Goss-verwelksiekte is ’n uitdaging vir Suid-Afrikaanse mielieprodusente wat die afgelope seisoen kop uitgesteek het. Dit word veroorsaak deur die bakterie Clavibacter michiganensis subsp. nebraskensis, wat hoofsaaklik mielies en sekere grasse affekteer, insluitend sorghum, foxtail-spesies en verwante gewasse. Dit is nie bekend dat die bakterie groente besmet nie, aangesien sy gasheerreeks spesifiek tot graan- en grasspesies beperk is.
Hierdie plantsiekte veroorsaak ernstige blaarskroei, sistemiese infeksie en groeivertraging, wat uiteindelik tot ’n opbrengsverlies lei. Die siekte versprei deur besmette gewasreste, windgedrewe reën, besproeiing en besmette toerusting. Dit dring plante binne deur wonde wat veroorsaak word deur hael, plae of meganiese skade.
Gedurende die 2023/2024-groeiseisoen is ‘n toename in ongewone simptome in mielielande gerapporteer, wat wetenskaplike ondersoeke tot gevolg gehad het. Gegewe die potensiële impak op opbrengs en handel, het die Departement van Landbou (DoA) ‘n Siektestuurkomitee (SteerCo) byeengeroep om strategieë vir beheer en bestuur te ontwikkel.
Na aanleiding van ’n onderhoud wat SA Graan-tydskrif met dr Godfrey Kgatle, navorsingskoördineerder by Graan SA, gevoer het, ondersoek hierdie artikel die belangrikste uitkomste van die stuurkomitee-besprekings, die risiko’s wat met Goss-verwelksiekte geassosieer word, en bestuurspraktyke wat produsente kan implementeer om die impak daarvan te beperk.


V: Wat is die simptome van Goss-verwelking?
A: Simptome sluit onreëlmatige, waterdeurdrenkte letsels op blare in wat geel, bruin of brons met donker rante word. Dit kan ook misvormde are en pluime veroorsaak. Wanneer die stingel gesny word, kan bruin of rooierige strepe in die vaatweefsel gesien word, en bakteriese slymerige en onwelriekende afskeidings kan uit die snit uitvloei, veral onder druk.
Die siekte floreer in warm, vogtige toestande en versprei deur plantskade of fisiese stres. ’n Gesonde stingel vertoon normaal, stewig en sonder enige verkleuring, letsels of abnormale groei. Verwelksimptome kan ook deur droogte of ander oorsake meegebring word. Produsente word dus aangemoedig om monsters waaroor twyfel bestaan vir toetsing aan Graan SA voor te lê.
V: Hoe versprei Goss-verwelksiekte?
A: Die patogeen versprei deur besmette saad te plant (alhoewel op ’n onbeduidende vlak van 0,05%), gewasreste, grond en sekondêre gasheerplante. Windgedrewe reën, besproeiing en besmette toerusting dra verder by tot die verspreiding. Dit dring die plant binne deur wonde wat veroorsaak is deur hael, plae of meganiese skade. Hoewel dit onwaarskynlik is dat saad die siekte sal oordra, kan dit steeds die siekte na nuwe gebiede versprei.
V: Wat is die huidige status van Goss-verwelksiekte in Suid-Afrika?
A: Die 2023/2024-seisoen vir somergewasse was buitengewoon warm en droog, wat daartoe gelei het dat produsente onbekende simptome in hul mielielande gerapporteer het. Monsters wat aan die LNR-Graangewasse, FABI (UP) en Universiteit Stellenbosch verskaf is, het bevestig dat Goss-verwelking in Suid-Afrika voorkom aangesien amptelike monsters positief getoets het.
- Sowat 14 monsters is ingedien, waarvan vier positief getoets het deur middel van simptoomwaarneming, PCR-molekulêre ontleding en heelgenoomvolgordebepaling.
- Monsters wat negatief getoets het, is deur erge hitte en droogte beïnvloed, wat sonbrandskade veroorsaak het.
