Desmond se unieke pad na HERLEWINGSLANDBOU

Gepubliseer: 2 Julie 2024

124
Dr Jaap Knot,
ASSET Research

Iemand is besig om die mense op die platteland rondom Frankfort en Tweeling te laat glimlag: Desmond Meyburgh – emosionele, humoristiese en passievolle vyfdegenerasieprodusent van die plase Boomplaas en Malta – het deelnemers tydens die Ottosdal-herlewingslandboukonferensie in April 2024 toegespreek.

Hy noem homself die spreekwoordelike nar van die omgewing omdat hy anders boer as dié rondom hom. Hy boer met baie klein organismes en noem homself ’n deeltydse tronkbewaarder omdat hy sy vrylopende varke agter drade moet hou. Wat vir die een lagwekkend is, begin al hoe meer sin maak vir die Meyburgh-familie. Desmond het in 2017 al begin om die leisels oor te neem by sy nou oorlede pa, Toit Meyburgh, wat in 2018 voorgestel het dat hulle moet oorskakel na no till.

Die plaas se langtermyn- gemiddelde reënval is 700 mm per jaar, maar ten tyde van sy praatjie het dit maar tussen 254 en 381 mm gelê. Desmond, met ’n graad in meganiese ingenieurswese, het in 2017 begin boer op die plaas Malta. Dit was toe al vir 14 jaar ’n konvensionele beesplaas.

In 2017 is die eerste sojaboonkontantgewas geplant; in 2018 is begin met ’n geenbewerkingstelsel en in 2019 is dekgewasse en hoëdrukstrookbeweiding met beeste ingebring. In 2020 het hy sy beeste en skape se dosering met ivermektien gestaak.

Die gemiddelde produksiekoste vir wit- en geelmielies is R5 024/ha.

Bewerkingspraktyke
Desmond het besluit om alles “volgens die boek te doen”. Hy het begin deur presisieregstellings vir pH, P (fosfor) en K (kalium) met konvensionele bewerkings (rip en dis) op sy lande te doen (voor hy finaal sou oorskakel na geenbewerking), maar dit het veroorsaak dat hy daardie jaar ’n verlies gemaak het as gevolg van hoë insetkoste. Dit het gelei tot die besluit om in 2021 alle sintetiese kunsmis asook plaag- en swamdoders te staak. In 2022 is dit alles vervang met selfgemaakte plaasinsette soos Johnson-Su-kompos, ekstrakte en tees. Desmond is tans volstoom op die bewarings- of herlewingslandboupad.

In 2023 het sy oopbestuifde geelmielies (met ’n stand van 47 000 plante/ha) net 3,9 kg stikstof/ha, 2 kg P/ha en 2 kg K/ha gekry en in die 2024-seisoen net 5 kg ureum/ha. Volgens Desmond is twee dinge seker in die Oos-Vrystaat: ’n midsomerdroogte en ’n kontantvloeiprobleem. Om te bly boer moet dié twee uitdagings getakel word. Hy benadruk die groot belang van grondekosisteemgesondheid en die bygaande biologie wat lei tot ’n verbeterde reënwaterinfiltra­sietempo en waterhoukapasiteit van die grond. Meer nutriënte word vrygestel en hersirkuleer; koolstof word in die grond opgebou en dit alles saam maak die grond meer veerkragtig en bestand teen die midsomerskok. Dit het twee essensiële mylpale tot gevolg: die vermindering van insetkoste en produksierisiko.

Onkruidbeheer
Dit stop egter nie daar nie. Desmond het begin navorsing doen oor hoe om sy slangbosgeïnvesteerde veld te herstel. Daar was twee opsies: on­kruiddoder en beweiding deur varke. Hy het laasgenoemde gekies. Terwyl hy die varke se voeromset met byvoeding verbeter (dit wissel tussen 1,9 en 2,8), is hy besig om sy natuurlike hulpbronne op te bou. En die varke is ’n perfekte oplossing vir die slangbosprobleem.

Wyse lesse is geleer in die gebruik van elektriese heinings, onder meer om elektriese nette te vervang met elektriese drade (polywire). Hy mik uiteindelik om skaapstaalhekkies te gebruik “to keep the ruthless criminals in maximum confinement”. Desmond se kinders is mal oor die varkies, maar die groot vraag is of dit alles finansieel sin maak. Wel, hy was in staat om die kontantvloeiverhouding van die plaas van 2,32:1 (sonder varke) te verbeter na 2,71:1 (met varke). Dit beteken vir elke rand gespandeer is daar R2,71 wat terugkom.

Insetkoste
Desmond se benadering om eksterne­ produksie-insette te verminder, lewer ook vrugte op. Die gemiddelde pro­duksiekoste vir wit- en geelmielies is R5 024/ha en vir sojabone R3 978/ha. Teen huidige Safex-pryse is die gelykbreekopbrengste 1,04 t/ha (witmie­lies), 1,23 t/ha (geelmielies) en 0,42 t/ha (sojabone). Hierdie seisoen se mielies en sojabone was tydens die Ottosdal-konferensie nog nie gestroop nie, maar die verwagte winsmarges vir ’n 4 t/ha-mielie-oes en ’n 1,7 t/ha-sojaboonoes het goed gelyk. Met bostaande opbrengsvlakke lyk die wins na R24 300, R19 591 en R13 021 per hektaar vir witmielies, geelmielies en sojabone onderskeidelik. Desmond gaan selfs verder en vergelyk verskillende mie­liekultivars. Die slotsom is dat basters hoër opbrengste kan oplewer, maar die wins per hektaar moet volgens risiko bestuur word.

Hy verduidelik dat die opbrengs­koers vir beeste, kontantgewasse en varke tans onderskeidelik 25%, 259% en 158% is. Desmond vat dit mooi saam dat al drie sy bedryfstakke met verskillende opbrengskoerse belangrik is en saam gebruik word in volledige risikobestuur.

As familieman in hart en siel, sien Desmond kans vir hierdie unieke reis in herlewingslandbou. Hy daag die gehoor uit met die vraag: “Hoekom kan julle dit nie ook so winsgewend doen nie?” Hy sluit sy aanbieding emosioneel af met die getuienis dat sy oorlede pa hom die kans gebied het en volle vertroue in hom gehad het. “Vaders, julle moet nie hoop opgee nie, en seuns, moenie die geleenthede mis nie.”

Desmond is tans volstoom op die bewarings- of herlewingslandboupad.