Droëlandkoring getemper vir bloedsweet-seisoene

Gepubliseer: 10 Junie 2020

1485
Dr Robbie Lindeque,
LNR-Kleingraan,
Bethlehem
Dr Chrissie Miles,
LNR-Kleingraan,
Bethlehem

Sedert die LNR-Kleingraan se beginjare word graanopbrengs en -kwaliteit tydens kultivarontwikkeling oor verbouingstreke en seisoene getoets. Hierdie strategie is baie belangrik in die bepaling van ’n kultivar se aanpassingsvermoë en is grootliks die rede waarom koringtelers glo dat ’n goeie kultivar onder alle toestande goeie opbrengs en kwaliteit behaal.

Grondvog is die spil waarom droëlandkoringverbouing draai (Foto 1) en in die 2019-seisoen het die afwesigheid van reën en uitermatige temperature tydens kritieke groeiperiodes droëlandkoring geknou.

Klimaat
Variasies in reënval en temperature is gegewe risiko’s wat met droëlandkoringverbouing geassosieer word. Die 2019-seisoen in die Vrystaat het egter die aanpassingsvermoë van kultivars tot die uiterste beproef.

Goeie grondvog is reeds vanaf planttyd noodsaaklik en diep reserwes bepaal die sukses van die koringoes.

Hier volg ’n aantal interessante feite oor algemene klimaatstoestande van die 2019-koringseisoen in die Vrystaat:

Reënval
Eerstens was die gemiddelde reënval vanaf Junie tot November in 2019 vir die Vrystaatse produksiestreek die laagste sedert die vyftigerjare, met skraps oor die 50 mm vir die Oos-Vrystaat en 20 mm in die Noordwes-Vrystaat (Grafiek 1 en Grafiek 2).

Grafiek 1: Vergelyking van totale reënval (mm) in die Oos-Vrystaat in 2019 met die langtermynreënval.
Grafiek 2: Vergelyking van totale reënval (mm) in 2019 met die langtermynreënval in die Noordwes-Vrystaat.

Tweedens het daar, in teenstelling met die langtermyngemiddeld, reënvalpieke in Maart en April in die Oos-Vrystaat en in April in die Noordwes-Vrystaat voorgekom, wat vooruitsigte vir die seisoen rooskleurig ingekleur het. Soos reeds genoem, het die groeiseisoen egter baie droog verloop en was die opgegaarde grondvog wat met planttyd beskikbaar was die totale som waarmee die groeisiklus voltooi is.

Die reënval oor Desember 2019 het ook ’n rol gespeel. Dit het weliswaar nie graanopbrengs beïnvloed nie, maar wel die graad. Die reënvaltotale in Desember 2019 was in vergelyking met die langtermyn­gemiddeld onderskeidelik 21 mm (Oos-Vry­staat) en 41 mm (Noordwes-Vrystaat) meer.

Temperature
Navorsingsliteratuur bevestig dat variasies in beide maksimum en minimum temperature tydens korrelvul en die fisiologiese rypwording van koring (Oktober en November) kan lei tot swak hektolitermassa en valgetal. Hoë reënval met gepaardgaande bewolkte toestande in laat November tot met oestyd in Desember kan aanleiding gee tot koring wat uitloop in die aar en ook bydra tot swak valgetal.

Alhoewel hektolitermassa grotendeels geneties van aard is, het omgewing ’n groot effek daarop. Hektolitermassa gee aan meulenaars en bakkers ’n goeie aanduiding van die meelekstraksie en uiteindelike winsgewendheid wat van ’n koringbesending verwag kan word. Lae valgetal (die roerder val vinniger deur die mengsel) beteken meer ensiemaktiwiteit het in die korrels plaasgevind en die brood wat daarmee gebak gaan word, sal ’n swak tekstuur en struktuur hê.

Oos-Vrystaat
Minimum temperature van 2019 in die Oos-Vrystaat was in vergelyking met die lang termyn kouer in Junie, Julie en middel Augustus tot middel November (Grafiek 3). In teenstelling was die maksimum temperature vir 2019 vanaf Junie tot einde November warmer as die langtermyngemiddeld. Die groeiseisoen van droëlandkoring in die Vrystaat in 2019 het dus onder laer minimum en hoër maksimum temperature as oor die lang termyn plaasgevind.

Grafiek 3: Gemiddelde temperature in die Oos-Vrystaat.

Noordwes-Vrystaat
Minimum en maksimum temperature in die Noordwes-Vrystaat vir 2019 volg tot ’n groot mate dieselfde patrone as in die Oos-Vry­staat (Grafiek 4). Alhoewel minimum temperature gedurende die 2019-koringgroeiseisoen soortgelyk was aan die langtermyngemiddeld, was maksimum temperature vir die hele jaar bokant die langtermyngemiddeld.

Die gemeenskaplike effek van kouer minimum temperature en warmer maksimum temperature oor die groeiseisoen asook hoër reënval en koeler maksimum temperature vanaf einde November tot Desember het waarskynlik gesorg vir die algemene swak hektolitermassa en valgetal.

