 25 kg tot 30 kg stikstof beskikbaar vir die seisoen. Die laboratorium behoort vanuit die stikstofontledings te kan bereken hoeveel stikstof per hektaar beskikbaar is.
  • Wateroplosbare koolstof (water extractable organic carbon). Die wateropgeloste koolstof voor die dekgewas en die waarde ná die dekgewasgroeiseisoen sal ’n baie goeie aanduiding wees van die benuttingspotensiaal van stikstof. Hoe beter die waarde, hoe beter die benutting van stikstof vir aminosuursintese.

Dit is hier waar die besluitneming vir bemesting inkom. Daar is geen vasgestelde reël hiervoor nie, maar die aanbeveling sou wees om nie te bemes wanneer die grondontleding meer as 30 kg tot 40 kg stikstof per hektaar uitwys nie. In hierdie geval sal die grond waarskynlik ook genoeg fosfaat beskikbaar hê vir die dekgewas. Wanneer aansienlik laer waardes gevind word, sou dit logies wees om ’n ammonium- en fosfaatkunsmis toe te dien. Ongeveer 30 N en 10 P moet tydens vestiging van die dekgewas toegedien word. Hierdie berekende anorganiese inset sal selfs voordelig vir die netto neerlegging van koolstof as humus wees.

’n Eenvoudige analogie is dus: Die grond is die fabriek, die mi­kroörganismes is die werkers en hulle kry energie deur die organiese insette (koolstofbasisprodukte). Die werktuie in die fabriek is veral mikrominerale, omdat mikrominerale verantwoordelik is vir ongeveer 80% van die ensiemaktiwiteite in alle lewende organismes.

Benewens die gewone makrominerale, met kombinasies van organiese produkte (melasse, voordelige mikrobes, vishidrolisate, fulvien-/humiensure en kelpe) en mikrominerale (yster, sink, boor, koper, molibdeen, mangaan, nikkel en silika) het goed beplande blaar- en grondtoedienings aansienlike wortelmassaverhoging tot gevolg omdat die fotosintesetempo verhoog word.

Onkruidplantspesies wat laag in die voedselketting is se ge­assosieerde grondmikrobes funksioneer nie gemaklik saam met dekgewasspesies en hul geassosieerde organismes nie. Daarom dat onkruide – ten spyte van hulle voorsprong met ’n opgeboude saadbank – ook onderdruk word deur dekgewasteenwoordigheid en waar suksesvolle dekgewasbiologie in die grond gestimuleer word.

Dit is enige produsent se keuse om sy dekgewas te bemes of nie, maar onthou die doelwitte waarvoor die dekgewas aangeplant is. Wanneer die produsent sy doelwit van dekgewasaanplanting duidelik definieer, sal die regte keuse van geskikte dekgewasspesies en die bestuur daarvan in samewerking met spesialiste ook die gewenste uitwerking tot gevolg hê.

Produsente behoort met ’n regeneratiewe landboukundige, wat hul unieke toestande verstaan, te konsulteer vir die regte advies.