Plaasproewe het groot waarde

Gepubliseer: 29 September 2022

800
Dr André Nel, onafhanklike agronoom
Dr Hendrik Smith, bewaringslandboufasi-liteerder, ASSET Research

Presisietegnologie het plaasproewe in die hande van die produsent geplaas. Indien die proewe reg gedoen word, kan die resultate daarvan betekenisvol bydra tot die doeltreffende en volhoubare produksie van graan.

Proefwerk deur produsente is niks nuuts nie. Elke dag toets produsente hulle idees, tegnologie of stelsels en neem besluite daaroor. Die meeste produ­sente eksperimenteer op hul eie deur byvoorbeeld ’n nuwe kultivar op beperkte skaal aan te plant. Sulke “boereproewe” is in die eng sin van die woord nie wetenskaplik nie, maar dit is eintlik besonder waardevol en kragtig. Dit gee ’n aanduiding van hoe nuwe tegnologie, soos ’n kultivar of ’n nuwe middel, werk en presteer en help produsente op ’n daaglikse basis om beter besluite te neem en tegnologie by hulle situasie of konteks aan te pas. Proewe wat aan die strenger vereistes van die natuurwetenskap voldoen, kan natuurlik ook op plase uitgevoer word; waar sulke proewe saam deur ’n groep produsente en navorsers gedoen word, het dit groot trefkrag en waarde.

Op georganiseerde vlak word wetenskap­like plaasproewe tans deur minstens vier groepe kommersiële produsente in die somerreënvalgebied gedoen. Die groepe is die Maluti-studiegroep in die Oos-Vrystaat, die Mpumalanga-Hoëveld-bewaringslandbounetwerk, die Ottosdal-geenbewerkingsklub in die Noordwesprovinsie en die Sandgrondont­wikkelingskomitee (SOK) in die Noordwes-Vrystaat. Die betrokkenheid van en eienaarskap deur produ­sente is uiters belangrik en hierdie groepe word deur menige insetverskaffer en navorsingsinstansies soos ASSET Research ondersteun – in hierdie geval met finansiële ondersteuning van die Mielietrust. Navor­sers van die Landbounavorsingsraad (LNR) en universiteite neem gereeld hieraan deel en gebruik hierdie proewe as meet- en verwysingspunte asook om studente verder op te lei deur nagraadse studies.

Verskeie praktyke, stelsels en tegnologieë kan so uiters doeltreffend getoets en gedemonstreer word. Die koms van presisietegnologie het hierdie plaas­gebaseerde navorsingspanne die vermoë gegee om op ’n noukeurige dog maklike manier insette na willekeur te verander en opbrengste betreklik akku­raat te meet. Nuwe kultivars kan nou geëvalueer word, middels en tegnieke kan getoets word of bemesting en ander insette kan geoptimaliseer word. Die meeste van die produsentemedewerkers het alreeds die regte toerusting wat gebruik kan word om goeie proewe te doen.

Plaasproewe is ’n uiters belangrike bron van inligting. Hier luister ’n groep produsente na ’n grondkundige by ’n profielgat in ’n mielieland tydens een van die Sand­grondontwikkelingskomitee se inligtingsdae.

Doel en voordele
Produsente is oor die algemeen skepties oor nuwe middels, kultivars of tegnieke wat aanbeveel word en wil graag sien hoe dit op hulle eie grond en in hulle toestande presteer. Die prestasie van iets soos ’n nuwe middel kan moontlik verskil van die resultaat waarop die verskaffer aanspraak maak en dit is waar plaasproewe die antwoord kan verskaf. Plaasproewe is ook die enigste manier hoe produsente nuwe stelsels, soos bewaringslandbou, in hulle unieke situasies kan toets, leer en aanpas.

Wins bly die oogmerk van boerdery en daarom moet insette soos kunsmis en saad teen ekonomies optimale peile toegedien of geplant word. Met plaasproewe kan bestaande algemene riglyne verfyn word na aanleiding van die plaas se grond en klimaat. Meer nog, met pryse van insette en uitsette wat gedurig en soms betekenisvol verander, gee plaasproewe produsente die vermoë om insetpeile sinvol aan te pas ten einde hul graanproduksie optimaal vol te hou. As die prys van kunsmis drasties styg soos wat onlangs gebeur het, kan wetenskaplike rig­lyne uit plaasproewe duidelik aandui hoe die bemestingspeil aangepas behoort te word. Sonder inligting is raaiwerk die produsent se voorland – en dit kan tot verliese lei.

Baie navorsingswerk word deur maatskappye gedoen, maar dit is om logiese redes beperk tot hul eie produkte. Met die afname in navorsingsfinansie­ring vanaf regeringskant kry aspekte soos bewerking, geenbewerking, wisselbou, rywydtes, dekgewasse, grondgesondheid en vee-integrasie maar min navor­singsaandag as dit nie deur produsente self gedoen word nie. In die verlede is daar wel proewe in hierdie verband gedoen, maar dit was beperk tot een of ander proefplaas waarvan die bevindings dan wyd as maatstaf aanbeveel moes word. Die realiteit is egter dat inligting nie regtig by produsente uitgekom het nie. Plaasproewe kan sulke navorsing op ’n groter skaal, met ’n groter impak en heelwat goedkoper doen en die variasie van grond en omgewing kan so in ag geneem word.

