BESTUUR EN BEMESTING van aangeplante weidings

Gepubliseer: 12 Desember 2025

70
Christoff Joubert,
onafhanklike landbou-kundige

Die suksesvolle verbouing van aangeplante weidings is ’n proses wat berus op ’n klomp klein, maar belangrike stappe. Dit is nie ’n proses waar jy vandag besluit wat jy môre gaan plant nie. Ondervinding het geleer dat beplanning veral tydens weidingsbestuur nie behoorlik gedoen word nie. Wanneer produsente dan nie suksesvol is nie, word die weiding as duur en onekonomies afgemaak.

Vele versoeke word ontvang waar ’n bemarker vinnig ’n bemestingsprogram benodig om ’n gewas soos lusern of oulandsgras te plant. Die produsent het egter jare laas grondmonsters geneem of die grond-ontledings is so swak dat dit tegnies nie moontlik is om hom te adviseer sodat hy suksesvol gaan wees met die gekose gewas sonder behoorlike regstellings nie. Die doel van hierdie artikel is om riglyne te bied om die produsent die beste kans te gee om aangeplante weidings suksesvol te verbou.

Beplanningsfase
Behoorlike beplanning vir ’n nuwe vestiging berus op ’n grondontleding en die regstelling van tekorte en probleme. Daar moet tydig begin word deur grondmonsters te neem en na ’n geakkrediteerde laboratorium te stuur. Vanaf die ontleding word regstellings voorgestel. In die meeste gevalle, veral oor die sentrale binneland, is die pH van die gronde en daarmee saam die Ca- en Mg-inhoud en -verhouding suboptimaal. Dit vereis regstelling, veral waar langtermyngewasse geplant gaan word.

Die ander elemente soos fosfor en kalium moet ook hanteer word. Indien hierdie stap nie gevolg word nie, is die kanse op sukses relatief laag. Eers hierna kan die produsent van ’n behoorlike vestigingsprogram voorsien word. Ander faktore wat van belang is in die keuse van gewas sluit voervloeibeplanning, beskikbare variëteite en meganisasie hulpmiddels in.

Vestigingsfase
Indien die voorafgaande stap suksesvol voltooi is, moet daar met die vestiging op ’n paar kritieke punte gelet word. Die aanbevole bemesting moet gedoen word en aangesien die meeste weidingsgewasse uiters klein sade het, is behoorlike saadbedvoorbereiding noodsaaklik. Die saadbed moet ook gelyk wees, veral wanneer die gewas gesny en gebaal gaan word. Tyd van plant speel ’n rol om goeie opkoms te verseker, veral waar dit op droëland gevestig word. On-kruide moet bestuur word om die kompetisie met die klein saailing te verlaag. ’n Faktor wat te min aandag geniet, is die gebruik van spoorelemente in die verbouing van weidings. Uitstekende resultate word gekry waar daar ten minste een maal per seisoen so ’n algemene bespuiting gedoen word. Daar bestaan ook dienste waar die blaar-, grond- en sapontledings deur die seisoen gevolg word vir intydse regstellings om optimale opbrengste te verseker.

Bestuur na vestiging
Opvolgbemesting is deurslaggewend vir hoë produksie. Die meeste grasse reageer bykans reglynig met verhoogde stikstofbemesting, beide in volume en kwaliteit. Indien die voorbereidingsfase suksesvol gedoen is, kan die res van die elemente op ’n onttrekkingsbasis hanteer word. Bemes wat die gewas die afgelope seisoen gebruik het en neem gereeld grondmonsters om die status te bevestig. Die onderlinge effek wat voedings-elemente op mekaar het, moet nie onderskat word nie. Daarom word daar veral klem gelê op die gebruik van mikro-elemente. Indien die gewas vir hooi gesny gaan word, moet daar gelet word op die stadium van sny en waarvoor die hooi aangewend gaan word.

Daar moet balans wees tussen opbrengs en kwaliteit. Sien Tabel 1 vir werk wat deur Rethman in die 80’s gedoen is, waar bevind is dat die snystadium die groei van lammers beïnvloed het. Daar kan gesien word dat die snystadium van hooi ’n positiewe groei van lammers tot gevolg gehad het. ’n Verkeerde bestuursbesluit rakende hooiproduksie, byvoorbeeld om op die verkeerde tyd hooi te sny, het ’n negatiewe invloed op die groei van lammers. Hierdie is ’n faktor wat absoluut binne die beheer van die produsent is. Dit is dus belangrik om die benutting van hooi aan die regte groep diere te koppel. Hooi met ’n hoë kwaliteit moet vir produserende diere aangewend word, terwyl hooi met ’n laer kwaliteit vir nieproduserende diere gebruik kan word.

Vervolgens word die eienskappe van ’n paar goeie weidings bespreek.

