Geen rus op dié plaas nie

Magda du Toit, SA Graan/Grain-medewerker
Gepubliseer: 12 Desember 2022

534

Burrie Naudé boer in die Hoopstad-omgewing op die plaas Rusplaas, maar sedert hierdie jong produsent sy hakke in dié plaas se grond ingeskop het, is daar nie veel sprake van rus nie.

Hy het in 2021 onder sy eie naam op Rusplaas begin boer nadat hy vroeër vir agt jaar in diens van sy oom geboer het. ’n Merkwaardige prestasie om dus in die eerste jaar wat hy op sy eie voete staan, met ’n rekordsojaboonopbrengs die kategorie vir sojabone wat op watertafelgrond verbou word, in die Groei vir Goud Nasionale Opbrengskompetisie te wen met ’n opbrengs van 5,85 t/ha. Sy oom is steeds sy mentor en volgens Burrie gaan steek hy nog gereeld kers op by sy vorige werkgewer.

Burrie het die rekordprestasie behaal met die Don Mario-Agricol-variëteit DM 6.8iRR. In totaal het hy 185 ha van dié kultivar geplant met ’n gemiddelde opbrengs van 4,75 t/ha oor al die hektare. Burrie wys daarop dat hy al die hektare presies dieselfde hanteer het, maar voeg by dat die gedeelte wat ingeskryf is, ’n bietjie voordeel getrek het uit meer beskikbare vog.

Sy totale insetkoste was R11 000/ha en as sy variërende koste per ton uitgewerk word, het dit R1 900/ton beloop. “Hoewel opbrengs uiters belangrik is en ’n gerieflike maatstaf is om te kyk of ’n mens die regte ding doen, is dit nie alles nie. Aan die einde van die seisoen is die winsgrens die bepalende faktor,” meen Burrie.

Hy het 585 mm reën in die 2021/2022-plantseisoen ontvang, maar die neerslag was besonder eweredig oor die seisoen versprei. “Ons het elke twee tot drie weke so tussen 20 mm en 50 mm reën ontvang wat sake vergemaklik het.” Op die gedeelte wat ingeskryf is vir die kompetisie, is die opbrengs gemeet aan die reën wat deur die seisoen ontvang is – 9,8 kg graan/mm reën is behaal. Die sojabone is op 26 Oktober 2021 geplant en hy het gedurende die eerste week van Mei 2022 gestroop.

Behalwe sojabone, plant Burrie ook mielies en sonneblom. Verder kombineer hy die gewasboerdery met ’n veekomponent wat uit beeste en skape bestaan. Hy pas wisselbou toe en roteer die gewasse na gelang van die beskikbare vog in die lande.

In hulle omgewing is vog ’n belangrike aspek wat goed bestuur moet word, sê hy. “Ek sorg dat my voorafbewerkings vroegtydig gedoen word sodat ek nie onnodige vogverlies het nie. Voor planttyd neem ek grondvoglesings en my wisselboustelsel en kunsmistoedie­ning word dan finaal op hierdie inligting gebaseer. Hoewel ek mik na ’n derde elk tussen mielies, sojabone en sonneblom, gee die beskikbare grondvog voor die plantseisoen die finale deurslag.”

Burrie het die kategorie vir sojabone op watertafelgrond in die Groei vir Goud Nasionale Opbrengskompetisie met ’n opbrengs van 5,85 t/ha gewen.

Klimaatuitdagings so bestuur
“Die afgelope seisoen het die reën ’n paar bykomende uitda­gings voor ons deur gelê. Ons het gesukkel om in die lande te kom om on­kruid te beheer en moes lugbespuitings doen wat natuurlik duurder is as waarvoor ons beplan het. Met strooptyd het ons ook steeds ge­sukkel om in sekere lande te kom.”

Benewens vog, is die wind ’n uitdaging wat soms kopsere besorg. “Die wind kan sekere tye van die jaar erg waai. As dit met planttyd waai, kan dit ’n korslaag op die land veroorsaak wat ons verplig om te rol. Na opkoms kan die wind ook groot skade aan jong plantjies aanrig.” Om dié uitdaging te bestuur, maak hy seker dat hy genoeg oesreste op die land laat na stroop. Die beeste en skape wat na stroop op die oesreste wei, word na ongeveer ’n maand van die lande afgehaal sodat hy sy eerste bewerking kan doen asook algehele onkruidbeheer met glifosaat. Burrie pas ’n spoorverkeerstelsel toe en doen strookbewerkings.

“Die plantreste wat op die land gelaat word, help om die bogrond te bind en dra daartoe by dat dit nie wegwaai nie. Ek kom ook agter dat die grondgesondheid en -struktuur stelselmatig besig is om te verbeter. Die verminderde bewerkings wat ek toepas, spaar dus nie net diesel nie, maar is ook goed vir die grond,” sê hy.

Omdat vogbestuur so belangrik is, is dit ook nodig dat onkruid betyds beheer word. Hy spuit glifosaat voor plant en sal dan met of net na plant ’n bespuiting doen met ’n metolachloor, asetochloor, triasien, terbutielasien of atrasien gekombineer met ’n middel om snywurms te beheer. Indien die onkruiddruk baie hoog is vyf weke na plant, sal hy nog ’n glifosaatbespuiting doen. Hy sal ook deur die loop van die seisoen die lande fynkam vir vreetskade van bolwurm of stronkboorders en indien nodig weer ’n bespuiting doen.

Wat proewe betref, meen Burrie dat daar ander mense is wat dit beter en meer wetenskaplik as hy aanpak. Daarom steun hy op maatskappye, studiegroepe en bure in die omgewing se proewe en proefresultate.

Tog is meting vir hom van uiterste belang. “Hoe meer jy meet, hoe meer weet jy,” verduidelik hy. “Ek sal baie graag so gou as moontlik meer presisietegnologie wil toepas, veral variërende kunsmistoediening. Dit is een van my boerderydoelwitte.”

Burrie se raad aan ander jong produsente is dat hulle in hulleself moet glo. “Woorde het krag en daarom moet ons omsigtig wees met wat ons spreek. Dit wat jy heeldag vir jouself sê en waaroor jy droom of bekommer, word dikwels die realiteit waarbinne jy leef. Drome alleen is egter nie genoeg nie – harde werk bring sukses. Ek glo daaraan om te doen wat jou hand vind om te doen en so kan jy met tyd nader aan jou drome beweeg.”