Noordwes-Vrystaat – Dié sandgronde kwesbaar vir verdigting

Gepubliseer: 24 Februarie 2020

1801
André Nel,
onafhanklike
akkerboukundige
Danie Beukes,
onafhanklike
grondkundige
Thabo van Zyl,
SOK-produsentemede­werker van Bothaville

Een van die hoekstene van bewaringslandbou is die beginsel van minimum grondversteuring in die verbouing van gewasse. Die Voedsel- en Landbou-organisasie van die Verenigde Nasies (FAO), wat bewaringslandbou promoveer en bevorder, het ’n baie streng definisie van minimum grondversteuring. Slegs die planter wat gebruik word, mag die grond versteur en slegs met die doel om saad en kunsmis in die grond te plaas. Die FAO fraseer dit as geenbewerking, oftewel no-till in Engels.

Indien die grond nie versteur word nie, word die habitat van mikro-organismes ook nie versteur nie. Voordelige organismes wat sensitief vir grondversteuring is, byvoorbeeld mikorisas, kan dan gedy tot voordeel van die grond en die gewas. Bewerkte grond wat na geenbewerking omgeskakel is, herstel tot ’n gesonder toestand. Die erosiekwesbaarheid neem dramaties af en die infiltrasietempo van reënwater neem gewoonlik toe. Kortom kry die volhoubare gebruik van die grond ’n geweldige hupstoot en die doeltreffendheid van graanproduksie neem toe. Proefresultate van die Ottosdal Bewaringslandbouklub oor die afgelope ses jaar bevestig hierdie stelling.

Sandgrond
Maar hoe gemaak met die sowat 1,5 miljoen ha eoliese (windgewaaide) sandgronde wat veral in die Noordwes-Vrystaat voorkom en waar die Sandgrond­ontwikkelingskomitee (SOK) proefwerk doen? Dié grond, wat ’n sand- tot leemsandtekstuur het, is die swaartepunt van die nasionale mielie-oes. Is geenbewerking soos per definisie op hierdie grond moontlik? Ondervinding en menings oor dié moontlikheid verskil.

Hierdie sandgrond, wat waarskynlik nie op baie plekke in die wêreld voorkom nie, het besondere eienskappe. Eerstens bevat dit gewoonlik uiters min organiese materiaal, slik en klei. Die klei-inhoud van die A-horison is gewoonlik laer as 10% en dié van die B-horison laer as 15%. Dis ’n grond wat letterlik in die hoek van die Suid-Afrikaanse tekstuurdiagram geleë is (Figuur 1), terwyl die res van die wêreld se graanproduksiegronde elders op die diagram voorkom.

Figuur 1: Die Suid-Afrikaanse grondtekstuurdiagram. Die tekstuurklasse waarin die sandgronde van die Noordwes-Vrystaat voorkom, word in rooi getoon.

Die sandgronde het ’n relatief hoë tempo van waterinfiltrasie en – baie belangrik – ’n vlak watertafel ontwikkel in menige seisoen in groot gedeeltes van die gebied. ’n Kleilaag op 1,5 m tot 2 m diep in die profiel beperk dreinering en ’n tydelike hangende watertafel ontstaan. Die watertafel is die sandgrond se sterkpunt in die droë klimaat met sy wisselvallige en beperkte reënval. Die onderskepping en berging van reënwater is doeltreffend en daarom word relatief hoë opbrengste op die gronde behaal. Die uitdaging is om gewasse se wortels in staat te stel om die watertafel te benut.

Verdigting
’n Groot negatiewe eienskap van die sandgronde is dat dit baie maklik op ’n diepte van 25 cm en dieper verdig. Die verdigting beperk menige gewas se wortelindringing en die benutting van die watertafel. Gevolglik word graanproduksie dan beperk en resultate van die SOK se proefwerk bevestig dit.

Die verdigting word aan sekere grondeienskappe toegeskryf. Eerstens is die klei- en organiesemateriaalinhoud van die grond baie laag. Klei en organiese materiaal, in die afwesigheid van bewerking, sorg dat die aggregaatstabiliteit en poriespasie tussen gronddeeltjies in stand gehou word en dat die grond sodoende ’n weerstand teen verdigting het.

