
SA Graan/Grain-redaksie

Marguerite Pienaar, landbou-ekonoom,
Graan SA
Landbouprodusente is gewoond om vele probleme te trotseer. Een daarvan is dat die somme nie klop nie. As produsente egter op dieselfde manier bly produseer, moet daar nie verwag word dat die uitkoms gaan verander nie.
Produsente se beperkinge kan soos volg saamgevat word, naamlik ’n oppervlaktebeperking en ’n finansiële beperking. Maar wat dan van te min of te veel reën, die koste van arbeid, die lae winsgewendheid van die vertakkinge of die koste van meganisasie? ’n Ontleding van die beperkings toon die volgende: Elke plaas se grond en produksievermoë verskil. Sommige gronde kan water opberg, terwyl ander weer diep, droë gronde is. Hierdie gronde presteer ook heel verskillend in droë en nat jare. Gronde wat geneig is om te versuip, verdroog ook gewoonlik eerste.
Gegewe hierdie inligting het elke plaas net ’n sekere hoeveelheid hektare hoë-, medium- en laepotensiaallande. Met presisieboerdery kan hierdie potensiaal goed bestuur word. As die produsent net ’n sekere hoeveelheid trekkerkilowatt het, kan hy net ’n sekere hoeveelheid hektare bewerk, ongeag hoeveel hektaar hy besit. As die arbeid beperk is, kan hy steeds net ’n sekere hoeveelheid hektare bewerk, ongeag van hoeveel hektare hy besit.
Heelwat produsente maak van krediet gebruik om te boer. Daar is miskien 5% van die produsente wat genoeg eie kapitaal het om alles kontant aan te koop. Die meeste produsente se krediet is nie onbeperk nie – hiervoor sorg die Nasionale Kredietwet wat bepaal dat skuld op geen stadium meer as 50% van bates mag wees nie. Sodra daar ’n bietjie oorlaatskuld is, kan die produsent homself vinnig in ’n finansiële tekort bevind. Andersins kan daar dalk genoeg grond wees, maar te min geld om hierdie grond optimaal te benut. En dis hier waar die moeilikheid begin.
Vir die twee beperkings is daar verskillende bestuursbenaderings. Vir ’n oppervlaktebeperking moet daar teen maksimum wins per hektaar geproduseer word. As daar ’n finansiële beperking is, moet die produsent teen die hoogste rendement per rand aangewend produseer. Met ander woorde: Produsente moet die meeste inkomste met die beperkende fondse verkry al beteken dit dat hulle nie die meeste geld per hektaar gaan maak nie.
Voor daar besluit word hoe om hierdie probleem die hoof te bied, moet die produsent behoorlik bepaal hoekom hy in hierdie penarie is. Dit is die eerste stap uit die verknorsing uit. Laat ’n buitestander na die besigheid kyk.
Is daar dalk onnodige kapitaaluitgawes aangegaan, is daar ’n tekort aan vyfjaardoelwitte of is daar dalk wegbeweeg van dit wat basies reg gedoen moet word? Word goeie boerderypraktyke gevolg? Is die grond se pH reg? Is die kunsmis nie te veel vir die potensiaal van die grond nie? Is die vaste koste dalk te hoog vir die boerdery? Hierdie ontleding is gewoonlik nie ’n aangename proses nie, maar dis die begin van die regmaak van probleme. Die meeste landboubesighede beskik oor ’n landboudienste-afdeling wat vir seker hiermee kan help.
Strategiebepaling
Hier volg ’n paar riglyne om self te bepaal watter strategie om te volg en watter kombinasie van gewasse om te verbou. Daar is nie ’n standaardresep nie, net ’n metode om die berekening te doen. Die volgende stappe kan gevolg word om die kombinasie waarmee geboer moet word te verduidelik en te bepaal:
1. Bepaal watter gewasse verbou kan word.
2. Die verskillende verbouingspraktyke vir die gewasse moet ondersoek en uitgeklaar word, wat insluit die hoeveelheid insette gebruik asook die verwagte opbrengste. Dit kan beteken dat daar op kort termyn sekere besparings gemaak moet word wat die opbrengste en winsgewendheid dalk nadelig kan beïnvloed
3. Dan moet ’n volledige detailbegroting vir elke gewas en verbouingspraktyk opgestel word. Dit moet die opbrengs, verkoopprys en direkte koste insluit sodat die bruto marge bereken kan word. Die skakelings na ander vertakkings moet ook in aanmerking geneem word, byvoorbeeld oesreste wat vir vee gebruik word of die stikstof wat sojabone in die grond agterlaat.
4. Vervolgens moet die rendement wat op die insette verdien asook elke gewas se rendement bepaal word. Dit word gedoen deur die inkomste deur die uitgawes te deel. Die rendement wys dus uit hoeveel verdien word met elke rand se inset gebruik.
5. Dan moet die beperkings op produksie van die verskillende gewasse bepaal word.
• Let veral op die meganisasie van die boerdery wat stroperkapasiteit insluit. Sommige gewasse soos sonneblom en sojabone kan gelyk ryp word en dan kan verliese voorkom. Aangesien dié gewasse se plantvenster ook beperk is, kan planterkapasiteit ’n verdere beperking wees.
• Maak seker dat vorige onkruiddoderprogramme wat gebruik is nie dalk die opvolggewas kan benadeel nie.
• Wees veral bedag op die ligging van die lande:
• Lande naby woongebiede kan geplunder word.
