Is dit raadsaam on na ‘n droogte op BEMESTING te bespaar?

Gepubliseer: 2 Julie 2024

86
Dr Erik Adriaanse, onafhanklike konsultant

Verskeie produsente het die afgelope seisoen volgens verwagte onttrekkingsyfers vir voedingstowwe bemes, maar weens die droogte is veel minder voedingstowwe deur die graan of plante verwyder. In watter mate kan daar na dese op residuele voedingstowwe in die grond vir die volgende seisoen staatgemaak word, al dan nie?

Die antwoord op die vraag sentreer rondom gemete of geprojekteerde voedingstofstatus van noodsaaklike elemente in die grond, graanverwyderings, heelplantonttrekkings asook potensiële verliese van mobiele elemente gedurende die afgelope jaar of jare. Bykomende slim grondmonsterneming (geïdentifiseerde monsterpunte, dieptes en metodes) voor en gedurende die komende seisoen en blaarmonsterneming gedurende die seisoen sal moontlik nodig wees om die akkuraatheid van projeksies en aanbevelings vir die komende seisoen te verbeter.

Wanneer drempelwaardes in die grond akkuraat bestuur word, sal daar in effek oor jare en by elke monsterpunt volgens opbrengspotensiaal bemes word en swak seisoene sal in die proses ondervang word. Afskalings in bemestingsaanbevelings vir die volgende seisoen is vir seker moontlik, maar dit moet op ’n wetenskaplike en verantwoordbare wyse geskied. Riglyne vir afskalings in bemesting en bekalking word hiermee neergelê, maar kundige raad sal moontlik verder nodig wees om elke scenario koste-effektief te ondervang.

Beweeglike voedingstowwe
Mobiele elemente soos stikstof (N), boor (B) en molibdeen (Mo) wat binne in die grond toegedien is, sal steeds beskikbaar wees tensy dit sodanig gereën het dat waterbeweging loging veroorsaak het. N wat bo-op die grondoppervlak toegedien is of in grondwater tot naby die oppervlak beweeg het, kon vervlugtig het.

Niebeweeglike voedingstowwe
Die meeste noodsaaklike voedingstowwe is glad nie beweeglik nie of min beweeglik. Onder hierdie groep val elemente soos fosfor (P), kalium (K), kalsium (Ca), magnesium (Mg), sink (Zn), mangaan (Mn), koper (Cu), yster (Fe), nikkel (Ni) en kobalt (Co). Hierdie voe­dingstowwe wat in die grond toegedien is en nie deur gewasse opgeneem is nie, sal grotendeels steeds beskikbaar wees.

Bandgeplaasde voedingstowwe
Voedingstowwe wat met die laaste seisoen in bande in die grond naby plantrye gekonsentreer is, hetsy deur toedienings voor plant, met plant of na plant, behoort meer beskikbaar te wees vir die volgende seisoen as breedwerpige toedienings.

Bandplasing van alle voedingstowwe is bewys om meer effektief te wees as breedwerpige toedienings by suboptimale ontle­dings in die grond. Ammonium-N (wat nie loog nie) en onder meer afkoms­tig is uit ureum, ammoniumsulfaat, mono-ammoniumfosfaat (MAP) en ammoniumnitraat sal veel stadiger omgeskakel word na nitraat-N (wat kan loog) indien dit gebandplaas is. P sal minder deur kleimi­nerale vasgehou word en K sal meer geredelik beskikbaar wees vir opname wanneer dit gebandplaas word.

Produsente word dus aangeraai om sover moontlik nie residuele bande te versteur nie en om weer presies op dieselfde rye as die vorige jaar te plant. Wanneer ’n skeurploeg gebruik word om grondverdigting op te hef, sal residuele bande versteur word, maar indien daar op dieselfde rye geplant word, sal daar ten minste in ’n voedingstofverrykte sone geplant word.

Bestuur van voedingstofstatus in die grond
Daar is heelwat kalibrasienavorsing in Suid-Afrika oor baie jare gedoen om akkurate drempelwaardes vir anorganiese N (nitraat-N + ammonium-N (KCl)), P (Bray 1) en K (AmAs) vir mielies daar te stel. Net so is daar kalibra­sienavorsing vir sojabone, koring en sonneblom gedoen wat in wisselbou met mielies geplant word. Omdat die mieliedrempelwaardes vir P en K hoër is as byvoorbeeld vir sojabone, word aanbeveel dat die drempels wat vir mielies daargestel is in wisselboustelsels gehandhaaf word. Ontledings van mobiele elemente behoort jaarliks gedoen te word, terwyl ontledings van niemobiele elemente elke drie tot vier jaar gedoen kan word.

Stikstof (N)
Ureum wat op die oppervlak toegedien is of net vlak toegeskoffel is, sal deur vervlugtiging as ammoniak verlore gaan as dit nie dadelik ingewerk of ingewas word nie. Onder warm toestande gaan 40% tot 50% op dié manier verlore tensy ureum met ’n urease-inhibeerder behandel is. Die effek van urease-inhibeerders om opbrengs te verhoog, is veral prominent by suboptimale N-peile en vroeë N-toedienings voor vier weke na plant.