Oulandsgras (Eragrostis curvula)
Oulandsgras is seker die bekendste en suksesvolste hooigewas wat wyd in die somerreënvalgebied aangeplant word. Dit is ’n gewas wat uitstekend vaar in hoë- en laepotensiaaltoestande en by uitstek geskik is vir hooiproduksie. Dit kan nog groei en produseer op suurgrond met ’n suurversadiging van tot 40%, maar met goeie bestuur en bemesting kan dit tot soveel as 14 t/ha droë materiaal (DM) produseer. Oulandsgras kan maklik gevestig word en lewer hooi van goeie kwaliteit. In ideale toestande kan  oulandsgras wat vroeg die oggend gesny word, nog dieselfde middag gebaal word. Dit word gewoonlik in kombinasie met tef gevestig om aanvaarbare opbrengste in die eerste jaar te lewer. Daar moet net onthou word dat tef maklik gaan lê indien N-bemesting aanvanklik te hoog is. Tef neem ook langer om droog te word voor baal.

Oulandsgras is verder ’n uitstekende vroeëseisoenweiding. Herstel en groei na die eerste lentereën is vinnig en kan help met voervloeibeplanning. Indien daar in die winter op ’n behoorlike manier hooi op die lande gevoer word vir die oorwintering van vee, kan die hersirkulasie van voedingselemente deur die vee ’n uiters positiewe bydrae op die groei in die opvolgende seisoen hê. Maak net seker dat vertrapping nie plaasvind nie deur die verskuiwing van die area waar die hooi gevoer word. Onttrekkingsyfers is 10 tot 20 N, 1,2 P en 12 K per ton droë materiaal.

Smutsvingergras (Digitaria eriantha)
Smutsvingergras is nog ’n gewas wat uitstekend vaar in die somerreënvalgebied. Baie goeie hooi kan gemaak word, maar dit is by uitstek ’n gewas wat vir beweiding benut word. Dit bied uitstekende somerweiding asook geleentheid vir staande hooi in die winter om met beeste benut te word. Dit kan ook aangewend word om uitstekende kuilvoer van te maak.

Die bemesting van Smutsvin-gergras word dikwels afgeskeep en veral N-bemesting speel ’n belang-rike rol in hoë produksie. Dit word gewoonlik saam met Rhodesgras gevestig om al in die eerste jaar goeie opbrengste te lewer. Dit is ’n moeiliker gewas as oulandsgras om gevestig te kry en onkruidbeheer is uiters noodsaaklik. Saadkwaliteit speel ’n groot rol in vestiging. Produsente moet waak daarteen om dit te vinnig te begin bewei. Sny in die eerste twee seisoene hooi om die saailing kans te gee om behoorlik te vestig. Smutsvingergras doen ook beter op swaarder grond as op sanderige grond. Onttrekkingsyfers is 10 tot 20 N, 1 tot 1,5 P en 10 tot 15 K per ton droë materiaal.

Kikoejoe (Pennisetum clandestinum)
Hierdie gewas word wyd aangeplant en lewer hoë produksie in gebiede met hoë reënval en/of onder besproeiing. Dit is by uitstek ’n weidingsgewas, alhoewel kuilvoer ook daarmee gemaak kan word. Dit kan hoë weidingsdruk hanteer en mis en urine is besonder voordelig vir hoë produksie. N-bemesting speel verder ’n belang-rike rol om hoë produksie te bewerkstellig. Dit kan as staande hooi vir vroeë winterweiding aangewend word of om laat somer met raaigras oor te saai om onder besproeiing goeie winterweiding te verskaf.

Tydens vegetatiewe vestiging met ranke of lopers moet daar op onkruidbeheer gelet word. Onder hoëdrukbeweiding kan parasiete ’n probleem wees en moet die tipe dier en rotasie van die beweiding goed bestuur word. Kikoejoe is bykans ’n wondergewas aangesien dit goed doen in ’n wye stel omgewings- en grondtoestande. Onttrekkingsyfers is 20 N, 2,5 P en 28 K per ton droë materiaal.

Dekgewasse
In die onlangse verlede het dekgewasse ’n kardinale rol begin speel, veral in bewaringslandbou. Dekgewasse is ’n mengsel van verskillende somer- of wintergewasse wat saam geplant word in sekere verhoudings. Dit is gewoonlik ’n mengsel van grasse, peulplante, knolgewasse en ander breëblaargewasse. Dit word geplant om grondgesondheid te verbeter, maar ook om gesonde diereproduksie te bewerkstellig.

Dit kan ’n groot rol speel om tekorte in ’n voervloeiprogram aan te vul. Dit werk verder goed om winterweiding in die somerreënvalgebied te bewerkstellig. Dit het ’n hoë produksiepotensiaal en kan goed gebruik word in gewasrotasies om grondsiektes te bestuur. Dit word dikwels as groen bemesting ingewerk en help om grond- organiese materiaal te verhoog.

Samevatting
Bogenoemde inligting behoort produsente te help om aangeplante weidings suksesvol aan te plant en te bestuur. Die keuse van die gewas kan help om voervloeiprogramme strategies aan te vul asook grondgesondheid te bevorder. Dit kan verder help om diereproduksie ekonomies en meer volhoubaar te maak.

Vir navrae, kontak Christoff Joubert by 083 271 0826 of christoffj@megaweb.co.za.