Belê in presisietegnologie vir beter grond, hoër opbrengs en groter wins

Gepubliseer: 14 November 2025

335
Dr Louis Ehlers,
bestuurder: Nutriology Solution Development, Omnia

In die wêreld van moderne landbou is presisietegnologie nie meer ’n luukse nie maar ’n gegewe. Dit is ’n hulpmiddel waarmee produsente hul wins kan verhoog deur insetkoste meer doeltreffend te bestuur. Dié tegnologie bereik egter slegs sy volle potensiaal wanneer die produsent persoonlik betrokke raak en belangstelling toon in die werking en toepassing daarvan.

’n Produsent wat presisie­tegnologie doeltreffend wil benut, moet bereid wees om nuuskierig te wees en vrae te vra. Hy moet gewillig wees om self sy boer­derydata te ontleed en op sy eie plaas te begin eksperimenteer met die veran­derlike bestuur van insette. Sodra hy dan die waarde daarvan insien, raak hy meer gemaklik om daarmee te begin werk.

Die sleutel lê egter daarin om die potensiaal van die tegnologie te verstaan. Baie produsente word afgeskrik deur die aanvanklike koste van implemente­ring en vir sommige voel presisietegnologie intimide­rend of onnodig, veral as die voordele nie duidelik is nie. Baie sukkel ook met naverkopediens, veral in die droëlandgebiede waar daar net een maal per jaar geplant word. Dit is net menslik om gou te vergeet hoe die goed werk as jy dit nie elke dag gebruik nie. Daarom is dit belangrik dat produsente eers geprikkel word sodat hulle kan sien en verstaan hoe die tegnologie hulle direk kan bevoordeel.

Presisieboerdery is ’n benadering wat enige vorm van tegnologie soos byvoorbeeld globaleposisione­ringstelsels (GPS), sensors, veranderlike toediening (variable rate application), afstandswaarneming, hommeltuie, selfoontoepassings en rekenaarsagte­ware gebruik om variasie in ’n spesifieke land akkuraat te bestuur. Die primêre doel is om te verseker dat die gewas en die grond presies die regte hoeveelheid van ’n spesifieke inset ontvang wat nodig is vir optimale gesondheid en produksie. Daarom sal die doeltreffende gebruik van presisietegnologie, veral rakende die veranderlike toediening van insette soos kalk, saad, kunsmis en chemikalieë, een van die waardevolste beleggings wees wat ’n produsent kan maak. Hierdie belegging mag aanvanklik astronomies lyk, maar met oordeelkundige implementering sal dit volhoubare wins op lang termyn verseker.

Grondverskille binne ’n enkele land kan baie groot wees, en dit maak sin om insette soos kalk, saad, kunsmis en chemikalieë in presies die regte hoeveelhede toe te dien net waar en wanneer dit nodig is. In plaas daarvan om dieselfde hoeveelheid op elke deel van die land toe te dien, laat veranderlike toediening produsente toe om koste te bespaar op sones met ’n lae opbrengspotensiaal en om hoë-opbrengspoten­siaalsones met groter akkuraatheid te bestuur.

Gepubliseerde praktykdata toon dat produsente wat kalk en kunsmis veranderlik toedien, gereeld insetkostebesparings van tussen 10 en 30% sien, afhangend van grondvariasie en die effektiewe grootte van die bestuursones.

Figuur 1 toon die variasie in bogrond pH(KCl) oor ’n land wat 100 ha groot is. Die land se pH wissel van 4,4 tot 5,9 met ’n gemiddeld van 5,2. Met die eerste oogopslag is dit dus duidelik dat 10 ha van die land geen kalk hoef te kry nie, wat dui op ’n onmiddellike besparing van 10% indien daar van veranderliketoedieningstegnologie gebruik gemaak word. Indien ’n konvensionele toediening van byvoorbeeld 1,5 t/ha met die veranderlike toedieningsvoorstel in Figuur 2 vergelyk word, beloop die besparing ongeveer 20%. Op kalk alleen kan die besparing maklik tussen R300 en R600/ha wees, omdat dit slegs toegedien word op areas waar pH-regstelling werklik nodig is.

Figuur 1: ’n Voorbeeld van ’n kaart wat die grond se pH-vlakke op verskillende areas van ’n land aandui.
Figuur 2: ’n Voorbeeld van ’n voorskrifkaart vir die toediening van kalk.

Wanneer dit egter by bemesting kom, kan die prentjie aansienlik anders lyk. Figuur 3 toon die varia­sie in die grond se fosfaatstatus oor dieselfde land. Die fosfaatstatus wissel van 11 tot 64 mg/kg met ’n gemiddeld van 26 mg/kg. Hier is dit duidelik dat ongeveer 50% van die land geen addisionele fosfaat benodig volgens die algemene riglyne vir droëlandmielieproduksie nie. Indien fosfaat volgens die veranderliketoe­dieningskaart (Figuur 4) toegedien word, sal daar ’n verdere besparing van 33% op 26 ha van die land wees.

Figuur 3: ’n Voorbeeld van ’n kaart wat die grond se fosfaatvlakke op verskillende areas van ’n land aandui.
Figuur 4: ’n Voorbeeld van ’n voorskrifkaart vir die toediening van fosfaat.

Die regte waarde lê egter in die kombinasie van besparing én opbrengsverbetering. Deur grond-, blaar- en opbrengsdata in een geïntegreerde besluitnemingsraamwerk te gebruik, kan bemesting intyds volgens die gewas se behoeftes aangepas word. In verskeie gevalle het produsente opbrengste met tussen 5 en 15% verhoog deur hul bemestingstrategieë aan te pas op grond van veranderliketoedieningskaarte en sonebestuur.

Wanneer die totale koste en voordeel verreken word, sien produsente dikwels ’n opbrengs op belegging binne twee tot drie seisoene en selfs vroeër in gevalle waar daar reeds grond- en opbrengsdata beskikbaar is. Belangrik is dat hierdie opbrengs nie net in rand en sent gemeet word nie, maar ook in verbeterde grondgesondheid, hoër insetdoeltreffendheid en beter bestuursbesluite oor tyd.

Presisieboerderykundiges ondersteun produsente met die nodige tegnologie, opleiding en advies om hierdie strategieë suksesvol te implementeer – van grondmonsterneming tot GIS-gebaseerde kaarte, veranderlike toediening en opbrengsanalise. Die pad na volhoubare winsgewendheid begin met ingeligte besluite; presisietegnologie gee produsente die gereedskap om daardie besluite met vertroue te neem.

Presisietegnologie gaan dus nie net oor die aankoop van duur toerusting nie, maar oor die aanvaarding van ’n nuwe manier van boer: een wat kennis, insig en ’n bietjie eksperimentering vereis. Die tegnologie is daar, maar dit is die produsent se ingesteldheid wat uiteindelik die verskil maak.