Gooi soja’s

Gepubliseer: 1 Maart 2023

1377
Valerie Cilliers, redakteur, SA Graan/Grain

Die plaaslike sojaboonbedryf is een van Suid-Afrika se grootste landbou- en landbouverwerkingsuksesverhale. Met Graan SA aan die voorpunt, was verskeie rolspelers die afgelope 15 jaar betrokke by die uitbreiding van die bedryf deur die daarstelling van meer verwerkingskapasiteit, meer geplante hektare, ’n hoër vraag na plaaslike produkte en meer uitvoere.

Danksy dié aanslag is uitvoermarkte vir sojabone onlangs vir die eerste keer vir Suid-Afrikaanse produ­sente geskep nadat die aangeplante areas en opbrengste jaar na jaar rekordhoogtes bereik. Die inisiatief is ’n uitstekende voorbeeld van hoe openbare-privaat vennootskappe met die regering gesluit kan word om ’n bedryf te laat groei.

Volgens dr Erhard Briedenhann, voorsitter van die Oliesade-advieskomitee en ondervoorsitter van die Proteïennavorsingstigting (PNS), het die totale olie­sadegewasproduksie in Suid-Afrika oor die afgelope tien jaar vanaf 1,32 miljoen ton tot 3,3 miljoen ton toegeneem. Terselfdertyd het ingevoerde oliekoek vir veevoer­produksie vanaf 900 302 ton tot ’n geskatte 220 000 ton afgeneem.

Die sojaboonbedryf staan aan die voorpunt van hierdie uitsonderlike toename en in 2022 is ’n rekordhoeveelheid van 925 000 ha sojabone in Suid-Afrika aangeplant met ’n rekordoes van 2,2 miljoen ton. Steeds bly die mark vra vir meer en dui produsente aan dat sowat 1,1 miljoen hektaar in die komende seisoen aangeplant gaan word. In sekere distrikte in die land het sojabone nou die hoofgewas geword.

SA Graan/Grain het gaan kers opsteek by van die rolspelers in die sojaboonbedryf om uit te vind waar die sojaboonsuksesverhaal begin het.

Jozeph du Plessis – ’n voormalige voorsitter van Graan SA se sojaboon-en-sonneblomwerkgroep en tans die voorsitter van die Suid-Afrikaanse Kultivar- en Tegnologie-agentskap (SACTA) – was een van die eerste produsente wat sojabone in die Noordwes geplant het. Hy vertel dat die groot mieliesurplusse en lae mieliepryse in die vroeë 2000’s ’n skuif na sojabone genoodsaak het. Die krisis het in 2005 ’n hoogtepunt bereik toe die produsenteprys van mielies van R2 000/ton tot R400/ton geval het. Graan SA het dadelik vermin­derde aanplantings van mielies voorgestel. Produsente het lande laat oorlê of alternatiewe gewasse geplant en so is die krisis tydelik afgeweer. ’n Langtermynoplos­sing moes egter vinnig gevind word.

’n Visie vir selfvoorsienendheid
Op die Graan SA-kongres in 2008 is ’n mosie deur Schalk Stapelberg en sy streek ingedien om sojabone as alternatief vir mielies te bevorder. Die versoek aan Graan SA was om markgeleenthede vir plaaslik verboude sojabone te skep. Op dié kongres is ’n visie vir ’n Suid-Afrika wat selfvoorsienend in sojaboonbehoeftes is, gebore.

In daardie stadium is 165 000 ha sojabone geplant met ’n oes van byna 300 000 ton. Die algemene persepsie was dat sojabone nie suksesvol weswaarts van die N1 in die somersaaigebiede verbou kon word nie en die binnelandse vraag na sojabone was baie klein met min verwerkingskapasiteit. Die leierskap van Graan SA het gou besef dat die hele waardeketting gemotiveer sou moes word om ’n sterk sojaboonbedryf te vestig. Die plan was om ’n wen-wen-uitkoms vir elkeen voor te hou, verduidelik Du Plessis.

Die eerste groot taak was om ’n mark vir plaaslik verboude sojabone in die binneland te skep. Hiervoor is die hulp van die PNS en Oliesadetrust ingeroep. Gesprekke is met die regering, veevoervervaardigers asook eindverbruikers gevoer om die hele waardeketting te betrek.

Volgens Corné Louw, hoof: Toegepaste Ekonomie en Lede­dienste by Graan SA, het die PNS en Graan SA aanvanklik nie saamgestem oor die onmiddellike roete wat gevolg moes word nie. “Die PNS wou produsente dadelik aanmoedig om meer sojabone te plant, terwyl Graan SA eers wou seker maak dat verwerkingskapasiteit verhoog word. Hierdie knelpunt het egter nie gekeer dat die twee organisasies uiters effektief kon hande vat om die bedryf te bevorder nie.”

