SLAKKE BEDREIG WES-KAAPSE GEWASVERBOUING

Gepubliseer: 14 November 2025

270
Dr Gerhard Verdoorn,
bedryfs-en-rentmees­terskapbestuurder, CropLife SA

Dop- en naakslakke is irriterende peste in tuine en kwekerye, maar kan oornag uitwissende skade aanrig aan produ­sente se landerye waar nuut aangeplante gewasse ontkiem. Hierdie ongewerwelde peste is alomteenwoordig in die Wes-Kaap, waar hulle konstante druk op wingerde uitoefen.

As die klimaat egter in hulle guns draai, takel hulle veral sagte gewasse soos kanola tydens ontkieming en verwoes die hele oes voordat die plantjies enigsins kans kry om te groei. Daar is die afgelope drie jaar gedurig berigte oor slakke wat kanola so hard peper dat produsente tot drie keer moet oorplant om die gewas gevestig te kry. Een van die kwelvrae is waarom geregistreerde slakmiddels nie effektief teen die slakinfestasies werk nie en die antwoord lê beslis nie in weerstand teen die aktiewe bestanddele nie.

Verkenning is noodsaaklik
Een van kontantgewasverbouing se noodsaaklikhede wat heeltemal tekort skiet, is verkenning. Vrugteprodusente maak al vir jare van semio-chemiese middels gebruik as gereedskap vir verkenning. Feromoonlok­valle wat motte aanlok is hoogs effektief om verskeie motspesies se verskyning en bevolkingsdinamika te monitor. Dit gee vir vrugteprodusente ’n vroeë waarskuwing as daar motplae aan die ontwikkel is sodat voorkomende beheermaatreëls ontplooi kan word om grootskaalse wurmplae (die larwes van motte) in die kiem te smoor.

Daar is egter nie feromone vir alle peste beskikbaar nie en wanneer dit by dop- en naakslakke kom, is fisiese waarnemings uiters noodsaaklik. Dit beteken stewels in die landerye en vingers in die grond om uit te vind of daar slakeiers in die bogrond gelê is. Slakke en naakslakke lê dikwels eiers skaars 20 mm onder die grondoppervlak en ’n geoefende oog sal die eiers, wat soos sago lyk, maklik raaksien. As dit die geval is, moet die voorbereiding dadelik gedoen word vir die oomblik wanneer die slakke uitbroei.

Skade deur slakke aangerig in die Heidelberg-omgewing.

Is bewaringsbewerking die oorsaak van slakuitbrekings?
Bewaringsbewerking is ’n uiters noodsaaklike verbouingspraktyk om kosbare bogrond teen verspoeling en winderosie te bewaar, maar soos met enige praktyk is dit nie die alfa en omega van kontantgewasverbouing nie. Dit bewaar wel die bogrond maar het tekortkominge wat in langtermyn- volhoubare gewasproduksie in ag geneem en bestuur moet word. Bestuursmaatreëls wanneer dit by slakke kom, sluit ’n hele paar opsies in wat baie nou saam met die klimaat georkestreer moet word.

Klam toestande en slakke gaan hand aan hand
Die Wes-Kaap het genadiglik die uitmergelende droogte oorleef waarna reën mildelik die afgelope vier jaar oor die grootste deel van die provinsie geval het. Water is die landbouer se beste vriend, maar dit ontwaak ook peste en plantsiektes omdat hulle in die meer vogtige toestande gedy. Dit neem gewoonlik net een seisoen vir peste soos slakke om na goeie reën ’n vastrapplek in die landerye te kry en die volgende paar jaar saai hulle verwoesting as die reënval normaal is. In droë jare sien ’n mens dikwels die wit peer­slakke op heinings se trekpale sit, maar as die reën kom, slaan hulle op landerye toe.

Slakke lê ’n magdom eiers net onder die grond­oppervlak en onder plantreste. Dit laat ’n mens outomaties dink aan onversteurde oorlewing wat met meganiese meganismes omgekeer kan word.

Dienooreenkomstig is dit die moeite werd om tydens die natter jare die landerye te dis sodat bogrond omgewerk word en organiese materiaal (plantreste) in die grond ingewerk kan word. Solarisasie (sonbestra­ling) sal slakeiers uitdroog en vernietig terwyl dit ook eiers en larwes van motte en kewers sal demp. Dit is beslis nie nodig (en ook nie wenslik nie) om diep te ploeg nie, want grondstruktuur moet ten alle koste behoue bly om erosie te voorkom.

