Gaan só te werk met mengsel van dekgewasse

Gepubliseer: 4 November 2022

916
Murray Grobler,
HUB, Holistivate

Dekgewasmengsels word hoofsaaklik saamgestel uit ’n kombinasie van gewasse om ’n sekere doel en funksie in en op die grond te verrig. Dit is daarom belangrik dat dekgewasse nie as ’n standaardmengsel aangekoop word nie, maar dat elke spesie intensioneel gekies word vir ’n spesifieke rol in ’n mengsel.

Sekere spesies gaan in ’n spesifieke area presteer en ander weer glad nie. Dat grondgesondheid ’n kerndoelwit vir die samestelling van ’n mengsel moet wees, is ’n gegewe, maar daar kan natuurlik ook ander redes wees vir die insluiting van sekere spesies. Dit sluit in die gaping in rotasie tussen kontantgewasse, die soort vee wat die dekgewas gaan bewei, die benuttingstydperk, die kontantgewas wat voor en na die dekgewas geplant is of geplant gaan word, siekte- of grondekologiestatus, die hoeveelheid blomme wat verlang word vir bestuiwers, asook of dit op droëland of onder besproeiing is.

Mengsels bestaan hoofsaaklik uit vier komponente, naamlik grasse, peulgewasse, brassicas en bestuiwergewasse. Onder volg ’n bespreking rakende die rol en doel van die algemeenste somer- sowel as wintergewasse wat in eenjarige dekgewasmengsels gebruik kan word.

Gewasse vir gebruik in eenjarige somerdekgewasse
Grasse
Sorghums: Sorghums is deel van die graskomponent van ’n somerdekgewasmengsel wat groot hoeveelhede materiaal produseer vir weiding en grondbedekking met sterk wortelstelsels. Voersorghums wat bestaan uit Sudan-tipes (soos Bargrazer) en soetsorghumtipes (soos Barsweet) word verkies bo graansorghums as gevolg van beter biomassaproduksie en weidingswaarde. Sekere Sudan-tipes, byvoorbeeld Bargrazer, is ’n goeie niegasheerspesie vir wortelvretende aalwurms wat dikwels ’n probleem is as gevolg van ’n grondekologiewanbalans. Sorghums kan moontlik lei tot blou­suurvergiftiging indien die plante onder stres verkeer, maar die risiko word wel beperk deur die gewasse in ’n mengsel in te sluit waarvan dit slegs een komponent is.

Babala: Pearl millet of babala, soos die meeste mense dit ken, is ook deel van die graskomponent van ’n dekgewasmengsel. Dit het goeie biomassaproduksie, maar minder as die van die meeste sorghums en hou geen blousuurgevaar in nie. Babala het ’n sterk wortelstelsel en as gevolg daarvan ’n positiewe effek op grondgesondheid.

Basterbabala: Hybrid millet of basterbabala, soos Barenbrug se Nutrifast, het ’n diep wortelstelsel en ’n langer groeiseisoen en het daarom beter hergroei as ’n gewone babala. Die basterbabala maak ook ’n groot pol met baie blare van onder af. Die regte variëteit is belangrik, aangesien daar wel variëteite is wat redelik goedkoop is, maar nie die bogenoemde eienskappe het nie en meer met ’n gewone babala vergelyk.

Peulgewasse
Dolichosbone: Dolichosbone of lablab is ’n tweejarige peulgewas wat meestal gebruik word as ’n eenjarige gewas. Soos an­der peulgewasse bind dit atmosferiese stikstof deur middel van Rhizobium-bakterieë in ’n simbiotiese verhouding met die plant se wortelstelsel. Dit het ’n lang groeitydperk en sal aanhou groei tot die winterkoue die plant uiteindelik termineer. Variëteite, waarvan die bekendste Highworth en Rongai is, se groeityd verskil ook van mekaar. Highworth is ’n korter groeier, teenoor Rongai wat ’n langer groeier is. Dolichosbone het die vermoë om baie materiaal te produseer met ’n hoë verteerbaarheid.

Akkerbone: Akkerbone is ook ’n eenjarige peulgewas wat atmosferiese stikstof bind nes dolichosbone. Daar is verskillende tipes met verskillende groeiwyses, byvoorbeeld rankertipes (soos Betswit), regop groei­ers (soos Dr Saunders) en semiregop tipes (soos Glenda). Die spesifieke plantbehoefte gaan die akkerboonvariëteit bepaal. Akkerbone het ’n goeie weidings­waarde en opbrengs as ’n hoëproteïen­gewas.

Sonhennop: Sonhennop is ’n eenjarige peulgewas wat stikstof in die grond bind en dit is ’n swak gasheer vir sekere nematodes. Dit het ’n regop groeiwyse met ’n gemiddelde opbrengs in vergelyking met akkerbone en dolichosbone. ’n Voordeel van sonhennop is sy geel blommetjie wat help om pre­datoriese insekte na die land te lok.

