
Martiens du Plessis, onafhanklike landboukundige
Die mens moet gereeld aanpassings maak bloot omdat sy omgewing verander het – die oorlog in die Midde-Ooste het dit weer onteenseglik bewys. Produsente se afhanklikheid van olie en die feit dat hulle slegs gebruikers is wat wêreldpryse moet betaal, is beklemtoon. Die hoër oliepryse het veroorsaak dat die pryse van chemiese bemestingstowwe drasties gestyg het. Of dit weer gaan daal as daar vrede kom, sal nog gesien moet word, maar produsente is vir seker op ’n nuwe pad geplaas. Die vraag is nou wat om te doen om hierdie nuwe duur diesel- en kunsmis-
pryse se impak op die boerdery te minimeer.
Jy dink dalk dadelik om na geenbewerking oor te slaan, maar het jy die kennis en die geld om jou hele boerdery eensklaps te verander? Alhoewel dit dalk nie die beste plan op kort termyn is nie, bly dit beslis iets om oor na die dink.
Die beginpunt om die dieselrekening se impak te verminder, is om eerstens die huidige effektiwiteit van jou dieselverbruik te verhoog. Dit begin deur kennis van jou grond: om te weet waar is die hoëpotensiaaldele en waar is die laepotensiaaldele. Fisiese grond-
kartering raak net al hoe belangriker. Elke grondsoort het sy eienskappe en dit is vir seker nie wys om alle gronde dieselfde te bewerk nie. Die algemene reël is: Hoe hoër die kleipersentasie, hoe vlakker kan bewerk word, en hoe meer sand, hoe dieper moet gewerk word. Om profielgate te gebruik, is van kardinale belang.


Die plante se wortels dui aan hoe diep bewerk moet word. As daar ’n verdigtings- of keerlaag is, moet dit opgebreek word. As ’n yster die laag veroorsaak het, kan net ’n yster dit opbreek. Die penetrometer is ’n instrument wat kan help om bewerkingsdiepte te bepaal. Ongelukkig is hierdie ’n tydsame proses waar heelwat kundigheid benodig word. Op kort termyn bly die profielgat die maklikste oplossing.
Onthou, jy boer nie met mielies, sonneblom of sojabone nie, jy boer met water. Hoe meer water vir die plant beskikbaar is, hoe hoër is die opbrengs gewoonlik. Versuip kan egter natuurlik ook ’n probleem wees. So hoe kan die vogdoeltreffendheid van die plaas verhoog word? Hier volg ’n paar eenvoudige praktiese wenke:
- Probeer ten alle tye om grond bedek te hou teen die son, hetsy met oesreste of plante.
- Grond moet so min as moontlik versteur word om vogverdamping te beperk.
- Hou die lande onkruidvry. As dit oor die beheer van onkruide gaan, maak die som hoeveel dit gaan kos om dit chemies of meganies te doen en meet ook die doeltreffendheid van die aksie.
Dit is duur om elke keer ’n trekker in los gewerkte grond te laat loop en dit verdig die grond weer. As die grond klaar gekompakteer is, sal die dieselverbruik sonder twyfel laer wees. Dit maak dus sin om ’n spoorverkeerstelsel te implementeer. As daar eers trekkerspore in die land is, kan daar volgende keer op dieselfde spore gery word wat minder kompaksie veroorsaak. Onthou net dat wisselbou al hoe belangriker gaan word.
As die grond bewerk word, is dit belangrik om dit so vinnig as moontlik na die bewerking te seël. Rollers of êe kan hiervoor gebruik word. Hoe rowwer die grond gelaat word, hoe meer vog word verloor, maar hoe meer vog kan ook opgevang word. Pasop om nie die grond te fyn te bewerk nie, dit bring weer ander probleme soos windskade en korsvorming. Tandimplemente soos beitelploeë trek oor die algemeen ligter as skottelimplemente en kry in heelwat gevalle dieselfde opbrengste of dalk hoër as die ploegaksies.


