Bestuur van MRL’e in PLAASLIKE PRODUKSIE

Gepubliseer: 8 Oktober 2025

663
Luigia Steyn,
MRL-konsultant,
CropLife SA

Die graanbedryf in Suid-Afrika speel ’n be­langrike rol in nasionale voedselsekerheid asook internasionale voedselhandel. Verbruikers en globale markte se behoeftes vir meer volhoubare en veiliger voedsel het die afgelope paar jaar drasties toegeneem. Gevolglik ervaar die landbousektor wêreldwyd ’n toenemende fokus op gebiede soos voedselveiligheid, interna­­sio­nale handelsnakoming en omgewingsvolhoubaarheid.

Produsente is onder geweldige druk om streng regulatoriese en private standaarde na te kom, veral ten opsigte van plaagdodergebruik en residubestuur. ’n Belangrike komponent hiervan is die suksesvolle bestuur van plaagdoders se maksimumresidulimiete (MRL’e).

Wat is ’n maksimumresidulimiet (MRL)?
Wanneer plaagdoders toegedien word, kan klein spoorhoeveelhede van die plaagdoderchemikalieë in die gewas agterbly. Dit staan bekend as plaag­doderresidue. Die meeste residue breek mettertyd af, maar sommige plaagdodermiddels neem langer om af te breek as ander. Wanneer voedsel op ’n verbrui­ker se bord beland, is daar altyd ’n moontlikheid dat dit steeds klein hoeveelhede residue kan bevat.

Om hierdie rede het regulerende owerhede in die meeste lande MRL’e vasgestel om sodoende plaag­doderresidue in voedselprodukte te reguleer om te verseker dat dit veilig is. ’n MRL is die hoogste toelaatbare vlak van ’n plaagdoderresidu wat volgens wet in of op voedsel- of voerprodukte teenwoordig mag wees wanneer die plaagdoder toegedien word volgens goeie landboupraktyke. MRL’e word gestel vir residue van ’n spesifieke plaagdoder se aktiewe bestanddeel op ’n spesifieke gewas.

Geïntegreerde plaagbestuur, korrekte en tydige plaagdodertoediening, rekordhouding en monitering van residue is nodig om binne die MRL-voorskrifte te bly.

Waarom is dit belangrik dat MRL’e nagekom en bestuur moet word?
Dit is onwettig om handel te dryf met voedselprodukte wat ’n residu van ’n plaagdoder bevat wat die MRL op die betrokke gewas oorskry. Indien die graan ook uitgevoer word, moet residue nie net voldoen aan die Suid-Afrikaanse MRL’e nie maar ook aan die MRL-vereistes van die invoerland. MRL-waardes kan wissel tussen verskillende lande en Suid-Afrikaanse grane word dikwels uitgevoer na lande wat strenger MRL-vereistes het.

Graanuitvoerders en -kopers het ’n verwagting dat MRL-nakoming proaktief gedemonstreer moet word, met heelwat naspeurbaarheidsdokumentasie en residutoetsing wat vereis word voordat verskeping kan geskied. Indien MRL’e nie nagekom word nie, kan dit lei tot verwerpte vragte, finansiële verliese of selfs uitsluiting van produsente uit sekere voorkeurverskafferprogramme. MRL-bestuur is dus ’n sentrale deel   van graanprodusente se marktoegang en dit kan ’n direkte impak op plaagbeheerstrategieë sowel as handelsmerkreputasie hê.

Uitdagings vir MRL-bestuur
Daar is ’n gebrek aan globale eenvormigheid van MRL’e. Baie lande stel hul eie limiete op wat gebaseer word op die bevolking se eetgewoontes, risikobepalings asook regulatoriese raamwerke. ’n Produk wat ten volle aan Suid-Afrikaanse MRL-wetgewing vol­doen kan steeds die toelaatbare residulimiete oorskry van die land waarheen dit uitgevoer word indien die betrokke land ’n laer MRL-waarde het.

Namate nuwe tegnologie en wetenskaplike inligting beskikbaar raak, word MRL-waardes ook op ’n gereelde basis deur regu­lerende owerhede hersien om te bepaal of bestaande waardes nog voldoende is. MRL’e verander gereeld en nuwe waardes kan dikwels op kort kennisgewing geïmplementeer word. Dit is ’n geweldige uitdaging vir produsente om op hoogte te bly van hierdie verande­ringe en om die tydlyne vir implementering van die nuwe waardes vroegtydig te bepaal.

