
’n Wurm is nie net ’n wurm nie. Enige insekkundige kan duidelik onderskei tussen die vals bolwurm (Figuur 1) en die kommandowurm (Figuur 2), of die Afrika-bolwurm (Figuur 3) en die herfsbolwurm (Foto 1). As produsent is dit egter baie gevra om so fyn na die vyand te kyk wat besig is om jou oes op te vreet. Veral vir mielie- en katoenprodusente is dit ’n ernstige saak wat onmiddellike optrede vereis. Vir ’n grondboonprodusent is daar egter ’n ander kant van die storie – chemie is nie altyd die wegspringpunt nie. Dit is nodig om die lewensiklus van die “bolwurm” te verstaan alvorens die nodige beheermaatreëls toegepas word.
Vir doeleindes van hierdie artikel word gekyk na die Afrika-bolwurm, aangesien hierdie spesie die grootste en wydste kommersiële impak op verskeie landbougewasse het. Die Afrika-bolwurm is inheems aan Afrika maar is reeds wyd versprei deur Europa, Asië en
Australië. Die wurm val 180 verskillende plantspesies aan. In Suid-Afrika is dit uiters skadelik op gewasse soos katoen, mielies, steenvrugte asook sitrus en kan selfs sporadiese uitbrekings op wingerde veroorsaak. Daar word ook elke jaar sporadiese uitbrekings in grondboonlande waargeneem.

Foto: D Visser, LNR-VOP, Roodeplaat

Foto: D Visser, LNR-VOP, Roodeplaat

Foto: D Visser, LNR-VOP, Roodeplaat
Die motte van die Afrika-bolwurm is besonder aktief in die nag en word beskryf as nagtelike vlieërs. Volwasse motte ontwikkel uit papies wat in die grond oorwinter het en kom gewoonlik in die lente te voorskyn. In normale toestande kan die motte tot 10 km ver vlieg om by gasheerplante uit te kom, maar in uiterste omstandighede kan dit tot
250 km migreer om gasheerplante te bereik. Die volwasse motte voed op suikeragtige stof en die wyfie moet eers voed voordat sy kan reproduseer. Reproduksie begin binne twee tot drie dae nadat die motte te voorskyn gekom het. Eiers word gelê op die harige gedeeltes van die gasheerplant, gewoonlik naby aan die blomme. ’n Vroulike mot kan tot 730 eiers oor ’n periode van 10 tot 23 dae produseer. Die eiers broei binne drie tot vyf dae uit en begin dadelik voed op blare of blomme. Die wurms vervel vyf of ses keer voordat dit op die grond val en in die papiefase ingaan. In Suid-Afrika is daar ’n klein piek in die voorkoms van volwasse motte tussen Augustus en Oktober, veral in die koue winterproduksiegebiede. In areas met meer gematigde winters en lang somerperiodes (waar daar onder besproeiing deurlopend gewasse produseer word) is daar ’n konstante generasie-opvolg en kan dit ook gebeur dat die generasies mekaar oorvleuel. Die tweede en groter piek van voorkoms is tussen Februarie en Maart. Onder optimale omstandighede kom daar wel tweegenerasie- volwasse motte voor.
Aksiedrumpels vir verskeie gewasse
Dit is duidelik dat die larwe/wurmstadium die skadelikste stadium is in die lewensiklus van die bolwurm. In vrugte en gewasse soos katoen en mielies rig die bolwurms groot skade aan die reproduktiewe gedeeltes van die plant aan. Daar is reeds ekonomiese aksiedrumpels vir verskeie gewasse in Suid-Afrika ontwikkel. Insekdoders moet nie toegedien word voordat hierdie drumpels oorskry word nie, aangesien die Afrika-bolwurm maklik weerstand teen beheermiddels opbou.
Die beheer van bolwurm begin by die monitering van die uitbreking. Liglokvalle sowel as feromoonlokvalle gee ’n goeie aanduiding van die uitbreking maar nie die impak van die skade nie. Net soos daar vir blaarsiektes gesoek moet word, is dit nodig om vir bolwurm se kind te soek. In grondboonlande is daar ’n algemene reël vir die ekonomiese aksiedrumpel: Wanneer die blaredak van die grondboonplant geslaan word en minder as tien wurms word binne ’n meter gekry, moet daar nog gewag word voordat beheer toegepas word. ’n Goeie aanduiding om te sien of die natuurlike vyande hul werk doen, is om op die uitkyk te wees vir pers vlekke op die blare waar die wurms fisies ontplof het. ’n Geoefende oog kan wespe maklik in die lande opmerk.
Wyle dr CJ Swanevelder van die LNR-Graangewasse in Potchefstroom het van die standpunt uitgegaan dat bolwurm op grondbone nie net voor die voet doodgespuit moet word nie. Sy stem eggo nog in die lande waar hy gesê het die wurms kan tot tweederdes van die plant opvreet voor die produsent moet begin stres. Die grondboon wil swaar kry om ’n ordentlike produksie te lewer.

Daar is eintlik baie natuurlike vyande in die vorm van parasitiese wespe en virusse om die pes te beheer. Die hedendaagse produsent is egter baie vinnig om chemiese beheer toe te pas en sodoende ’n wanbalans in die natuurlike vyande van die pes te veroorsaak. ’n Plant sonder gate in sy blare is wel mooi, maar mooi plante maak nie noodwendig mooi peule nie.
Chemiese beheer moet slegs toegepas word met middels wat op die aangeplante gewas geregistreer is. Die lees van etikette en die korrekte toedieningsmetodes is van uiterste belang om die impak op die natuurlike vyande en voordelige insekte te bekamp. Gifafmeting moet noukeurig gedoen word.
Wisselbou van gewasse en die bewerking van landerye, veral waar uitbrekings plaasgevind het, is van belang om die papies van die Afrika-bolwurm met implemente te vermorsel en sodoende die probleem onder beheer te bring.
Beheer sluit beide chemiese en meganiese beheer in. Dit alles val onder die vaandel van ’n goeie gewasproduksiestelsel wat die hoeksteen van elke boerdery behoort te wees. Dis gewoonlik die “klein wurmpies” wat die wingerd vernietig.
Verwysings
- https://www.agriorbit.com
- Annemie Erasmus, Afrika of herfs, kommando of bol – ken jou wurm, April 3, 2019
- https://www.cabi.org/what-we-do/fall-armyworm/
- https://www.arc.agric.za/arc-ppri/FAWarned/Pages/default.aspx
- https://www.arc.agric.za/arc-ppri/FAWarned
- https://www.sun.ac.za/english/faculty/agri/conservation-ecology/ipm/
Pages/Whats-My-Pest.aspx - Swanevelder, CJ. 1998. Groundnuts – always tops. ARC-Grain Crops Institute, Potchefstroom. ISBN:1-86849-095-5


