Die siekte is in vier provinsies geïsoleer: Vrystaat, Noordwes, Mpumalanga en Limpopo.
V: Is besmette gewasse gevaarlik vir mense of diere?
A: Gewasse wat met Goss-verwelking besmet is en vir graan of veevoer gebruik word, hou geen direkte bedreiging vir mense of diere in nie, aangesien die patogeen slegs plante affekteer. Dit is belangrik om daarop te let dat graan nie die siekte oordra nie. Terwyl saad ’n rol in siekteoordrag speel omdat dit plante laat voortplant, word graan geoes vir verbruik en word dit nie gewoonlik as saad gebruik nie.
V: Watter rol speel die stuurkomitee in die hantering van Goss-verwelking?
A: Die stuurkomitee, onder leiding van kenners van die DoA, Graan SA, SANSOR, saadmaatskappye en die navorsingsgemeenskap, is gestig om Goss-verwelking in Suid-Afrika te beoordeel en te bestuur. Belangrike uitkomste sluit in:
- Bevestiging van die teenwoordigheid van Goss-verwelking deur amptelike monsterneming.
- Uitvoering van ‘n plaagrisiko-ontleding (PRA) om die invoer van besmette saad en plantmateriaal te beperk.
- Melding van die uitbreking by die Internasionale Plantbeskermingskonvensie (IPPC) vir nakoming van billike handelsregulasies.
- Beplanning van ‘n opname in die 2024/2025-seisoen om die voorkoms en verspreiding van die siekte te bepaal.
V: Watter kommer het in Suid-Afrika ontstaan ná die bevestiging van Goss-verwelking?
A: Die teenwoordigheid van Goss-verwelking het kommer onder boerderygemeenskappe en handelsvennote veroorsaak. Botswana en Namibië het handelbeperkings op Suid-Afrikaanse mielies ingestel, wat daartoe gelei het dat die Departement van Landbou amptelik gereageer het. Deur die siekte wetenskaplik te verduidelik en só te verdedig, kon Botswana en Namibië die verbod binne ‘n week ophef. Daarbenewens word ‘n wetenskaplike artikel voorberei om bewusmaking en bestuurstrategieë plaaslik te verbeter.
V: Watter bestuurspraktyke kan mielieprodusente implementeer om Goss-verwelking te beheer?
A: Aangesien voorkoming noodsaaklik is, ontwikkel die LNR-Graangewasse ‘n bestuurstrategie vir Goss-verwelking. Aanbevole praktyke sluit in:
- Voorkoming of vermyding: Maak toerusting deeglik skoon en oes besmette lande laaste om verspreiding te minimaliseer.
- Vermindering van besmette plantreste en gasheerplante: Beoefen wisselbou met niegasheergewasse soos sojabone, en gebruik diep bewerking om besmette plantreste te verminder.
- Weerstandbiedende basters: Kies mieliebasters wat weerstandig is teen Goss-verwelking (moontlike weerstandsindeks in SA ontwikkel).
- Chemiese beheer: Geen doeltreffende chemiese behandelings is tans beskikbaar nie.
- Bestuur van grasonkruid, aangesien dit alternatiewe gashere kan wees.
V: Wat moet produsente doen as hulle Goss-verwelking vermoed?
A: Produsente wat onbekende simptome opmerk, moet Graan SA kontak om in kontak met diagnostiese klinieke gebring te word. Hierdie klinieke kan akkurate siekte-identifikasie en verdere riglyne vir bestuur verskaf.
Deur hierdie strategieë te volg en op hoogte te bly van die stuurkomitee-inisiatiewe, kan Suid-Afrikaanse mielieprodusente die impak van Goss-verwelking beperk en volhoubare landboupraktyke verseker vir die toekoms.
Vir meer inligting, kontak dr Godfrey Kgatle (navorsingskoördineerder by Graan SA) by 079 489 5966 of godfrey@grainsa.co.za.