Sukses met eerste INSKRYWING

Gepubliseer: 11 Desember 2024

48

Omdat hy wou kyk hoe sy opbrengste met dié in sy omgewing vergelyk, het Andries Groesbeek van Nigel besluit om vanjaar vir die eerste keer deel te neem aan die Groei vir Goud-opbrengskompetisie.

Groesbeek boer in die Nigel-omgewing op die plaas wat sy naam dra en is die vierde geslag Groesbeek op die plaas. Hy het sy studies in 2006 voltooi en boer sedert 2007 voltyds.

Hy en sy vrou, Louise, boer saam met sy pa, Dawid, in ’n familie-­onderneming onder die naam Dathea (Edms) Bpk. Dit is ’n gemengde boerdery wat uit mielies, sojabone, beeste en skape bestaan.

Hulle plant mielies en sojabone om die helfte en wissel die lande jaarliks af. Die veekomponent benut die grond wat nie geskik is vir gewasse nie maar waar gras goed kan presteer. “Die vee bied aan my ’n gebruik vir kleiner pitte wat ek mag hê by mielies. Verder bewei ons die oesreste, maar haal die vee van die lande af as daar vooruitsigte vir reën is.”

Groesbeek het die eerste plek in die afdeling vir mielieverbouing in die sentrale deel van die land met ’n opbrengs van 13,46 t/ha met die DEKALB-kultivar DKC66-66BR van Bayer behaal. “Dit was die eerste jaar wat ons dié kultivar geplant het, hoewel ons al jare ander DEKALB-basters plant. Ons het die baster getoets met ’n aanplan­ting van 21 ha.”

Andries Groesbeek van Nigel het vanjaar vir die eerste keer deelgeneem aan die Groei vir Goud-opbrengskompetisie en die eerste plek in die afdeling vir mielieverbouing in die sentrale deel van die land behaal met ’n opbrengs van 13,46 t/ha.

Hy sê dat hy presies dieselfde praktyke gevolg het as op die res van die plaas. “Ek het terwyl ek besig was om te stroop gesien die blok doen besonder goed en die Bayer-saadverteenwoordiger gekontak om my in te skryf.”

Groesbeek plant ook ander maatskappye se produkte. “Ek plant ’n verskeidenheid produkte wat ons uit proewe wat in die omgewing geplant is, identifiseer. Ons kyk watter produkte geskik is vir die omgewing maar ook vir ons grond en opbrengspotensiaal. Ek kyk verder na siekteweerstand en stabiliteit oor seisoene heen. Ons doen dan proewe op ons plaas in my sisteem om te kyk hoe ’n nuwe produk vaar voor ek groot aanplantings oorweeg. Ons gebruik streekproewe om veral nuwe genetika te identifiseer, maar doen ons eie proewe op kultivars, stand en kunsmis.”

Andries Groesbeek (links) boer saam met sy pa, Dawid, in ’n gemengde boerdery wat uit mielies, sojabone, beeste en skape bestaan.

Die wenblok is op 9 November 2023 met ’n Rovic Mintill-planter geplant. Hy verduidelik dat hulle, afhangende van die reën, gewoonlik probeer om teen 10 November klaar te plant. “Die afgelope seisoen het ons tussen 2 en 13 November geplant. Die seisoen was redelik droog. Ons het in die voorjaar genoeg reën gekry, maar nooit genoeg om die grondprofiel vol te maak nie. Die midsomer was droog en die betrokke kultivar was gelukkig vinniger wat beteken het dat dit deur die meeste van sy groeifase kon gaan terwyl dit nog gereën het.”

Hierdie blok het ’n totaal van 595 mm se neerslag ontvang deur die seisoen terwyl die res van die plaas se reënval gewissel het tussen 475 mm en 595 mm.

Hulle plant teen rywydtes van 76 cm omdat dit, volgens hom, die ideale rywydte vir sy omgewing is. “Die blaredak maak vinnig toe en dit help om die onkruiddruk te verminder. Ons kry ook nie baie siektes met hierdie rywydte nie.”

Vinniger groeiers word teen ’n plantpopulasie van 55 000 plante/ha geplant, terwyl die ander lande se plantestand wissel tussen 38 000 en 65 000 plante/ha. “Die plantestand word bepaal deur die baster se opbrengspotensiaal asook die grond afhangende van opbrengsgeskiedenis en opbrengskaarte.”

Louise, Arianna en Andries Groesbeek.
Rumando, Arianna en Andries in die mielielande.

Hy het op 10 Mei 2024 gestroop met ’n Claas Lexion 750 toegerus met Precision Planting se YieldSense-moniteringsisteem.

Volgens Groesbeek probeer hy presisieboerderytegnieke toepas waar hy kan. “Ons doen presisiekunsmistoediening met die plan­ters asook die strooier. Die saadaandrywing op die planter is vSet® met vDrive® en dit is ook toegerus met DeltaForce® van Presision Planting. Met dié toerusting is ons in staat om die afwaartse druk met die plant van die saad te varieer na gelang van die grond. Dit verseker eenvormige opkoms. Die stroper is toegerus met YieldSense wat ons opbrengste presies meet.” Rekordhouding is ook meer presies en alles wat hulle doen, word met onder meer FieldView en Case AFS Connect versamel, bygehou en verwerk.

