Slim planne help om uitdagings te hanteer

Gepubliseer: 2 Oktober 2023

236
Magda du Toit,
SA Graan/Grain-medewerker

Produsente in Suid-Afrika is voortdurend besig om die talle uitdagings waardeur die landbousektor in die gesig gestaar word, te beveg. Uitdagings soos klimaat­s­kommeling, stygende inset- en produksiekoste asook internasionale markkragte maak dit moeilik om jaar na jaar produksiemikpunte te handhaaf en volhoubaar te bly produseer.

Om sake verder te bemoeilik, is toegang tot betroubare en bekostigbare elektrisiteit nog ’n inskrywing op die lys van uitdagings. Beurtkrag asook kragonderbrekings as gevolg van kabeldiefstal of verswakte infrastruktuur het ’n enorme impak op boerderye wat vir hulle besproeiing, pakhuise, verkoelingstelsels, hoenderhokke of voerkrale van elektrisiteit afhanklik is.

Produsente moet daarom slim planne beraam en ekstra geld bestee om te verseker dat produksie kan voortgaan.

Goeie grond- en waterbestuur
Dit is in hierdie milieu dat dr Ferdi Meyer, direkteur van die Buro vir Voedsel- en Landboubeleid (BFAP), saam met sy broer Randolf, ’n landbou-adviseur, en hul pa, Herbert, op hul familieplaas naby Rustenburg met graangewasse en Bonsmarabeeste boer.

Die Meyers verbou sojabone en koring onder spilpuntbesproeiing asook droëlandsonneblom en -sojabone. Hulle volg ’n hoë-intensiteitdubbeloesstelsel – oftewel ’n double cropping-stelsel – wat beteken dat hulle in die somer sojabone en in die winter koring op dieselfde land onder besproeiing plant. In hierdie verbouingstelsel is waterbehoefte ’n bestuursaspek wat toegewyde aandag verg. Volgens dr Meyer is waterbeskikbaarheid,  elektrisiteitsvoorsie­ning en die koste van besproeiing van die grootste uitdagings waarmee hulle boerdery te kampe het. “As boere moes ons anders begin dink om dié uitdagings te hanteer. Ons moes eenvoudig kyk na ons wyse van grond- en waterbestuur.”

Oor die afgelope jare het hulle begin om hulle waterverbruik fyner dop te hou. “Ons moes fyner begin kyk na hoe ons water gebruik. Waterbeskikbaarheid en besproeiing binne ons gewasbe­stuurstelsel vereis deeglike monitering om optimale watertoediening te verseker. Waterstremming kan ons produksie benadeel.”

Volgens hom kan besproeiing slegs doeltreffend wees as ’n mens weet wanneer en hoeveel water om toe te dien. “Om ons water doeltreffend te skeduleer, is dit belangrik om te weet hoeveel water die gewas gebruik het, hoeveel water in die grond beskikbaar is en hoeveel water die gewas nog nodig gaan hê sodat die regte hoeveelheid water weer toegedien kan word. Hierdie is ’n ou beginsel wat al baie jare deur boere toegepas word, maar tegnologie maak dit deesdae meer toeganklik en makliker om te bestuur.

“Hoewel presisieboerdery aanvanklik ingewikkeld lyk en duur is, bly dit ’n belegging. Deur lande volgens hul potensiaal te bestuur, verseker ons dat ons water effektief gebruik en meer volhoubaar boer.”

Data-insameling
Hulle het grondvogmeters geïnstalleer sodat hulle akkurate voglesings kan neem. “Die opbou van grondwaterprofiele met behulp van grondvogmeters (probes) maak in kritieke produksiemaande ’n wesenlike verskil in ons besproeiingstelsels. Die vogmeters neem deurentyd lesings en ek kan enige tyd op die internet inteken en kyk hoe lyk my grond.”

Met hierdie inligting op die vingerpunte beskikbaar, kan hulle ingeligte besluite neem oor hoeveel water die gewas op die spesifieke tydstip van sy ontwikkeling nodig het, sê dr Meyer. “Behalwe dat ons fyn dophou hoe­veel water ons gee, besproei ons hoofsaaklik snags wat beteken dat ons baie minder water aan verdamping verloor.”

Die impak van beurtkrag
Benewens die feit dat hul waterbestuur by hierdie praktyk baat vind, het dit hulle ook in ’n mate gehelp om die uitdagings wat beurtkrag bring, beter te hanteer.

Hy wys egter daarop dat hoewel hulle in staat is om beurtkragfases 0 tot 3 tot ’n mate te kan absorbeer, bly fase 4 en hoër steeds ’n uitdaging. “Om te probeer byhou met jou besproeiingskedule deur die gebruik van dieselkragopwekkers maak nie finansieel sin nie. Om ’n kragopwekker te gebruik is vier tot vyf keer duurder as wanneer Eskom-elektrisiteit gebruik word. Hoewel kragopwekkers met tye ’n uitkoms bied en skade in mindere mate kan beperk, is dit nie die antwoord op lang termyn nie.”

Verder moet onthou word dat die kapitale uitleg vir die installering van alternatiewe energie baie hoog is. “Hoewel boere bereid is om self in te spring om infrastruktuur- en ander uitdagings aan te pak, is almal nie in die finansiële posisie om byvoorbeeld ’n sonkragsisteem te installeer nie.

“Om te oorleef sal ons al meer doeltreffend moet boer. Ons sal anders moet kyk na ons grond- en waterbestuur. Wanneer koste nie meer sin maak nie, moet produsente anders dink en ander planne maak.”

Die Agro-energiefonds
Intussen het Thoko Didiza, Minister van Landbou, Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling, onlangs die Agro-energiefonds bekend gestel.

Sonenergie en ander hernubare bronne soos wind- en hidrostelsels, kan produsente in staat stel om aan te hou werk as daar onderbrekings as gevolg van beurtkrag of kabel­diefstal is. Produsente wat dit oorweeg om na alternatiewe kragbronne uit hernubare energie oor te skakel, kan nou baat vind by hierdie energiefonds omdat die lenings hulle in staat kan stel om die groot kapitale uitleg te maak.

Die fonds se fokus sal wees om energie-intensiewe landboube­drywe te finansier om die impak van beurtkrag op produksie te verminder. Kleinskaalse boere sal toegang hê tot hulp van tot R500 000­ (’n 70%-toelaag en ’n 30%-lening), mediumgrootte boere tot R1 miljoen (’n 50%-toelaag met ’n 50%-lening) en groot kommersiële produsente tot R1,5 miljoen.

Hierdie fonds volg uit die aanbevelings van ’n ondersoekspan wat deur die minister aangestel is om te kyk hoe die impak van beurtkrag op die landbou gemitigeer kan word. Die span het bestaan uit Agri SA, Agbiz (Landboubesigheidskamer), BFAP en amptenare van die departement.

“Hierdie tipe hulp is van kardinale belang vir landbouproduksie in die land. Hoewel die fonds nie alle probleme en uitdagings gaan uitskakel nie, is dit ’n tree in die regte rigting,” meen dr Meyer.

Hy waarsku egter dat produ­sente wat dit oorweeg om oor te skakel na alternatiewe energie en wat om finansiering vir hernubare energie wil aansoek doen, fyn berekeninge moet doen rakende die beleggingstydperk en terugbetaalvermoë en deeglike navorsing ten opsigte van verskaffers, toerusting en oplossings. “Vergelyk die verskillende tegnologieë en toerusting, pryse, waarborge en naverkoops­instandhouding,” beveel hy aan.