Nutsgewasse in die Wes-Kaap toon groot potensiaal

Gepubliseer: 4 November 2022

617
Dr Johann Strauss, navorser: Volhoubare Produksiestelsels, Direktoraat Plantweten-skappe, Wes-Kaapse Departement van Landbou
Rens Smit,
navorser: Volhoubare Produksiestelsels, Direktoraat Plantweten-skappe, Wes-Kaapse Departement van Landbou

Dekgewasnavorsing is al deel van die Wes-Kaapse Departement van Landbou se navorsingsportefeulje sedert 2013 – verskeie projekte is reeds afgehandel of is tans nog aan die gang. Die vraag oor hoekom dan nou juis dekgewasse word nog steeds wyd geuiter op boeredae en in gesprekke met produsente.

Dit is nie altyd so ’n eenvoudige antwoord soos plant dít en dan gaan jy soveel meer oes nie. Om die vraag te beantwoord, word gekyk na watter verskil dekgewasse op die langtermynproewe op Langgewens-navorsingsplaas gemaak het.

Diversiteit
As een van die bene van bewaringslandbou is wisselbou – of dan eerder diversiteit – ’n belangrike deel van die stelsel. In die Wes-Kaap is daar ’n redelik beperkte hoeveelheid gewasse wat geplant kan word om diversiteit te verhoog. Hier het dekgewasse egter deure oopgemaak. Daar kon nou ’n kamp geplant word met ’n verskeidenheid van gewasse waarvoor daar nie noodwendig ’n mark is as hulle geoes sou word nie, maar wat wel ander voordele inhou. Soos die meeste lesers van SA Graan/Grain al gesien het, is die spesifieke langtermynproef op Langgewens al in 1996 begin. Toe die proef sy 20ste jaar voltooi het, is daar besluit om tesame met die proef ’n nuwe stelselproef te begin wat bietjie meer intens op diversiteit fokus.

Terselfdertyd is die lupiene in die ou proef vervang met ’n dekgewas. Die samestelling van die spesifieke dekgewasmengsel was 70% peule en 30% grane en dit is juis so opgestel om steeds verniet stikstof in die stelsel te verseker, aangesien dit opgevolg word met koring in die stelsel. Produsente is egter sku om ’n dekgewas in hulle stelsels in te sluit in die Wes-Kaap, aangesien hulle ’n moontlike kon­tantgewas moet opoffer om die dekgewas te verbou.

Nutsgewasse
In hierdie geval is die woord dekgewas soos dit oorspronklik bedoel is, nie regtig betekenisvol nie, aangesien die dekgewas nie regtig geplant word om slegs bedekking te verseker nie. Daar is dus besluit om dit eer­der ’n nutsgewas te noem.

Die redes hiervoor is as volg:

  • Die gewas verskaf die opsie om dit met diere te benut; dus kan die produsent geld verdien uit vleis en/of wol.
  • Dit speel ’n rol in geïntegreerde onkruid- en insekbeheer.
  • Daar is verbeterde benutting van oortollige voedingstowwe op verskillende vlakke in die grond as gevolg van die diverse wortelstrukture.
  • Laer insetkoste.
  • Beter biodiversiteit as dit kom by insekte- en dierelewe.

In die navorsingsprogram word nutsgewasse slegs met minder as 10 kg/ha toegediende stikstof geplant en word daar geen verdere insette gedoen tot wanneer die nutsgewas aan die einde van die seisoen getermineer word nie. Dit het dus ’n baie laer insetkoste as wanneer ’n suiwer kontantgewas geplant word.

Daar sou dus verwag word dat die twee stelsels waar lupiene met die 70/30-nutsgewas vervang is, ekonomies swakker daaraan toe sou wees as dit kom by bruto marge as wanneer lupiene verbou is, maar dit was nie die geval nie. Beide stelsels se gemiddelde bruto marge was beter. Beide stelsels het ook byvoorbeeld steeds ’n beter gemiddelde bruto marge (R700/ha) gelewer as ’n monokultuurkoringstelsel. Indien dit benut sou word met diere en die toename in vleisproduksie kan in die ekonomie ingesluit word, sal die verskille nog groter raak.

