Inkomste deur heffings presteer goed

Gepubliseer: 17 April 2020
Luan van der Walt, landbou-ekonoom, Graan SA

1508

Tydens die afgelope Kongres het Graan SA terugvoer aan lede oor die resultaat van die heffingsinkomste vir die 2019/2020-seisoen verskaf.

Ralf Küsel, voorsitter van Graan SA se Bemarkingswerksgroep, het ’n voorlegging gedoen rakende die seisoen se gerealiseerde heffingsinkomste. Hy het gesê dat alhoewel dit ’n uitdagende produksieseisoen was as gevolg van die laat aanplantings, was die heffingsinvordering vir Graan SA beter as wat aanvanklik verwag is. Die grootste gedeelte van die somersaaigebied het laat aangeplant, wat die opbrengste vir die seisoen negatief beïnvloed het, terwyl die Wes-Kaap se produksietoestande aanvanklik goed gelyk het, maar later in die seisoen drasties verswak het.

Ralf Küsel gee terugvoer aan die Kongres rakende die 2019/2020-seisoen se heffingsinkomste.

Inkomste
Graan SA het ’n heffingsinkomste van R17,88 miljoen gerapporteer, wat net minder as ’n miljoen rand meer is as waarvoor daar begroot is tydens die 2019-kongres. Die hoër as begrote heffingsinkomste wat ontvang is, kan grootliks toegeskryf word aan die beter as verwagte produksie wat gedurende die 2019/2020-seisoen gerealiseer het. Ralf het sy dank uitgespreek teenoor Graan SA se Hoofbestuur, die Bemarkingswerkgroep en ander personeel vir die harde werk wat gedoen is om bogenoemde te vermag.

Die fokus van Graan SA se bemarkingspan bly steeds om die heffingsinkomste te laat groei deur ’n groter porsie van die potensiële heffings in te samel. Gedurende die 2019/2020-seisoen is daar ongeveer 34% van die potensiële heffings ingesamel, teenoor die 33% van die vorige seisoen.

Agente
Agente speel ’n belangrike rol in terme van die invordering van die Graan SA-heffings. Dit is dus belangrik om goeie verhoudinge met agente wat graanhandelaars, silo-operateurs en graanverwerkers insluit, te vestig. Die mark groei steeds in terme van die aantal graankopers en produsente lewer dus hul graan aan ’n wyer verskeidenheid kopers as in die verlede. Dit plaas die onus op produsente om met die graankopers in gesprek te tree rakende die heffings en seker te maak dit word deur die kopers, wat as vorderingsagente by Graan SA gelys is, verhaal. Alternatiewelik kan die produsente die markdeelnemers wat nie as vorderingsagente by Graan SA gelys is nie, aanmoedig om dit wel te doen. Hulle kan ook Graan SA se bemarkingspan in kennis stel van hierdie agente om met hulle in gesprek te tree.

Ralf het die agente wat die invordering van die heffings deur hul kanale bewerkstellig, bedank en weer eens beklemtoon dat dié funksie wat hulle vir Graan SA vervul, van onskatbare waarde is.

Heffings in perspektief
Graan SA se Kongres het besluit om by die gedifferensieerde heffings op verskillende gewasse te bly. Die heffings in Tabel 1 toon die nuwe heffingsbedrag per kommoditeit soos vanaf 1 Maart vanjaar.

Ralf het die koste van die Graan SA-heffings in perspektief geplaas deur die voorbeeld van ’n mielieprodusent te gebruik. Die gemiddelde produksiekoste per hektaar vir ’n droëland-mielieprodusent in Suid-Afrika is R11 400/ha. Die Graan SA-heffing op mielies is R3,20/ton. Die gemiddelde opbrengs volgens die Nasionale Oesskattingskomitee (NOK) se eerste produksieskatting vir die 2020/2021-seisoen is 5,6 t/ha. Dit beteken die heffing kos die produsent R17,92/ha – wat gelykstaande is aan slegs 0,16% van die produsent se totale insetkoste vir mielies. Wanneer hierdie perspektief aan die heffings gekoppel word, spreek die waarde van die heffings vanself. Teen minimale koste verteenwoordig Graan SA – as spreekbuis vir graanprodusente in Suid-Afrika – die produsent dus op verskeie vlakke. Dit bied die produsent die geleentheid om op produksie te fokus, terwyl die organisasie na sy belange omsien – van ’n regulatoriese vlak tot op plaasvlak.

Dankie
Graan SA is en bly ’n produsente-organisasie. Die heffingsinkomste is die hartklop van die instansie en verseker dat Graan SA sy werksaamhede kan voorsit. Ralf het sy dank uitgespreek teenoor lede vir hul getroue bydraes tot die organisasie en hulle die nodige gerusstelling gegee dat die fokus steeds daarop is om graanprodusente in Suid-Afrika van diens te wees.

Hy het genoem dat Graan SA sonder hierdie inkomste nie die bedryf in totaliteit só sou kon bestuur nie. Hy het die Kongres ook meegedeel dat daar streke is wat nie hul deel bydra nie en dat die bemarkingspan tesame met die Hoofbestuurslede in die komende jaar veral op hierdie streke sal fokus.