Redes vir gewasskade deur geregistreerde onkruiddoders

Gepubliseer: 1 September 2025

377
Dr Charlie Reinhardt, SAHRI, Universiteit van Pretoria en onafhanklike konsultant

Alle onkruiddoders, trouens alle plaagdoders, moet kragtens Suid-Afrika se Wet Nr. 36 van 1947 (Wet op Misstowwe, Veevoedsel, Landboumiddels en Veemiddels) geregistreer wees om bemark en verkoop te kan word. Die registrasieproses vir onkruiddoders vereis voorlegging van veldproefdata om die effektiwiteit van onkruidbeheer en gewasveiligheid te bewys. Hierdie twee verwagtinge van doeltreffende onkruiddoderwerking is ewe belangrik aangesien tekortkominge in prestasie in beide gevalle tot aansienlike gewasopbrengsverliese kan lei.

Wetlike vereistes
Onkruiddoders se prestasieverwagtinge word weerspieël in die voorskrifte vervat in etikette wat op produkhouers aangebring is. Die produketiket is ’n regsgeldige dokument wat ’n wettige kontrak tussen die registrasiehouer van die produk en die gebruiker daarvan behels. Verkoopsagente wat produkte verkoop en aanbevelings maak, sowel as die produsent wat dit toedien of laat toedien, is gebruikers van ’n produk. Die registrasiehouer en die Registrateur van Wet 36 van 1947 vereis dat die voorskrifte van etikette nougeset nagekom moet word.

Die voorgeskrewe dosis van ’n onkruiddoder mag byvoorbeeld nie oorskry word nie en onderdosering is ook ’n oortreding van die wet. Nog ’n belangrike verpligting is dat ongeregi­streerde mengsels van produkte nie gebruik mag word nie. Onkruiddoders mag ook alleenlik in daardie gewasse waarvoor dit geregistreer is, gebruik word. Bepaalde produkte se etikette kan ook produkspesifieke gebruiksbeper­kings, waarskuwings en voorwaardes kommunikeer wat regsgeldig is.

Skadesimptome wat deur onkruiddoders veroorsaak is, kan met simptome van onder andere voedings­tekorte en siektes verwar word – spesialiskennis is nodig om onkruiddoderskade korrek te diagnoseer. Foto: Dr C Reinhardt

Selektiwiteit van onkruiddoders
Onkruiddoders is in der waarheid plantdoders – dit is belangrik om te onthou, anders dink ons verkeerdelik dat slegs onkruid beskadig en gedood word. Gevolglik berus die onus vir gewasveiligheid vir geeneen van die ander soorte plaagdoders so swaar op die registrasiehouer as vir ’n onkruiddoderproduk nie. Geen wonder dat die ontwikkeling van onkruiddoders tot ’n patentdraende produk besonder lank neem (ongeveer 10 tot 15 jaar) en baie duur is (etlike honderde miljoene dollar). Die feit dat patentreg slegs 20 tot 25 jaar geld, verklaar ook waarom onkruiddoders relatief duur plaagdoders is. Generiese produkte, wat na die verval van ’n oorspronklike patent op die mark kom, het dit aansienlik makliker wat betref tydsduur en koste van navorsing, ontwikkeling en die regis­trasieproses.

Vir sekere onkruiddoders is die skadesimptome onmiskenbaar uniek – hierdie is skadesimptome wat die onkruiddoder pikloram (nie geregistreer vir die gewas nie) by aartappels veroorsaak het. Let wel: 2,4-D-onkruiddoder veroorsaak presies dieselfde simptome omdat dit en pikloram se meganisme van werking ooreenstem. Foto: Dr C Reinhardt

’n Onkruiddoder is selektief, oftewel veilig vir die gewas, omdat dit aanvanklik (onder patent) oor baie jare en teen hoë koste nagevors is. Nogtans het geen gewas ware “weerstand” teen onkruiddoders nie en is gewasse slegs “verdraagsaam”. Dit geld ook vir gewasse wat danksy genetiese manipulering (GM-tegnologie) verdraagsaam is teenoor sekere onkruiddoders. Voorbeelde is die sogenaamde Roundup Ready™-gewasse (mielies, katoen en sojabone) en Euro-Lightning®-gewasse (sonneblom). Selek­tiwiteit van ’n onkruiddoder is dus relatief en nie absoluut nie, aangesien verskeie faktore en interaksies daarvan tot gewasskade aanleiding kan gee onder die toestande wat hieronder bespreek word.

