Drie in ’n ry vir sonneblomprodusent

Gepubliseer: 13 Desember 2023

390

As plaasbestuurder van FP van Rooyen Boerdery naby Lichtenburg, kon Gawie du Plessis breëbors op die verhoog stap tydens die Groei vir Goud-opbrengskompetisie se prysuitdelingsgeleentheid om vir die derde agtereenvolgende jaar as die sonneblomkoning van die land gekroon te word. Dit is duidelik dat hulle ingesteldheid om voortdurend te meet sodat hulle kan verbeter, vrugte – of in dié geval opbrengs en olie – afwerp!

Vanjaar het hulle met die louere weggestap met ’n olie-opbrengs van 2,05 t/ha en ’n graanopbrengs van 4,166 t/ha. Die olie­persentasie was 45,90%. Die kultivar wat so goed presteer het, is die Pioneer-sonneblomkultivar P65LL02. Die huidige standaard vir olie-inhoud van sonneblomsaad is tussen 36% en 38% – ’n oliepersentasie van 45,9% is dus uitstekend. Volgens Du Plessis het genetika en hitte-eenhede die grootste invloed op die olie-opbrengs en die geheim van hulle sukses lê daarin om die twee bepalende aspekte in kombinasie te bestuur.

Die sonneblom is aan Abacus gelewer. “Sonneblomproduksie se toekoms lê vasgevang in olie. Hoewel graanopbrengs altyd be­langrik sal bly, word al hoe meer klem geplaas op olieproduksie en val die fokus in teling al meer op kultivars met ’n hoë olie-inhoud wat bydra tot die verwerker en produsent se winsgewendheid,” sê Du Plessis.

Dit is die sesde jaar wat hulle hierdie betrokke kultivar aanplant en in die 2022/2023-seisoen het hulle in totaal 1 029,32 ha daarvan geplant. Hulle het ook Pannar-kultivars geplant. Du Plessis beklemtoon dat die gedeelte wat hulle ingeskryf het geen spesiale behandeling ontvang het nie en dat hulle die normale verbouingspraktyke gevolg het.

Wanneer dit by kultivarkeuse kom, kyk hulle na groeilengte, siekteverdraagsaamheid, opkomsvermoë en natuurlik ook opbrengspotensiaal. Van die saadmaatskappye plant mielie-evaluasieproewe by hulle, maar hulle plant ook hul eie proewe op klein skaal. “Ons gebruik nie ’n produk wat ons nie self eers op die plaas beproef het nie. Ons is altyd oop om nuwe produkte te probeer, maar toets dit eers self. Ons hou in gedagte dat toestande van een plaas na ’n ander verskil – die land waarop geplant word, maak ’n groot verskil. ’n Mens kan nie ’n besluit oor ’n nuwe produk baseer op die inligting wat in een seisoen, op een land of met een stel proewe ingewin is nie. Om ’n kultivar behoorlik te beoordeel moet ’n proef met ’n kontrole geplant word waarteen jy jou proefresultate kan toets.”

Benewens sonneblom (26%), plant hulle mielies (69%) en witbone (5%). Die weiding word verhuur. Die mielies is tussen 24 November en 22 Desember 2022, die sonneblom tussen 24 Desember 2022 en 4 Januarie 2023, en die bone tussen 10 Januarie 2023 en 8 Februarie 2023 geplant.

Die sonneblomblok wat vir die kompetisie ingeskryf is, is op 31 Desember 2022 geplant. Die rywydte was 914 mm teen ’n plante­stand van 45 000 plante/ha. Die blok is in Junie 2023 gestroop.

Gawie du Plessis van FP van Rooyen Boerdery naby Lichtenburg staan trots by die land wat die rekordopbrengs gelewer het.

Werktuie
Du Plessis span John Deere- en Massey Ferguson-planters in om die gewasse in die grond te kry en die sonneblom is met ’n John Deere S660 met ’n Nardi-sonneblomtafel gestroop.

Die boerdery gebruik John Deere se RTK-stelsel op die meeste van die groter trekkers en die planters is met Cerealis Precision se V-stel-eenhede asook hulle 20/20-moniteringstelsels toegerus. Die planters is ook met elektriese saadaandrywing toegerus. Müller se stelsel word gebruik om die kunsmisbakke hidroulies aan te dryf, wat hulle in staat stel om die kunsmis variërend toe te dien. Verder span hulle FieldView Plus in om die gewasse deur die seisoen te monitor. “Dit is baie handig om die planters en stropers intyds te monitor as ’n mens in die kantoor moet wees vir ander werk,” sê Du Plessis.

Volgens hom bly dit ’n kopseer om sonneblom egalig op te kry sodat daar ’n goeie plantestand is. Goeie saadbedvoorbereiding is dus noodsaaklik, meen hy. “Elke eenheid op die planter moet dieselfde saadbed-omgewing hê en een moet nie op die voor en die ander op die wal plant nie.”