Party lande publiseer MRL’e vir ’n gewasgroep of subgroep en daar is soms onduidelikheid oor watter individuele gewasse alles deel vorm van die betrokke groepe. Sommige lande, veral in die Verre Ooste, publiseer MRL-regulasies in hul eie nasionale tale. Taalgrense kan problematies wees om MRL-inligting akkuraat te interpreteer.

Private plaagdoder- en residustandaarde van oorsese supermarkkettings, hoofsaaklik in die Europese Unie (EU), het dikwels residuvereistes wat baie meer beperkend is as die MRL-regulasies van die invoerland. Residue kan byvoorbeeld beperk word tot 50% van die amptelike EU-MRL. Beperkings kan ook gehef word op die aantal opspoorbare residue wat toegelaat word om op die gewas teenwoordig te wees.

Strategieë vir die bestuur van MRL’e in graanproduksie
Ten spyte van al die uitdagings is daar wel verskeie strategieë wat produsente kan volg om MRL’e suksesvol te bestuur. Dit begin deur MRL-regulasies te verstaan en na te kom en om op hoogte te bly van MRL-veranderinge. Implementering van geïntegreerde plaagbestuur, korrekte en tydige plaagdodertoediening, rekordhouding asook monitering van residue kan help om die berg in ’n molshoop te verander.

Die meeste lande gebruik vasgestelde MRL’e om plaagdoderresidue in voedselprodukte te reguleer om te verseker dat voedsel veilig is.

1. Verstaan en nakoming van regulatoriese en private standaarde
Produsente moet hulself vergewis van die Suid-Afrikaanse MRL-regulasies sowel as enige internasionale MRL-standaarde wat op hul uitvoermarkte van toepassing is. Suid-Afrikaanse MRL’e word in die Staatskoerant gepubliseer en is ook beskikbaar op die webwerf van die Departement van Landbou. Internasio­nale MRL’e word gepubliseer in verskillende databasisse, regulatoriese publikasies, amptelike joernale asook verskeie ander platforms. Dit is belangrik dat produsente weet by watter bronne hul akkurate en opgedateerde MRL-inligting kan kry en om op ’n gereelde basis te bevestig wat die MRL-waardes is vir elke plaag­doder wat gebruik word op elke tipe graangewas wat verbou word. Produsente moet op hoogte bly van veranderinge in MRL-wetgewing en handelsooreenkomste wat moontlik hul besighede kan impakteer.

Raadpleeg regulatoriese owerhede indien daar enige onsekerheid is oor die spesifieke MRL-vereistes wat geld vir verskillende graansoorte. Indien graanprodukte aan oorsese supermarkkettings (veral in die EU) gelewer word, moet produsente probeer vasstel of die supermark enige private residustandaarde het wat ter sprake is. Die Agri-Intel-platform van CropLife SA is ’n belangrike digitale hulpbron wat vir produsente toegang bied tot die etiketinligting van geregistreerde plaagdoders, asook vooroesonthoudingsperiodes, MRL’e en private standaardvereistes vir verskeie uitvoerbestemmings en internasionale supermarkkettings. Produsente word aangemoedig om Agri-Intel op ’n gereelde basis te raadpleeg.

2. Pas geïntegreerde plaagbestuur toe
Geïntegreerde plaagbestuur (GBP) is ’n meer holistiese en omgewingsvolhoubare benadering tot gewasproduksie. GBP kombineer verskeie strategieë om plae te help bestuur insluitend voorkoming en effektiewe monitering van peste en siektes, biologiese beheer deur natuurlike predatore of voordelige organismes en kulturele praktyke soos gewasrotasie en verbouing van weerstandbiedende variëteite. Implementering van GBP-beginsels verminder die behoefte vir gereelde toediening van plaagdoders. Dit lei tot ’n verminderde risiko vir residue en MRL-oorskrydings in die geoeste graan.

3. Gebruik geregistreerde plaagdoders
Produsente moet slegs plaagdoders toedien wat geregistreer is op die betrokke gewas onder Wet Nr. 36 van 1947 (Die Wet op Misstowwe, Veevoer, Landboumiddels en Veemiddels). Geregi­streerde produkte is getoets vir veiligheid en doeltreffendheid en is ook onderwerp aan residuproewe. Die gebruik van geregi­streerde middels volgens etiketinstruksies verminder die risiko vir MRL-oorskrydings.