“Vir my is presisieboerdery ’n wyse van denke deurdat jy aanleer om al jou take, hoe klein ook al, noukeurig en akkuraat te doen.”

Sedert hy in 2007 voltyds begin boer het, het hulle bewerkings­praktyke verander van konvensionele bewerking na minimumbewerking. Grond word net bewerk wanneer daar verdigtingslae is.

Hy verduidelik dat sandtipe gronde wat makliker verdig meer gereeld bewerk sal word as gronde met ’n hoër klei-inhoud. “Kleitipe grond sal slegs bewerk word wanneer ons chemiese regstellings doen. As ons bewerkings doen, sal dit gewoonlik na strooptyd wees sodat ons die vog van die somerreën kan bewaar.”

Die wenaanplanting is op ’n land met hoofsaaklik Hutton-grond gedoen. Die res van die plaas bestaan uit rooi gronde. Elke land word bewerk volgens die kleipersentasie.

Hulle het die verskillende tegnologie wat hulle gebruik geïntegreer en so ver as moontlik gemeganiseer. Rekordhouding word digitaal gedoen.

Wat plaagbeheer betref, spuit hulle die lande skoon met ’n nieselektiewe onkruiddoder voordat hulle plant. Hierdie bespui­ting bevat ook ’n piretroïed vir insekbeheer. Met plant dien hulle ’n grasdoder toe wat opgevolg word met ’n spuitprogram wat die minste langtermynnawerking het op ander gewasse soos sojabone. Die opvolg­bespuitings bevat weer ’n piretroïed vir insekbeheer en hulle dien ’n aalwurm­doder in die plantvoor toe. Wat siektebeheer betref, dien hulle ’n goeie swamdoder toe wat volgens Groesbeek ook die stres in die plante verminder.

Hy maak staat op ’n onafhanklike raadgewer wat sy bemestingsprogram uitwerk. Daarvolgens dien hulle die kunsmis en mis toe volgens elke land se potensiaal. Die mielie-aanplantings kry jaarliks een addisionele kelpbespuiting.

Opbrengs word teenoor wins­gewendheid gebalanseer deur eerder te fokus op die langtermynpotensiaal van elke land. “Volhoubaarheid is vir my belangrik. Dit verseker dat die saad- en kunsmisinsette nie te hoog is op swak grond nie of dat ’n mens te min investeer in grond met ’n hoë potensiaal nie. Winsgewendheid is belangrik en jy moet soveel as moontlik in jou grond en plaas probeer belê as wat jy kan.”

Hy meen die grootste uitdaging die afgelope seisoen was defi­nitief die beskikbaarheid van vog. Hy is dankbaar dat sy vogbewa­ringspraktyke gehelp het dat hy steeds op die regte tyd kon plant, spuit en kunsmis toedien.

Vir hom is Graan SA se jaarlikse Graangids van onskatbare waarde. Verder kry hy inligting in publikasies soos die SA Graan-tydskrif en Landbouweekblad asook op die internet, en tydens die bywoning van boeredae en die NAMPO Oesdag.

Hy meen sy pa was nog altyd sy beste mentor. Soos die jare verloop, het hy egter ook geleer om raad, wysheid en insig by verskillende bronne te soek.

“Alles wat die moeite werd is in die lewe kom teen ’n prys. Niks is net verniet nie. Ek sal dus alles wat binne my beheer is, so goed as moontlik probeer doen. Dit sluit my verhoudings met my gesin en familie in.”

Sy raad aan ander – veral aan jongmense wat die landbou betree – is om seker te maak hulle doen wat vir hulle lekker is.

Hy het vanjaar ’n 21 ha-proeflopie gedoen met die DEKALB-kultivar DKC66-66BR van Bayer en ’n wenopbrengs van 13,46 t/ha gerealiseer.

Verder meen hy dat dit belangrik is om deurentyd die beste advies wat by konsultante en landboukundiges beskikbaar is, na te volg. Hy wys daarop dat tydskrifte ook waardevolle inligting bevat. “Daar is soveel nuwe praktyke wat deur ander beproef is. ’n Mens kan daaruit leer. Jy moet egter pasop om nie in jou eie gewoontes vasgevang te word nie. Daarmee sê ek nie dat jy alles net moet verander nie, maar dit is belangrik om nuwe dinge op die proef te stel. Dit is belangrik om deure na nuwe moontlikhede oop te maak.”

Groesbeek sal graag nog meer digitale bestuursisteme wou implementeer om te help met die monitering van verskeie aspekte in die boerdery. “Ek sal graag nog beter toesig oor die totale besigheid wou hou met behulp van sisteme omdat ’n mens bloot net nie altyd orals kan wees nie.”

Hy voel die beskikbaarheid van produkte bly ’n uitdaging omdat baie van die produkte, onderdele en tegnologie van ander lande af kom. Dit is dus altyd ’n tydsame proses om wat nodig is, op die plaas te kry. Dit sal vir hom ’n groot stap vooruit wees as hierdie knelpunt in die bedryf aangepak kan word.

Ter afsluiting sê Groesbeek hy is uiters dankbaar. “Ek kan nie anders as om die Here te dank vir al sy genade en seën oor ons boerdery nie. Ek wil verder graag al my vennote wat my in die boerdery bystaan vir hulle insette en hulp bedank.”