Deposisie is noodsaaklik vir effektiewe bespuiting

Dr Brian de Villiers, onafhanklike byvoegmiddelkonsultant Gepubliseer: 16 April 2026

49

Nadat watergehalte deur buffers en soutbyvoegmiddels in die waterfase hanteer is, is die volgende proses die spuitdruppelfase. Ultrafyn druppels kan maklik na aangrensende gewasse toe wegdryf, en dit kan ’n groot probleem veroorsaak, veral by inversietoestande. Die korrekte toerusting, verstellings en spuitpunte is van kardinale belang om die spuitdruppels tot by die teikenplant te kry (Foto 1).

Daar is byvoegmiddels in Suid-Afrika beskikbaar wat goeie spuit­praktyke fasiliteer. In hierdie artikel gaan deposisie bespreek word en waarom dit so ’n geweldig belangrike deel van die spuitproses is. Heelwat klem word ook gelê op die waarde van neerslaghulpmiddels en waarom hulle ’n bewese baanrekord moet hê.

Foto 1: Spuittoerusting is die primêre manier om deposisie te verseker.

Waarom is deposisie so belangrik?
Spuitpunte vorm ’n reeks druppelgroottes wat dikwels in ’n spektrum van fyn na grof is (Foto 2). Spesifieke spuitpunte of druppelgroottes gaan nie in hierdie artikel bespreek word nie, maar eerder die beginsel om die korrekte spektrum van druppelgroottes te verseker. Ultrafyn spuitdruppels kan vir uiters lang afstande in lugstrome vervoer word, daarom is dit noodsaaklik om hierdie riskante druppels so ver moontlik te beperk.

Foto 2: Spuitdruppels wat ’n spuitpunt verlaat.

In die verlede is daar heelwat op die nadele van ultrafyn spuit-druppels gefokus, met die klem uitsluitlik op wegdrywing na aan-grensende gewasse. Daar is dus gefokus op onkruiddoders wat met lugbespuiting toegedien is. Dit is waar dat sekere onkruiddoders, teen baie lae dosisse, ernstige skade op sensitiewe gewasse kan veroorsaak. Hierdie fokus was gedeeltelik korrek, maar dit gaan eintlik oor meer as net onkruiddoders met lugbespuiting.

As daar minder spuitdruppels na aangrensende gewasse toe wegdryf, is daar outomaties meer druppels wat op die teikenoppervlakte toegedien word, dus hoër effektiwiteit. Wat egter net so belangrik is, is dat druppels nie net op die boonste dele van die gewas of onkruid gedeponeer word nie. Met verskeie gewasbe-skermingsprodukte (GBP’s) is dit belangrik dat die spuitdruppels die blaredak sal binnedring en op alle dele van die gewas of onkruid gedeponeer word. Die druppelspektrum moet dus van so ’n aard wees dat daar ook druppels is wat die laer dele van die plant bereik. Dit gaan dus nie net oor die oppervlakte wat bedek moet word nie maar ook oor die volume.

Die moderne siening oor wegdrywing het dus met meer te doen as net onkruiddoders wat met vliegtuie toegedien word. Dit fokus ook om meer onkruid-, insek- en swamdoder op die teikengewas en onkruid te kry. Sodoende word effektiwiteit verseker asook minder wegdrywing na aangrensende gewasse. Dit is dus net so belangrik om goeie deposisie met grondspuite te kry. Dit is ’n nommerspel – hoe meer druppels die teiken bereik, hoe groter is die kans vir goeie beheer. Spuittoerusting en -tegnieke is die primêre manier om deposisie te verseker.

Neerslaghulpmiddels
Daar is byvoegmiddels wat druppelgrootte manipuleer en dit word gebruik om effektiewe spuittegnieke te ondersteun. Hierdie produkte word neerslaghulpmiddels genoem, juis oor hulle deposisie-eienskappe. Dit word soms antiwegdrywingsmiddels genoem, maar neerslaghulpmiddels beskryf meer akkuraat wat hierdie produkte doen. Die aktiewe bestanddele van hierdie produkte wissel van gewysigde plantolies tot produkte wat viskositeit verhoog.

In Suid-Afrika is verskeie neerslaghulpmiddels kommersieel beskikbaar. Vir die doel van hierdie artikel gaan daar nie te veel tyd aan die metodes van werking spandeer word nie. Dit is egter belangrik om te noem dat sekere neerslaghulpmiddels die spuitmengsel verdik, waar ander weer buite die spuitpunt werk om druppel-grootte te optimaliseer. Wees bedag daarop dat daar aansprake en beperkings met enige byvoegmiddel is, daarom moet etikette eers deeglik bestudeer word voordat die produk gebruik word. Maak dus seker dat die neerslaghulpmiddel met die betrokke toerusting, spuitpunte en verstellings gebruik kan word.

