Beheer van winteronkruide in somersaaigebiede

Gepubliseer: 1 Maart 2023

507
Dr Maryke Craven, LNR-Graangewasse, Potchefstroom

Produsente sal saamstem dat wanneer dit by onkruide kom, daar nooit op die louere gerus kan word nie. Vir somergewasprodusente is dit binnekort weer tyd om aan winteronkruide aandag te gee.

Eenjarige winteronkruide is onkruide wat gedurende die herfs ontkiem en in die winter semidormant is. In die lente blom en produseer hierdie onkruide saad en sterf dan gedurende die somer af. Skraalhans (Conyza spp), radiatorbossie (Senecio consaguineus) en witblombloudissel (Argemone ochroleuca) is algemene voorbeelde van eenjarige winterbreëblaar­onkruide (Foto 1). Winteronkruide word normaalweg baie maklik deur vlak bewerking beheer, maar met minimumbewerking wat deur al hoe meer produsente toegepas word, is die beheer van hierdie onkruide ’n groter uitdaging.

Foto 1: Bloeiwyse van kleinskraalhans (A), radiatorbossie (B) en witblombloudissel (C).

Die beheer van winteronkruide is egter belangrik, ongeag watter bewerkingspraktyk gevolg word. Winteronkruide is goed aangepas by wintertoestande en het dus die vermoë om groot hoeveelhede water gedurende hul leeftyd te benut. In die lente is reënval normaalweg beperk en winteronkruide sal dan aanhou om die grond in so ’n mate uit te droog dat die ontkieming van gewasse vertraag word. In gebiede waar die winteronkruidpopulasies dig is, sal ’n gewas besonder stadig of glad nie opkom nie. Die plant, maar veral die saad van witblombloudissel, is boonop giftig, wat die beheer van hierdie onkruid noodsaak.

Eenjarige winteronkruide kan ook dien as gasheer vir verskeie fungi wat Sclerotinia sclerotiorum (Sclerotinia-stronkvrot van soja­bone) insluit asook vir insekte soos snywurm sowel as nematodes wat ’n negatiewe impak op die opbrengs van die volgende somergewas het. Radiatorbossie het sy naam te danke aan sy vrugte en vrugpluisies wat die verkoelers (radiators) van trekkers verstop, wat tot onnodige herstelkoste en verlies aan tyd lei.

Beheer van onkruide
Soos reeds genoem, kan effektiewe beheer van hierdie winteronkruide bereik word deur vlak bewerking asook onkruiddodertoedie­ning op jonger, kleiner plante gedurende laat Maart of vroeg in April. ’n Herfstoediening van onkruiddoder op veral skraalhanse het groot waarde om hierdie moeilik beheerbare on­kruid in bedwang te bring, grootliks weens die feit dat die onkruide dan nog baie klein is. Aangesien die somergewasse steeds op die lande staan wanneer hierdie onkrui­de begin ontkiem, kan die toediening van ’n onkruiddoder problematies wees. Hoogloop-valarmspuite kan ingespan word waar moontlik, maar produsente met gewone trekkerspuite sal eers na oes ’n bespuiting kan inkry. Wisselbou tussen sojabone en mielies kan egter veroorsaak dat herfsbespuitings ten minste een keer elke twee jaar moontlik is nadat sojabone geoes is.

Onkruiddodertoediening ná April kan daartoe bydra dat onvoldoende beheer verkry word weens die effek wat laer temperature op die plant het. Onkruide groei stadiger onder koue toestande, terwyl hul selwande verdig. Sistemiese onkruiddoders sal dus stadiger opgeneem word en beweeg ook stadiger binne die onkruid. Min inligting is bekend oor die effektiwiteit van verskillende onkruiddoders by laer temperature in Suid-Afrika. Optimale temperature vir die toediening van na-opkomsonkruiddoders wissel tussen 16 °C en 29 °C. Internasionaal word verder slegs melding gemaak dat na-opkomsonkruiddodertoedie­nings vermy moet word waar nagtemperature 4 °C en laer en dagtemperature 10 °C en laer is.

Wanneer dit by die beheer van veral skraalhanse kom, ondersteun wetenskaplike studies by voorkeur die gebruik van glifosaat in mengsels met ander onkruiddoders met verskillende werkings teenoor afwisseling of rotasie van onkruiddoders in die bestuur van weerstands­ontwikkeling. Volgens etiketinstruksies kan 2,4D in kombinasie met glifosaat of 2,4D in kombinasie met atrasien gespuit word. Neem egter kennis van die residuele effek van atrasien op opvolggewasse. Parakwat (nieselektiewe onkruidbeheer) kan ook ingespan word – maak seker dat onkruide volledig benat word (300 ℓ/ha). Radiatorbossie en witblombloudissel kan na oes ook met ’n sistemiese onkruiddoder soos glifosaat of ’n kontakonkruiddoder soos parakwat gespuit word.

Dit bly noodsaaklik dat produsente streng by die aanbevelings op produketikette hou betreffende die spesifieke onkruide wat beheer kan word, die gewas(se) waarvoor die onkruiddoder geregistreer is, die dosisse wat gebruik gaan word en enige nawerking wat die onkruiddoder mag hê. Die goue reël vir effektiewe onkruidbeheer is dat onkruide gespuit moet word terwyl hulle nog klein is. Produsente moet ’n betroubare chemiese adviseur/verteenwoordiger kontak om hulle by te staan om die doeltreffendste onkruiddoder vir hul spesifieke be­hoeftes te kies en om aan te dui watter dosis toegedien moet word. Tabel 1 verskaf ’n opsomming van aktiewe bestanddele wat geregi­streer is vir die beheer van skraalhans, radiatorbossie en witblomblou­dissel onderskeidelik.

Produsente is welkom om dr Craven van LNR-Graangewasse te kontak by 018 299 6346.