Tweedens bestaan die gronde hoofsaaklik uit ’n medium- en ’n fynsandfraksie (korrels kleiner 0,25 mm) en die korrels is boonop gerond. Geronde partikels kompakteer baie makliker as niegeronde deeltjies indien druk daarop geplaas word.

Weens die kombinasie van bogenoemde eienskappe kan die grond op ’n natuurlike wyse verdig. Op ’n diepte van 30 cm is die druk van die bogrond tussen 390 kg m-2 en 480 kg m-2. Indien die grond nat word en uitdroog, het die oppervlakspanning van die water ’n verdere invloed en gebeur dit dat die grond onder die druk swig en verdig. Hierdie swigtingsproses is ook al in laboratoriumtoetse bevestig.

Trekkers, stropers en ander toerusting wat gebruik word se wieldruk kan etlike ton m-2 wees en die grond word geweldig in die spoor verdig. Die impak van dié verdigting is dikwels selfs in die seisoen waarná dit “toegedien is” sigbaar, ten spyte van ’n diep bewerking. Indien die ryrigting van een seisoen na ’n volgende verander word, is die vorige seisoen se ryrigting sigbaar in die swakker groei van mielies in die trekker- en implementspore. Produsente noem dit die geheue van die grond. Die beperking en opheffing van grondverdigting is dus ’n belangrike aspek vir gewasproduksie in die gebied.

Foto 1: ’n Tandemskeurploeg met tande op ’n diep­te van 500 mm en 750 mm wat vir rip-op-ry-bewerking gebruik word.

Beperking en opheffing van verdigting
Grondverdigting kan op drie maniere beperk en opgehef word, naamlik deur die toevoeging van organiese materiaal, die kweek van gewasse met aggressiewe wortelstelsels of deur middel van bewerking.

Die toevoeging van organiese materiaal kan die verdigbaarheid van grond verlaag. Dit is egter nie ’n haalbare oplossing nie, aangesien daar net eenvoudig nie genoeg materiaal beskikbaar is nie, dit boonop vinnig in sandgrond afbreek en dit tot op die verlangde diepte met die grond gemeng moet word, wat addisionele bewerkings sou vereis.

Gewasse met wortelstelsels wat die verdigting moontlik kan ophef, moet nog meer volledig ondersoek word. Indien so ’n gewas wel bestaan en dit verbou word, sal dit die ekonomie van die graanproduksiestelsel steeds moet laat klop. Verder dui resultate van die SOK ook daarop dat dekgewasmengsels, saamgestel uit verskeie tipes sorghum, kleingraan, brassicas en peulgewasse, nie die verdigting doeltreffend oor ’n periode van drie jaar kon ophef nie.

Die standpunt word gehuldig dat genoeg tyd met die verbouing van die regte gewasse (veral dekgewasse) moet verloop, asook dat die integrasie en beweiding daarvan deur diere (byvoorbeeld beeste, skape en selfs varke en hoenders) nodig is om die organiese materiaal te verhoog en verdigting op te hef. Hoeveel seisoene dit met watter gewasse gaan verg, is onbekend en moet deeglik nagevors word. Oor die algemeen word daar deur internasionale bewaringsprodusente en navorsers aanbeveel dat hierdie praktykte (kontantgewasse in kort rotasies met dekgewasse en vee) vir ten minste vyf jaar moet plaasvind voordat gevolgtrekkings gemaak kan word.

Trekkers en implemente moet noodwendig met die verbouing van die gewasse gebruik word, terwyl dit vir ’n groot deel van die verdigting verantwoordelik is. In hierdie geval lyk dit of beheerde spoorverkeer ’n vereiste is wat met die bogenoemde praktyke in die sandgronde getoets kan word.

Bewerking
Tans is die enigste prakties werkbare en volledig getoetste alternatief, wat ook die mening van die SOK weerspieël, om die verdigting jaarliks met ’n diep rip-op-ry-bewerking met byvoorbeeld ’n tandemskeurploeg (Foto 1) op te hef. Dit moet egter ekonomies sin maak en dit is een van die onderwerpe wat deur die SOK ondersoek is.