Figuur 1: Vordering gemaak in die Suid-Afrikaanse sojaboonwaardeketting van 2008 tot 2022.
Bron: BFAP, November 2022

Navorsing baan die weg
Die PNS het sedert 2006 baie navorsing gedoen oor die aanpasbaarheid van sojabone en die beskikbaarheid van nuwe kultivars en tegnologie sodat sojabone orals geplant kan word waar mielies aard. Volgens dr Briedenhann is daar veral gefokus op agronomie. “Geweldig baie fondse is bewillig vir navorsing oor Rhizobium-entstowwe, bemes­ting en die beheer van peste en onkruid. Ons is uiters goed deur die Oliesadetrust en -advieskomitee in dié verband bygestaan,” vertel hy.

Nie net het die PNS met groot rolspelers in die internasionale sojaboonbedryf gekonfereer nie, maar hulle het ook van die rolspe­lers, soos die Brasiliaanse Landbounavorsingsraad (Embrapa), na Suid-Afrika genooi om hul kennis met Suid-Afrikaanse produsente te deel.

Die Buro vir Voedsel- en Landboubeleid (BFAP) het in 2009, met befondsing van die PNS, die eerste sojaboonwaardeketting-en-scenariostudie gedoen. In een van die scenario’s wat in samewerking met die bedryf ontwikkel is, het BFAP se tienjaarprojeksiemodelle aangedui dat sojaboonproduksie van sowat 200 000 ha in 2009 kan uitbrei na 750 000 ha teen 2018. “Dit is inte­ressant om te sien hoe hierdie toekomsscenario wat meer as tien jaar gelede ontwikkel is uiteindelik ge­realiseer het met sojaboonproduksie wat in 2018 op 787 000 ha te staan gekom het,” sê dr Ferdi Meyer, direkteur van BFAP.

In 2011 het die Nasionale Landboubemarkingsraad ’n studie oor die sojaboonwaardeketting van stapel gestuur wat weer gelei het tot die Nywerheidsontwikkelingkorporasie se strategie om ’n invoer­vervangingsprogram te ontwikkel. Graan SA se onderhandelinge met die regering het die instel van tariewe op ingevoerde sojaboon­oliekoek tot gevolg gehad. Sagte lenings en belastingvoordele is aan maatskappye soos VKB, RussellStone en COFCO toege­staan om verwerkingsaanlegte te vestig en verwerkingskapasiteit te verhoog. Groot aanlegte is in Standerton, Villiers en Bronkhorstspruit opgerig en Randfontein se kapasiteit is vergroot.

Volgens Du Plessis is verskeie sojaboonstudiegroepe op die been gebring en was daar van die staanspoor af goeie samewer­king van rolspelers in die inset- en produksiewaardekettings. Hy verwys spesifiek na Patrys Lubbe van Newcastle, ’n deurwinterde sojaboonprodusent en -teler, wat in die Hoopstad- en Schweizer-Reneke-distrikte ’n reusebydrae gelewer het met aangepaste genetika en advies oor produksiepraktyke. Sojaboonproduksie het vinnig toegeneem.

Teen 2015 het produsente in Suid-Afrika 687 000 ha sojabone geplant en vir die eer­ste keer meer as ’n miljoen ton geoes. Die langtermynstrategie was besig om te werk, maar kommer oor die beskikbaarheid van nuwe kultivars en tegnologie het die plan in tweede rat gesit.

Beide die PNS en Graan SA – met Frans Potgieter aan die stuur van Graan SA se soja­boonwerkgroep – het die noodsaaklikheid vir ’n teling-en-tegnologieheffing beklemtoon. Om die nuutste biotegnologie en kultivars in Suid-Afrika beskikbaar te stel, moes internasionale maatskappye en biotegnologieverskaffers oortuig word om geld in die plaaslike bedryf te belê en nuwe kultivars en biotegnologie hier vry te stel.

Impak van die heffing
Die heffing op sojabone is op 1 Maart 2019 ingestel en bykans onmiddellik nadat dit geïmplementeer is, het heelwat nuwe kultivars en biotegnologie, waaronder droogteverdraagsame gene (wat tans plaaslik getoets word), in Suid-Afrika beskikbaar geraak.

Saadmaatskappye en telers is dit eens dat die ontwikkeling van die sojaboonbedryf sterk deur nuwe-eienskaptegnologie (traits) gedryf word.

