Boots die natuur na met mengsel van spesies

Gepubliseer: 28 Oktober 2020

309
Rudi Kuschke,
weidingskonsultant
Pietman Botha,
SA Graan/Grain-redaksie

Produsente moet onthou hulle boer met grond – nie met mielies, skape, gras, beeste of bome nie. Binne-in die grond is lewende mikroörganismes wat die “kudde” is wat hulle moet bestuur en bewaar. Produsente wat hierdie mikroörganismes vooropstel, sal die vrugte pluk.

’n Dekgewas is niks anders as ’n onkruid van ’n mens se keuse nie. Daar is baie redes waarom produsente dekgewasse verbou, maar oorhoofs is die hoofdoelwitte om gesonde voeding vir die grond en mikroörganismes te verskaf. Dekgewasse kan ook bewei word en uiteindelik ’n beskermende mat (mulch) op die oppervlak los om die grond teen oorverhitting asook vogverlies te beskerm.

Multispesiedekgewasse
Met dekgewasse poog produsente om die natuur na te boots. Deur die aanplant van multispesiedekgewasse wat blomme dra, word nog groter biodiversiteit geskep. Die verbouing van multi­spesiedekgewasse gaan egter met moeite gepaard – weens die verskillende saadgroottes is daar nie juis presisie nie, maar dit is ook nie lukraak nie.

Die natuur streef daarna om grond ten alle tye te bedek en sal altyd daarheen neig. Plantsuksessie begin by die pionierplant tot by die klimaksplant, wanneer die area in balans is met genoegsame biodiversiteit. Daarom die konsep van ’n multispesiedekgewas – elke spesie bring sy eie voordele en plaas iets belangriks terug in die grond.

Voordele van ’n multispesiedekgewas sluit die volgende in:

  • Dekgewasse verminder of bekamp erosie – lewende wortels hou grond vas.
  • Verlaagde vogverlies as gevolg van verdamping vind plaas – bedekte grond is koeler en daarom is die verdamping minder.
  • Genoegsame bedekking deur dekgewasse smoor onkruide.
  • Dekgewasse help om sleutelminerale – naamlik Ca, P, N – beskikbaar te stel.
  • Dit dra by om gewasse te beskerm teen knopwortelaalwurm. Brassicas skei chemiese stowwe af wat toksies is vir die aalwurms en help teen swamsiektes.
  • Dekgewasse voed die grond en mikrobes met deurlopende eksudate van glukose-uitskeiding direk in die wortelsone.
  • Voorsiening van habitat aan voordelige insekte deur nektar en stuifmeel asook beskerming.
  • Grondaggregaatvorming kom van mikorisa wat glomalien vorm. Dit volg op die vertering van organiese materiaal deur die mikrolewe wat die basis van humus vorm. Humus kan katione en anione akkommodeer, waar klei alleen katione vashou. Dit verhoog dus katioonuitruilkapasiteit (KUK) asook anioon­uitruilkapasiteit (AUK).
  • Vir elke 1%-verhoging van koolstofper­sentasie in die grond, word die waterhouvermoë met 144 000 ℓ/ha verhoog.

Multispesiedekgewasse is spesie-spesifiek, nie kultivar-spesifiek nie. Die presterende dekgewas se samestelling gaan elke jaar anders lyk. Een gewas sal dus nie elke jaar die ander uitpresteer nie, omdat die jare verskil en gewasse daardeur bevoordeel of benadeel sal word. Produsente is geneig om grasgewasse (die sterkste, goedkoopste, beste produseerders) voor te trek, maar stadige groeiers wat die grootste bydrae tot stikstofbinding en wortelstelsels lewer, is ook nodig. Plant multispesiedekgewasse in ’n verhouding van 40% gras tot 60% peulgewasse aan.

Gebruik verkieslik ’n versameling van vyf plantspesies: graan, grasse, peulplante, brassicas (mosterd/koolfamilie soos Japannese radyse of rape) en chenopods (die chenopodium-familie soos misbredie en suikerbeet). Die plante is in wisselwerking met mekaar. Brassicas, soos radyse en rape, is uitstekende keuses, maar egter nie mikorisa-vriendelik nie. Mikorisa is ’n voordelige netwerk van swamme wat tussen plantwortels voorkom en plantvoedingstowwe losmaak vir die plant om te benut (mikorisa vergroot die plant se worteloppervlaktenetwerk). Sonneblom weer, is besonder mikorisa-vriendelik.

Daar is dekgewasse wat uitstekende onttrekkers van nitraat (N) is, terwyl ander weer kalsium of magnesium of fosfate en ander mi­nerale en kombinasies daarvan beter onttrek.

