In die vorige reeksartikel oor deposisie is bespreek waarom dit so belangrik is om meer spuitdruppels tot by die teiken te kry. Goeie spuittoerusting, spuittegnieke en neerslaghulpmiddels word hiervoor gebruik. Dit is egter nutteloos om meer druppels tot by die plant te kry as dit weer gaan afspat. Dit is ook belangrik dat die druppels wat wel op die blaar behou word ’n groter oppervlakte bedek – dus verhoogde kontak tussen die spuitdruppel en die blaar.
Blare het versperrings vir gewasbeskermingsprodukte (GBP’s)
Blare van gewasse en onkruide is nie ontvanklik vir spuitdruppels nie. Dit het wasagtige lae wat ’n natuurlike versperring vir GBP-spuitdruppels is. In die eerste plek spat druppels maklik af, wat bedekking direk beïnvloed. Tweedens versprei spuitdruppels nie effektief op die was nie, daarom word die kontakoppervlakte tussen die druppel en die blaar beperk. Derdens is daar dikwels ook trichome (hare) op blare. Sekere onkruidblare het soveel trichome dat spuitdruppels soms nooit die blaaroppervlak bereik nie. Dit lê bo-op hierdie trichoomlaag en verdamp nog voordat die GBP se werking begin het.
Daar is ongelukkig min opname via die trichome, so die enigste manier om effektiwiteit te bewerkstellig is om die spuitdruppel tot op die blaaroppervlak te kry. Afspat, min kontakoppervlakte en trichome is alles fisiese versperrings vir spuitdruppels wat die bedekking en die effektiwiteit van GBP’s verlaag. Waslae op plante verdik ook in ongunstige weerstoestande, wat hierdie prosesse nog verder belemmer.
Was op blare is egter nie net op die oppervlak ’n probleem nie, maar deur die hele profiel van die blaar. Sistemiese produkte moet deur hierdie waslae beweeg om die werking in die plant te voltooi. Dit is dus die vierde hindernis wat GBP’s op die blaar teëkom. As net een van dié vier aspekte nie hanteer word nie, sal die GBP nie effektief wees nie, en die onkruid-, siekte- of insekbeheer sal swak wees. Effektiwiteit van GBP’s is van kardinale belang, maar dit is net so noodsaaklik om gewasskade te vermy. Spuitdruppelresidu’s wat byvoorbeeld sistemiese GBP’s bevat, se opnametempo moet nie vertraag word nie. Sodra die opnametempo afneem, vertoef die spuitdruppelresidu langer op die blaar, en die kans vir skroei van die gewas verhoog.
Daar moet dus ’n manier gevind word om hierdie vier hindernisse te oorkom. Ongelukkig het sekere GBP’s nie die vermoë om dit self te oorkom nie. Dit moet dus ’n hupstoot kry deur die gebruik van benatters en oliebyvoegmiddels. Hierdie twee groepe byvoegmiddels het ’n soortgelyke metode van werking, maar dit word met verskillende GBP’s gebruik. Benatters is wateroplosbaar, waar oliebyvoegmiddels weer ’n groot persentasie olie asook ’n emulsifiseerder in die formulasie bevat. Olies emulsifiseer onmiddellik nadat dit in die tenk gemeng is en vorm ’n wit emulsiewolk; dit is dus gewoonlik EC-formulasies (Foto 1).

Die invloed van benatters en olies op oppervlakspanning
Oppervlakspanning is die eienskap wat water laat optree asof dit met ’n elastiese laag omvou is. Die spuitdruppel tree dan soos ’n rubberbal op en ’n groot persentasie druppels spat dus met impak van die blaar af. As die GBP ’n na-opkomsproduk is en druppels beland op die grond, is die impak van die afgespatte druppels verlore. Dit is ’n nommerspel: Hoe meer druppels afspat, hoe swakker is die bedekking en effektiwiteit.
Ongelukkig eindig die nadelige invloed van oppervlakspanning egter nie by afspat nie. Druppels wat wel die blaar bereik, versprei swak, dus is daar minder kontak tussen die druppel en die blaar. Dit is ’n groot probleem met plante wat ’n prominente waslaag het of met trichome oortrek is. Die waslaag raak dikker in nadelige weerstoestande om dit te beskerm en daarom word hierdie probleem nog groter. Dit is dus belangrik dat die druppel deeglik met die blaaroppervlak in aanraking kom.
