Belê in jou grond

Gepubliseer: 13 Desember 2023

329

In die afdeling vir sojabone wat onder besproeiing verbou word, het Jan van Heerden van Hartswater vanjaar weer in die Groei vir Goud-opbrengskompetisie met die louere weggestap. Verlede jaar het hy hierdie afdeling gewen met ’n opbrengs van 6,28 t/ha en vanjaar het hy selfs hierop verbeter. Hy het ’n wenopbrengs van 6,668 t/ha met die Don Mario-Agricol-variëteit DM 5953RSF behaal.

Van Heerden boer saam met sy pa in die Vaalharts-besproeiingskema in die Noord-Kaap met pekanneute, lusern, koring, mielies en dan die afgelope seisoen ook met sojabone. Hy is die derde geslag op die perseel en boer sedert 2003 voltyds. Benewens die gewasse boer hulle met Bonsmara-beeste en wild.

Die verdeling van sy gewasse bestaan uit ongeveer ’n derde lusern, 40% koring of mielies en 10% tot 20% sojabone. Die gewasse volg mekaar op in ’n wisselboustelsel. Diversifikasie verlig produksie­risiko’s, meen hy.

Hy het weer ingeskryf omdat hy van uitdagings hou en wou kyk of hy op verlede jaar se prestasie kon verbeter. Hy het nie net verbeter nie, maar ’n nuwe opbrengsrekord behaal.

Só behaal Jan ’n eerste plek
Die blok wat hy ingeskryf het, is glad nie anders bestuur as die res van die sojabone nie. In die vorige seisoen was daar mielies op die betrokke gedeelte. Nadat hy 10 ton beesmis/ha gestrooi het, het hy dit in die grond ingewerk met ’n hoëspoeddis. Daarna het hy die grond diep losgemaak met ’n Agricol T1000. Die laaste bewerking voor plant was om die reste weer in te spit met ’n Farmax-spitter. Hy het 280 000 pitte/ha met ’n Monosem-planter geplant met ’n rywydte van 570 mm. Die sojabone is middel Maart gestroop met ’n Challenger 660B. Wanneer hy mielies plant, pas hy minimumbewerking toe en plant direk in die oesreste.

Van Heerden het 55 ha van DM 5953RSF geplant gedurende die laaste week van Oktober in 2022. Wanneer hy ’n variëteit kies, kyk hy na opbrengs, graankwaliteit, siekteverdraagsaamheid en gemak van stroop. “Ek kry heelwat van die inligting wat ek benodig vir be­sluitneming by my saad-, kunsmis- en gewasbeskermingsagente. Ons is gelukkig dat hierdie verteenwoordigers kundig is en ons van goeie raad voorsien.”

Hy plant nie self proewe nie, maar sorg dat hy op hoogte bly van proewe wat in sy nabye omgewing geplant word. Hy woon ook inligtingsdae by en glo daaraan om vrae te vra. “Moenie bang wees om raad te vra nie, dis die goedkoopste,” is sy advies.

’n Goeie mate van presisie word bereik deur die GPS-stelsel op die planters en die vogmeters wat hy gereeld raadpleeg vir meer akkurate waterskedulering.

Van Heerden beheer die onkruid op die lande deur sover moontlik ’n vooropkomsmiddel op die lande te spuit na plant maar voor opkoms. Hy spuit wel glifosaat, maar net wanneer die onkruiddruk besonder hoog is. Op die sojaboonlande wat ingeskryf is, het hy ’n vooropkomsmiddel direk na plant gespuit en daarna twee keer met glifosaat opgevolg.

Benewens die beesmis wat in die lande ingewerk word, het hy per hektaar vier weke na opkoms 300 kg Opti 2:3:4(18), 2 ℓ Liquido Zn en 2 kg boor toegedien. Met peulverskyning het hy per hektaar 300 kg Aqua Tech 3:1:6(15) saam met magnesium en boor toegedien.

Met eerste blom het hy ’n blaarvoedingsmiddel, Benomyl, deur die spilpunt toegedien en dit vier weke later herhaal. Vier weke na opkoms het hy Fighter (kaliumfosfiet) toegedien om wortelontwikkeling te stimuleer.

Uitdagings wat oorkom moes word
As gevolg van die uitdagings wat beurtkrag die vorige seisoen meegebring het, moes Van Heerden die mas opkom met kragopwekkers. Dit was egter nie die antwoord nie en tans is die helfte van die plaas nou heeltemal op sonkrag aangewese. “Ek is besig om die ander helfte van die plaas se sonkragstelsel op te rig.”

Volgens hom is die afgelope seisoen gekenmerk deur gemiddelde reën, maar gedurende die midsomer was die temperature uiters hoog. Die feit dat hy sonkrag gehad het vir besproeiing gedurende dié tydperk, het ’n groot verskil gemaak.

Nog ’n uitdaging wat verband hou met die hitte, is dat die sojaboonplante baie hoër as normaal gegroei het. “Dit was ’n uitdaging om die plante te besproei sonder dat hulle omval.”

Om die goue ewewig tussen hoë opbrengs en winsgewendheid te bereik is nie altyd so maklik nie. Van Heerden sê: “Dit bly ’n moeilike vraagstuk. Een bestuursaspek wat help om koste in toom te hou is om deur die seisoen gereeld blaarmonsters te neem om seker te maak dat onnodige kunsmis nie toegedien word nie. Kunsmis is een van die duurste insette en wat jy hier kan spaar, help met winsgewendheid. Aan die ander kant kos goeie opbrengs geld. Hoë opbrengs is nie moontlik as jy nie bereid is om in jou grond te belê nie. Dit is waar die waarde van ’n goeie wisselboustelsel en grondgesondheid na vore kom.”

Van Heerden meen een van die belangrikste fundamentele beginsels in gewasproduksie is om na die grond om te sien. “Toe ek plaas toe gekom het, was die belangrikste ding wat ek gedoen het om die grond gesond te kry. So kon ek opbrengste verhoog. Sorg vir die grond en hy sal vir jou sorg,” is sy raad.

Hy dink verder dat die oplos­sings vir vele boerderyvraagstukke in presisieboerdery lê. “As ’n mens alles meet en daarvolgens besluite neem, is dit besluite wat op kennis gebaseer is. Dan moet jy verder presies wees met alles wat jy doen – elke aspek waar jy meer presies kan werk bring of ’n verbetering in opbrengs of die uitskakeling van onnodige uitgawes mee.”

Jan van Heerden van Hartswater is ’n multijaarwenner in die afdeling vir sojabone wat verbou word onder besproeiing. Hier het hy een van die sojaplante uitgetrek om seker te maak die plant se ontwikkeling is na wense.
Foto: Charl van Rooyen, Landbouweekblad