Volgens dr Antony Jarvie van Corteva het die instelling van die teling-en-tegnologieheffing dit vir die Suid-Afrikaanse sojaboonbedryf moontlik gemaak om te deel in die tegnologie-aandrywing wat in groot internasionale markte plaasvind.

“In lande waar daar ’n hoë persentasie eie teruggehoude saad vir sojaboonproduksie gebruik word, is daar nie ’n aansporing vir die maatskappy wat die trans­geniese eienskappe (traits) ontwikkel om nuwe eienskappe aan die mark beskikbaar te stel nie. ’n Teling-en-tegnologieheffing of eindpunt-tantieme stel die eienskapontwikkelaar in staat om ’n rendement op hul aansienlike belegging te verdien. Europa, Asië, die res van Afrika en Australië het gekies om nie die tegnologie-eienskaproete te volg nie en sal dit al hoe moeiliker vind om in die wêreldmark mee te ding namate die verskille in navorsingspogings mettertyd groter word,” gesels dr Jarvie.

Agricol se sojaboongewasbestuurder, GJ Janse van Rensburg, sê dat daar sedert die instelling van die sojaboonheffing reuse­spronge gemaak is ten opsigte van ontwikkeling in die plaaslike sojaboonbedryf. “Vir Agricol het dit beslis geleenthede geskep wat nie voorheen moontlik sou wees nie. Die tempo en kwaliteit van ontwikkeling het merkwaardig versnel.”

Sedert 2021 het Agricol reeds 20 nuwe va­riëteite van die Don Mario-sojaboonreeks op die proef gestel – 14 hiervan is die Intacta RoundUp Ready 2-variëteite. “Om te verseker dat die produsent waarde ontvang vir die heffing, word daar deeglike navorsing en ontwikkeling gedoen op die nuwe variëteite,” voeg hy by.

Grafiek 1: Oppervlakte aangeplant, produksie en opbrengs van sojabone oor tyd.
Grafiek 2: Sojabone in die Vrystaat oor tyd.

Uitvoere
Louw vertel dat Graan SA aan die voorpunt gestaan het om sojabone op die regering se prioriteitslys vir uitvoerbevordering te kry. Hier het dr Marinda Visser, wat destyds aan die hoof van navor­sing by Graan SA was, ’n belangrike rol gespeel. Tans word sowat 200 000 ton sojabone na veral die Oos-Asiese markte uitgevoer.

Graan SA, in samewerking met die Depar­tement Landbou, Grondhervoming en Lande­like Ontwikkeling (DALRRD) en ondersteun deur die Suid-Afrikaanse Graan- en Oliesadeverhande­lingsvereniging (SACOTA) het ook gewerk aan die opening van die uitvoermark na China, wat tans die grootste invoerder van soja­bone wêreldwyd is (100 miljoen ton per jaar). In September 2022 is aangekondig dat die uitvoerprotokolle deur die onderskeie ministers van beide lande onderteken is en dat die pad nou oop is vir Suid-Afrika om daarheen uit te voer.

Die eerste 36 000 ton sojabone is verlede jaar na Indonesië uitge­voer. Dr Pieter Taljaard (HUB van Graan SA), Corné Louw (hoof: Toe­gepaste Ekonomie en Lede­dienste) en Heleen Viljoen (junior landbou-ekonoom) het hierdie geskiedkundige oomblik op die Durban­se hawe meegemaak.

’n Staatmaker in moeilike omstandighede
Annelie de Beer, navorser by LNR-Graangewasse, meen dat ’n kombinasie van verbeterde opbrengs saam met guns­tige sojaboonpryse, sowel as die voordeel van verhoogde grondgesondheid in ’n gewasrotasiestelsel, die belangrikste drywers vir die vinnige uitbreiding van sojaboonproduksie is. Sy sê die bykomende verhoogde insetkoste het ook tot die uitbreiding van sojabone na die droër en nietradisionele sojaboonproduksiegebiede bygedra.

Dr Briedenhann stem saam dat stygende insetkoste die verskuiwing van mielies na sojabone ondersteun. “In die meeste dele van die land is die winsgewendheidsberekeninge toenemend ten gunste van sojabone. Die huidige verhoging van 19% in hektare vir die komende seisoen is ’n goeie teken.”

