Belangrikheid en veiligheid van boor in gewasproduksie

Gepubliseer: 11 November 2024

322
Dr Pieter Haumann, Fertasa

Boor (B) is een van die agt noodsaaklike mikro-elemente vir plante. Dit is reeds in meer as 80 lande en vir 132 gewasse oor die afgelope 60 jaar gerapporteer. ’n Boortekort is die tweede belangrikste beperking in oeste naas sink (Zn) – navorsing wat in Suid-Afrika gedoen is, het bogenoemde bevestig.

Volgens ’n sosio-ekonomiese analise deur Graan SA sal die weglating van boor in die bemes­ting van graangewasse in Suid-Afrika lei tot finansiële verliese so hoog as R17 miljard in graanproduksie en tot 40 000 werksverliese.

’n Belangrike feit is dat geen ander element die funksie van boor kan vervang nie.

Boor in plante
Plante verskil in hulle behoefte aan boor. Gewasse soos sitrus, mielies, sorghum en koring het relatief lae behoeftes, terwyl lusern, kanola en sonneblom relatief hoë behoeftes het. Katoen, spinasie en suikermielies se behoeftes lê tussenin.

Bemesting met boor
Grondtoestande het ’n groot invloed op die beskikbaarheid van boor, met mineralogie, tekstuur, pH, organiese materiaal en waterinhoud (vog) wat alles ’n betekenisvolle rol speel.

Boor word benodig in plante vir ’n aantal funksies, insluitend die regulasie van metabolisme, stuifmeel­lewensvatbaarheid asook blom- en saadproduksie.

Tekortsimptome manifesteer op verskeie maniere, maar is goed bekend vir die meeste gewasse. Wanneer ’n boortekort vermoed word, kan grondtoediening van ’n geskikte boorkunsmis (meestal natriumsoute van boorsuur soos boraks, tetraboraat of pentaboraat) oorweeg word. Dit kan breedwerpig of gebandplaas word of as alternatief as ’n blaarbespuiting toegedien word.

As gevolg van die relatief klein hoeveelhede boor wat normaalweg toegedien word, is dit belangrik dat goeie verspreiding bewerkstellig word aangesien die hoeveelheid tussen tekort en toksisiteit van boor die kleinste is van alle plantnutriënte. Toedienings­vlakke en -metodes moet slegs bepaal word en plaasvind onder leiding van ’n gekwalifiseerde adviseur of konsultant.

Waarnemings, beide plaaslik en internasionaal, is dat boortekorte aan die toeneem is. Om hierdie rede behoort gereelde grondontledings, gekombineer met plantweefselanalise, deel uit te maak van ’n verantwoordelike en volhoubare produksieprogram.

Veiligheid van boor
Daar was aansienlike kommer onder plaaslike landboukundiges rakende die moontlike verbanning van boor.

In Suid-Afrika word kunsmis gereguleer deur die Registrateur van Wet 36 van 1947 (soos gewysig). Sy kantoor het dokumentasie versoek rakende die doeltreffendheid, noodsaaklikheid en veiligheid van boor, verwysend na die moontlike verbanning van boorbevattende kunsmis vanaf 1 Junie 2024.

Fertasa het opdrag gegee vir ’n toksikologiese verslag deur INFOTOX (Pty) Ltd om ondersteunende dokumentasie te verskaf.

Die volgende aanbevelings is deur INFOTOX gemaak:

  • ’n Omvattende risiko-assessering uitgevoer deur INFOTOX (Pty) Ltd het ’n onbeduidende gesondheidsrisiko aangedui vir die CMR-kategorieë geassosieerd met boor in kunsmis.
  • Boor is ’n noodsaaklike mikro-element vir die groei en ontwikkeling van gesonde plante in die landbou. Die belangrikheid van boor word al sedert die vroeë 1920’s erken en dit is sedertdien wêreldwyd in kunsmis toegedien.
  • INFOTOX het geen gesondheidsrisiko vir mense, diere of ekosisteme geïdentifiseer as gevolg van die gebruik van boor in kunsmis nie. Dit is dus nie nodig om voorkomende maatreëls bykomend tot die normale prosedures wat toegepas word vir bemesting van plante op plaaslande toe te pas nie.
  • Daar is dus geen wetenskaplike basis om die gebruik van boor in kunsmis te verbied of te beperk nie.

Dit is die oorwoë mening van Fertasa se raad van direkteure dat die dokumentasie voldoen aan al die toestande vereis deur die Registrateur van Wet 36 van 1947 vir die gebruik van boorbevattende kunsmis in Suid-Afrika. Die Registrateur het bevestig dat die keerdatum vir die moontlike verbanning van boorbevattende kunsmis, naamlik 1 Junie 2024, verleng is hangende die evaluering van die dokumentasie en ’n finale besluit.

Bronne

  1. INFOTOX (PTY) LTD: Dr WCA van Niekerk: Retrieval and Scientific Interpretation of ecotoxicological information. Health Risk Assessment and Management of Boron in Fertilizers. Project conducted on behalf of the Fertilizer Association of Southern Africa.
  2. Dr Koos Bornman: Onafhanklike konsultant. Boron or Bust. Voorlegging by Fertasa Tegniese Simposium, September 2023.
  3. Nutri-facts: International Plant Nutrition Institute, Georgia. Agronomic Fact Sheets on crop nutrients: Boron.
  4. Prof Robin Barnard: Chief technical advisor, Fertasa.
  5. H Viljoen: Economic Impact: Exclusion of Boron on Grain Production. Grain SA Report.

Hierdie artikel is ’n baie verkorte weergawe van ’n omvattende studie wat deur Fertasa geïnisieer is.