Dit is belangrik dat die regte tyd om die aksie te doen gekies word. Om droë grond in die middel van die winter te ploeg, het geen waarde nie – en is ‘n duur aksie. Dit sal altyd sin maak om grond te bewerk as dit klam is. Die voordele hiervan is legio, maar nat grond bewerk definitief makliker as droë grond.
’n Veefaktor is gewoonlik voordelig vir die boerdery. Beweiding van lande, lig of swaar, het voordele en nadele. Dit is gereeld die praktyk en sonder die oesreste sal ’n hele paar veeprodusente maar swaar trek. Dekgewasse wen ook veld. Of dit nou ’n somer- of winterdekgewas is, as jy die vee het moet dit gebruik word om vleis te produseer, wat weer in kontant omgeskep kan word.
Dekgewasse bring ook omgewingsvoordele soos ’n verandering in die mikroflora, grondorganismes en grondlewe. Van hierdie organismes kan die bemestingsbehoeftes van gewasse verminder en sodoende die afhanklikheid van chemiese bemesting verlaag. Wisselbou met sojabone en ander boongewasse soos akkerbone laat ook heelwat stikstof in die grond agter wat die volgende gewas sal bevoordeel.


Die jaar wat voorlê is weer eens ’n uitdagende jaar en die vraag is waarop jy moet fokus en waar jy kan bespaar. Soms sal produsente oorweeg om geld op die onkruiddoder-
program te spaar deur óf nie te bespuit nie óf deur kortpaaie te neem. Bemesting is ’n ander inset waarop produsente maklik wil bespaar, maar die vraag is watter inset die grootste effek op produksie het. Moet egter nie op bekalking probeer spaar nie! Kalk maak die voedingselemente in die grond meer beskikbaar vir die plant om op te neem.
Die Landbounavorsingsraad (LNR) het jare gelede ’n proef onder leiding van dr Elbe Hugo uitgevoer om die impak van die verskillende insette op produksie te toets. Die proef het bestaan uit ’n gedeelte waar die beste praktyke toegepas is, een waar die bemesting totaal onttrek is, een waar die onkruidbeheer onttrek is en een waar geen insette toegedien is nie. Die resultate van hierdie proef word in Tabel 1 aangetoon. Die koste vir die bemesting is bereken teen R7 100/ha en die onkruiddoderprogram het ongeveer R2 000/ha gekos.
Uit die inligting in Tabel 1 is dit duidelik dat net onkruidbeheer vir 75% van die mielies se marge verantwoordelik is, gegewe ’n sekere reënval en plantkoste. Indien die onkruid nie beheer word nie, maar bemesting wel toegedien word, is die winste wesenlik laer, tot net 26% van die verwagte marge. Dit is bloot omdat die gewasse aan hoofsaaklik vog- en voedingstekorte blootgestel word.
Gegewe hierdie inligting kan die belangrikheid van onkruiddoder nie genoeg beklemtoon word nie. Produsente moet alles in hul vermoë doen om onkruid so effektief en doeltreffend moontlik te beheer en dit begin al met die beheer van winteronkruid. Die effek van tydige toediening van onkruiddoder kan nie oorbeklem-
toon word nie. In Tabel 2 word die effek van tydige onkruidbeheer aangetoon na aanleiding van ’n proef wat ook deur die LNR uitgevoer is.
Hierdie inligting dui aan dat dit sin maak om te sorg dat voldoende spuitkapasiteit beskikbaar is om die onkruiddoder tydig en teen die regte dosis toe te dien. Produsente moet alles in hul vermoë doen om die effektiwiteit en doeltreffendheid van onkruid-
doders te verhoog.
By onkruidbeheer is dit noodsaaklik om seker te maak dat die tenkmengsels reg werk. Onkruiddoders kan dieselfde aktief bevat maar die chemie daarvan bepaal of dit mengbaar is of nie. Betaal eerder ’n bietjie meer en kry die gewenste resultate. Wat bemesting betref maak dit ook sin om dalk ’n bietjie te sny, maar om die kunsmis gekonsentreerd vir die plant beskikbaar te maak. Topbemesting by die plant se wortels onder die grond gee die geleentheid om dalk verder te kom met goedkoper bemesting.
Hierdie uitdagende jaar vereis dat produsente innoverend moet dink om die somme te laat klop. Fokus op die verbetering van die effektiwiteit van alle insette. Gebruik bestaande toerusting deur die beste daaruit te haal sonder om te veel geld aan nuwes te spandeer. Vra vrae en dink mooi.
Vir meer inligting kontak Martiens du Plessis by 072 285 5414 of Pietman Botha by 082 759 2991.


























