Deeglikheid bring dubbelgoud

Magda du Toit, SA Graan/Grain-medewerker
Gepubliseer: 12 Desember 2022

498

Met ’n lewensuitkyk dat ’n mens jouself altyd moet druk om beter te presteer, is dit geen wonder dat Japie Breedt van Bapsfontein vanjaar weer die hoogste opbrengs in die Groei vir Goud Nasionale Opbrengskompetisie in die afdeling vir mielies wat verbou word in die sentrale gedeelte van die land behaal het nie.

Benewens die feit dat dit vanjaar die derde keer is wat hy dié besondere prestasie behaal, het hy ook op die hoogste sport op die wenpodium gestaan met ’n rekordopbrengs vir sojabone verbou in die sentrale gedeelte van Suid-Afrika. Japie se prestasies hou egter nie daar op nie. Hy het ook die derde posisie beklee in die afdeling vir mielies wat onder besproeiing verbou word, met ’n opbrengs van 19,848 t/ha.

Op die plaas Bronkhorstfontein naby Bapsfontein wat hy by sy pa huur, het Japie vanjaar weer die 15 t/ha-merk oorskry met die Dekalb-baster, DKC 64-54BR. Die vorige seisoen was daar sojabone op dié land en sy opbrengs was 15,189 t/ha. Hy het 5,34 t/ha gestroop met ’n sojaboonvariëteit van Agri Seed Technology, RA 565.

Gewasbestuur
Japie plant vroeg in die seisoen wanneer die grondvog voldoende en die grondtemperatuur bo 10 ˚C is. Benewens mielies, plant hy ook sojabone op droëland en aartappels onder aanvullende besproeiing. Sy mielies verteenwoordig 60% van die aanplantings, met aartappels 4% en sojabone 36%. Die gemiddelde mielie-opbrengs op die plaas is rondom 13 t/ha. Hy plant verskillende mieliekultivars om plant- en strooptye te bestuur en risiko te versprei. Die sojabone werk vir Japie goed in die wisselbousisteem, want dit plaas stikstof terug in die grond wat voordelig is vir die ander gewasse.

Hy meet sy vog en die uitwerking daarvan op die gewasse nou­keurig. Die totale reënval vir die 2021/2022-seisoen was hoër as die vorige seisoene en as dit verwerk word na graan per beskikbare vog, was die mielie-opbrengs 13,5 kg/mm reën. Op sojabone het hy 6,2 kg/mm reën gerealiseer.

Japie se insetkoste was R801/ton vir die mielies wat vir die opbrengskompetisie ingeskryf is. Volgens hom is die insetkoste vir hierdie baster so effens meer as die ander wat hy plant omdat die saad duurder is, maar hy is steeds tevrede dat die insetkoste in lyn is met sy beplanning. “Aan die einde van die seisoen pluk ek weer die vrugte met opbrengs en is die wins die deurslaggewende faktor.”

Sy duurste inset is kunsmis. Hy meen winsgewendheid kan bestuur word deur op die regte tyd te bemark en daarvoor is kennis van die mark en die bewegings wat die graanpryse maak, deur­slaggewend. Die insetkoste vir die sojabone wat vir die kompetisie ingeskryf is, was R1 217/ton.

Japie plant stapelgeenmielies met die oog op die beheer van stronkboorders. Hy plant Roundup Ready-sojabone en glifosaat word slegs op die sojaboonlande gespuit. Middels met ander metodes van werking word op die mielies gebruik om onkruidweerstand te bestuur. Japie maak op Syngenta se onkruidbeheerpakket staat om die onkruid op die lande te beheer.

Hy verbou geelmielies en sojabone op ’n 50/50-wisselboubeginsel. Hy plant hoofsaaklik droëlandmielies, maar het so 75 ha onder besproeiing. Verder verbou hy 55 ha sojabone onder besproeiing vir saadproduksie vir die saadmaatskappy Agri Seed Technology in Delmas. Hy het ook aartappels op ’n spilpuntland wat hy elke vyf jaar wissel om grondgedraagde siektes te bestuur.

Japie Breedt ontvang sy toekenning van dr Pieter Taljaard, uitvoerende hoofbestuurder van Graan SA, by die Groei vir Goud-geleentheid.

Geskoei op presisie
Japie is ten volle toegespits op presisieboerdery – elke aspek van die boerdery word gemeet. “Alles wat ek in my boerdery doen, is geskoei op presisie. Ek glo vas daaraan om alles te meet en deeglik in praktyk uit te voer. In boerdery gaan alles oor presisie en tydsberekening. In ’n plant se fisiologie gebeur sekere dinge op sekere tye en daarom soek die plant sekere dinge op spesifieke tye. As daar nie genoeg vog of voedingstowwe op sekere kritieke stadiums in die plant se ontwikkeling is nie, kan dit nie optimaal ontwikkel nie,” sê hy.