Soetklawer: Soetklawer (Melilotus alba) is ’n kortlewende, meerjarige peulgewas wat maklik vestig en stikstof in die grond fikseer. Die gewas het ’n diep en sterk wortelstelsel en werk goed in eenjarige sowel as meerjarige mengsels. Soetklawer het ook blomme wat predatoriese insekte en heuningbye lok.

Barenbrug se Barpower-voerrog is ’n wintergras met goeie weidingswaarde.
Sonhennop het ’n regop groeiwyse met ’n gemiddelde opbrengs.
’n Somerdekgewasmengsel.
Dolichosbone is ’n peulgewas met die vermoë om baie materiaal te produseer.

Brassicas
Voerrape: Voerrape (soos Interval) is ’n brassica met ’n sterk wortelstelsel en goeie blaarproduksie. Die diep wortelstelsel los heel­wat kanale in die grond met goeie blaarproduksie vir weiding.

Knolrape: Knolrape (turnips) is knolgewasse wat dien as myners van fosfate, stikstof en swael en van die voedingstowwe vashou in die grond om weer later vry te stel vir volgende gewasse. Dit is belangrik om ’n somervariëteit, byvoorbeeld Barkant, hier te gebruik.

Radyse en ripperradyse: Japannese radyse (soos Nooitgedacht) is ’n groot knolgewas wat ook fosfate, stikstof en swael in die grond vashou en weer beskikbaar stel vir volgende gewasse. Ripperradyse (soos Daikon en Mino Early) is ’n lang knolgewas wat diep kanale in die grond los met dieselfde eienskappe van nutriëntberging en -vrystelling.

Bestuiwers en ander
Bokwiet: Bokwiet is ’n breëblaargraangewas wat nie glutenproteïen bevat nie. Dit het die vermoë om voedingstowwe soos fosfate uit die grond te onttrek en beskikbaar te stel. Die gewas het ’n wit blommetjie wat predatoriese insekte en heuningbye lok en tel as een van die top- nektarproduserende gewasse vir heuningproduksie.

Marigold: Marigold of Afrikanertjies is ’n blomgewas wat predatoriese insekte lok en ’n chemiese stof afskei wat ’n onderdrukkende effek op plantparasitiese nematodes het.

Sonneblom: Sonneblomme het ’n diep penwortelstelsel en lok predatoriese insekte asook heuningbye na die land toe.

Gewasse vir gebruik in eenjarige winterdekgewasse
Grasse/kleingrane
Hawer: Hawer is een van die grasgewasse in dekgewasmengsels met verskillende variëteite wat hoofsaaklik in twee kategorieë val: swart- en withawer. Hawer het oor die algemeen ’n sterk wortelstelsel met goeie grondgesondheidseienskappe. Variëteite verskil in groeityd, asook tussen winter- en lentetipes, met Wizard wat ’n goeie medium­lengtegroeier is. Swarthawer (Saia-hawer) is ’n goeie niegasheer vir heelwat wortelvretende aalwurmspesies en het ’n sterk en diep wortelstelsel. Dit is een van die grasse in ’n winterdekgewasmengsel wat van die meeste biomassa gee. Swarthawer beskik ook oor goeie onkruid­onderdrukkingseienskappe.

Voerrog: Voerrog (soos Barpower) is ’n wintergras wat bekend is vir sy vermoë om in koue toestande te groei met goeie weidings­waarde in dié tyd. Die gewas het ’n goeie wortelstelsel en maak ’n redelike pol met baie spruite van onder. Variëteite verskil in groeityd en produksie. Voerrog help ook met onkruidonderdrukking.

Korog: Korog (soos US 2019) is ’n wintergras wat bekend is vir sy vermoë om in koue toestande te groei met goeie weidings­waarde in dié tyd. Die gewas het ’n goeie wortelstelsel en is effens korter as voerrog. Korog kan marginale gronde met fosfaattekorte, lae pH’s, natheid en ’n hoë siektedruk beter as die meeste ander kleingrane verdra. Variëteite verskil in groeityd en produksie.

Voergars: Gars is ook besonder aktief in die winter en kan koel toestande goed hanteer. Die gewas het goeie weidingswaarde, veral vir vroeë benutting deur skape. Daar is variëteite (soos Moby) wat baardlose pluime het vir beter benutting deur kleinvee.

Raaigras: Eenjarige raaigrasse kan opgedeel word in Westerwold-tipes (soos Ribeye of Maximus) en Italiaanse tipes (soos Tabu Plus en Barmultra II). Dit word in die noorde van die land slegs onder besproeiing of in hoëreënvalareas in winterdekgewasmengsels gebruik. Raaigras het uitstekende weidingswaarde en kwaliteit en kan die tydperk van beweiding verleng tot in die vroeë somer waar Westerwold-raaigras tot en met einde Oktober produseer en Italiaanse raaigras tot so lank as einde November. Daar is ook baster- en meerjarige raaigrasse wat in langer groeiende rotasies en onder besproeiing gebruik kan word.