Die eerste doel van benatters en olies is juis om oppervlakspanning te verlaag. Daar gaan dus heelwat minder spuitdruppels afspat omdat dit nie meer soos rubberballe optree nie, en bedekking gaan betekenisvol verbeter word. Tweedens versprei die druppels wat op die blaar behou is, meer effektief (Foto 2). Deur minder afspat en meer verspreiding te bewerkstellig, is daar meer druppels, met ’n groter kontakoppervlakte. Benatters en olies speel dus ’n groot rol om bedekking te verhoog.

Die mate van druppelverspreiding vir optimale effektiwiteit wissel egter tussen verskillende GBP’s. Uitermatige druppelverspreiding is nie altyd gewens nie omdat dit te veel verspreiding en afloop kan beteken. Neerslaghulpmiddels sorg dat daar meer druppels tot by die teiken kom, waar benatters en olies weer help om meer spuitdruppels op die blaar te behou en te versprei. Dit is vanselfsprekend dat indien ’n GBP met ’n benatter of olie geregistreer is, daar ’n groot afname in bedekking gaan wees as die byvoegmiddel uitgelaat word. Dit is dus ’n integrale deel van die bedekkingsproses, en die geregistreerde benatter of olie moet altyd gebruik word.
Die invloed van benatters en olies op opname
Dit is moeilik vir ’n GBP om die waslaag op die blaar binne te dring, en dit raak al hoe moeiliker hoe swakker die omgewingstoestande word omdat die waslaag dan verdik om die plant te beskerm. Die grootste wanpersepsie oor benatters en olies is dat dit net by oppervlakspanning en bedekking betrokke is. Hierdie byvoegmiddels is albei ook aktief by die opname van sistemiese produkte betrokke.
Die eerste opname-eienskap van hierdie byvoegmiddels is juis die druppelverspreiding. GBP’s het gewoonlik ’n optimale druppelverspreiding waar opname optimaal is. ’n Produk soos glifosaat se opname is byvoorbeeld soms swakker as die druppelverspreiding te veel is. Die tweede opname-eienskap van benatters en olies is dat dit die waslaag op die blaar bevogtig om ’n opnameroete vir GBP’s te skep. Soms is die GBP-opname ’n lang proses, daarom is hierdie bevogtiging noodsaaklik oor die volle opnametyd. Dit is belangrik om te verstaan dat hierdie byvoegmiddels gewoonlik net die waslae bevogtig. Die persepsie dat dit die waslae heeltemal oplos en wegvreet, is gewoonlik nie korrek nie.
Belangrike aspekte om in ag te neem
Dit is uiters belangrik om net die byvoegmiddel wat op die GBP-etiket aanbeveel word te gebruik. Benatters en olies verskil in hulle vermoë om oppervlakspanning te verlaag en dus ook in hul vermoë om die retensie- en spreivermoë van spuitdruppels te verhoog. Die opnamevermoëns van verskillende benatters en olies is ook totaal verskillend. Indien die etiketaanbevole byvoegmiddel met ’n ander produk vervang word, is daar ’n risiko dat beide die bedekking en opname benadeel gaan word. Dit sal ’n negatiewe invloed op beheer hê en moontlik tot gewasskroei lei. Die teendeel is egter ook waar – die bedekking en opname kan dalk verhoog word. Die kans op gewasskade raak dan groter. Moet dus nooit ongeregistreerde byvoegmiddels gebruik nie, en moet ook nie die geregistreerde byvoegmiddel weglaat nie.
In die geval van tenkmengsels waar daar verskeie produkte betrokke is, moet die geregistreerde benatter of olie wat ideaal vir die meeste van die produkte is gebruik word. Dit moet in ag geneem word dat sommige GBP’s reeds ’n byvoegmiddel in die formulasie bevat, veral met tenkmengsels.
Ten slotte
Benatters en olies is sleutelprodukte om druppelafspat te verminder, druppelverspreiding te verhoog, meer bedekking op plante te bewerkstellig en opname te verhoog. Hierdie produkte moet egter korrek en volgens etiketriglyne gebruik word. Die weglaat van die etiketaanbevole byvoegmiddel of die gebruik van die verkeerde produk kan oneffektiwiteit of gewasskade veroorsaak.
Produsente moet benatters en olies verantwoordelik gebruik sodat dit tot gesonde gewasbeskermingspraktyke kan bydra. Dit is nie ’n gesonde praktyk om net die byvoegmiddel wat tans in die stoor is te gebruik nie. Gebruik eerder die geregistreerde produk.



























