Landbou speel groot rol tydens Covid-19-pandemie

Valerie Cilliers, redakteur, SA Graan/Grain
Gepubliseer: 10 Junie 2020

3732

Toe daar op ’n tema vir die 2020 Graan SA Kongres besluit moes word, het niemand geweet hóé relevant “Boere dra by” vir ’n tyd soos hierdie sou wees nie. Die nasionale inperking weens die koronavirus het die potensiaal om tot erge armoede en hongersnood in Suid-Afrikaanse gemeenskappe te lei en produsente wil graag ’n bydrae maak om te help.

Om die werklike impak en omvang van die maatreëls van inperking op die graanwaardeketting te bepaal, dien Graan SA tans op Minister Thoko Didiza se Covid-19-taakspan. “Ons besef dat daar in enige tyd van ekonomiese onsekerheid ’n nóg groter behoefte is om ingelig te wees ten einde goeie besluite te neem ten bate van landbou. Ons leierskap is daarom op verskillende platforms met die regering in gesprek en in samewerking met die Buro vir Voedsel en Landboubeleid (BFAP), word inligting op ’n gereelde basis aan NETJOINTS (ministers wat op nasionale vlak Covid-19-sake hanteer) verskaf,” verduidelik Alzena Gomes, skakelbeampte van Graan SA.

Graan SA het ook van die eerste dag af permitte vir sy lede en hul plaaswerkers, met bewys van hul Graan SA-nommers, uitgereik om te verseker dat produksie (boerdery), verwerking en die verspreiding en verkoop van voedsel steeds voortgaan. Die permitte is opgedateer soos wat maatreëls volgens die verskillende inperkingsvlakke verander het. Daar is ook bystand verleen aan organisasies en verenigings soos die Suid-Afrikaanse Landboumasjinerie-assosiasie (SALMA) om te verseker dat die nodige permitte deur die Departement van Vervoer aan lede verskaf word.

Binne die landboukultuur is dit tweede natuur om skenkings te maak en te help waar nodig is. Vele in Suid-Afrika het al droogtes oorleef deur skenkings van produsente en verskeie rolspelers in landbou wie se passie dit is om voedsel op Suid-Afrikaanse tafels te plaas. Graan SA ontvang sedert die staat van inperking aangekondig is, talle navrae vanaf lede wat graag mielies en ander gewasse aan honger en behoeftige mense wil skenk. Daarom is daar besluit om met verskeie bestaande projekte en ook nuutgevonde inisiatiewe saam te werk om produsente en rolspelers die geleentheid te bied om die voedselnood te verlig.

#PayFoodForward
Die #PayFoodForward-projek is ’n graanskenkingsinisiatief van Grain Care. Dié organisasie is in 2007 deur Unigrain, Grain Carriers en Grain Logistics gestig en NeXgro het in 2020 by die inisiatief aangesluit.

“Grain Care skep ’n omgewing waarin produsente, boere­verenigings, landboubesighede, banke en alle ander rolspelers in die voedselwaardeketting hulle kragte sonder winsbejag kan saamsnoer om in solidariteit stapelvoedsel aan hulpbehoewende gemeenskappe te skenk,” vertel Hennie de Lange, voorsitter van Unigrain.

Om te verseker dat skenkings van individuele noodlenigingsprojekte optimaal aangewend word, is die #PayFoodForward-skenkingstelsel op die been gebring. Deur hierdie kanaal kan produsente die leiding neem om voedselskenkings by behoeftige gemeenskappe uit te kry. Die doelwit van die projek is om meel vir een miljoen etes per maand te skenk – nie net vir Covid-19-nood nie, maar ook vir produsente in droogtegeteisterde gebiede.

Veevoer en voedselprodukte word ingesamel om in behoeftige gemeenskappe uit te deel. Verskeie produsente, finansiële instellings, meulenaars, olieperse en ander verwerkers, groot- en kleinhandelaars, landboubesighede en graanopbergingsmaatskappye, kommoditeitsverhandelaars, insetverskaffers en vervoerkontrakteurs is by die projek betrokke. Enige graan – wit- of geelmielies, sonneblom, sorghum, sojabone, koring of gars – kan vir die projek geskenk word.

Graan SA het onderhandel dat lede wat skenkings maak, kan vra vir ’n Artikel 18A-sertifikaat vir belastingverligting. Die produk wat gelewer word, sal ’n sertifikaat teen markwaarde ontvang.

Kontak Anél Knoetze vir meer inligting deur ’n e-pos te stuur na anel@unigrain.co.za.

Skenk ’n hektaar se opbrengs
In samewerking met Graan SA het Agbiz ’n voedingsprojek, die Agri Value Chain Relief Project, geloods om weerlose en honger gemeenskappe by te staan. Rolspelers binne verskeie landboubedrywe is by die projek betrokke om veral landelike gemeenskappe by te staan. Alle bydraes is vrywillig en behels ’n skenking van droëlandgraan of -oliesade wat op een hektaar verbou is of wat gelykstaande is aan R10 000. Graansilo-eienaars kan ook bydra deur die geskenkte graan te ontvang, te stoor en na meulens te vervoer.

Meulenaars onderneem om die graan gratis te maal en te verpak en dan die semels terug te hou om onkostes gedeeltelik te dek. Lewende hawe kan ook vir dieselfde waarde deur middel van hierdie skema geskenk word.

Landboubesighede tree as agentskappe op om die skenkings met die hulp van liefdadigheidsorganisasies binne gemeenskappe te versprei. OVK gaan byvoorbeeld alle skenkings (enige gewas, vee of geld) omskakel na witmielies en skenkings gaan aan goedgekeurde instansies (voedingskemas, ouetehuise, kinderhuise en ander) geskenk word. VKB is ook by die projek betrokke en verwerkte produkte word deur die regering se Solidariteitsfonds aan behoeftiges versprei. Ander landboubesighede wat deel uitmaak van die Agbiz-projek is Senwes, Afgri, TWK, GWK, BKB Grain en NWK.

Kontak Karen Grobler vir meer inligting deur ’n e-pos te stuur na karen@agbiz.co.za.