Du Plessis, wat in 2011 sojabone begin plant het, sê dié besluit het hom deur moeilike klimaatsomstandighede gedra. Hy vertel dat hy in die uitsonderlik droë jare – 2012 tot 2019 – twee keer groot verliese met mielies gely het. Hy kon egter gedurende dieselfde tydperk elke jaar ’n sojaboonoes winsgewend afhaal. “Toe die nat seisoen sy versky­ning maak, was sojaboonprodusente in die weste gerat om sojabone te plant en die resultaat was groot oeste en vinnige ekonomiese herstel.” Hy vertel dat sojabone in die oornat toestande van die afgelope seisoen ook goed gevaar het.

“As ons vandag terugkyk, is dit ’n fantastiese suksesstorie,” sê Du Plessis. “Persoonlik het ek gehoop dat meer sojabone sou lei tot minder mieliehektare en kleiner surplusse, maar sojaboonhektare het eerder koringlande vervang. Met die voordeel van terugblik kan ons sien dat sojaboonhektare vergroot is ten koste van koring- en sonneblomhektare in die Vrystaat.” Hy vertel dat die wisselbou-impak van sojabone die afgelope paar jaar rekordmielie-opbrengste tot gevolg gehad het. “Gelukkig is ons tans op ’n plek waar mieliepryse redelik hoog en uitvoergeleent­hede beskikbaar is.”

Hoe lyk die toekoms
Dr Meyer glo dat die algehele mededingendheid van die soja­boonwaardeketting verbeter sal word met die verdere bekend­stelling van nuwe saadtegnologie en kiemplasma. Hy meen dat ’n konstante strewe na verbeterde boerderypraktyke en doeltreffendheid in die hantering en verwerking van sojabone verdere suksesse in die bedryf sal ondersteun. Hy sê egter dat daar aandag gegee moet word aan infrastruktuur en logistiek, veral by die vervoer van sojaboonmeel na die kusgebiede waar byna een derde daarvan verbruik word.

Dr André van der Vyver, uitvoerende direkteur van SACOTA,­ meen dat die groei in sojaboonproduksie oor die laaste paar jaar, en die waarskynlikheid dat produksie verder gaan toeneem, daarop dui dat produksie binnekort die vraag op ’n deurlopende basis sal oorskry. Hy sê dat indien daar nie verdere geleenthede vir uitvoere geskep word nie, daar ’n opbou van voorraad sal wees. “Saam met Graan SA, die DALRRD en verskeie instansies werk SACOTA en sy uitvoerlede hard daaraan om die geleenthede te skep.”

Hy voeg by dat logistieke beperkings egter uitvoere kan kniehalter. “Durban se hawe is tans tot volle kapasiteit gevul. Die Oos-Londen-hawe het onlangs oopgemaak, maar dit het ook sy uitdagings. Nog een alternatief wat deur verskeie landboubedrywe ondersoek word, is die Maputo-hawe. Dit was nog altyd ’n natuurlike keuse vir uitvoere uit Mpumalanga, maar het sy eie beperkings gehad. Twee van die nege uitvoerskepe het juis hierdie seisoen vanuit Maputo-hawe vertrek.

“Gegewe die positiewe vooruitsigte vir sojaboonuitvoere, die bydrae wat die uitvoer van sojabone tot landelike indiensneming en ont­wikkeling kan maak, en die behoefte aan ’n doeltreffende en funksionele uitvoerwaardeketting, is dit belangrik dat daar in die toekoms ’n doeltreffende spoorweg- en padvervoerstelsel bestaan en dat daar genoeg kapasiteit by hawens is.”

Vir Du Plessis is die visie vir die toekoms ’n sojaboonuitvoermark wat die van mielies oorskry. “Met ons sukkelende en verwaarloosde infrastruktuur maak dit sin om soja­bone uit te voer. ’n Hektaar soja­bone lewer ’n 2,5 ton-opbrengs, terwyl ’n hektaar mielies 6,5 ton graan lewer. Dit is minder as die helfte vrag wat weggery moet word en bied hoë waarde vir min tonne.”

Dankbare harte
Die sojaboonsuksesverhaal is volgens Du Plessis ’n voorbeeld vir die res van die land se ekonomiese sektore. “Dit is wat kan gebeur as produsente, besighede en die regering saamwerk. Oor die jare is duisende werksgeleenthede geskep en met minder invoere is miljarde rande se buitelandse valuta gespaar.”

Du Plessis sê die uitbreiding van die sojaboonbedryf hou vir almal in die waardeketting voordele in, maar hy meen dat produ­sente die dankbaarste is. “Ek wil namens sojaboonprodusente dankie sê aan elkeen wat ’n bydrae gelewer het tot hierdie suksesverhaal. Dankie aan die leierskap en personeel van Graan SA vir julle visie, deursettingsvermoë en bereidwilligheid om hande te vat. Dit het ons in moeilike tye op ons plase gehou.”