Skraalhans-infestasie het ernstige ekologiese en ekonomiese implikasies

Gepubliseer: 12 Junie 2023

948
Prof Charlie Reinhardt, Suid-Afrikaanse Onkruid-doderweerstandsinisiatief (SAHRI), Universiteit van Pretoria

Skraalhansonkruidsoorte is hierdie jaar besonder opvallend in die stedelike en landelike gebiede van Suid-Afrika. Die waarskynlikste redes hiervoor is groot en wydverspreide saadreserwes asook goeie reënval op tye bevorderlik vir skraalhanssade om te ontkiem en saailinge om te vestig.

Skraalhansplante is eenjarig en raak daarom volwasse en sterf binne een jaar af. Plante wat in ’n bepaalde jaar gevestig raak, sal in die daaropvolgende jaar die lewensiklus voltooi.

Daar is vanjaar – minstens in die somerreënstreek – besonder opvallend digte infestasies bestaande uit ’n mengsel van skraalhanssoorte langs paaie, in landerye en boorde asook in die veld. Drie soorte skraalhanse is uitheemse plante in Suid-Afrika en het dekades gelede reeds globale onkruidstatus bereik. Deesdae is hulle plaaslike verspreiding so wyd en hulle getalle so groot dat hierdie spesies ’n integrale deel van die inheemse plantgemeenskappe uitmaak.

Skraalhanssoorte in Suid-Afrika
Drie skraalhanssoorte het lankal onkruidstatus in Suid-Afrika, naamlik Conyza albida = sumatrensis (vaalskraalhans), Conyza bonariensis (kleinskraalhans) en Conyza canadensis (Kanadese skraalhans). Hulle is sogenaamde sinantropiese plante, wat beteken hulle leef in noue assosiasie met mense en word bevoordeel deur mensgemaakte omgewings en menslike aktiwiteite soos gewasproduksie.

Al drie soorte is uitheemse plante in Suid-Afrika en suidelike Afrika – die herkoms van vaalskraalhans en Kanadese skraalhans is die noordelike dele van die “Ou en Nuwe Wêrelde”, spesifiek die vasteland van Noord-Amerika,­ asook Europa en Afrika noord van die Sahara. Kleinskraalhans se herkoms word aangegee as die vasteland van Suid-Amerika. Al drie soorte het kosmopolitiese verspreiding – met ander woorde, hulle is wyd oor die wêreld versprei in gematigde, sub-tropiese en tropiese klimaatsones.

Groei- en opbrengsbeperkende gevolge
Hierdie drie uitheemse skraalhanssoorte, wat deesdae neig om dominant te wees in onkruidgemeenskappe van uiteenlopende gewasproduksiesituasies, is sterk kompeterend met veral eenjarige gewassoorte vir water, lig en voedingselemente. Eie navorsing het gevind dat kleinskraalhans chemikalieë afskei (alle­lopatie-verskynsel) wat die groei en ontwikkeling van gewasplante kan benadeel. Verskeie internasionale studies het die allelopatie-eienskap by al drie soorte skraalhans gerapporteer. In kombinasie het die na­tuurlike verskynsels van allelopatie en kompetisie, wat deur baie soorte onkruid uitgeoefen word, groei- en opbrengsbeperkende gevolge in gewasproduksie.

Die eerste eksemplaar van ’n skraalhans wat in die nasionale herbarium opgeneem is, is dié van C. albida = sumatrensis wat op 15 Maart 1896 aan die “bokant van Klein Constantia” in die Kaapse Skiereiland versamel is. Waarskynlik het hierdie skraalhanssoort reeds in die tweede helfte van die 17de eeu die Kaap bereik saam met die vroegste Europese setlaars en hul ingevoerde gewasplante en -produkte.

Voorkoms
Die morfologiese eienskappe (uiterlike voorkoms) van vaal­skraalhans plaas dit ietwat intermediêr tussen kleinskraalhans en Kanadese skraalhans. Die beste tyd om tussen die spesies te onderskei, is in die blomstadium. Die argitektuur van die bloeiwyses verskil – die blomhofies van kleinskraalhans is “balievormig” (Foto 1 en Foto 2), terwyl die blomhofies van beide vaalskraalhans (Foto 3) en Kanadese skraalhans “wynglasvormig” is. Blomhofies waarop talle blomme gedra word, is kenmerkend van alle spesies in die Asteraceae-plantfamilie waartoe onder meer sonneblom behoort. Skraalhanssoorte produseer in die orde van 100 000 tot 400 000 sade per plant. Die sade is klein, lig en vas aan ’n “valskerm”, met verspreiding deur wind die belangrikste natuurlike manier van mobiliteit vir hierdie onkruidsoorte.