Die gemeenskaplike doel van alle neerslaghulpmiddels bly altyd om meer druppels tot by die teiken te kry, maar die manier waarop hulle dit doen wissel. ’n Neerslaghulpmiddel se werking strek vanaf die spuitdruppel die spuitpunt verlaat het totdat dit die teiken bereik. Dit is ’n uiters kort tydperk wat die spuitdruppel in die lug vertoef, maar daar is soveel wat kan fout gaan. Lugstrome, inversie en lae lugvog is almal vyande van die spuitdruppel.

Maak asseblief seker of die neerslaghulpmiddel ander bestanddele soos benatters in die formulasie bevat. In Suid-Afrika is daar beide ongemengde neerslaghulpmiddels asook mengselprodukte wat ook ander bestanddele bevat. Indien die produk net die neerslaghulpmiddel bevat, mag ’n benatter of olie dalk ook benodig word. Die GBP-etiket behoort ’n goeie aanduiding te gee of dit wel nodig is.

Etiket
Neerslaghulpmiddels word volgens Wet Nr. 36 van 1947 in dieselfde groep as insek-, onkruid- en swamdoders geregi-streer. Die produk moet dus ’n L-nommer as bewys van registrasie hê. As die produk nie ’n L-nommer het nie, is dit nie as byvoegmiddel geregistreer nie en dus kan geen aansprake oor byvoegmiddelgebruik gemaak word nie. Selfs byvoegmiddels wat wel ’n L-nommer het, kan nie as ’n neerslaghulpmiddel aanbeveel word as daar nie ’n registrasie vir deposisie is nie.

Dit is verder belangrik dat die produk wyd met verskeie GBP’s in wetenskaplike proewe getoets is. Die etiket behoort ’n goeie aanduiding hiervan te wees, met ’n lys van produkte waarmee die neerslaghulpmiddel toegedien kan word. Die registrasiehouer behoort proefdata van deposisieverbetering asook die prestasie met GBP’s beskikbaar te hê. Hoe wyer ’n produk getoets is, hoe kleiner is die kans vir onverenigbaarheid, oneffektiwiteit en gewasskade, en hoe groter is die kans vir uitstekende werking. Die data behoort altyd die aansprake te staaf.

Alhoewel die enigste doel van neerslaghulpmiddels is om meer druppels en produk tot by die teiken te kry, moet daar besef word dat dit ’n chemiese stof is wat toegedien word. Dit gaan dus in die spuitdruppel op die blaar beland en in die spuitdruppelresidu teenwoordig wees. Dit is dus uiters belangrik dat die nodige bewyse bestaan dat dit nie enige nadelige invloed op ander produkte in die spuitmengsel het nie. ’n Mens vergeet dikwels dat alle produkte wat in die spuitmengsel teenwoordig is, in die druppelresidu gaan wees. Dit is byvoorbeeld die kritieke tyd vir sistemiese GBP’s om opgeneem word. Die opnameproses neem dikwels ure, daarom moet daar niks in die spuitdruppelresidu wees wat opnamehoeveelheid of -tempo beïnvloed nie.

Moontlike antagonisme is sekerlik een van die belangrikste redes waarom daar deeglike effektiwiteitsnavorsing met die neerslaghulpmiddels gedoen moet word. Die feit dat hierdie produkte op spuitdruppelvlak in die lug werk is onbetwisbaar omdat die nodige registrasieproewe gedoen is. Om te weet dat die produk weldeposisie verbeter sonder die nodige bewyse van effektiwiteit, is egter van min waarde. Stadige en swak opname kan of oneffektiwiteit of gewasskade veroorsaak.

Maak dus asseblief seker dat die produk die nodige bewyse van effektiwiteit het en korrek geregistreer is. Hierdie beginsel geld vir alle produkte in ’n tenkmengsel. Eerstens is dit nodig om te weet dat die mengsel verenigbaar is en tweedens moet daar verseker word dat daar geen antagonisme is nie.

Ten slotte
Deposisie is van kardinale belang en dit word primêr met effektiewe grond- en lugspuittegnieke bewerkstellig. Daar is egter altyd ruimte vir verbetering en daarom word neerslaghulpmiddels dikwels in Suid-Afrika met beide grond- en lugbespuiting gebruik. Dit verseker dat meer druppels die teiken bereik en verhoog effektiwiteit. Produsente moet seker maak dat die produk deeglik getoets is en dat daar ’n bewys van effektiwiteit met die betrokke GBP’s is. Dit is verder belangrik om te weet dat die neerslaghulpmiddel geen antagonistiese invloed het nie. Gebruik ook net produkte wat ’n L-nommer het, met spesifieke aansprake oor deposisie op die etiket.