Die eerste stap in die proses om ’n gewasbeskermingsproduk (GBP) toe te dien is om dit met water te verdun. Die rede hiervoor is om ’n laedosisproduk eweredig oor ’n gegewe oppervlakte te versprei. Water is relatief goedkoop en beskikbaar, daarom is dit die enigste praktiese oplosmiddel om GBP’s mee toe te dien.
Water is egter ongelukkig nie heeltemal suiwer nie en dit bevat altyd opgeloste katione en anione. Verder het water ’n pH wat aandui hoe suur of alkalies dit is asook ’n bufferkapasiteit wat aandui hoe maklik die pH gemanipuleer kan word. Water kan gevolglik as ’n addisionele hoëvolumebestanddeel in die spuitoplossing beskou word.
Dit is algemeen bekend dat watergehalte die prestasie van sommige GBP’s beïnvloed. Om hierdie rede word buffers dikwels saam met insekdoders en soutbyvoegmiddels met katioon-sensitiewe onkruiddoders soos glifosaat en kletodim gebruik. Dit is belangrik dat die byvoegmiddel die watergehalte sal verbeter sonder enige negatiewe gevolge. In hierdie artikel gaan waterkondisioneerders bespreek word, met die klem op wat hierdie produkte nié moet doen nie. Die gebruik is om te fokus op wat byvoegmiddels móét doen, maar daar word dikwels vergeet wat dit nie moet doen nie. Die probleem met hierdie fokus is dat een produk in die spuittenk gehelp word terwyl ’n ander produk benadeel word.
Bufferkapasiteit en pH
Sekere insekdoders word deur alkaliese hidrolise beïnvloed. Dit beteken dat vandat die produk in die water gevoeg word totdat die druppel op die blaar uitgedroog het, dit deur ’n hoë pH benadeel word. Indien niks hieraan gedoen word nie, sal ’n laer as beplande dosis toegedien word met gevolglike swak insekbeheer. Om hierdie rede word versurende buffers gebruik om die pH te verlaag tot by vlakke waar die insekdoder meer stabiel is.
Daar is ’n klomp versurende buffers wat in Suid-Afrika geregistreer is. Verskillende produkte bevat verskillende hoeveelhede en tipes sure. Van hierdie produkte bevat ook ander bestanddele soos benatters en selfs verenigbaarheidsmiddels.
Dit is belangrik dat buffers die pH na die korrekte vlak toe sal verlaag, tipies tussen pH 4 en 6. Dit is gewoonlik waar die meeste alkalies-sensitiewe produkte die stabielste is. Daar is geen buffer wat ’n spesifieke spuitwater se pH kan waarborg nie. Die rede hiervoor is die bufferkapasiteit van water. Alle waterbronne bevat ’n sekere hoeveelheid bikarbonaat (HCO3–). Teen hoë vlakke hou hierdie anioon die pH meer konstant, daarom is dit moeiliker om die spuitwater te versuur. Gevolglik moet die buffer teen ’n hoër dosis gebruik word om die gewenste pH te bereik. Sommige bufferetikette het juis ’n reeks dosisse om sulke water te hanteer. Die teendeel is egter ook waar – sekere spuitwater het ’n lae bufferkapasiteit wat dit maklik maak om te versuur. Verder moet buffers die water versuur en dan die pH in hierdie reeks konstant hou. ’n Buffer moenie sommige waterbronne korrek versuur maar ander nie.
Bikarbonaatvlakke wissel
Die rede vir wisselvallige buffervermoëns is dat water met verskillende bikarbonaatvlakke – en dus verskillende bufferkapasiteite – in verskillende gebiede voorkom. Die bikarbonaatvlakke tussen verskillende waterbronne op dieselfde plaas kan selfs wissel. ’n Produsent wil nie hê dat die buffer in een van sy waterbronne werk, maar nie in ’n ander nie. Die insekdoder sal dan met twee waterbronne op dieselfde plaas verskillende prestasies lewer. Buffers behoort met verskillende waterbronne die pH konstant in ’n pH-reeks te hou. Daar is egter waterbronne in Suid-Afrika waar die bufferkapasiteit so hoog is dat selfs die beste buffers se vermoëns getoets word. Gebruik dan ’n produk waar die etiket dit toelaat om ’n hoër dosis te gebruik.