Kleinskraalhans in blom.
Foto: Prof Reinhardt
Kleinskraalhans-argitektuur en -morfologie.
Foto: Prof Reinhardt
Kleinskraalhans (links) en vaalskraalhans (regs). Die “vaal” in die volks­naam is duidelik meer gepas vir kleinskraalhans, maar dis nou maar eenmaal die uitdaging met volksname!
Foto: Prof Reinhardt

Verspreiding
Digte infestasies van skraalhans op wenakkers van landerye en langs paaie dien as saadbron vir nuwe infestasies op landerye en selfs in die veld. Voertuie op die paaie kan sade baie vinnig baie ver versprei. Beweging van landbou-implemente is ook ’n belang­rike manier waarop onkruidsaad versprei. Skraalhans vestig maklik en floreer in areas waar daar versteuring van die omgewing is, soos op padskouers, in gewaslande en boorde asook in oorbeweide en droogtegeteisterde veld (Foto 4).

Tipiese skraalhans-infestasie hierdie jaar langs paaie en in die veld.
Foto: Prof Reinhardt

Ontkieming
Skraalhanssade ontkiem slegs wanneer dit op of baie naby aan die grondoppervlak is. Navorsing in Australië op die effek van diepte van saadplasing op saadkieming van kleinskraalhans het bevind dat plasing van saad so vlak as 5 mm diep in grond ontkieming betekenisvol verlaag. Saad op ’n diepte van 10 mm in die grond ontkiem glad nie. Hierdie eienskap van sade is in eie navorsing be­vestig. Dit het ernstige implikasies vir die doeltreffende beheer van skraalhans in veral bewaringslandbousituasies, spesifiek waar geenbewerkingspraktyke nagevolg word.

Geenbewerkingspraktyke laat onkruidsade op of naby die grondoppervlak en sodoende bevorder dit die ontkieming van skraalhanssade. Boonop word onkruidbeheermetodes beperk tot die gebruik van onkruiddoders en onderskep deklaag-plantmateriaal onkruiddoders wat die grond moet bereik om deur onkruidwortels opgeneem te word. Geenbewerking het onteenseglik groot voordele vir volhoubare gewasproduksie, maar produsente moet ook kennis neem van hoe die natuur reageer op menslike aksies. Vir elke menslike aksie uitgeoefen op die natuur is daar verskeie natuurlike reaksies.

Onkruiddoders
Oorafhanklikheid van onkruiddoders, en dan veral die gebruik van ’n enkele soort met slegs een manier van werking, is bevorderlik vir die ontwikkeling van weerstand teen daardie onkruiddoder asook ander soorte wat dieselfde manier van werking het. Die eerste geval van glifosaatweerstand in kleinskraalhans is in 2003 in die winterreënstreek aangeteken. Sedertdien is talle gevalle van weerstand teen glifosaat in kleinskraalhans bevestig, onder meer by wyse van eie navorsing wat sedert 2012 die eerste gevalle van weerstand in die somerreënstreek bevestig het.

Soos die geval is met vele ander on­kruidsoorte, is skraalhanssoorte gashere vir sekere patogene en insekte wat gewasse aanval. Nie net is skraalhans ’n ernstige bedreiging vir gewasproduksie nie, maar die digte infestasies daarvan in die veld en op stroom- en rivieroewers maak dit boonop ’n ekologiese bedreiging vir inheemse plantegroei.

Toksisiteit vir diere is nie vir skraalhans gerapporteer nie, trouens eie onlangse navorsing dui daarop dat minstens kleinskraalhans oor uitstekende voerkwaliteite beskik (hierdie navorsing word tans by die Universiteit van Pretoria gedoen). Veral skape het skynbaar ’n voorliefde vir kleinskraalhans – baie veeprodusente is bewus hiervan en hierdie kennis kan ingespan word om skraalhans op so ’n biologiese manier te bekamp. Afsny of die afwei van die toppe van plante kan egter teenproduktief wees omdat sylote sal ontwikkel wat net nog meer blomme en sade gaan voortbring.

Verskeie onkruiddoders is vir die beheer van skraalhanssoorte geregistreer, maar die groot uitdaging is om plante in die saai­lingstadium te behandel vir die beste kans op beheer. Omdat skraalhans enige tyd van die jaar kan ontkiem en vestig, is daar gewoonlik groot variasie in die groeistadium – veral in gewassituasies waar daar min of geen bewerking gedoen word nie, soos byvoorbeeld in boorde, wingerde en geenbewer­kingstelsels.