’n Finale terugblik vir Jaco

Gepubliseer: 17 April 2020
Valerie Cilliers, redakteur, SA Graan/Grain

1309

Graan SA is vanjaar 20 jaar oud. Tydens die jaarlikse Kongres op 4 en 5 Maart het die uittredende voorsitter van die organisasie, Jaco Minnaar, hoogtepunte en mylpale van die afgelope paar jaar uitgelig.

“Die vraag word dikwels gevra: ‘Wat doen Graan SA?’ Maar kom ons draai dit om en vra wat as Graan SA nie daar was nie,” het hy aan kongresgangers gesê. “Sonder ons kunsmismoniteringsprojek sou die aandag nie gevestig gewees het op die ongeveer 14% van kunsmismonsters wat buite die standaard was nie. Hierdie getal het vanjaar aansienlik verminder. Dieselrabateise sou waarskynlik nog moeiliker wees en langer geneem het. So het Graan SA vanjaar hulp aangebied en sukses met die terugbetaling van eise van meer as R12 miljoen behaal.”

Mylpale
In 2016 is die NAMPO Oesdag vir die 50ste keer aangebied – steeds groei dit en lok meer uitstallers en besoekers. Daarbenewens is ’n uiters suksesvolle NAMPO Kaap in 2018 gevestig.

“In September vanjaar word die eerste NAMPO ALFA Lewendehawe-, Jag- en Buitelewe-ekspo hier op NAMPO Park aangebied. Die inkomste dra ook by tot ’n volhoubare Graan SA,” het hy gesê.

Finansieel gaan dit goed met die organisasie. Volgens Jaco kon Graan SA ten spyte van negatiewe begrotings die afgelope jare, jaarliks met klein surplusse eindig. Hy skryf dit toe aan personeel se goeie bestuur en kostebesparings, maar veral aan uitbreiding van inkomste. Dit is spesifiek die bydraes van produsente wat ’n groot rol hier gespeel het.

Markte
Die statutêre verklaring van in- en uitvoere van mielies, tesame met verskeie ander programme, het ’n meer deursigtige en vrye markplek bewerkstellig en volgens Jaco verbeter die reëls en deursigtigheid van die JSE steeds. “Die ou sondebok, die liggingsdifferensiaal, bly egter ons achilleshiel. Na die verslag en aanbevelings van prof Matt Roberts, het die JSE baie selektief gekies wat om te implementeer. Ons is in gesprek met hulle om ook na die ander aanbevelings en markinsette te kyk,” het hy gesê.

Kongresgangers het gehoor dat die produksie van mielies al ’n geruime tyd vinniger as die vraag daarna styg.

Plaaslik het die sojaboonmark aansienlik toegeneem as gevolg van kapasiteit en kwaliteit wat uitgebrei en verbeter is, met ’n aansienlike uitbreiding in produksie. “Hierdie, sowel as ander alternatiewe gewasse, kry sterk fokus om die opsies vir produsente uit te brei,” het Jaco produsente verseker.

Koringomdraaistrategie
Die koringomdraaistrategie wat die afgelope ses jaar ’n groot fokuspunt vir Graan SA was, het verskeie vrugte afgewerp. Die groot deurbraak van graderingsregulasies om in ooreenstemming met internasionale standaarde te kom, is die afgelope seisoen geïmplementeer. “Ons vinnige berekening toon dat dit meer as R100 miljoen se waarde op plaasvlak geskep het.”

Navorsing
Bedryfsrelevante navorsing is nog ’n spesifieke fokus van Graan SA en Jaco meen dat goeie vordering reeds in dié verband gemaak is. Befondsing is geallokeer vir die daarstel van gespesialiseerde konsortiums om fondse en kennis optimaal te gebruik.

Die teling-en-tegnologieheffing is reeds vir koring, gars en sojabone ingestel en volgens Jaco is daar goeie vordering wat navorsing betref.

Landbou-ontwikkeling
“Ons landbou-ontwikkelingsprogram het die afgelope 15 jaar al meer as 12 000 boere ondersteun en opgelei. Meer as R1,2 miljard se fondse is bestuur en spandeer op opleiding en mentorskap. Dit danksy borgskappe van verskeie regeringsdepartemente, bedryfsrolspelers soos die graantrusts, insetverskaffers en graanafnemers in die bedryf.”

Die nuwe en die oue – Derek Mathews (nuutverkose voorsitter van Graan SA) skud blad met sy voorganger, Jaco Minnaar. Jaco was vir die afgelope vier jaar in die voorsitterstoel. Derek het hom bedank vir sy positiewe leierskap asook ‘n waardevolle bydrae tot die bedryf.

Leierskap
Leierskap in landbou is vir die organisasie belangrik en Graan SA het verskeie bydraes gelewer in gesprekke in die Parlement rondom die droogte, voedselsekuriteit, kommandowurms en grondonteiening sonder vergoeding. In dié verband werk die organisasie nou saam met Agri SA, die PPGI (Public-Private Growth Initiative) en die onlangs gestigte Landbou-ontwikkelingsagentskap (AGDA).

Leierskapsontwikkeling geniet ook aandag in die vorm van die Grain Academy (nou herdoop na die Leadership Academy for Agriculture), waar leiers vir die toekoms ontwikkel word.

Vorentoe
Jaco het Graan SA se Hoof- en Dagbestuur bedank vir hulle onbaatsugtige bydraes en opofferings die afgelope jaar. “Aan Graan SA-personeel, Jannie en jou span, julle is uiters bekwaam en die beste in die bedryf. Julle diens aan die landbou is van onskatbare waarde. Baie dankie vir julle toegewydheid aan die produsente en die saak van landbou in Suid-Afrika. Julle maak werklik ’n verskil.”

Jaco tree vanjaar uit as voorsitter en tydens die Kongres is Derek Mathews as nuwe voorsitter verkies. Jaco is geloof vir sy bydrae tot die graanbedryf en die besonderse wyse waarop hy kalm kon bly in alle omstandighede.