Saai tussen mielies werp vrugte af

Gepubliseer: 28 Oktober 2020

616
Pietman Botha,
SA Graan/Grain-redaksie

Gert Wessels, ’n produsent van Botha­ville, is bekend vir die wisselboustelsel met permanente weiding wat hy al jare lank met groot sukses toepas. Om die volhoubaarheid van sy boerdery te bevorder, het hy sy mielielande die afgelope vyf jaar suksesvol met dekgewasse beplant.

Nadat hy alle aspekte behoorlik bestudeer het en die voor- en nadele van die stelsel ondersoek het, het hy dekgewasse geplant terwyl die mielies nog op die lande staan. Dit verg natuurlik noukeurige beplanning.

Hawer help met grondstruktuurvorming asook aalwurmbeheer. Met sy sekondêre wortels gee dié gewas boonop goeie produksie.
Saad van hawer, Japannese radyse, ripradyse en kanola word saam uitgestrooi en het geen probleme om te ontkiem nie.

Die gewasse se onkruiddoderprogramme moet van so ’n aard wees dat dit die dekgewasse nie sal benadeel nie. Die skaal van aanplanting moet ook korrek wees – dit help nie ’n mens plant net 10 hektaar vir 1 000 beeste nie, maar net so is te min beeste met te veel hektare ook problematies. Die beweiding van hierdie gewasse is van kritieke belang. Die vleis wat op die beweide dekgewasse geproduseer word, moet bemark word. Maak dus seker dat daar genoeg vee is om hierdie ekstra weiding te benut.

Dekgewasse het verskeie voordele vir die boerdery. Dit verskaf nie net ekstra weiding vir die beeste nie, maar bevorder ook die biologiese lewe in die grond. Die sandgronde in die omge­wing is bekend vir die winderosie en windskade wat daar plaasvind, maar Gert sê dat die dekgewasse hierdie probleem help beheer. Die sandlande loop ook dikwels onder aalwurms deur, nog ’n rede hoekom hy besluit het om dekgewasse aan te plant. Sommige dekgewasse skei chemiese stowwe af wat nadelig vir aalwurms is.

Met soveel kos agter die stroper gaan die vee lekker wei! Die plantdatum is so beplan dat die weiding direk na stroop bewei kan word.

Gert plant hawer, kanola, Japannese radyse en ripradyse. Elke gewas bring sy eie voordele vir die grond. Die hawer behoort die aalwurm te verminder, terwyl dit ook help met grondstruktuurvorming. Die wortelstelsel van die hawer is aggressief en behoort die surplusvoedingstowwe in die grond in organiese materiaal om te sit. Dit is belangrik dat die hawer se sekondêre wortels ontwikkel, wat die hawerproduksie verbeter.

Kanola is ’n gewas wat bekend is vir stikstofbinding en so word die natuur gebruik om die bemestingsrekening vir die volgende seisoen te verminder. Die radyse vorm organiese materiaal in die grond en tot ’n mate “bewerk” dit ook die grond.

Verder behoort dekgewasse te help om die versuipprobleem van vlakwatertafellande te beheer. Hierdie gewasse kan die surplusvog wat na die oes geproduseer word, benut en sodoende sal die lande nie meer so gereeld versuip nie.

As die mielies begin afgaan, kry die dekgewasse genoeg sonlig om behoorlik te groei.

Metodes van vestiging
Hoe gemaak om die dekgewasse gevestig te kry terwyl die graan nog op die lande is? Twee opsies is oorweeg, naamlik ’n hoogloopspuit toegerus met ’n strooier of ’n vliegtuig. Na oorweging is besluit om laasgenoemde te gebruik. Die voordeel van die vliegtuig is dat al die lande in een dag gesaai kan word. Sodra die toestande reg is, kan gesaai word en sodoende het die gewas ’n goeie kans om te presteer.

Die dekgewasse word vanaf einde Januarie tot middel Februarie gesaai. Die rede hiervoor is dat die weiding na stroop reg vir beweiding moet wees. Die hawer word teen 50 kg/ha gesaai, terwyl die Japannese radyse, kanola en ripradyse teen 5 kg/ha gesaai word. Bane van 1,05 meter gee ruim spasie vir die gewasse om te groei, maar skep ook ’n mikroklimaat wat voordelig vir die vestiging is. Die saad lê bo-op die grond en uiters goeie opkoms word verkry. Die najaar se reën is belangrik om seker te maak dat die dekgewasse goed presteer. As die verwagtinge nie goed is vir ordentlike najaarreën nie, moet die produsent mooi dink of die dekgewasse geplant moet word.

Die jong saailinge vestig goed en word deur die mielies se mikroklimaat beskerm.

Volgens Gert kom die saad besonder goed op, is die stand baie goed en het dit die afgelope vyf seisoene uitstekend presteer. Die hawer het sterk wortels gemaak en na stroop was die lande grasgroen van die dekgewasse.

Gert gebruik herfskalf-koeie met kalwers om hierdie weiding te benut. Die lande word vir ’n kort tydjie swaar belaai – die beeste vreet die meeste van die materiaal op en los hul mis en urine op die land. Hierdie bemesting plaas ’n groot deel van die voedingstowwe weer terug in die grond. Alhoewel die beeste net die gewone winterproteïenlek kry, tel die kalwers en koeie mooi kondisie op. Die weiding is redelik gebalanseerd. Daar is heelwat droë materiaal asook graan van die koppe wat nie opgetel word nie en saam met die groenweiding laat dit die diere goed groei.

Kontak Pietman Botha by 082 759 2991 vir enige navrae.