Passie vir landbou vind uiting in resultate

Magda du Toit, SA Graan/Grain-medewerker
Gepubliseer: 12 Desember 2022

410

Johann Pistorius bedryf ’n geïntegreerde gemengde boerdery in die Val-omgewing naby Standerton in Mpumalanga. Die uitstekende opbrengste wat hy behaal, skryf hy toe aan die seëninge wat hy ontvang het en ook omdat hy sy passie vir landbou en sy boerdery kan uitleef. “Dit is ’n groot voorreg om elke dag te doen waarvoor ek lief is. Ek beskou ook alles wat ek ontvang as genade.”

Vanjaar het hy nie minder nie as twee rekordopbrengste gele­wer en met ’n eerste en tweede plek weggestap in die Groei vir Goud Nasionale Opbrengskompetisie se afdeling vir droëlandmie­lies wat in die oostelike-Hoëveldstreek verbou word.

Johann het met die inskrywing waarmee hy die eerste plek behaal het, 17,59 t/ha gerealiseer en 17,28 t/ha met sy tweede inskrywing. Beide inskrywings se resultate is behaal met die Pannar-kultivar, PAN 3A-124. “Ek verkies om saam met die natuur te boer en hierdie benadering het my nog nooit in die steek gelaat nie. Die feit dat ons die afgelope seisoen genoeg sonskyn en reën ontvang het, is groot genade van Bo. Hierdie geseënde omstandighede het in my guns getel en my in staat gestel om goeie resultate te bereik.”

Dr Pieter Taljaard, uitvoerende hoofbestuurder van Graan SA, wens Johann geluk met sy rekordopbrengste.

Gewasse kry optimum groeityd
Omdat hitte-eenhede in die begin van die seisoen, veral met planttyd, ’n beperkende faktor kan wees, het Johann sy verbouingstelsel so verfyn dat dit hom in staat stel om vroeg te plant sodat die gewasse die optimum groeityd kan hê.

Die gedeeltes wat vir die kompetisie ingeskryf is, is op 6 Oktober 2021 geplant en op 6 Junie 2022 gestroop. “Vanjaar se reënval was wispelturig en het gewissel van maande met goeie neerslag tot maande waar ons bogemiddelde en selfs ook ondergemiddelde reënval beleef het.” Op die land wat ingeskryf is vir die kompetisie, het hy 700 mm reën deur die loop van die plant­seisoen ontvang, terwyl hulle gemiddelde neerslag op lang termyn tussen 580 mm en 650 mm per jaar beloop.

Hy verduidelik dat hulle in April 220 mm reën, in Mei 60 mm, in Junie 30 mm en selfs in Julie steeds reën ontvang het. Dié nat seisoen was dan ook die oorsaak van Johann se grootste uitdagings. “Die wipplankseisoen het beplanning en werk moeilik gemaak. Ons moes stoei om alles tydig gedoen te kry. Dit was met tye moeilik omdat ’n mens net nie by jou beplanning kon bly nie. Daar was dae wat dit onmoontlik was om in die lande te kom om onkruid te beheer en aan die einde van die seisoen het ons gesukkel om te stroop omdat die lande net te nat was.”

Nougesette bestuur
Johann glo vas aan behoorlike en noukeurige bestuurs- en finansiële rekordhouding. “Rekordhouding is ononderhandelbaar en vorm die basis van alle besluitneming in my boerdery. Noukeurige rekordhouding maak dit maklik om tendense raak te sien, foute op te tel en dit dan dienooreenkomstig te bestuur. Dit help ook om onnodige risiko’s te systap,” sê hy.

Sowat 20 jaar se verwerkte stroopdata word gebruik wanneer hy voorberei vir die volgende jaar se plantseisoen. Hy baseer sy bemesting wat hy variërend toedien asook die plantestand op hierdie stroperdata en die vogstatus van die spesifieke land.

Johann bestuur die grondvrugbaarheid net so nougeset. Hy wys daarop dat die aksies wat hy implementeer om vog te bewaar saam met die gebruik van die nuutste beskikbare presisietegnologie hom in staat stel om sy produktiwiteit op te stoot terwyl hy steeds sy hulpbronne verantwoordelik benut.

Hy is ’n groot voorstander van minimumbewerking en glo dat die meeste vog so bewaar word. “Oesreste wat in ’n verminderdebewerkingstelsel op die bogrond teenwoordig is, bied nie net weerstand teen wind- en watererosie nie, maar bou ook mettertyd die organiese materiaal in die boonste grondlaag op. Dit help met beter grondstruktuur, die tempo van waterinfiltrasie asook vogbewaring in die grond, wat ’n groot pluspunt is – veral aan die begin van die seisoen.”

Belangrike lesse geleer
Goeie onkruidbeheer is ononderhandelbaar, meen Johann. “Deeglike kennis van die onkruide wat in jou lande voorkom asook die onkruiddoders wat nodig is om hierdie onkruid te beheer, is uiters belangrik. Hierdie kennis maak dit moontlik om die korrekte kombinasie onkruiddoders tydig toe te dien.”

“Dit is ook raadsaam om nuwe idees eers op ’n klein skaal te toets. As dit blyk dat die idee meriete inhou op ekonomiese asook bestuursvlak, kan jy dit verder voer en implementeer.” Dit is waarom hy ook proewe op sy plaas doen sodat hy kan sien hoe nuwe tegnologie en nuwe produkte presteer in vergelyking met dit wat tans die standaard is.

Johann sê egter ook dat ’n mens nie bang moet wees om die grense te toets nie. “Leef voluit, geniet jou passie vir boerdery en implementeer nuwe idees.”

Hy waarsku produsente egter om nie halsoorkop te werk te gaan nie. “Alhoewel ek aanhoudend die produksiegrense toets en nuwe doelwitte daarstel, soos onder meer hoër opbrengste, moet die eindresultaat altyd ekonomiese sin maak. Behoorlike beplanning, deeglike navorsing en die basiese finansiële en besigheidsbeginsels bly altyd belangrik, want daarsonder kan geen besigheid of boerdery funksioneer nie. Die goue balans tussen opbrengs en wins moet altyd gehandhaaf word.”

Goeie kommunikasie nodig
Johann glo daarin om nie net te kyk wat in jou boerdery kan verbeter nie, maar ook hoe jy jouself kan laat groei. “Ek sal graag my kommunikasie wil verbeter. Nie net selfoonnetwerke en tegnologie nie, maar ook my eie kommunikasievaardighede sodat ek boodskappe en opdragte beter kan oordra. Soms dink ’n mens dat jy presies gesê het wat jy bedoel, en is dan agterna verbaas omdat daar misverstande was. Ek wil hierdie misverstande uit die weg ruim en so verhoed dat die pap op die grond val omdat ek en my personeel of ek en die insetverskaffers se verteenwoordiger mekaar misverstaan het.”

Ter afsluiting beklemtoon hy dat alles wat hy ontvang en bereik het net deur die Hemelse Vader se genade is. “Al probeer ek alle risiko’s so goed as moontlik bestuur en al spandeer ek baie tyd aan behoorlike beplanning, as die Here nie deel van my boerdery is nie en Hy ons nie seën met sy genade nie, sal ek geen sukses behaal nie. My geloof bly die hoeksteen waarop ek my boerdery en my lewe bou.”

Presisietegnologie stel Johann in staat om sy produktiwiteit te verhoog terwyl hy steeds sy hulpbronne verantwoordelik benut.