’n Proef is die afgelope drie seisoene in die Bothaville-distrik op die plaas Doornbult van Thabo van Zyl uitgevoer. Ripdieptes van 45 cm, 60 cm, 75 cm en 90 cm is in ’n rip-op-ry-monokultuurmieliestelsel in ’n statisties uitgelegde proef met vyf herhalings toegepas. Die rywydte was 76 cm en individuele persele was sowat 1,1 ha groot, wat die plant en oes van die proef met ’n kommersiële planter en stroper moontlik gemaak het. Die opbrengsresultate word in Grafiek 1 getoon.

Grafiek 1: Die opbrengs van mielies soos deur rip-op-ry-bewerking beïnvloed in drie seisoene op ’n watertafelsandgrond in die Noordwes-Vrystaat.

In twee seisoene (2016/2017 en 2018/­2019) het die opbrengs beduidend toegeneem soos van 45 cm tot 75 cm dieper bewerk is, waarna die opbrengs nie meer betekenisvol verander het nie. Die ekonomiese berekening bevestig ook dat 75 cm die aangewese diepte van bewerking vir die grond is. In 2017/2018 het die bewerkingsdiepte geen betekenisvolle invloed op die opbrengs getoon nie. In die betrokke seisoen was ’n bewerkingsdiepte van 45 cm voldoende en moontlik sou geenbewerking ook geslaag het. Die hoeveelheid en verspreiding van die reënval in 2017/2018 was van so ’n aard dat die benutting van die dieperliggende water (watertafel) in die profiel onnodig was. Daar kom dus seisoene voor waartydens diep bewerkings onnodig is – as ’n mens maar net vooraf geweet het.

Nog ’n aspek wat duidelik word, is dat die opbrengsvariasie oor seisoene kleiner word soos wat die bewerkingsdiepte toeneem. Die opbrengs se koëffisiënt van variasie is 31% by ’n ripdiepte van 45 cm en neem af tot 11% by ’n bewerkingsdiepte van 75 cm. Om 75 cm diep te bewerk in plaas van vlakker, maak dus nie net ekonomies sin nie, maar help ook om wisselvalligheid en risiko te bekamp.

Verminderde bewerking
Soos reeds genoem is, het die grond ’n geheue wat kunsmatige verdigting betref. Dit impliseer dat daar ook ’n geheue moet wees wat bewerking betref, wat die vraag laat ontstaan of ’n diep bewerking elke seisoen nodig is? Vanaf 2019/2020 gaan Lourens van der Linde van Wesselsbron in ’n proef kyk hoe die opbrengs beïnvloed word as daar slegs elke tweede seisoen in ’n rip-op-ry-stelsel met beheerde spoorverkeer bewerk word. Die verwagting is dat die mielie-opbrengs in die seisoen van geenbewerking wel kan daal, maar dat die besparing van geenbewerking moontlik die verlies aan opbrengs gaan klop. Indien dit slaag, beteken dit dat ’n rip-op-ry-bewerking slegs elke tweede seisoen nodig is – wat ’n groot besparing kan meebring.

Slotsom
Almal is dit eens dat die bewaring van grond ’n ononderhandelbare vereiste is. Daarom moet die beginsels van bewaringslandbou, onder meer geenbewerking, so ver moontlik toegepas word. Die dilemma met die sandgronde van die Noordwes-Vrystaat is dat geenbewerking op groot gedeeltes in die streek oënskynlik nie slaag nie weens die verdigtingskwesbaarheid. Bewerking van dié grond lyk tans na ’n noodsaaklike euwel. Die besef bestaan dat dit gestaak of minstens beperk moet word, maar ongelukkig kan die produktiwiteit dan ernstig afneem. Innoverende denke en die ondersoek na moontlike oplossings is nodig.

Gevalle bestaan in die Noordwes-Vrystaat waar vlak bewerking of selfs geenbewerking oënskynlik wel suksesvol toegepas word. Dit dui moontlik daarop dat grond oor die gebied nie so homogeen is as wat algemeen aanvaar word nie en dat die verdigbaarheid varieer. Dit bied ’n uitdaging aan grondkundiges om voortdurend tegnieke te ondersoek en te ontwikkel, of bestaandes aan te pas, waarmee die verdigtingskwesbaarheid van spesifiek sandgronde bepaal kan word. Dit sal ’n uiters handige tegniek wees om die geskiktheid van gronde as ’n funksie van bewerkingsdiepte te identifiseer.