Indien genoeg produsente terselfdertyd aan die proewe deelneem, kan ’n antwoord op ’n bepaalde vraag vinnig verskaf en versprei word. In hierdie verband het die Ottosdal-geenbewerkingsklub byvoorbeeld binne vier seisoene 19 herhalings van ’n spesifieke proef oor verskeie plase gedoen, elk met sy eie toestande. Dit het baie duidelik getoon dat mielies onder geenbewerking ’n aansienlik hoër plantestand en nouer rye as onder bewerking vereis.

Die resultate van proewe wat onder realistiese omstandighede verkry is, het groter geloofwaardigheid onder produsente. Kommersiële toerusting word in die proewe gebruik en tipies is die plante­stand, onkruidbeheer of toediening van kunsmis of chemiese middels dalk nie 100% nie. As ’n nuwe tegniek of middel onder sulke omstandighede steeds presteer, word die resultaat maklik aanvaar.

Klimaatsverandering is ’n bedreiging vir graanproduksie met hoër temperature en toenemend wisselvallige reënval wat voorspel word. Deur betyds proefwerk oor akkerboukundige aspekte soos wisselbou, stand en rywydtes te doen, sal produsente self hul ervaring en dus hul insig verbeter om strategieë te ontwikkel om die impak van klimaatsverandering te versag. Trouens, menige landboukundige verandering in die wêreld is deur ervare produsente met insig teweeggebring. Die ontwikkeling en verspreiding van bewaringslandbou is ’n goeie voorbeeld hiervan.

Plaasproewe vervang nie die gespesialiseerde proewe wat deur navorsingsinstansies op proefplase gedoen word nie, maar vul dit eerder aan. Trouens, plaasproewe bied aan gespesialiseerde navorsers en nagraadse studente by gevestigde instansies soos die LNR en universiteite die geleentheid om waarnemings te doen, studies te voltooi en so ook die navorsingspan en produsente te help – én dit gebeur in die produsente se realiteit. Dit bring ’n aansienlike besparing vir die navorsingsinstansies en befondsers mee, aangesien dit heelwat van die proewe op navorsingstasies oorbodig maak. Dit vergroot die trefkrag van nuwe tegnologie en stelsels geweldig.

’n Studiegroep op besoek aan die Ottosdal-geenbewerkingsklub se proewe.

Spanpoging
Plaasproewe moet as ’n span aangepak word. Die span bestaan tipies uit plaaslike produsente, insetverskaffers en kundiges wat gekontrakteer moet word. Die kundiges kom uit toepaslike dissiplines soos grondkunde en/of agronomie. Van belang is dat die kundiges die beplanning en uitlê van proewe, die ontleding van resultate en die maak van gevolgtrekkings moet kan lei. Dit is sinvol om, indien van toepassing, plaag- en siektekundiges asook veekundiges en ekonome te betrek, laasgenoemde om die winsgewendheid te bepaal.

’n Uitdaging wat inherent deel van proewe vorm, is om die effek van ’n behandeling, soos byvoorbeeld ’n nuwe middel, van die “agtergrondgeraas” te kan onderskei. Die opbrengs van mielies kan byvoorbeeld met 0,5 t/ha oor die oppervlakte van ’n land varieer, terwyl alle insette eenvormig toegedien is. Dit is die agtergrond­geraas. Die middel wat getoets word, gaan na verwagting die opbrengs met ’n ewe groot 0,5 t/ha laat toeneem. Die vraag is nou hoe met sekerheid vasgestel kan word dat die middel wel die opbrengs verhoog. Dit is hier waar die hulp van kundiges met die nodige kennis van statistiek noodsaaklik is, anders kan ’n vals gevolgtrekking maklik gemaak word.

Koste
Uit die oogpunt van die produsent verg plaasproewe meer moeite en tyd as wat dit geld kos, maar die voordele is vir hulle gewoonlik oorgenoeg motivering. Die koste van plaasproewe behels die kundige persone wat gekry moet word om deel te neem, sekere toerusting wat gehuur moet word en gespesialiseerde ontledings wat gedoen moet word. Gelukkig is ’n instansie soos die Mielietrust bereid om ondersteuning te verskaf – soos al die bogenoemde groepe kan getuig.

In ag genome die beskikbaarheid van tegnologie, die dinamiek van die graanbedryf en die kwyn van staatsnavorsingsinstansies, is wetenskaplik gegronde proewe wat deur produsente en medewer­kers op plase gedoen word ’n sinvolle manier om te help sorg dat graan volhoubaar en kompeterend geproduseer word.