Voervloei noodsaaklik vir diversifikasie na vee

Gepubliseer: 9 Junie 2026

45
Pieter le Roux, hoof-diere-en-weidingweten-skaplike, NWK

Pietman Botha, onafhanklike landboukonsultant

In ’n vorige artikel is vier graanproduksiescenario’s ontleed om werkbare alternatiewe voor te stel vir graanprodusente wat worstel met die wins­gewendheid van graanproduksie. Een scenario, waar daar oor die verloop van vyf jaar 50% van die beskikbare akkerbougrond na meerjarige aangeplante weidings omgeskakel word (die 50/50-stelsel), het as ’n belowende en winsgewende alternatief uitgestaan.

Na vyf jaar in die 50/50-stelsel is die helfte van die lande onder meerjarige aangeplante weidings gevestig. In jaar 6 word een tiende van die weiding, met ander woorde weiding wat in jaar 1 aangeplant is, weer teruggeswaai na ’n kontantgewas. Voortaan is 50% van die lande onder kontantgewas en 50% onder aange-
plante weiding. Elke jaar word een tiende kontantgewas omgeskakel en ’n ander tiende teruggeskakel na kontantgewas. Die vloei word in Tabel 1 uitgebeeld.

In die vorige artikel is die winsgewendheid bereken op grond van die gewigstoename per kalf (verskil tussen speen- en eindgewig na veldvoorbereiding) en is die oorsprong van die kalf buite rekening gelaat. Daar was dus nie noodwendig ’n eie kudde waaruit speenkalwers voorsien kon word nie; die kalwers kon ook ingekoop geword het. Die scenario van ’n eie kudde met eie aanteel word nou verder ondersoek vanuit die oogpunt van die voer- en kuddevloei van so ’n stelsel.

’n Voorbeeld van deurwasde weidings.

Veldvoorbereiding (backgrounding)
Die speenkalwers word op die veld voorberei. Hulle word van speen (minstens 220 kg) tot ongeveer 300 kg lewende gewig geneem op aangeplante weiding plus byvoeding en as swaarder speenkalwers bemark of verder gevoer om ’n markklaar dier te produseer. Indien die diere markklaar gemaak word, sal hulle in die voerkraal of op die weiding ekstra kos moet kry.

’n Veldvoorbereidingsaanvulling wat sowat 25% van die kal­wers se behoefte aan droëmateriaal (DM) uitmaak, bevat 50% graan. ’n Kalf benodig dan sowat 80 kg mielies oor 95 dae om vanaf 220 kg speenmassa tot 300 kg te groei. Die gemiddelde daaglikse toename (GDT) oor die periode is 842 g (Tabel 2). Die graan in hierdie rantsoene kan bes moontlik uit eie graan voorsien word.

Gebruik van eie kudde om waarde tot kalwers toe te voeg
Om eie kalwers vir die bogenoemde stelsel te voorsien behoort die herfskalfseisoen goed te pas. Die herfskalfkoeie kalf voor die winter en omdat daar graan geproduseer word behoort daar oesreste vir beweiding te wees. Hierdie oesreste kan dan deur die koeie gebruik word om kalwers te produseer wat in die lente gespeen word. Die koeie gaan dan terug veld toe en in plaas daarvan om speenkal­wers te verkoop, gaan hierdie kalwers die bemeste aangeplante weiding benut.

Indien die produsent in ’n lentekalfseisoen is, word die kalwers in die herfs gespeen. Indien hierdie kalwers gedra moet word om op die bemeste weiding ekstra groei aan te sit, moet daar bykomende kos vir hulle voorsien word as die plaas reeds op kapasiteit is. Dit sal beteken dat die produsent dalk sy koeikudde moet verklein of ekstra voer moet bekom of aanplant bloot omdat daar meer diere op die plaas gaan wees.

Hoe kan dit gedoen word? Daar moet ’n volledige kuddevloei en voervloei opgestel word om te bepaal hoeveel vee gedra kan word.

Verse op groen Smutsvingergras-weiding.

Voorbeeld
Kom ons gebruik die volgende as voorbeeld om te sien of die stelsel kan werk. Ons aanvaar dat die plaas bestaan uit 200 ha natuurlike weiding en 500 ha lande. Die lande word aangewend om 250 ha graan te produseer en die res is beplant met 50 ha oulandsgras en 200 ha Smutsvingergras. Die natuurlike weiding produseer 1,8 ton DM/ha en die aangeplante weiding produseer 3,6 ton DM/ha.

Die koeikudde bestaan uit 160 volwasse koeie en 40 eerste­kalfkoeie. Verder word daar 48 vervangingsverse aangehou. In totaal word 166 kalwers in die laat winter en lente gebore. Daar is dus byna 110 kalwers in totaal wat aangewend kan word om die weiding te benut. Hierdie kalwers word in April gespeen, maar in plaas daarvan om hulle te verkoop, word die kalwers gehou om die aangeplante weiding vanaf September-maand te benut. Dit beteken dat daar voorsiening vir ’n addisionele vyf maande se voer gemaak moet word voordat hulle op die bemeste aangeplante weiding kan gaan.

In hierdie voorbeeld benodig die plaas ongeveer 1 700 ton DM om in die voedingsbe-
hoefte van die diere te voorsien. ’n Grootvee-eenheid benodig ongeveer 12 kg DM/dag (vermorsing inge­sluit). Om die verwagte produksie van die plaas te bereken is dit belangrik om die groeikurwes van die gewasse en veld te verstaan. Vir elke gewas is daar ’n berekende groeikurwe. In Tabel 3 word die groeikurwes van oulandsgras, deurwasde oulandsgras, Smutsvinger­gras en veld aangetoon.