Peulgewasse
Voererte: Voererte (soos Arvika) is hoogs winteraktiewe eenjarige peulgewasse met ’n goeie weidingswaarde wat atmosferiese stikstof bind. Voererte gebruik ook dikwels die struktuur van kleingrane om op te rank en maak blommetjies vir predatoriese insekte. Voererte het nie ’n goeie hergroei nie, so benutting is hoofsaaklik eenmalig.

Fababone: Fababone is ’n hoë groeiende peulgewas wat stikstof vaslê met ’n goed ontwikkelde penwortel en maak ook blomme wat predatoriese insekte lok.

Lupiene: Lupiene is ’n winteraktiewe peulgewas wat ook atmosferiese stikstof bind. Daar is bitter- en soetlupienvariëteite waarvan bitterlupiene (soos Azuro) meer algemeen in die noorde beskikbaar is. Bitterlupiene is nie smaaklik vir beweiding nie, maar word hoofsaaklik gebruik vir stikstofbinding en diversiteit. Die gewas maak ook blomme wat insekte lok.

Gewone en weiwieke: Gewone wieke is ’n vinnig groeiende gewas met ’n redelik regop rank wat na bo groei met goeie weidings­waarde en stikstofbindingseienskappe. Weiwieke, soos Barenbrug se Haymaker Plus en Namoi, is ’n geharde winterpeulgewas wat baie stikstof bind en goeie biomassa as weiding produseer. Die proteïeninhoud en vertering van die gewas is hoog en dit is aangepas by ’n wye reeks van temperature. Die pers blommetjies lok ook voordelige insekte.

Serradella: Serradella, byvoorbeeld Emena (pienk), is ’n winterpeulgewas wat goed aangepas is vir goed gedreineerde laevrugbaarheidsandgrond met lae pH-vlakke. Die gewas het ’n regop
groeiwyse met ’n diep penwortel.

Klawers: Klawers is peulgewasse wat uiters goeie stikstofbindende eienskappe het met ’n hoë weidingswaarde. Dit is geskik vir besproeiing of areas waar vog nie ’n beperkende faktor is nie. Daar is verskillende variëteite en tipe klawers wat wissel van eenjarig (byvoorbeeld Crimson en Persiese klawer) tot meerjarig (byvoorbeeld wit- en rooi­klawer). Klawers produseer fitoëstrogene waarvoor skape veral sensitief kan wees, maar in mengsels word heelwat van die nadelige eienskappe gebalanseer deur die diversiteit van gewasse.

Brassicas
Voerrape: Voerrape (soos Interval) word in winterdekgewasse sowel as somerdekgewasse gebruik. Dit het ’n sterk wortelstelsel en goeie blaarproduksie. Die diep wortelstelsel los baie kanale in die grond met goeie blaarproduksie vir weiding.

Knolrape: Knolrape (turnips) is knolgewasse wat dien as myners van fosfate, stikstof en swael en van die voedingstowwe vashou in die grond om weer later vry te stel vir volgende gewasse. Daar is variëteite (soos MPT) wat meer geskik is vir wintermengsels en ander wat meer geskik is vir somermengsels.

Radyse en ripperradyse: Japannese radyse (soos Nooitgedacht) is ’n groot knolgewas wat ook fosfate, stikstof en swael in die grond vashou en weer beskikbaar maak vir volgende gewasse. Ripperradyse (soos Daikon en Mino Early) is ’n lang knolgewas wat diep kanale in die grond los met dieselfde eienskappe van nutriëntberging en -vrystelling. Japannese en ripperradyse word ook in winter- sowel as somermengsels gebruik.

Voerradyse: Voerradyse (soos Cordoba) word spesifiek gebruik in ’n dekgewasmengsel vir hul vermoë om sekere aalwurms te beheer.

Bestuiwers en ander
Phacelia: Phacelia (soos Stala) is ’n blomgewas met ’n hoë nektarwaarde vir heuningproduksie en lok predatoriese insekte na die land. Die gewas is ook effektief om stikstof en kalsium op te neem en weer beskikbaar te stel en het verder ’n positiewe effek teen sekere aalwurms.

Lynsaad: Lynsaad word hoofsaaklik verbou vir die saad se hoë voedingswaarde en omega 3-inhoud, maar is ’n uitstekende gewas wat in die winter blom en is ’n goeie gasheer vir mikorisaswamme wat belangrik is vir ’n gesonde grondekologie. Die blou blommetjies lok ook predatoriese insekte.

Mosterd: Bruin- en witmosterd (soos Scala en Venice) het ’n goeie vermoë om swael en ander nutriënte op te neem en weer vry te stel vir die opvolgende gewasse. Die geel blomme lok ook predatoriese insekte na die land. Mosterd het ’n goeie bioberokingseffek wanneer dit in die grond ingewerk word teen blomstadium wat help met die beheer van siektes en plantparasitiese aalwurms.

Bogenoemde inligting is ’n aanduiding van elke gewas se rol. Kundigheid is nodig om die regte spesies teen die regte verhoudings bymekaar te sit met die spesifieke doel in gedagte.

Murray Grobler is ’n agent vir Barenbrug in die Noordwes/Wes-Vrystaat-streek. Vir meer inligting, kontak hom by 081 038 0282.