Leergierigheid die basis van jongman se sukses

Magda du Toit, SA Graan/Grain-medewerker
Gepubliseer: 12 Desember 2022

547

Corneels (Kokkie) Greyling, wat in die Wakkerstroom-gebied in Mpumalanga op die plaas Bovenvallei boer, het vanjaar die afdeling vir sojabone geproduseer in die oostelike Hoëveld in die Groei vir Goud Nasionale Opbrengskompetisie gewen.

Hy het in 2018 by sy pa op die plaas aangesluit en dit is die eerste keer wat hy aan die opbrengskompetisie deelneem. Hy het nie net die afdeling gewen met die Don Mario-Agricol-variëteit DM 5351RSF nie, maar het die geskiedenisboeke herskryf met ’n nuwe opbrengsrekord van 5,777 t/ha.

Behalwe sojabone, plant hulle ook mielies en boer met beeste en wolmerinoskape. Corneels pas ’n wisselboustelsel in hulle saaiboerdery toe wat oor ’n driejaarsiklus strek. Hulle plant jaarliks twee derdes van die lande met mielies en die laaste derde met sojabone. Van die sojabone word op lande met spilpunte geplant, maar dit word nie besproei nie. Nadat die sojabone op die spilpuntlande gestroop is, plant hulle raaigras op daardie lande. Die beeskalwers word op die raaigras afgerond, terwyl die stoetskaapooie ook op die raaigrasgedeeltes loop tydens lam.

Hoewel hulle ’n paar spilpunte vir aanvullende besproeiing het, word dié net vir mielies en weiding gebruik en is die sojabone onder droëlandtoestande verbou. Die mielie-oesreste word vir ’n tyd deur die beeste en skape bewei, maar daarna werk hulle die oesreste in die lande in.

Die meeste onkruid word meganies beheer. Die eerste bewer­king is wanneer hulle die oesreste inwerk. Wanneer hulle die saadbed voorberei, dien dit dan sommer as ’n tweede meganiese bewerking wat onkruid beheer. Corneels sê dat hy egter ook met plant ’n vooropkomsonkruiddoder sal spuit. Daarna hou hulle die lande dop, maar sal gewoonlik weer op ongeveer ses weke na plant ’n glifosaatbespuiting doen. Swam- en insekdoders sal in tenkmengsels saam met ander chemiese produkte toegedien word wanneer nodig gedurende die seisoen.

“Dit bly belangrik om in die lande te wees om te kyk wat aangaan sodat jy betyds enige probleme kan waarneem en dan reg­stellende stappe kan doen.”

Corneels ontvang die toekenning vir sojabone geproduseer in die oostelike Hoëveld. Derek Mathews, voorsitter van Graan SA, wens hom geluk.

Goed verspreide reën
Hulle het op 10 Oktober geplant en was gelukkig dat die seisoen se reën baie goed verspreid oor die hele plantseisoen geval het, sê Corneels. “Hoewel dit ’n nat seisoen was en ons meer as ons langtermyn- gemiddelde reënval ontvang het, was daar darem nie verspoelings nie. Gedurende strooptyd het die nat toestande egter wel ’n paar uitdagings meegebring – dit het ons op die ou einde gedwing om van die mielies op die uiters nat kolle met die hand te laat pluk. Ons kon egter gelukkig die sojabone op die regte tydstip stroop.”

Die graanopbrengs op die gedeelte wat ingeskryf is (uitgewerk volgens opbrengs per reënval), was 6,8 kg graan/mm reën.

Corneels sê hy het op die spesifieke land waar die wenopbrengs behaal is, dieselfde spuit- en produksiepraktyke gevolg as by die res van die sojaboonlande, maar dat hy wel ’n bykomende grondbewerking gedoen het.

“Hier in ons omgewing in die Hoëveld sit ons met ’n vlak kliplaag in die grond. Ek het die vorige seisoen met ’n hommeltuig oor die lande gevlieg en gesien dat daar kolle is waar die gewasse nie na wense ontwikkel het nie. Dit het natuurlik ook ’n invloed op die opbrengs. Die kliplaag veroorsaak nie net swak wortelontwikkeling nie, maar vorm ook ’n keerlaag sodat die reënwater nie goed insypel nie. Wanneer dit hard of baie reën, is daar dan altyd geweldige afloop en verspoelings in die lande.”

Na aanleiding hiervan, verduidelik hy, het hulle net voor die 2021/2022-plantseisoen ’n bykomende grondbewerking gedoen om die kliplaag op te breek. Hulle het ’n Bednar-beitelploeg gebruik om die kliplaag te breek en die grond diep los te maak. “Hierdie bewer­king het ongelooflik goeie resultate gelewer en ons sojaboon­opbrengste het dit gewys.” Die idee is nou om elke jaar die lande waarop die sojabone geplant gaan word, dieselfde behandeling met die beitelploeg te gee.

Die gemiddelde sojaboonopbrengs op die res van die plaas was 4,2 t/ha. Insetkoste vir die gedeelte wat vir die kompetisie ingeskryf is, was R982/ton. “Ons was gelukkig dat ons vroeg kunsmis aangekoop het. Ons is dus nie so geraak deur die prysstygings en onbeskikbaarheid van produkte nie. Ek glo nie ons gaan in die 2022/2023-plantseisoen weer so gelukkig wees nie.”

“Ons neem elke jaar grondmonsters van die lande waar ons die sojabone gaan plant en pas dan ons kunsmistoediening daarvolgens aan. Ons strooi ook kalk uit volgens die behoefte van die land. Kalk is uiters belangrik in ons area waar ons maar suurder grond het en wat ons voortdurend moet moniteer,” sê Corneels.

Sy raad aan medeprodusente – en spesifiek ander jong produ­sente soos hyself – sluit die volgende in:

  • Wees soos ’n spons. “Neem waar wat jy kan en by elke geleent­heid waar jy kan. En wanneer jy iets sien wat vir jou interessant of anders is, vra vrae. Moenie skaam wees nie. Dit is al manier hoe jy gaan uitvind wat ander boere doen en hoe hulle sukses bereik.”
  • Sirkel van kennis. “Omring jouself met mense wat meer weet as jy. Kry vir jou ’n mentor met wie jy kan gesels as jyself nie meer antwoorde het nie.” Corneels sê sy pa is sy mentor en hy kan nie dink hoe hy sou kon boer sonder sy pa se jare van ervaring en kennis tot sy beskikking nie.