Die deurwasde oulandsgras verdien bietjie meer aandag. Die produksie per hektaar is presies dieselfde as gewone oulandsgras, maar die laaste 30% van die jaar se produksie word nie benut nie. Dit word oorgedra na die volgende jaar. Sodra die oulandsgras bot, word die vee ingejaag en dan vreet hulle die ou gras saam met die nuwe uitloopsels. Sodoende word goeie gebruik van die gras verkry en die diere het genoeg kos van hoë kwaliteit om te vreet.

’n Voorbeeld van hooimaak vir ’n voerbank.
Aangeplante weiding in Argentinië.

Weidingsbestuur
Gegewe hierdie produksiekurwes en -opbrengste kan ons denk­beeldige plaas 1 900 ton DM produseer. Hoe kan die weidings aangewend word om hierdie vee van voer te voorsien? Om die vraag te beantwoord, word ’n voer- en kuddevloeiprogram gebruik wat beide verbruik bereken en produksie aantoon. In Tabel 4 word die aanwending van die voerbronne voorgestel.

Tabel 4 dui die toedelingspersentasie van die onderskeie voerbronne in die voervloei aan. ’n Gedeelte van die aangeplante weiding is met oulandsgras gevestig omdat oulandsgras vroeër in die seisoen bot, dus gouer weiding bied en so die somerseisoen verleng. Die voervloei sal uiteraard van plaas tot plaas verskil en sal dienoor­eenkomstig aangepas en beplan moet word.

In Grafiek 1 word die beskikbare voer sowel as die kudde se DM-behoeftes vir die denkbeeldige plaas aangedui. Die berekening hiervan word akkuraat deur die voer- en kuddevloeiprogram gedoen en neem onder andere aanwas, vervanging, uitskot sowel as voervermorsing in ag.

Grafiek 1: Die voervloei diagrammaties uitgebeeld.

Die voerbenodighede en beskikbare voer in Grafiek 1 sinkroniseer baie mooi, ’n teken daarvan dat hierdie denkbeeldige plaas genoeg kos produseer om in die diere se behoeftes te voorsien. In die praktyk is dit uitdagend om ’n voervloei so mooi te laat werk en daarom is die voorsiening van ’n goeie voerbank, byvoorbeeld in die vorm van hooi, noodsaaklik. Die beskikbare voer in Grafiek 1 kan binne perke aangepas word om die voervoorsiening so na as moontlik aan die behoeftes te kry.

Die balansering kan deur een of meer van verskeie metodes gedoen word. Eerstens, veral waar dit duidelik is dat die totale voer­voorsiening onvoldoende is, moet die hoeveelheid diere op die plaas verminder word of daar moet ekstra kos bekom word. Dektyd kan ook aangepas word om by voervoorsiening aan te pas.

Tweedens kan die kombinasie van tipe voerbronne na gelang van behoefte verander word. Voergewasse is inherent seisoenaal en deur van verskillende spesies en kultivars gebruik te maak, kan die voorsiening van ruvoer deur die jaar versprei word.

In die derde plek kan die persentasie toekenning per maand per gewas verstel word om meer of minder voer in spesifieke maande te voorsien. Soms kan die oppervlaktes per gewas ook gebruik word om opbrengs per maand te manipuleer. Die oppervlakte beskikbare veldweiding is meestal vas, maar kan verander byvoorbeeld in die geval van huur of verhuring.

Benewens bogenoemde metodes kan klein verstellings in die DM-inhoud van voer-
bronne aangebring word, maar dit is beperk en het ’n geringe effek op opbrengs. Net so kan DM-opbrengs per hektaar ook verstel word, maar ook net binne perke volgens wat die wetenskap en praktyk geleer het.

Permanente aangeplante weiding.

Dit is belangrik om Tabel 4 reg te verstaan. Die maandelikse persentasie toekennings is tot ’n mate ’n aanduiding van die gewas se natuurlike produksiekurwe, maar dui eintlik die verbruik of stadium van aanwending van die voer aan. Byvoorbeeld, in Tabel 4 word 45% van die jaarlikse produksie van oulandsgras vanaf Maart tot Junie aangewend. Dit verteenwoordig egter nie die gewas se groeikurwe nie. Kontantgewasoesreste is net vir ’n kort vensterperiode van die jaar beskikbaar vir beweiding. Dit kan egter gebaal en geberg word en elders in die voervloei aangewend word.

In Tabel 4 word meganisasie so ver moontlik beperk en word daar voorkeur gegee aan benutting deur beweiding. Van die oulandsgras en/of Smutsvingergras kan wel opgeberg word en later teruggevoer word volgens behoefte. Die spesifieke omstandig-
hede van seisoen tot seisoen en van plaas tot plaas sal dit bepaal. Byvoorbeeld, oulandsgras wat vanaf Mei tot Junie aangewend word sou natuurlik nie “bewei” kan word nie, maar sal afkomstig wees vanaf opgebergde voer, soos hooi, wat vroeër in die seisoen gemaak is.

Opsommend
Die 50/50-wisselboustelsel kan ’n werkbare alternatief vir kontantgewasproduksie bied, hetsy deur die inkoop van speenkalwers of deur die gebruik van eie aanteel indien die boerdery reeds oor ’n gevestigde vleisbeeskudde beskik. Die voer- en kuddevloei werk, maar sal deur elke plaas se spesifieke omstandighede bepaal word.

Vir meer inligting en voervloeibeplannings kan Pieter le Roux by 076 020 2086 of Pietman Botha by 082 759 2991 gekontak word.