4. Dien plaagdoders korrek en tydig toe
Vir die suksesvolle bestuur van MRL’e is dit van kardinale belang dat plaagdoders korrek toegedien word volgens etiketinstruksies en dat beste praktyke vir plaagdodergebruik ten alle tye gevolg word. Om te verhoed dat residue ophoop moet plaagdoders op die korrekte stadium van gewasontwikkeling toegedien word. Spuittoerusting moet akkuraat gekalibreer word deur ’n kundige persoon om oorbespuiting te verhoed en om eenvormige verspreiding van die plaagdoder te verseker. Hou by die etiket se aanbevole dosis om te verseker dat residuvlakke binne die toelaatbare perke bly. Wees bewus van die risiko’s van spuitdrywing wanneer plaagdoder op aangrensende gewasse of buurplase toegedien word.

Indien die graan uitgevoer word, moet residue aan die Suid-Afrikaanse MRL-vereistes asook aan die invoerland s’n voldoen.

5. Rekordhouding van plaagdoderbespuitings
Produsente word aangemoedig om rekord te hou van alle plaagdodertoedienings wat geskied. Spuitrekords is belangrik vir naspeurbaarheid en vir identifisering van enige potensiële probleme wat verband kan hou met MRL-oorskrydings. Maak seker dat basiese inligting aangeteken word soos byvoorbeeld die gewastipe, kultivar, aktiewe bestanddeel en handelsnaam van die plaagdoder, teiken waarvoor die middel aangewend is, datum van toediening, groeistadium van die gewas, dosis, plaasnaam en landnommer.

6. Volg vooroesonthoudingsperiodes op die etiket
Plaagdoderetikette dui normaalweg vooroesonthoudingsperiodes (of intervalle) aan vir die onderskeie gewasse waarop die middel geregistreer is. ’n Vooroesonthoudingsperiode is die minimum tydperk wat moet verloop vanaf die laaste toediening van die plaagdoder totdat die gewas geoes kan word. Hierdie wagperiode gee vir residue genoegsame tyd om af te breek na vlakke wat nie die Suid-Afrikaanse MRL sal oorskry nie. Indien die graan uitgevoer word na ’n land wat ’n laer MRL as Suid-Afrika het, moet produsente met die registrasiehouers van die produk bevestig of toediening dalk op ’n vroeër stadium gestaak sal moet word sodat residue tyd het om af te breek na vlakke wat nie die invoerland se laer MRL sal oorskry nie.

7. Gereelde residutoetsing
Gereelde residutoetsing voor oes kan potensiële MRL-probleme vroegtydig identifiseer. Dit bied vir die produsent ’n geleentheid om ’n ingeligte besluit te neem oor die pad vorentoe. Indien residue gevind word wat te hoog is kan die oes dalk tydelik uitgestel word of alternatiewelik kan die geoesde graan gestoor word om residue die geleentheid te bied om verder af te breek na aanvaarbare vlakke.

8. Samewerking en opleiding
Samewerking tussen produsente en regulerende liggame, produsenteverenigings, landbou-organisasies en ander belanghebbendes in die landbouchemiese bedryf is ’n waardevolle manier om ingelig te bly oor nuwe verwikkelinge in MRL-regu­lasies. Opleidingsessies kan produsente verder help om hul begrip van plaagdodergebruik en residubestuur te verbeter. Produ­sente kan ook konsulteer met geakkrediteerde en kundige gewasbeskermingsadviseurs rakende spuitprogramme wat nou­keurig beplan moet word om oesbeskerming, MRL-nakoming en volhoubare marktoegang te prioritiseer.

Slotsom
Voldoening aan MRL-vereistes is ’n bewegende teiken wat nou­keurige beplanning vereis. Dit is ’n komplekse regulatoriese landskap waardeur Suid-Afrikaanse produsente moet navigeer om aan beide plaaslike en internasionale MRL-standaarde te voldoen. Die druk vanaf markte en verbruikers vir meer volhoubare en veiliger voedsel is steeds aan die toeneem.

Deur proaktief op te tree, die korrekte strategieë te implementeer en op hoogte te bly van plaaslike en internasionale MRL-ver­anderinge, kan produsente verseker dat hul graanprodukte veilig, bemarkbaar en mededingend sal bly.