Hoë persentasie korrelstikstof bedreig garsbedryf

Gepubliseer: 17 April 2020

2095
Burrie Erasmus, gewasontwikkeling­spesialis, AB InBev

Produsente sal daadwerklik moet poog om korrelstikstofvlakke afwaarts te bestuur na vlakke tussen 1,60% en 1,80%. Dit was die versoek van AB InBev na afloop van die garsevaluasiekomitee­vergadering in Caledon. Data wat hier bekendgemaak is, toon dat die gemiddelde korrelstikstofpersentasie (% TN) van moutgars te hoog vir vermouting- en broudoeleindes raak.

Die persentasie korrelstikstof ingeneem gedurende die laaste twee jaar het geskuif na hoër vlakke van >1,90% TN (maksimum toelating 2,00% TN). Die afgelope 2019-oes se innamedata toon dat ’n groot persentasie van die gars op die maksimum toelaatbare vlak van 2,00% TN ingeneem is (Grafiek 1).

Grafiek 1: Persentasie van korrelstikstofverspreiding oor jare.
Bron: AB InBev – Agricultural R&D

AB InBev meen dat die hoër gemid­delde persentasie van korrelstikstofvlakke wel deur die droogte van die 2018- en 2019-produksieseisoene veroorsaak kon wees, maar dat produsente moontlik tans te hoë vlakke van N-bemesting toepas. Hulle is van mening dat produsente na ‘n bemestingsriglyn van 15 kg N/ha tot 20 kg N/ha per ton opbrengspotensiaal moet beweeg. Faktore soos die verhoogde persentasie grondkoolstofinhoud as gevolg van bewaringslandboupraktyke, moet in ag geneem word tydens bemestingsbeplanning. Optimale bemesting moet beperk word tot areas met hoër reënval en gepaardgaande beter opbrengspotensiaal.

Bron: AB InBev – Agricultural R&D
* Inskrywingsnommer

Om die risiko van produsente afwaarts te bestuur, het AB InBev se navorsingspan onder leiding van Burrie Erasmus in 2018 met navorsing op stikstofbestuur in die droëlandproduksieareas begin. Die doelwit van die navorsing is om kommersiële en eksperimentele variëteite te evalueer vir optimale N-bemesting per produksiegebied.

2019- seisoenale reënval
As gevolg van ernstige droogte is die Heidelberg-lokaliteit (Witsand Vlakte) se plantdigtheid en stikstofverdelingsproewe nie geoes en ontleed nie, aangesien die area slegs 77% van die langtermynreënval vir April tot Oktober ontvang het. (Reënval was besonder laag in Augustus en September.) Die meeste reën het aan die begin en die einde van die groeiseisoen geval. Die Swartland (Riebeek-Wes) se kultivar x stikstofverdelingsproef kon nie ontleed word nie weens oormatige stikstofbemesting wat per ongeluk by die betrokke lokaliteit oor die proef toegedien is. Dit nadat die basisstikstofbemesting reeds toegedien is. Genoemde lokaliteit het ook slegs 63% van sy langtermynreënval ontvang vir April tot Oktober 2019.

Die proefmetodologie is soos volg:

  • Liggings: Swartland (Riebeek-Wes), Caledon (SABBF-modelplaas), Heidelberg (Witsand Vlakte)
  • Ewekansige blokontwerp: twee faktoriaal met drie herhalings (drie kultivars x vyf stikstofvlakke en verdelings)
  • Perseelgrootte: vyf rye @ 25 cm-ryspasiëring x 5,0 m = 6,25 m²
  • Plantdigtheid van die kultivarstikstofverdelingsproewe is gegrond op ’n 130 plante/m²-teiken @ 80%-oorlewingsyfer = 156 sade/m²
    Hessekwa (S12) @ 44,3g duisendkorrelmassa (DKM) = 72 kg/ha
    Elim (S14) @ 47,5g DKM = 77 kg/ha
    Kadie (S16)@ 45,4g DKM = 74 kg/ha
  • Geplant met ’n spesifiek geboude DBX MinTill-perseelplanter
  • Vorige gewas: Swartland (koring), Caledon (gars), Heidelberg (koring)
  • Plantdatum: Swartland (14/05/2019), Caledon (09/05/2019), Heidelberg (02/05/2019)
  • Ontkiemingsdatum: Swartland (21/05/2019), Caledon (24/05/2019), Heidelberg (19/05/2019)
  • Gewasbeskerming: Normale optimale praktyke is gevolg