As slakke skielik tydens ontkieming uitkom, is dit haas onmoontlik om die bogrond in die meeste grasgewasse en kanola te hark omdat die plantdigtheid dit verhoed. Kies dus (volgens die slimfoon se weertoepassing) ’n sonnige periode van ten minste vier dae voor plant as die grond gedis of gehark moet word. Dit sal die slakbevolking ten minste knou, alhoewel nie heeltemal uitroei nie. Dit gaan niks help om slaklokaas aan te wend voor die slakke uitbroei nie omdat sommige van die slakmiddels blus as dit te lank aan vogtige toestande blootgestel word. Weer eens is die kernwoord verkenning: ’n Ernstige produsent kry daagliks vars grond aan sy stewels – veral in natter jare – omdat hy elke dag die vyande in sy landerye dophou.

Slakafskeiding (snail gunk) binne-in ’n stroper.
Slakke op koring in die Heidelberg-omgewing.

Slaklokaas: alles wat in Suid-Afrika geregistreer is
Daar is verskeie aktiewe bestanddele wat as alleenstaande middels of mengsels daarvan vir slakbeheer in kanola in Suid-Afrika geregistreer is. Aktiewe bestanddele wat akute slakdoders is, sluit onder andere die volgende middels in: karbariel, metaldehied (formaldehied trimeer) en metiokarb. Hierdie middels word aangevul met die “eetlusdempers”, naamlik yster en ysterkarbonaat (ferrokarbonaat). Onder normale omstandighede is al die aktiewe bestanddele in verskeie lokaastipes effektief, maar dit is belangrik om nie te verwag om slakke onmiddellik te sien doodgaan as die yster- en ysterkarbonaatlokase gebruik word nie.

Die ysterverbindings veroorsaak dat die slakke ophou vreet en miskien ’n dag of twee later vrek teenoor uiters vinnige uitwissing met die akute chemiese middels. Dit veroorsaak dus dat die slakke se impak gestaak word alhoewel hulle nie dadelik vrek nie. As daar omgewingsveiligheids­aspekte is wat die produsent na aan die hart lê, soos byvoorbeeld die Overberg se bloukraanvoëls, is die ysterverbindings die opsie met die laagste risiko. Slim aanwen­ding van alle lokase kan egter effektiwiteit beduidend verhoog en die risiko tot ’n aanvaarbare vlak verlaag.

Tyd van aanwending
Slaklokaas werk die heel beste as dit laat in die middag reg op die grond aangewend word. Dit is omdat slakke meestal laatmiddag ontwaak en dan begin vreet. As hulle dan op die lokaas afkom, sal hulle dit vreet. As die omgewing nat is, is die sukses nog beter omdat slakke meer aktief in klam toestande is. In uiters nat toestande is die ysterkarbonaatlokaas minder geneig om te blus (deaktiveer) as die akute slakdoders. Ongeag wat die produsent besluit om te gebruik, is blitsige optrede noodsaaklik as die eerste slakaktiwiteit waargeneem word.

Die verskil tussen totale uitwissing van die gewas en suksesvolle slakonderdrukking is slegs een dag – moet dus nie uitstel nie. Gebruik ysterkarbonaat of een van die akute chemiese lokase wat reënvas is as daar mistige weer of motreën is. In besonder droë toestande moet die produsent probeer om eers met ’n trekkerspuit die landerye effens nat te spuit en dan direk daarna die lokaas aanwend. Nattigheid aktiveer die slakke vinnig en as die lokaas daar is, gee dit hulle ’n doodskoot.

Metode van aanwending
Blanko aanwending van enige tipe lokaas vir enige grondplaag is altyd ’n mors van produk en geld omdat die lokaas nie teikengerig aangewend word nie. Dit is definitief meer koste-effektief om slaklokaas in stroke langs die plantrye aan te wend, want dit is waar die slakke hulle teen die buffer van lokaas gaan vasloop. Produ­sente moet innoverend dink en self toedieners aanmekaarslaan wat die lokaas op die grond langs die kanolaplantry kan plaas.

Dit werk dieselfde as snywurmlokaas wat reg langs plante aangewend moet word. Daar is helaas nie ’n spuitstof wat vir slakke in kanola geregistreer is nie en dit sal in elke geval ’n futiele poging wees omdat die slakke wat sigbaar is, alreeds hulle skade aangerig het. Die enigste uitweg is lokaas die oomblik as die eerste slak waargeneem word.

Opvolgbeheeraksies
Daar kan meerdere geslagte slakke in een seisoen in kanola uitbreek en daarom moet produsente na die eerste aanwending van die lokaas die situasie fyn dophou en monitor. Enige opvolguitbrekings moet ook beheer word al is die plante al sterk, want slakke kan selfs op volwasse kanola groot skade aanrig. Die ander nagevolg van
slakskade is siektes (patogene) wat plantwonde kan binnedring en die gewas ernstig beskadig.

Vir verdere navrae, kontak dr Gerhard Verdoorn van CropLife SA by 082 446 8946 of gerhard@croplife.co.za.