Toename in vleisproduksie
In die ou langtermynproef is ’n toetslopie gedoen om benutting van die medics-weiding te vergelyk met die benutting van die nutsgewas. So is die skaaptrop van die beste medics-koring-stelsel vir 16 dae op 4 ha medics laat wei, terwyl die ander drie weidingstelsels se skaaptroppe saamgegooi is en vir dieselfde 16 dae op 2 ha nutsgewasse laat loop is (Foto 2). Gedurende die 16 dae is een ooi dood op die skoon medics en die meeste het loopmaag gehad, terwyl geen diere dood is of loopmaag op die nutsgewasse gehad het nie. Die toename in vleisproduksie was R10 500 op die nutsgewas versus R1 500 op die skoon medics-weiding. Dit is een van die redes hoekom die ou langtermynproef in 2022 aangepas is. Twee nuwe weidingstelsels waar nutsgewasse deel van die stelsel uitmaak, is ingebring.

Vertroue heers dat dit die drakrag oor tyd gaan verhoog en dus stelselinkomste gaan verbeter. In die nuwe stelselproef waar daar gepoog is om soveel as moontlik diversiteit met behulp van nutsgewasse en alternatiewe kontantgewasse in te sluit, het vyf van die topvyf­gewasvolgordes nie statisties verskil van mekaar betreffende gemiddelde stelselbrutomarge nie. Vier van die vyf stelsels het ten minste een nutsgewas in vyf jaar ingesluit (Foto 1).

1. Dekgewasproewe op Langgewens.
2. Tydens die proef is die benutting van die medics-weiding met die benutting van die nutsgewas vergelyk.

Verhoogde biodiversiteit
So ’n jaar of twee voor die nutsgewasse deel van die stelsel geword het, is daar besluit om nie meer insekte in die medics-weidings te bekamp nie. Binne ’n jaar of twee nadat die nutsgewasse deel van die twee stelselproewe geword het, is daar geen insekdoder op die proewe of die plaas meer gespuit nie. Dit was nie net ’n wilde besluit nie, maar daar is opgelet dat moontlike skadelike insekte reeds deur predatore uitgeskakel is en dit daarom nie nodig is om die onkoste aan te gaan om insekdoder te spuit nie.

Let wel, dit beteken nie dat daar nooit weer gespuit sal word nie, maar die natuur is ongelooflik as dit net ’n kans kry om “selfmedikasie” toe te pas. Nadat opgehou is om insekte te bespuit, was dit opmerklik dat daar verlede jaar vir die eerste keer weer insekvretende voëls op die plaas gesien is, tesame met bakoorjakkalse. Daar is dus verhoogde biodiversiteit – nie net in plantegroei nie, maar ook in insek- en dierelewe.

Insette
Laer insetkoste volg nie net as gevolg van die min aksies of insette tydens die nutsgewasjaar nie, maar ook in die jaar daarna. So ontvang die koring na die nutsgewas ook minder stikstof en is daar minder insette betreffende onkruidbeheer. Die feit dat onkruid toegelaat word om tydens die nutsgewasjaar op te kom, te groei en dan getermineer word voordat saad gemaak word, verlaag die saadbank in die grond met laer onkruiddruk in die jaar daarna.

Nutsgewasse verskaf verder buigbare bestuur aan die produ­sent wanneer dit op kampe geplant word waar daar juis hoër onkruiddruk is. Sulke kampe kan eers later geplant word sodat die eerste onkruidvlaag beheer kan word om sodoende te verseker dat die nutsgewas sterker kompeteer vir spasie. Met die laer insette kan die nutsgewas ook oortollige bemesting wat in die grond opbou, benut, hersirkuleer en beskikbaar stel vir die opvolgende gewas, wat daartoe lei dat daar minder loging van voedingstowwe plaasvind.

Die navorsingspan is so oortuig van die waarde van ’n nutsgewas binne die Wes-Kaap se wisselboustelsels dat daar nou spesifiek gekyk word na verskillende nutsgewaskombinasies se produksie en voedingskwaliteit. Data van die werk sal binnekort beskikbaar gestel word. Voorlopige ontledings toon dat van die nutsgewaskombinasies beter produksie en voedingswaardes het as skoon medics of skoon hawerweidings.