Tegnologie is meer as net SLIM TREKKERS

Gepubliseer: 5 Augustus 2025

536
Pietman Botha,
SA Graan/Grain-
medewerker

Jaco Breytenbach,
voorsitter: Graan SA Produksie- /Insetwerk­-
groep

As produsente gevra word of hulle tegno­logie gebruik, dink die meeste dadelik aan trekkers. Die landbousektor beleef ’n era van tegnologiese ontploffing. Trekkers, masjiene en implemente maak groot tegnologiese spronge en die media besing gereeld hierdie tegnologiese vorderings. Wie het 30 jaar gelede gedink dat trekkers sonder bestuurders sal bestaan? Vandag is dit ’n werklikheid.

Ongelukkig is die meeste trekkers en implemente wat met die nuutste tegnologie toegerus is duur. Dalk moet jy jouself afvra of dit die regte plek is om jou geld te investeer. Skuld kan ’n produsent maklik in die moeilikheid laat beland.

Vandag is dit jy as produsent wat tegnologies moet verander. Verryk jouself met kennis, waarvan die heel belangrikste seker is om die globale landbouprentjie raak te sien. Produseer wat die mark vra en nie noodwendig dit waarvan jy hou nie, want alles gaan oor winsgewendheid. Verstaan hoe alle aspekte van boerdery inmekaar steek ter wille van beter doeltreffendheid. Die regte aksie moet die eerste keer reg gedoen word.

As produsent moet jy ’n kontrolelys opstel om vas te stel hoe jy in alle aspekte vaar voordat jy kan sê jy boer tegnologies korrek. Om tegnologie te optimeer is dit belangrik om te begin met doel­witte wat duidelik en meetbaar is en wat alle aspekte inkorporeer.

Ken jou grond
Kennis van jou grond is die beginpunt van alle tegnologie; dit is die belangrikste gedeelte van winsmaksimering. Produsente moet hul gronde fisies karteer of laat karteer. Dit is uiters belangrik om te weet watter grondsoort elke land bevat, wat elke grondsoort se inherente eienskappe asook verwagte potensiaal is en hoe gewasse op hierdie gronde presteer. Gebruik ten minste die Crafford en Nott-opbrengsformule vir mielies wat gronddiepte, kleipersentasie en reënval gebruik om grondpotensiaalbepalings te doen.

Tans word die totale gronddiepte, effektiewe diepte, plantbeskikbare waterkapasiteit, gemiddelde reënval, grondeienskappe gekoppel aan klimaatstreek, gewasvariëteite, rywydtes en plantestande alles in ’n formule ingesleutel om die grondpotensiaal te bereken. Hierdie kaarte verskaf verder belangrike inligting oor bewerkingsdiepte asook die geskikste gewasse vir die spesifieke gronde.

Die chemie van grond
Hierdie punt behandel dit wat in jou grond is. Is die grond chemies gekarteer en hoe word hierdie inligting verder gebruik? Pas jy ’n presisieboerderystelsel toe wat die variërende strooi van kalk en bemestingstowwe behels volgens die pH- en potensiaalkaarte soos in die fisiese grondkartering verkry? Indien regstellings gemaak moet word, gebruik jy hierdie kaarte daarvoor?

Strooi jy jou kalk algeheel of volgens presisiekaarte uit? Hierdie is uiters belangrik om winste te verhoog en volhoubaarheid te verseker.

Saadtegnologie
Nog ’n bron van belangrike tegnologie is die saad. Dit gaan nie net oor geneties gemanipuleerde organismes (GMO) nie – gebruik jy die beste kultivars vir jou grond? Word die plantdatum en plantestand van die verskillende kultivars en gewasse aangepas? Binne mieliekultivars is daar groot variasie – sommige kultivars is meer stabiel as ander en hul wortelstelsels verskil beduidend. Sommige kultivars met ’n vlak wortelstelsel werk in vlakker gronde, maar is nie noodwendig die beste vir dieper gronde nie. Gebruik jy hierdie tegno­logie gegewe jou grondpotensiaalkaarte? Word daar verskillende kultivars aangeplant as die planttyd begin uitloop?

Tegnologie in bemesting
In die bemestingsbedryf is daar net soveel nuwe tegnologie. Sommige vervaardigers van bemesting fokus daarop om die effektiwiteit en doeltreffendheid van die kunsmis te verhoog. Die korrels word vervaardig en met stowwe behandel om vervlugtiging te verlaag en sodoende kom daar meer bemestingstowwe in die grond. In die verlede is heelwat kunsmis vervaardig deur verskillende elemente net in verskillende verhoudings te meng. Vandag word kunsmis met die verskillende elemente en mikro-elemente gemaak sodat elke korrel dieselfde samestelling het. Hierdie tegnologie help om beter saailinge daar te stel. Gebruik jy hierdie tegnologie en verhoog dit jou opbrengste?

Gegewe die chemiese presisiekaarte: Gebruik jy hierdie inligting om bemestingregstellings te maak en bemestingstowwe differen­siaal toe te dien? Hierdie is een klein stap wat winsgewendheid drasties beïnvloed. Spandeer fondse en tyd om hierdie tegno­logie te laat werk.

Tegnologie kan handig ingespan word vir afstandswaarneming.