Wat bemesting op die sonneblom betref, gebruik hulle ’n mengsel wat Greenlands vir hulle opmaak teen 155 kg/ha asook 80 kg/ha ureum wat tydens planttyd toegedien word.

“Ons gebruik Microbika se produkte vir mielies en sonneblom en dien dit in die saadvoor toe vir beter wortelontwikkeling. Beter wortelontwikkeling beteken dat die voedingstowwe beter opgeneem word en ’n gesonde plant is meer bestand teen siektes en swamme. ’n Boor-en-molibdeen-mengsel word bykomend saam met die swamdoders toegedien.”

Om onkruid te beheer het hulle van die sonneblomlande voor plant met ’n vooropkomsmiddel gespuit. “Per hektaar het ons 1,3 ℓ S-metolachloor en 0,05 ℓ Karate Zeon gespuit. Na opkoms skoffel ons.”

Volgens Du Plessis is die grootste uitdaging om dinge betyds te doen en om gereed te wees as die toestande van so ’n aard is dat hulle kan plant. “Ons is op ’n spoorverkeerstelsel wat tyd spaar, veral gedurende planttyd.” Die stronke word gekap en kalk word voor plant in die lande ingesny soos nodig. Dit word opgevolg met ’n diep tandbewerking – as dit nodig is, word daar geploeg. Daarna berei hulle die saadbed voor en merk die rye uit. Hulle hou die saadbed meganies skoon en sal onkruiddoder voor planttyd toedien.

Hulle laat jaarliks grondontledings doen. ’n Land word een keer elke drie jaar ontleed en dan word die bemesting volgens die resultate aangepas. Die grondontledings vir die blok wat ingeskryf is, het die samestelling as volg aangedui: pH (KCl) 5,5-6; fosfor (P) (Bray 1) 14-21; kalium (mg/kg) 180-220; kalsium (mg/kg) 700-1 000; magnesium (mg/kg) 150-300; natrium (mg/kg) 20-30 en swael 10-20.

Klimaat
Hulle gemiddelde reënval vir die plantseisoen op die ingeskrewe land was 592 mm. “Reën maak of breek ons. Tog bly ons altyd dankbaar vir elke druppel water wat ons deur die seisoen ontvang.” Du Plessis voeg by dat hoewel die hoeveelheid neerslag belangrik is, die verspreiding gedurende die seisoen en tydens die groeistadium van die gewas net so belangrik is. Die temperatuur gedurende die dag speel ook ’n rol.

Gegewe die gebied waarin hulle boer, kyk hulle deurlopend hoe hulle vog kan bewaar. “Waterbestuur bly ’n uitdaging, maar ons werk voortdurend daaraan om ons waterbestuur na ’n hoër vlak te neem. Waterafloop was altyd ’n groot probleem en die afgelope paar jaar is ons besig om te kyk hoe ons die probleem kan aanpak. Ons het al die rigting van die rye op die lande verander sodat ons volgens ’n basiskontoer plant.”

In teenstelling met dikwels in die verlede, het hulle die afgelope seisoen met ’n nat voorseisoen gesukkel en het dit vasbyt gekos om die saad in die grond te kry. “Ons het dikwels vasgesit met die plan­ters en moes behoorlik planne maak om geplant te kry.”

Du Plessis meen dat dit noodsaaklik is om voortdurend te kyk hoe om praktyke aan te pas en te verbeter. “Ons wil altyd verbeter, nie net om winsgrense te optimaliseer nie, maar ook om ons grond te verbeter. Ons wil seker maak dat die produkte wat ons gebruik ’n positiewe uitwerking op opbrengs het.” Hy bedank Graan SA vir die werk wat hulle doen en die geleentheid wat produsente het om deel te neem aan die opbrengskompetisie. “Hierdie kompetisie maak dat ’n mens net weer ’n slag na jou praktyke kyk om te bepaal waar jy met klein aanpassings ’n groot verskil kan maak op opbrengs en winsgewendheid.”

Hy vul sy kennis aan deur artikels op die internet en in tydskrifte te lees en met kundige mense wat die plaas besoek te gesels. Hy toets verder sy gedagtes met landboukundiges van die saad-, kuns­mis- en chemiese maatskappye.

Sy raad aan jong produsente is om hulself met soveel kennis as moontlik toe te rus. “Weet wat in jou grond aangaan. Weet wat op die land en in die stoor aan die gang is. Moet nooit ophou meet en kyk nie.”

Tong in die kies wens Du Plessis dat al die beloftes in advertensies altyd kon waar word. “Ek wens dat ’n trekker nie dae staan as daar iets groots gebreek het nie en ek wens dat ons die onderdele sommer al die volgende dag kon kry.”