Wat die kristalbal sê oor aalwurmdoders in SA

Gepubliseer: 1 September 2025

433
Dr Sonia Steenkamp, LNR-Graangewasse, Potchefstroom

Die natuur hou alles in ewewig – totdat die mens begin inmeng. Inderdaad kan hierdie stelling ook na aalwurms toe deurgetrek word.

Heel aan die begin toe akkerbouers net begin het om gewasse te verbou, was aalwurmgetalle onder beheer en geen noemenswaardige skade is berokken nie. Die moeilikheid het ontstaan met die volgehoue verbouing van spesifieke gewasse in monokultuur, waarskynlik jaar na jaar op dieselfde plek. Plant-parasitiese aalwurms het voordeel getrek uit hierdie nuwe, onbeperkte kosbron. Die aalwurms kon, soos wat die jare verloop, ongehinderd aanteel op hierdie kosbron en so het die aalwurmgetalle stadig begin opbou totdat hulle gewasproduksie negatief beïnvloed het.

Aanpasbaarheid
Die mens, veral produsente, is egter veerkragtige wesens. Soos wat aalwurmgetalle toegeneem en amok begin maak het, het die produsente ook aangepas. Al het hulle daardie tyd nie noodwendig geweet dat dit aalwurm is wat die moeilikheid veroorsaak nie, het eertydse produsente alles getoets en die effektiefste maniere geselekteer om hulle probleem, in hierdie geval aalwurmgetalle, te probeer teenwerk. Hierdie produsente het – heel onbewustelik en sonder enige kennis van die grondgedraagde interaksies – vir ons die drie belangrikste hoek­stene voorsien waarop aalwurmbeheer vandag berus. Hierdie hoekstene sluit in wisselbou, seleksie van weerstandbiedende variëteite en die toedien van “groen” bemesting en dieremis. Laasgenoemde het natuurlik ook bemestings- en aalwurmdodende eienskappe gehad, wat die voorlopers geword het van die moderne aalwurmdoders wat ons vandag ken.

Bogrondse aalwurmsimptome sal altyd in kolle voorkom waar die plante geel en dikwels verlep en siek lyk. Hierdie land het ’n hoë letselaalwurmbesmetting gehad.

Veral in die afgelope 50 jaar is heelwat vooruitgang gemaak met besproeiing, bemesting, teel van gewasvariëteite en seleksies, die verbetering van opbrengspotensiaal – en natuurlik – pesbeheer. Vandag is al hierdie aspekte, wat dan ook presisie­boerdery moontlik gemaak het, gevestig as essensiële insette wat noodsaaklik is vir gewasproduksie. Met presisieboerdery kon gewasse meer intensief verbou word en meer kos kon so geproduseer word. Vandag leun veral kommersiële landbou swaar op chemiese beheer om aalwurms ordentlik te beheer – of eerder te bestuur.

Die effektiwiteit van chemiese aalwurmdoders kon gespesialiseerde gewasproduksie laat uitbrei en hoëwaarde-kontantgewasse kon meer geredelik verbou word terwyl­ wisselbou en, in ’n mate, weerstandstelling­ ag­terweë gebly het. Gevolglik het die meer intensiewe verbouing van veral die hoë­waarde-kontantgewasse die afhanklikheid van aalwurmdoders verhoog.

Knopwortelaalwurmgalle wat op ’n pampoenplant se wortels oorgeneem het.

Uitdagings
Hierdie afhanklikheid van aalwurmdoders het natuurlik sy eie uitdagings geskep. Die meeste van die ouer, gevestigde aal­wurmdoders word as toksies of hoogs toksies geklassifiseer. Verbruikers dring egter daarop aan dat voedsel veilig en sonder enige residu moet wees. Voorts verwag hulle ook dat die verbouing daarvan die kleinste moontlike impak op die omgewing moet hê. Die toekomstige beskikbaarheid van aalwurmdoders in Suid-Afrika sal gevolglik afhang van beleide wat deur die plaaslike regulatoriese gesag daargestel word asook eise wat deur verbruikersgroepe bevorder word.

Internasionale besluitneming
Besluite wat in Europa gemaak word, sal die grootste impak op Suid-Afrikaanse beleid hê. In Europa bepaal en bestuur verbrui­kers markgedrewe organisasiestandaarde en -prosedures wat die voorwaardes van Good Agricultural Practices (GAP) volg. Oorspronklik het EuroGAP, wat intussen GlobalGAP geword het, vrywillige, globale standaarde gestel vir die sertifisering van landbou- en akkerbouprodukte. Deur dié reëls te volg kan die gebruik van chemiese middels verminder word sodat die gesondheid van werkers asook die welstand van diere verseker kan word.

’n Grondboonplant wat erg besmet is deur knopwortelaalwurm.
Die wit “balletjies” in die oopgekrapte stikstofbindende bakteriese knoppie is knopwortelaalwurmwyfies wat die werking van die knoppies negatief beïnvloed.