Wanneer vry water naby of bo-op die oppervlak vir periodes van ’n paar dae teenwoordig is, kan betekenisvolle nitraat-N-verliese in die vorm van atmosferiese N (N2 of N2O) plaasvind.

Vertikale nitraat-N- en ureum-N-loging is veral van toepassing op goed gedreineerde sandgronde, terwyl laterale loging veral op sanderige watertafelgronde met ’n keerlaag kan voorkom. Indien dit egter so droog was en steeds so droog gaan bly dat waterbewe­ging nie plaasvind nie, sal selfs nitraat-N wat nie benut is nie steeds beskikbaar wees. Indien ureum of ammoniumbevattende N-bronne met ’n nitrifikasie-inhibeerder behandel is, sal dit ammonium-N vir ’n langer periode in die vorm hou en sal daar dus baie minder loging van N plaasvind.

Met watertafelgronde vind loging van voedingstowwe tot in die vry water plaas. Dit is egter dan dikwels nie beskikbaar vir opname nie, omdat daar weens ’n suurstoftekort nie wortels in die vry water ontwikkel nie en voedingstofopname buitendien nie sonder suurstof kan plaasvind nie.

Die meting van anorganiese N vir ’n diepte van 0 tot 60 cm voor die aanvang van die volgende seisoen en/of teen drie weke na plant word ten sterkste aanbeveel om te bepaal hoe­veel residuele N oor is. Terselfdertyd is hierdie metings ’n aanduiding van anorganiese N-vrystellings uit organiese materiaal.

Anorganiese N-ontle­dings het al tot baie groot bespa­rings in N-aanbevelings gelei. Ter illustrasie was die aanbe­veling vir die produksie van 12 ton mielies/ha, 200 kg N/ha ge­baseer op verwagte N-graanverwydering. Nadat die grond voor plant van 0 tot 60 cm diep ontleed is, is vasgestel dat daar meer as 200 kg­N/ha reeds in die grond was en dat verdere lewering van anorganiese N uit organiese N verwag is. Die aanbeveling is dus met 200 kg N/ha verminder na 0 kg N/ha. ’n Proef wat verskillende N-peile ingesluit het, het aangetoon dat 12 ton mielies/ha by 0 kg N/ha verkry is, maar dat opbrengs met 10% onderdruk is toe 200 kg N/ha toegedien is. Al sou daar genoeg anorganiese N in die grond wees, word steeds aanbeveel dat ten minste 20 tot 40 kg N/ha in ’n plantmengsel gebandplaas word.

Anorganiese N-ontledings wat aanleiding gee tot ’n verhoging in N-aanbevelings behoort nie net opbrengs te verhoog nie, maar ook die wins.

Fosfor (P)
Ontledings vir optimum-P (Bray 1) varieer volgens die klei-en-slik-inhoud van die grond. Vir elke land of elke punt op ’n land (ruitmonsters) moet die optimum eers bepaal word en dan moet bepaal word hoe ver die ontleding daarvan afwyk. Indien die bogrond 13% klei plus slik bevat, moet die bogrond 38 mg P/kg (Bray 1) wees om 95% van die opbrengspotensiaal van die volgende seisoen te verkry. Vir ’n grond met klei plus slik van 60% is 20 mg P/kg (Bray 1) vir ’n 95%-opbrengs nodig. Tekorte vir optimale breedwerpige regstellings word met ’n faktor gemaal, wat ook volgens klei varieer. Alternatiewelik kan tekorte ook oor jare reggestel word deur meer as verwagte P-verwydering in ’n plantmengsel te bandplaas.

Minder as verwagte onttrekking kan aanbeveel word wanneer die ontleding meer is as die optimum. Volgens die hoeveelheid P wat werklik onttrek is na die afgelope jaar of jare sedert die laaste P-ontleding, kan bepaal word of P-toedienings in die volgende jaar verminder kan word al dan nie. Veronderstel ’n optimum P van 25 mg/kg (Bray 1) word nagestreef en P-ontledings was net meer as dit voor die vorige seisoen, dan sou 24 kg P/ha vir 8 ton mielies/ha (3 kg P/ton) aanbeveel word. Weens die lae reënval is 5 t/ha in 2024 geoes. Die toediening vir die volgende seisoen kan nou met 9 kg P/ha verminder word, wat beteken dat slegs 15 kg P/ha aanbeveel sal word. Indien die P-ontledings vir dieselfde scenario onder 25 mg/kg was en nog steeds sal wees, sal nie aanbeveel word dat daar in die volgende seisoen op P-bemesting besnoei word nie.

Optimumdrempelwaardes vir P (Mehlich 3) is nie met navorsing bepaal nie en wanneer verwantskappe met P (Bray 1) gebruik word, moet dit vir elke grond afsonderlik bepaal word.