Selektiwiteit van ’n onkruiddoder word basies op vier maniere bewerkstellig:

  1. Geneties, deur staat te maak op die gewas se inherente vermoë om ’n onkruiddoder na opname vinnig onska­delik te stel. Dikwels doen ensieme dié werk. Atrasien en mesotrioon word byvoorbeeld vinnig deur verskillende ensiemsisteme afgebreek.
  2. Beveiligingsmiddels word gewoonlik saam met die onkruiddoder geformuleer en werk deur ensiemsisteme te aktiveer wat sekere onkruiddoders teiken vir vinnige afbraak. Byvoorbeeld, metolachloor en asetochloor wat voor opkoms net veilig vir mielies is in­dien daar ’n beveiligingsmiddel in die produk is.
  3. Gerigte toediening verseker dat die onkruid­doder nie met die gewas kontak maak nie, anders sal dit beskadig word. Byvoorbeeld 2,4-D wat met valarms in mielies toegedien word om te verhoed dat spuitdruppels in die kelk van plante beland.
  4. Toediening wanneer ’n gewas nog nie bogronds verskyn het nie, byvoorbeeld glifo­saat of parakwat wat voor plant toegedien word.

Faktore wat die selektiwiteit van onkruiddoders ongedaan maak
Die sekerste manier om ’n gewas met onkruiddoders skade te berokken is deur oordosering, dit wil sê oorskryding van die geregistreerde dosis oftewel die etiketvoorgeskrewe dosis, as­ook weens die gebruik van ongeregistreerde tenkmengsels. Alhoewel dit duidelik so ’n enor­me risiko is, is daar nogtans elke seisoen talle gevalle soos hierdie wat neerkom op blatante oortreding van Wet 36 van 1947.

Klimaatsfaktore soos koue en nat toestande is bevorderlik vir gewasskade weens sekere onkruiddoders wat tog behoorlik geregistreer is. Veral die asetaniliede (soos metolachloor en asetochloor) wat in teenwoordigheid van ’n beveiligingsmiddel selektief teenoor mielies behoort te wees, kan die gewas tydens opkoms beskadig indien koue, nat toestande veroorsaak dat die ensiemsisteem wat dit onskadelik moet stel nie optimaal funksioneer nie. Warm dae en koue nagte is veral problematies. Alhoewel die onkruiddoder goed uit nat grond opgeneem word gedurende die warm tye van die dag, word die vereiste vinnige afbraak deur ensieme deur koue nagte en oggende gekortwiek omdat lae temperature ensiemwer­king vertraag.

Interaksies tussen sekere onkruiddoders en insekdoders, spesifiek die karbamate en organofosfate, kan aanleiding gee tot gewasskade. Etikette van mesotrioon-bevattende produkte waarsku dat hierdie onkruiddoder nie saam met karbamaat- en organofosfaattipe insekdoders gebruik moet word nie omdat dit tot gewasskade kan lei. Die rede hiervoor word nie in etikette verduidelik nie, en is die gevolg van ooreising of oorweldiging van die ensiemsisteem wat mesotrioon onskadelik moet stel, aangesien dieselfde sisteem (sitochroom P450-kompleks) ook hierdie soort insekdoders inaktiveer. Die uiteinde van hierdie interaksie is dat mesotrioon die gewas be­skadig omdat dit in té hoë vlakke in die gewas voorkom. Om hierdie skadelike interaksie te voorkom, skryf die mesotrioon-etiket voor dat dit en hierdie soort insekdoders apart met ’n gaping van minstens 30 dae toegedien moet word.

Nie onkruiddoderskade nie, maar versuiping! Foto: Dr C Reinhardt

Byvoegmiddels wat onkruiddoderwerking bevorder weens beter opname daarvan deur plante kan in bepaalde gevalle die gewas skade berokken. Vir sekere onkruiddoderprodukte bevat die etiket ’n waarskuwing dat geen byvoegmiddels anders as ammoniumsulfaat, wat ’n waterkondisioneerder is, daarmee saam gebruik mag word nie. Nogtans is daar steeds soms gevalle waar die wet oortree word met ongeregistreerde aanbevelings. Die skynbaar oorheersende vergissing met sulke aanbevelings is dat ander produkte soos blaarvoeding, insekdoders en swamdoders wel saam met die bepaalde onkruiddoder gebruik kan word, sonder die besef of kennis dat sulke produkte hoogs waarskynlik byvoegmiddels in die formulasie bevat wat die skadelike onkruiddoder-tot-gewas-aksie kan aandryf.

Ten slotte
Jaarliks ly te veel produsente gewasskade weens onkruiddoders waarvan hulle dalk nie eers bewus is nie. Die algemene reël in on­kruiddoderwetenskap is dat opbrengsverlies van tot 20% veroorsaak kan word sonder dat gewasskade met die oog waarneembaar is. Die rede is dat onkruiddoders op die fisiologiese prosesse van alle plante (onkruid en gewasse) inwerk. Met ander woorde, wanneer gewasskade duidelik waarneembaar is, het gewasopbrengs bes moontlik reeds met tot 20% afgeneem.

Hierdie inligting word op die hart gedruk van almal betrokke by die aanbeveling en gebruik van on­kruiddoders, oftewel plantdoders. Etiketvoorskrifte, gerugsteun deur Wet 36 van 1947, is daar om volhoubare gewasproduksie én onkruiddodergebruik te verseker.

Dr Reinhardt is die inisieerder en ’n projekleier van SAHRI by die Universiteit van Pretoria, asook ’n onafhanklike konsultant. Hy kan gekontak word by dr.charlie.reinhardt@gmail.com of 083 442 3427.