Nog tegnologie
Satellietbeelde is vandag algemeen beskikbaar. Die beelde gee vir produsente intydse inligting oor die vordering van plante en wys probleme uit. Deur die inligting te gebruik, kan regstellings dadelik gemaak word – die toegang tot hommeltuie maak dit moontlik en bekostigbaar. Pas jy blaarvoedings aan op grond van die plant se metabolisme? Hierdie tegnologie dui aan waar daar probleme in die produksieproses is. Kolle met onkruidprobleme staan uit en vereis vinnige optrede. Alhoewel plantsiektes ook so beheer kan word, maak dit eerder sin om dié siektes voorkomend te beheer.

Die gebruik van die mikroörganismes in die grond is ook deur­slaggewend. Swamme en bakterieë speel ’n belangrike rol in die grond en dit behoort oor tyd uitgebou te word om mettertyd chemiese bemesting te verminder of te vervang. Biologiese boerdery is vir seker iets vir die toekoms waarvoor produsente vandag moet begin beplan.

In die onkruiddoderbedryf raak nuwe tegnologie al hoe minder. Gegewe die nuwe wetgewing sal anders oor dié insette gedink moet word. Weerstandigheid teen sekere onkruiddoders is algemeen en daarom moet produsente fokus om elke land se onkruide optimaal te bestuur. Het jy reeds verskillende onkruiddoderprogramme vir verskillende lande? Bestuur jy die opbou van onkruiddoders in die grond wat dalk deur bekalking vrygestel word? Daar is tegnologie op spuite beskikbaar waar gerigte bespuitings gedoen kan word, wat dalk oorweeg kan word. Dit is so dat verskillende kultivars binne ’n gewas meer of minder gevoelig vir chemiese middels is. Gebruik jy hierdie inligting om jou onkruiddoderprogram per kultivar aan te pas?

Wisselbou raak al hoe belangriker. Dis nie moontlik om net voort te gaan gegewe die opbou van onkruiddoders in die grond nie. Die inbring van langtermyndekgewasse met ’n veekomponent is dalk die pad om te volg – het jy dit al oorweeg?

Al hierdie tegnologie kan relatief maklik sonder duur masjiene en toerusting per land geïmplementeer word. Tog is die tegnologie in trekkers, stropers en implemente waardevol. Dit moet net effektief gebruik word. Stroperdata is noodsaaklik, maar as die masjiene nie ge­reeld gekalibreer word nie, gaan verkeerde besluite geneem word.

Wanneer dit kom by bewerking van gronde, gebruik jy grondkaarte, profielgate en kleipersentasies om werksdieptes te bepaal? As jy te vlak of te diep werk, kos dit geld. Deur meer presies en op dieselfde spore te werk, spaar jy diesel en keer grondkompaksie. Pas jy dit toe?

Daar is sonder twyfel heelwat nuwe verbouingstelsels soos bewaringsboerdery, rip op die ry en strookbewerking, om net ’n paar te noem. Implementeer jy die stelsel wat jy toepas korrek volgens die beperkings en vereistes, of verander jy gedurig jou praktyke sonder dat dit eers goed kan wortelskiet?

Implementeer jy die korrekte masjinerievervangingsbeleid in jou boerdery en spandeer jy die tyd om die regte masjiene en implemente te bekom? Hoe gereeld gee jy aandag aan veral jou planter? Hoe akkuraat plant hy? Hoe eweredig kom die saad op? Hoe vinnig maak jy die planter vol met saad en kuns­mis? Binne die trekker is daar monitors om seker te maak die planters plant korrek, maar meer belangrik: Het jy ’n grafie in die trekker om gereeld seker te maak die planter werk 100% korrek?

Sonder om die effek van besluite te meet is daar geen manier om te bepaal of jy vordering maak of nie. Hoeveel tyd en moeite doen jy om die seisoen se resultate te ontleed en regstellings te implementeer? Dit is moontlik die belangrikste punt van tegnologie.

Maak gereeld seker wat in jou grond is.

Beplanning
Maak jy in jou beplanning ook gebruik van tegnologie? Pas jou beplanning aan by jou grondkartering? Sommige gronde vereis organiese bedekking meer as ander en moet korrek bestuur word. Die weer sal altyd ’n rol speel. Gebruik jy langtermyn- en korttermynweervoorspellings om jou werk te rig? In hoeveel detail stel jy die boerdery se finansiële beplanning op? Kan jy hierdie inligting gebruik vir jou graanprysbestuur? Hoe gereeld pas jy hierdie gedeelte aan om sodoende jou prysbestuur te verbeter?

Hoeveel tyd spandeer jy aan die kontrolefunksie op die plaas? Het jy praktyke in plek om seker te maak implemente soos spuite en planters is reg gekalibreer en dat die regte hoeveelhede insette per land gebruik word?

Wat arbeid betref, gebruik jy genoeg tegnologie om werkers optimaal te laat funksioneer? ’n Selfoon met ’n kamera is dalk nie so ’n groot belegging nie, maar die rendement wat hieruit verkry kan word is hoog. Wanneer laas was jou werkers vir heropleiding of neem jy maar aan dat hulle alles 100% kan onthou?

Tegnologie is ’n voortdurende verandering in die strewe na iets beter. As dit nie jou winsgewendheid gaan verhoog nie, dink mooi voor dit geïmplementeer word.

Vir meer inligting kontak Pietman Botha by 082 759 2991 of Jaco Breytenbach by jjbreytenbach1961@gmail.com.

Tegnologie in werktuie is waardevol, maar dit moet effektief gebruik word.