Grafiek 4: Gemiddelde temperature in die Noordwes-Vrystaat.

Graanopbrengs en -kwaliteit
Die goeie graanopbrengs en -kwaliteit van LNR-Kleingraan se droëlandkoringpakket vir die Vrystaat, wat in 2019 kop bo water gehou het ten spyte van lae reënval en uiterste temperature, gee moed vir moeilike seisoene.

Seleksie vir goeie aanpassingsvermoë in nuwe kultivars en teellyne vind oor plantdatums en produksiestreke plaas. Die redes hiervoor is eerstens om die reuse-effek wat omgewing (klimaat, grondstatus en -eienskappe, produksiepraktyke, ensovoorts) op kultivarprestasie het, uit te skakel. Tweedens word nuwe kultivars en teellyne oor ’n aantal seisoene aan beide hoë- en laepotensiaal­toestande in spesifieke streke blootgestel (Foto 2).

Teelproewe oor verskeie produksiestreke van die Vrystaat verbeter die aanpassing van teelmateriaal en kultivars.

Staatmakers en nuwe vrystellings
Vyf kultivars van LNR-Kleingraan word vir kommersiële droëlandverbouing in die Vrystaat aanbeveel, terwyl twee kultivars wat in die finale fases van kommersiële vrystelling is, voor die deur staan en klop. In 2019 het hoë variasie in opbrengs en kwaliteitsdata in die nasionale kultivarevaluasieproewe van die Oos-Vrystaat genoodsaak dat slegs resultate van die Clarens-lokaliteit gebruik kon word. Uit die totale lys van 23 droëlandkultivars wat in 2019 by ’n vroeë plantdatum by Clarens geëvalueer is, het Matlabas en Senqu onderskeidelik die derde en vyfde hoogste graanopbrengste behaal en Kubetu, wat nog nie kommersieel beskikbaar is nie, die vierde posisie (Tabel 1). Die winspotensiaal van Matlabas is een posisie laer as die graanopbrengs daarvan, terwyl die winspotensiaal van Kubetu een posisie hoër is as die graanopbrengs.

*Kultivars is nog nie kommersieel beskikbaar nie
#Matlabas word nie vir ’n later plantdatum in die Oos-Vrystaat aanbeveel nie

By ’n later aanplanting behaal Koonap, Elands en Kubetu onderskeidelik die tweede, vierde en vyfde beste graanopbrengste en die winspotensiaal van Elands is een plek hoër as die graanopbrengs.

Resultate vir die Noordwes-Vrystaat is afkomstig uit drie veldproewe (Bultfontein 1, Bultfontein 2 en Wesselsbron) en was oor die algemeen beter as in die Oos-Vrystaat (Tabel 2). By ’n vroeë aanplanting behaal Matlabas, Wedzi en Kubetu onderskeidelik die eerste, tweede en vierde beste graanopbrengste. Kubetu, Wedzi en Matlabas behaal onderskeidelik ook die beste, naasbeste en vierde beste plekke vir winspotensiaal uit die totaal van 22 inskrywings.

*Kultivars is nog nie kommersieel beskikbaar nie
#Matlabas word nie vir ’n later plantdatum in die Noordwes-Vrystaat aanbeveel nie

In 2019 het die opbrengspotensiaal by ’n later aanplanting aansienlik afgeneem. Kubetu, Gariep en Koonap behaal onderskeidelik die tweede, vierde en vyfde posisies vir graanopbrengs wat onveranderd bly vir winspotensiaal.

Nuwe kandidate
LNR-Kleingraan se teelstrategie, wat reeds vir ’n geruime tyd toegepas word, oorweeg en toets beide plaaslik ontwikkelde en ingevoerde genetiese agtergronde onder die heersende omgewing in die Vrystaat. Resultate toon dat al verbeter opbrengspotensiaal in huidige kiemplasma voortdurend, geeneen van die kwaliteitsvereistes ingeboet word nie. Die opbrengspotensiaal van ’n aantal belowende kandidate oor die afgelope seisoene word in Grafiek 5 aangedui.

Grafiek 5: Graanopbrengs van teellyne vir droëlandkoringverbouing in die Oos-Vrystaat, 2019.

Die teelprogram vir droëlandkoring in die Vrystaat behaal steeds goeie resultate ten spyte van veranderinge in omgewing. Die antwoord vir voortgesette en selfs meer beduidende suksesse in die toekoms, blyk te wees om fyn aanpassings binne die beproefde raamwerk te maak sonder om die effektiwiteit van die teelprogram in te boet. Koringkultivarontwikkeling is dinamies en die droëlandteelprogram vir die Vrystaat is totaal afhanklik van ’n gesonde en kompeterende koringbedryf in die streek, waarin die behoeftes van koringprodusente doelwitte moet dikteer.

Kontak dr Robbie Lindeque vir enige navrae by 082 563 1553 of lindequerc@arc.agric.za.