Kalium (K)
Reaksie op K-bemesting is in ’n groot mate afhanklik van K-ontledings in die bogrond, maar ook van die benutting van ondergrondse K. Vir die meeste mielieproduksie-areas word daar ’n groot gedeelte van die kalium uit die onder­grond benut en dan sal geen K aanbeveel word wanneer die bogrond meer as 100 mg K/kg (AmAs) bevat nie. Tussen 80 mg K/kg­en 100 mg K/kg sal dit slegs in stand gehou word (4 kg K/ton mie­lies), maar onder 80 mg K/kg sal net meer as verwagte verwydering gegee word of algehele regstellings deur breedwerpige toe­dienings onder hoëproduksie-omstandighede gemaak word. Wanneer die ondergrond minder as 20 mg K/kg bevat of wortelontwikkeling in die ondergrond swak is, sal geen K aanbeveel word wanneer die bogrond bokant 140 mg K/kg is nie. Tussen 120 mg K/kg en 140 mg K/kg sal dit in stand gehou word en onder 120 kg/ha sal net meer as verwagte verwydering gegee word of algehele regstellings deur breedwerpige toedienings gemaak word.

Dieselfde beginsel as wat vir P na ’n droë jaar geld, is ook op K van toepassing. Onder genoemde drempels sal nie aanbeveel word dat daar na ’n droë jaar op bemesting bespaar word nie, maar binne instandhoudingsgrense kan daar bespaar word. Gestel daar is laas jaar 32 kg K/ha gegee vir 8 t/ha-verwydering, maar slegs 5 t/ha is verkry. K-bemesting kan nou met 12 kg/ha afgeskaal word, wat beteken dat slegs 20 kg K/ha aanbeveel sal word.

Optimumdrempelwaardes vir K (Mehlich 3) is nie met navorsing bepaal nie en wanneer verwantskappe met K (AmAs) gebruik word, moet dit vir elke grond afsonderlik bepaal word.

Kalsium (Ca) en Magnesium (Mg)
Ca- en Mg-aanvullings word gewoonlik genoegsaam gedoen wanneer grondsuurheid met bekalking reggestel word. Ca en Mg behoort ook soos met K volgens AmAs-ekstraksies gedoen te word. Ca-ont­ledings behoort vir genoemde rygewasse ten minste >100 mg/kg te wees. Mg behoort >50 mg/kg op sandgronde te wees en op alle ander gronde >100 mg/kg. Indien die drempels bereik is, is dit nie nodig om die ontledings van die elemente te verhoog deur bekalking of met ander voedingstowwe nie.

Mikro-elemente
Mikro-elemente is nie minder belangrik as makro-elemente nie. Uiters groot opbrengsverliese is moontlik indien enige van hierdie noodsaaklike elemente tekortskiet. Sojaboonopbrengsverhoging van soveel as 2 t/ha is al byvoorbeeld in KwaZulu-Natal met Mo-blaarbespuitings alleen verkry. Die koste verbonde aan regstellings van klein hoeveelhede mikro-elemente is relatief laag.

Zn, Mn, Fe en Cu behoort volgens DTPA-ekstraksies gedoen te word, B met warmwaterekstraksies en Mo met ammoniumoksalaat. Drempelwaardes volgens die metodes is wêreldwyd in bewese navorsing gerapporteer. Tekorte kan effektief opgehef word met kuns­misbekleding of blaarbespuitings in die regte formulerings.

Grondsuurheid
Suur gronde moet slegs bekalk word indien bekalking opbrengs betekenisvol sal verhoog. Grondsuurheid word volgens pH(KCl) of pH(H2O) bepaal, maar pH(KCl) is ’n beter maatstaf. Afleidings van pH(H2O)-waardes om pH(KCl)-waardes te verkry is nie akkuraat genoeg oor alle gronde nie. Indien die pH(KCl)<5 is, is dit moontlik dat opbrengs deur aluminium- (Al-) en Mn-toksisiteit verminder kan word. Al-toksisiteit moet met uitruilbare suurontledings en suurversadigingberekenings bepaal word. Vir hierdie doel is K-, Ca-, Mg- en Na-ont­ledings volgens AmAs noodsaaklik. Mn-toksisiteit word deur Mn(DTPA)-ontledings bepaal. Navorsing het bewys dat verhoudings tussen elemente soos Ca, Mg en K nie verband hou met opbrengs nie en daarom is bekalking volgens die verhoudings nie geregverdig nie.

Blaarontledings
Blaar- of blaarsapontledings vir regstellings binne dieselfde seisoen en vir die volgende seisoen, word ten sterkste aanbeveel as ’n bykomende instrument in bemestingsbestuur. Blaarsapontledings dui gewoonlik tekorte van meer elemente aan waarop wel ’n opbrengs­reaksie verkry word.

Blaarontledings is noodsaaklik omdat mobiele elemente verlore kan gaan en omdat niemobiele elemente vasgelê kan word. Grondsuurheidsveranderinge naby bandgeplaasde voedingstowwe kan ook die opname van voedingstowwe beïnvloed.

Volledige opheffings van mikro-elementtekorte is met blaarbespuitings moontlik. Sommige makro-elemente kan wel in klein hoeveelhede deur blaarvoeding opgeneem word om groei te stimuleer.

Raadpleeg dr Erik Adriaanse by erikadri@mweb.co.za of by 079 519 7610 vir spesifieke scenario’s.