Omgewingsimpak
Hier op eie bodem begin soortgelyke groepe ook ontstaan wat tot gevolg sal hê dat baie van ons aalwurmdoders as taboe geoormerk kan word, veral as daar vir spesifieke verbruikerswinkels geproduseer word. Al is die omgewings- en toksiese standaarde van ’n aalwurmdoder dus in plek, is die omgewingsimpak, blootstelling wat die operateur kry gedurende toediening van die aalwurmdoder en die kanse vir enige residuele stowwe in kommoditeite die kritieke maatreëls wat van belang is. Van hierdie strenger veiligheidsmaatreëls het veroorsaak dat van die aalwurmdoders reeds in die Europese Unie van die mark onttrek is.

Indien aalwurmdoders verloor word, sal dit Suid-Afrika se vermoë om in landbou te kompeteer sonder twyfel ondermyn. Plaaslik word die gemiddelde verliese van gewasse wat deur aalwurms meegebring word op 14% beraam. Die skade op stapelvoedselgewasse word op ongeveer 10% beraam. Hierdie getalle kom ooreen met dit wat globaal aangeteken word.

Die uitwerking op produksie
Die probleem is dat ons in sekere toestande totaal en al afhanklik is van aalwurmdoders vir gewasproduksie. Die ouer, gevestigde aal­wurmdoders word al hoe meer beperk as gevolg van plaaslike en internasionale regulatoriese druk. Verbruikersorganisasies pas verder druk op die gebruik van die aalwurmdoders toe en die misbruik van aalwurmdoders met die gevolglike negatiewe mediadekking wat daarmee gepaard gaan, maak dinge nie makliker nie. Op die ou end word die produsent se keuse van chemiese beheermaatreëls aansienlik beperk. Die gevaar hiervan is dat produsente ongetoetste en minder effektiewe opsies begin implementeer.

Gelukkig is die toekoms van aalwurmdoders in Suid-Afrika darem nie net donker nie. Hier teen 2016 het pandemonium uitgebreek toe aldikarb, wat een van die effektiefste aalwurmdoders was, van die mark onttrek is. Ten spyte daarvan het gewasproduksie nie tot stilstand gekom nie, want daar was wel alternatiewe wat die middel se plek kon inneem. Vandag is verskeie chemiese, biologiese en saadmaatskappye druk besig om hieraan aandag te gee ten spyte van die vele uitdagings wat veral chemiese maatskappye ervaar.

Hulle doen spesifiek navorsing wat fokus op die interaksies wat plaasvind tussen die aalwurm, die gewas, die omgewing en die aalwurmdoder. Hierdie navorsing bied heelwat uitdagings omdat die tyd van toe­diening, dosis en die plasing van die produk alles apart gedoen moet word vir elke gewas omdat dit gewasspesifiek is. Die inligting wat so bymekaargemaak word, word dan by die Registrateur ingedien vir registrasie.

Daarna volg ’n groeifase waar die produk hopelik in die mark aanvaar word, afhangende van die voordele wat so ’n produk vir die verbruiker kan bied. Hierdie uitdagings is ook op die nuwe, meer omgewingsvriendelike aalwurmdoders wat die chemiese maatskappye ontwikkel, van toepassing. Reeds gevestigde aalwurmdoders wat as toksies of hoogs toksies geklassifiseer word, maak egter die verdediging van hierdie nuwe produkte deur hulle vervaardigers nog moeiliker, veral gegewe die uitvoermark. Tog is daar wel produkte wat suksesvol deurkom wat die plek van ouer produkte wat van die mark af gaan, kan vervang.

Navorsing
By die LNR-Graangewasse se nematologie-afdeling word, in same­werking met die verskillende maatskappye, intensiewe navorsing gedoen oor hierdie nuwe produkte, hetsy deur kontrakte wat met die maatskappye gesluit word of deur befondsde navorsingsprojekte. Hiermee saam word in samewerking met ander LNR-instansies
na die gebruik van byvoorbeeld dekgewasse gekyk om aalwurm­getalle te onderdruk. Die nematologie-afdeling ondersteun telers om weerstandbiedende kultivars vir die mark te ontwikkel.

Die doel van al hierdie navorsing is om die produsent van meer opsies te voorsien sodat hy ’n geïntegreerde benadering kan volg om die ontwikkeling en impak van aalwurmpopulasies te verminder. So word die produ­sent bygestaan om steeds veilige en hoëkwaliteitvoedsel vir Suid-Afrika – en in sekere gevalle die buiteland – te produseer.

Dele van hierdie artikel is gebaseer op inligting uit RK Jones, 2017. “Nematode control and nematicides: Developments since 1982 and future trends.” In: Nematology in South Africa: A View from the 21st Century. Fourie, H, Spaull, VW, Jones, RK, Daneel, MS & De Waele, D, eds. pp. 129 – 150.