Dit is net so onwenslik dat buffers laag gebufferde water oorversuur. Spuitoplossings met ’n uitermatig lae pH kan die formulasies van sekere GBP’s beïnvloed asook die oplosbaarheid van sekere aktiewe bestanddele verlaag. Dit kan fisiese onverenigbaarheid veroorsaak en tot geblokkeerde spuitpunte en siwwe lei (Foto 1). ’n Gevaarlike scenario is wanneer die onverenigbaarheid so subtiel is dat dit nie die spuitproses beïnvloed nie. Dit sal egter op druppelvlak op die blaar die opname van sistemiese GBP’s benadeel. Dit is van kardinale belang dat die buffer nie sal oorversuur nie. Onoplosbare GBP’s veroorsaak nie net onverenigbaarheid nie, maar dit kan ook die effektiwiteit van sekere produkte benadeel. Sulfonielureum-onkruiddoders is ’n voorbeeld hiervan omdat dit dikwels oneffektief in erge suur spuitwater is. Met sulke spuitoplossings is daar gewoonlik geen sigbare tekens van onverenigbaarheid nie, maar die produk word swak deur onkruidblare opgeneem.

Katione
Opgeloste katione wat natuurlik in water voorkom, belemmer die opname van onkruiddoders soos glifosaat, kletodim en verskeie ander. Hierdie water is tipies die harde en brak water wat in verskeie dele van Suid-Afrika voorkom. Nadat die onkruiddoderspuitdruppel met antagonistiese katione op die blaar uitgedroog het, los dit ’n residu wat stadig en swak opgeneem word (Foto 2). Indien niks hieromtrent gedoen word nie, is die onkruidbeheer swak en sal ’n herbespuiting dalk nodig wees. Soutbyvoegmiddels word dus dikwels met hierdie onkruiddoders gebruik om dié probleem op te los. Die doel is om die antagonistiese katione te neutraliseer voordat dit met die on-kruiddoder kan reageer.

Waterkondisioneerders
Daar is verskeie waterkondisioneerders met verskillende metodes van werking hiervoor geregistreer. Ammoniumsulfaat is die bekendste soutbyvoegmiddel en dit word op verskeie onkruiddoderetikette aanbeveel. Ammoniumsulfaat-bevattende produkte bind die nadelige katione op die blaar tydens druppeluitdroging en is uiters effektiewe byvoegmiddels. Dit neutraliseer die vier hoofkatione, naamlik kalsium, magnesium, natrium en kalium, in harde en brak water.
Dit is ook tot ’n mindere mate effektief vir yster. Maak seker dat die soutbyvoegmiddel teen die dosis wat dit gebruik word effektief is vir al die betrokke waterbronne. Onthou asseblief dat byvoegmiddels volgens Wet Nr. 36 van 1947 geregistreer moet wees. Dit moet ’n L-nommer hê om te verseker dat dit deur die nodige registrasieprosesse is. Produkte met ’n kunsmisregistrasie is nie vir byvoegmiddelgebruik geregistreer nie.
Dit is noodsaaklik dat die soutbyvoegmiddel nie nadelig vir enige produkte in die spuitmengsel is nie. Maak seker watter ander komponente die soutbyvoegmiddel bevat. Katioon-sensitiewe onkruiddoders word dikwels in tenkmengsels met ander onkruiddoders gebruik, daarom is dit belangrik dat die byvoegmiddel die watergehalte sal hanteer sonder om enige van die produkte te benadeel. Hierdie ander bestanddele kan sure, benatters, herbenatters en verskeie ander komponente wees. Net soos met buffers, kan sure in soutbyvoegmiddels die spuitoplossing se pH redelik versuur. Met glifosaat alleen is dit gewoonlik nie ’n probleem nie, maar sodra daar mengselprodukte is, moet al die tenkmengselprodukte in ag geneem word. Onoplosbaarheid, oneffektiwiteit en onverenigbaarheid weens ’n lae pH is nie net ’n probleem wat uniek aan buffers is nie. Dit kan ook ’n probleem met sekere soutbyvoegmiddels wees mits daar sensitiewe produkte in die spuitmengsel is. Dit is belangrik om die behoeftes van al die spuitmengselkomponente in ag te neem en dan byvoegmiddels te gebruik wat niks benadeel nie.
Samevatting
Alhoewel hoë pH, bufferkapasiteit en katione ’n wesenlike probleem in Suid-Afrika is, is daar effektiewe byvoegmiddels wat watergehalte hanteer. Daar is verskeie buffers en soutbyvoegmiddels op die mark. Gebruik die produk wat die watergehalte verbeter sonder enige nadelige eienskappe. Maak seker dat die produk wat gebruik word ’n L-nommer en ’n bewese rekord het. Volg etikette se aanwysings oor waterkondisioneerders en moet verkieslik nie die geregistreerde byvoegmiddel met ’n ander produk vervang nie.
Net ’n klein verskil in byvoegmiddelformulasie kan ’n massiewe impak op effektiwiteit en verenigbaarheid hê. As byvoegmiddels korrek gebruik word kan dit ’n positiewe impak op beheer hê, maar verkeerde byvoegmiddelgebruik is gevaarlik.


