Die inligting wat deur die jare bymekaar gemaak is, word op een platform verwerk in ’n bestuurstelsel vir die boerdery. Hy gebruik die Fieldview-program van Climate Corporation, ’n afdeling van Bayer, asook Precision Planting se presisietoerusting. Hy dien kunsmis en kalk variërend toe en plant ook ’n variërende plantestand. Hy skryf self die variërende kaarte. “Data wat omgeskakel is in bruikbare inligting is van kritieke belang. ’n Mens kan geen aspek van ’n boerdery, hetsy dit bemar­king, produksie of finansiële bestuur is, afskeep deur met onvoldoende of verkeerde data te werk nie.”

Sy raad aan ander produsente is dat dit die moeite werd is om in goeie presisietoerusting te belê. “Dit wat op die lang duur verloor word deur nie die toerusting aan te skaf en te gebruik nie, is veel meer as die aanvanklike koste van die be­legging. Presisietoerusting is ’n be­legging in jou boerdery. Verkeerde en onnoukeurige toedie­ning van bemesting bring onnodige addisionele koste mee wat eintlik as ’n verlies bereken moet word. Ek glo vas daaraan om in goeie praktyke, toerusting en tegnologie te investeer.”

Japie glo ook aan proewe om nuwe kultivars en praktyke te toets. Hy kry baie van die inligting waarop hy vertrou uit sy eie proewe en eie navorsing, maar ook uit ver­al Amerikaanse mediabronne. Hy plant proewe met die Fieldview-toepassing om verskillende plante­stande en kunsmistoedienings te ondersoek en om te bepaal wat die uitwerking van die hoeveelheid kunsmis, tyd van bemesting, die metode asook plek van toediening op die gewas is. “Hierdie inligting is deurslaggewend om te bepaal wat die optimum toedieningsvlak en -metode is vir die winsgewendste opbrengs.”

Al die grond is gekarteer en Japie doen jaarlikse grondontle­dings. Die bemesting word na gelang van die resultate uitgewerk en kalium en kalk word dan variërend toegedien. Voor plant strooi Japie hoendermis op die lande waar hy mielies gaan plant en kalium op die lande waar hy sojabone gaan plant.

Aan die begin van die seisoen word bemesting volgens die opbrengspotensiaal van ’n spesifieke land en die kultivar wat op daardie land geplant gaan word, bepaal. Afhangende daarvan, wissel die bemes­tingspeile tussen 7 t/ha en 12 t/ha. Blaaront­ledings word elke twee weke gedoen en bemesting of blaarvoeding word daarvolgens aangepas en toegedien. Hy hou sy grond se pH op ’n gemiddeld van 6.

Kennis van jou plaas en grond is noodsaaklik, meen Japie. Hy sê daar is dele op sy plaas wat baie maklik versuip. Daar het hy dreineringslote aangebring wat hy goed in stand hou. Deur so vroeg as moontlik te plant, bestuur hy ook hierdie risiko. “Voor ek plant, neem ek die beskikbare vog en grondtemperatuur in ag, maar vroeë plantdatums en goeie gronddreinering is twee staatmakerpraktyke wat ek gebruik om versuiplande te bestuur.”

Vanjaar se besondere uitdaging was die reën. “Hoewel ’n mens alles in jou boerdery na die beste van jou vermoë beplan en bestuur, is daar sekere dinge waaraan jy niks kan doen as dit gebeur nie. Te veel of te min reën asook hael is van daardie dinge.”

Raadpleeg kundiges
Hy meen dit is belangrik om die regte kundiges op elke vlak van die boerdery te identifiseer en om hulle kundigheid te tap. Hy maak ruimskoots van kundiges se kennis gebruik omdat hy meen dat hy nie oor al die kennis vir suksesvolle, intensiewe boerdery beskik nie. Hy volg verskeie mediaplatforms en bestudeer daardeur verbouings­praktyke van sojaboon- en mielieprodusente in veral die VSA. Hy evalueer hulle manier van boer en kyk hoe hy van die metodes in sy boerdery kan toepas. Hy het nie ’n spesifieke mentor nie, maar sê hy lees graag wat Randy Dowdy van die VSA doen en baseer van sy praktyke daarop. “My sukses is 100% aan ander mense se ondervinding en kennis gekoppel.”

Sy raad aan jong produsente sou wees om boerderymetodes en -praktyke aan te pas by moderne tegnologie om die maksimum voordeel te behaal. Daarmee saam, meen hy, is dit uiters belang­rik om behoorlike data in te samel en dit deeglik te bestudeer, te ontleed en te verwerk sodat die inligting weer in die boerdery toegepas kan word. “Data is een van die belangrikste faktore in die boerdery, hetsy in bemarking, algemene boerdery- of finansiële bestuur. Alles gaan oor data en die toepassing daarvan. Plant proewe en vergelyk die data met mekaar.”

Japie sluit af met die wyse woorde: “Daar is nie wondermiddels in boerdery nie. Sukses word behaal deur die basiese dinge reg te doen. Eers wanneer jy die basiese dinge reg doen, kan jy voortbou en tegnologie inspan om jou lewe makliker te maak.”