Hierdie onttrekkingstelsels funksioneer effektief wanneer outoreguleringsmeganismes geaktiveer of afgeskakel word tydens tekorte aan of oormaat van minerale. ’n Voorbeeld hiervan is no­dulering in peulplante, wat oor die algemeen afgeskakel word met hoë vlakke van nitrate in die grond, terwyl baie onkruide en sommige grasspesies se aktiwiteit juis deur hoë nitrate aangeskakel word.

Hier word wat voordeliger vir die dier is, afgespeel teen wat voordeliger vir die grond is. Dit is beter vir diereprestasie om jong, hoëvoedingstof- verteerbare materiaal te benut. Die grond verkies egter ’n volgroeide plant met sy wortelstelsel ten volle ontwikkel, wat die meeste fotosintaat kan terugplaas in sy reserwes vir oorlewing en uitbou van suksessie.

Die benutting van dekgewasse is net so belangrik as die keuse van die dekgewaskombinasie. Dekgewasse behoort benut te word deur hoëdrukbeweiding toe te pas. Ultra-hoëdrukbeweiding, wat ’n nieselektiewe beweidingsbeginsel is, kan selfs beter resultate lewer.

Ultra-hoëdrukbeweiding impliseer ’n weidruk van 1 000 bees­te/ha vir ’n tydperk van 30 minute tot twee ure, afhangende van die beskikbare biomassa. Dit kan ook as 50 kg lewende massa per vier­kante meter (’n koei van 500 kg op 10 m2) vir 30 minute tot twee ure gestel word. Selektiewe beweiding moet ten alle tye probeer voorkom word. Onthou alle komponente in die dekgewasmengsel is nie ewe smaaklik nie. ’n Deursnit-kombinasievoedingswaarde is egter beter as die voedingswaarde van monokultuurweiding.

Hoëdrukbeweiding verg bestuur en goeie beplanning. Dit behels meer as om net die vee in te jaag en te laat wei. Die rusfase wanneer die weiding herstel, is die langste fase binne die hele siklus. Dit gaan nie oor die hoeveelheid diere nie, maar eerder oor die tydperk wat die diere die aanplan­ting benut en die hersteltydperk. Een dier kan oorbewei as hy heeltyd op dieselfde plek vreet, want hy soek die hele tyd die smaaklike plante uit.

Rol van dekgewasse in veeboerdery
Dekgewasse is ook vir veeprodusente belangrik. Indien ongeveer 20% van akkerbougrond op ’n rotasiebasis geallokeer word om met ’n dekgewas geplant te word, word die drakrag verbeter. Aangeplante weidings kan bydra om natuurlike weidings te spaar en op strategiese tye te benut.

Die natuurlike weidingsbemesting wat tydens hoëdrukbeweiding voorkom, hou groot voordele vir veeprodusente in. Een koei produseer daagliks 27 kg nat mis en 17 ℓ urine. As dit gekonsentreer word, verskaf dit bemesting en besproeiing, tesame met die vervar­sing/herlewing tydens die lang rusperiode. Aanvanklik sal beeste nie die eerste groen kolle vreet nie, maar wel ses maande later wanneer hulle weer in daardie kamp kom.

Dekgewasse maak deel van die nutriëntsiklus uit deurdat hulle surplusvoedingstowwe (hoofsaaklik stikstof) van die vorige seisoen opneem en in biomassa stoor. Wanneer die biomassa begin ontbind, word hierdie voedingstowwe terug in die bogrond hersirkuleer vir opname deur die opvolgende gewas. Sekere dekgewasse het dieper wortels as die kontantgewasse, wat hulle in staat stel om voedingstowwe onder die normale diepte te onttrek.

Die manier waarop dekgewasse voedingstowwe terug in die grond vrystel, verskil (Tabel 1). In vergelyking met wieke, neem rog byvoorbeeld langer om te ontbind. Rog voorsien dus vir ’n langer periode ’n deklaag, terwyl wieke weer vinniger voedingstowwe in die grond vrystel.

Nota: Benutting soos behoefte, maar met grondgesondheid in gedagte is dit meer voordelig op wasdomstadium van die dekgewas of as staande hooi
Nota: Benutting soos behoefte, maar met grondgesondheid in gedagte is dit meer voordelig op wasdomstadium van die dekgewas. Probeer solank as moontlik lewende wortels in die grond te hê

Multispesiedekgewasmengsels speel ’n groot rol om die beste van twee wêrelde bymekaar te bring. Een met ’n hoë koolstof-tot-stikstof-verhouding (C:N-verhouding), wat langer bedekking bied en die ander met ’n lae C:N-verhouding, wat gouer voedingstowwe in die grond vrystel.

Kontak Rudi Kuschke by 082 775 1779 of Pietman Botha by 082 759 2991 vir meer inligting.