• Sommige lande is dalk te koud vir die gewasse.
• Lande kan ander beperkings hê wat die gewasse betref, byvoorbeeld te nat.
• Maak seker dat die grondsoort geskik is vir die verbouing van die gewas. Swaar turfgronde kan byvoorbeeld nie noodwendig vir die verbouing van grondbone aangewend word nie.
6. Bepaal vervolgens hoeveel fondse beskikbaar is vir die verbouing van gewasse.
7. Volgende word bepaal hoeveel lande vir watter gewas aangewend kan word en hoeveel benodig word vir byvoorbeeld die beeste op die plaas.
8. Die beperkende fondse word dan verdeel volgens die rendemente van hoog tot laag, maar daar moet binne die beperkings van die gewas gebly word. Hou vol tot die totale bedrag beskikbaar vir graanverbouing verdeel is.
9. Laastens word die verwagte bruto marge vir die boerdery bepaal.
Deur hierdie metode te volg, word daar verseker dat elke boerdery sy eie unieke verbouingsprogram het wat tot maksimale wins sal lei – die beperkings van die boerdery word in aanmerking geneem. Die rendemente word gemaksimeer as die fondse beperkend is en dié stap sal die besigheid se wins maksimeer deur die optimale kombinasie van gewasse wat verbou kan word saam te stel.
Vir elke gewas en verbouingspraktyk is daar ’n verwagte opbrengs. Die grond se fisiese en chemiese ontledings sal dit bepaal. Marginale gronde moet verkieslik nie geplant word nie; vestig dit eerder met weiding en benut dit op daardie manier.
Voorbeeld
Hier volg ’n praktiese voorbeeld om te demonstreer hoe die stelsel om die berekeninge te maak werk:
Mnr Noutrek boer in die Derby-omgewing en daar is 600 ha lande beskikbaar vir graanverbouing. Weens die droogtejaar is daar vanjaar net R5 000 000 beskikbaar vir graanverbouing. Op die plaas is dit moontlik om drie gewasse, naamlik mielies, sonneblomme en sojabone te verbou. Die mielies het drie verbouingstelsels waaruit gekies kan word. By die eerste een is die opbrengs 4,5 ton en die koste is R14 100,27/ha; by die tweede is die opbrengs 5 ton en die produksiekoste R15 175,03/ha; en by die laaste een is die opbrengs 3 ton en die produksiekoste R11 093,54.
Weens potensiaalbeperkings kan net 400 ha met sonneblom en sojabone beplant word. Die stroperkapasiteit is beperkend: vir sonneblom kan 200 ha hanteer word en vir sojabone net 100 ha. Daar is geen beperking vir mielies nie en die hele 600 ha kan beplant word.
Stel ’n tabel soos Tabel 1 saam waar al die inligting met een oogopslag gesien kan word. Volg die stappe in hakies ( ) na die beskrywing om die berekeninge in elke lyn te maak.
**** Om (M) te bereken: Sonneblom se rendement is die grootste (0,67) (sien lyn H) so dit beteken dat daar 200 ha met sonneblomme geplant kan word (omdat daar ’n beperking van 200 ha op die gewas is). So word R1 219 615,54 gebruik.
Vervolgens is Mielies 2 se rendement die tweede hoogste (0,43). Daar is ’n beperking op 200 ha vir die gewas. Die 200 ha Mielies 2 neem ’n verdere R3 035 005,13 op met R745 379,33 wat na Mielies 1 oorgedra kan word omdat hulle rendement die derde hoogste was. Dit beteken dat ’n addisionele 53,86 ha verbou kan word. Met hierdie kombinasie is die R5 000 000 opgebruik en in totaal is daar 453 ha verbou. Hierdie kombinasie gee dan ’n bruto marge van R2 922 563,91. Van die 600 ha is daar nou 147 ha wat skoongehou moet word of verhuur kan word.
Die vraag is nou wat sal die uitkoms wees as daar voldoende fondse is maar die grond is beperk tot 600 ha. Hiervoor moet ons na die tweede gedeelte in Tabel 1 kyk. Lyn G in Tabel 1 gee die verskillende bruto marges vir die verskillende gewasse.
#### Om (Q) te bereken: Mielies 2 se bruto marge (R6 499,97) is die grootste, gevolg deur Mielies 1 (R5 527,23) en dan Sonneblom (R4 101,92). Omdat daar ’n 200 ha-beperking op die gewasse is (sien lyn K), moet daar 200 ha/gewas geplant word. Hierdie stap bring mee dat R7 074 674,94 se uitgawes aangegaan is en dat ’n totale bedrag van R3 225 825,06 wins gemaak is. Dit is heelwat meer as die plan van maksimum rendement.
Indien die hoogste bruto marges gebruik is om die R5 000 000-geldbeperking toe te deel, sou daar 200 ha Mielies 2 en 135 ha Mielies 1 verbou kon word. In totaal sou daar R2 070 214,18 wins gemaak word wat R342 349,73 minder is indien die regte metode gebruik is.
Sorgvuldige berekeninge is ongetwyfeld noodsaaklik. Hierdie voorbeeld wys net weer op die belangrikheid daarvan om sulke beperkings reg te identifiseer en reg te bestuur. As hierdie beperkings verkeerd bepaal en gebruik word sal die boerdery nie die beste vaar nie.
Vir meer inligting kan Pietman Botha by 082 759 2991 of Marguerite Pienaar by marguerite@grainsa.co.za gekontak word.