Bemestingspraktyke wat gevolg is om proefbasis-stikstofvlakke te vestig:

  • Caledon (SABBF)
    Basis begin N = 60 kg/ha (@ plant 24 N + @ ses weke 36 N) Alpha 333, Greensulf  (35)
    P = 16
    K = 0
  • Heidelberg (Witsand Vlakte) en Swartland (Riebeek-Wes) kon nie ontleed word nie weens die droogtetoestande

Bespreking en aanbevelings
Die gekombineerdedata-analise se koëffisiënt van variasie (KV) verteenwoordig 25,3%, wat te hoog is vir betroubare en betekenisvolle interpretasie van die gekombineerde data. Dit kan moontlik die gevolg wees van marginale reënvaltoestande gedurende die middel van die groeiseisoen, met gepaardgaande swak raaigrasbeheer.

Daar was geen betekenisvolle verskille op 0,05-vlak in die opbrengs tussen die drie variëteite in alle stikstofbehandelings in die Caledon-gebied nie. Daar is ook geen betekenisvolle verskille waargeneem tussen al vyf stikstofbehandelings in die drie variëteite vir opbrengste en persentasie vetkorrel nie. Beide Elim en Kadie lewer ’n aansienlik hoër persentasie sifsels as Hessekwa oor al vyf stikstofbehandelings. Die stikstof­verdeling wat toegepas is van 60:20 (80 N), 60:30 (90 N) en 60:40 (100 N) het ’n aansienlik hoër korrelstikstofinhoud (% TN) opgelewer, alhoewel dit steeds binne die spesifikasies van moutgraad was. Die hoogste opbrengs, tweede hoogste persentasie vetkorrels en die laagste persentasie sifsels en korrelstikstofinhoud is verkry met ’n 60:00- (60 N-)stikstoftoediening, waar 60 kg N/ha alles tydens plantstadium toegedien is sonder enige kopbemesting op vierblaar- tot sesblaarstadium.

Bron: AB InBev – Agricultural R&D
Bv = betekenisvolle verskil
KV = koëffisiënt van variasie
KBV = kleinste betekenisvolle verskil
P-waarde = standaardwaarskynlikheidswaarde
* Inskrywingsnommer

Die aanbeveling wat gemaak word, is gebaseer op die toetsperiode van twee jaar vir slegs die Caledon-omgewing. Nog addisionele toetsjare sal aanbevelings beter kan staaf.

  • Met ’n gemiddeldereënvalscenario van 60% van die langtermyntotaal ontvang vir April tot Junie, sal ’n verdeling van 60:00 (60 N), waarvan alles by plant (vooruit + band), met geen addisionele kopbemesting op vierblaar- tot ses­blaarstadium toegedien nie, moontlik die beste opsie wees.
  • ’n Gemiddeldereënvalscenario van 75% van die langtermyntotaal ontvang vir April tot Junie, sal ’n verdeling van 60:10 (70 N), waarvan 60 N tydens plant (vooruit + band), plus 10 N met kopbemesting op vierblaar- tot sesblaarstadium gegee kan word. Of alternatiewelik 60:20 (80 N), waarvan 60 N tydens plant (vooruit + band), plus 20 N met kopbemesting op vierblaar- tot sesblaarstadium gegee kan word.
  • Met ’n gemiddeldereënvalscenario van 100% en meer van die langtermyntotaal ontvang vir April tot Junie, sal ’n verdeling van 60:30 (90 N), waarvan 60 N by plant (vooruit + band), plus 30 N kopbemestingverdeling op vierblaar- tot sesblaarstadium en selfs ’n verdere verdeling op vlagblaarstadium moontlik die beste opsie wees.

Die resultate van die kultivarplantdigtheidsproewe sal in ’n opvolgartikel behandel word, sodra addisionele derdejaarresultate beskikbaar is.

Vir meer inligting oor die resultate, kontak gerus vir Burrie Erasmus by Burrie.Erasmus@za.ab-inbev.com.