Lank, langer, kolskoot

Gepubliseer: 4 Mei 2020
Karina Muller, SA Graan/Grain-medewerker

2049

Langafstandjag is ’n spesialisvertakking van jag wat toenemend in Suid-Afrika veld wen, hoofsaaklik weens die ontwikkeling van tegnologie.

Eugene Harmse, voorsitter van die African Long Range Hunters Association (ALRHA), sê hulle doel is nie om getalle na te jaag nie, maar eerder om aan langafstandjagters die geleentheid te bied om hul passie uit te leef.

ALRHA het in Mei 2013 met ’n handvol lede tot stand gekom. Hul eerste skietdag is in Heilbron met twaalf deelnemers gehou, waarvan vyf op die uitvoerende bestuur was. Tans is daar sowat 60 lede regoor die land. Weens die verspreiding van lede word die vyf jaarlikse skietdae op ’n sentrale plek – die Ballistic Beast-skietbaan in Parys, Vrystaat – gehou.

Gert le Roes van Klerksdorp is ’n Protea-skut en ’n gekwalifiseerde wapensmid wat gewere vir langafstandskiet bou en ombou. Hier is hy met ’n .338-Norma Magnum-geweer wat hy vir ’n lang­afstandskut gebou het. Dié geweer het ’n reikwydte van 1,6 km. Gert se raad aan voornemende langafstandskuts is om die regte kaliber geweer (soos .300-Win Mag, 7mm- of 6.5-PRC) aan te skaf, self te herlaai en gereeld te oefen.

Kennis
Eugene meen die belangrikste element van langafstandskiet is kennis. Dit is ook die maklikste en goedkoopste om te bemeester. Skuts moet eerstens ’n grondige kennis oor herlaai (ammunisie word self gelaai) en interne ballistiek hê. “Behoorlike kennis oor herlaaitegnieke is nie onderhandelbaar nie; ek stel voor ’n voornemende skut woon eers ’n basiese herlaaikursus by.”

Daarbenewens behoort die skut ’n deeglike kennis van trajekte, atmosfeertoestande, die invloed daarvan op die trajek asook windlees te hê.

“Die grootste enkele bate van ’n skut is om die wind reg te kan lees,” beklemtoon Eugene. “Daar is vele hulpmiddels en inligting beskikbaar, maar op die ou end moet jou gevoel vir die wind ingeoefen word. En net wanneer jy dink jy het dit onder die knie, ruk die wind jou seile af en moet jy dit weer inoefen…”

1. Eugene Harmse demonstreer die posisie waaruit langafstandjagters skiet. Heel links op die foto is ’n afstandmeter en daarnaas ’n wind-en weerstasie.
2. ’n Pasgemaakte langafstandgeweer – toegerus met knaldemper en teleskoop en gemonteer op ’n tweepoot en sandsakke – gereed vir skiet. Die ammunisie is in ’n houtkassie om die temperatuur konstant te hou.

Vaardigheid
Langafstandskuts moet vaardig wees in herlaai, aangesien ammunisie self gelaai word om akkuraatheid te verseker.

Tweedens moet hulle sekuur oor ’n lang afstand kan skiet. Hiervoor is die posisie van die hand en wang, snellerbeheer en deurvolg (follow-through) van kardinale belang.

Toerusting
Benewens ’n geweer, is die volgende toerusting noodsaaklik: ammunisie, teleskoop, ballistiese toepassings (daar is heelwat toeps op ’n slimfoon beskikbaar), chronograaf, tweepoot, knaldemper of tromp­remme, afstandmeter, windmeter en weerstasie met ’n opsionele spotting scope.

Kritiek word soms oor die koste van dié sport gelewer, maar Eugene meen dit vergelyk goed met ’n sportsoort soos gholf. “Dit kan baie maklik ’n tjekboeksport raak, maar dit hoef nie.”

Hy meen daar is geen rede waarom ’n toetreder tot hierdie sportsoort nie aanvanklik met ’n doodgewone jag- of teikengeweer kan begin nie. “Mense is dikwels verbaas oor wat hulle met ’n standaardgeweer kan vermag.”

Skietdae
By skietdae kan skuts in drie afdelings deelneem. In die afdeling vir langafstandjagters word daar oor afstande van 400 m tot 1 000 m na staalghonge geskiet en daar is twee lede in ’n span wat mekaar bystaan.

Enkelskuts ding in die Varmint-afdeling oor afstande van 300 m tot 700 m mee. Deelnemers skiet ook na staalghonge.

Die Intro-afdeling is onlangs bygevoeg met die doel om toetreders tot dié sport prakties by te staan. Hulle skiet oor afstande van 300 m tot 700 m, maar ’n ervare langafstandskut help hulle deurentyd met toerusting, posisie en windlees. Die druk van mededinging is nie op skuts in hierdie afdeling nie en dit gee hulle meer selfvertroue in langafstandskiet.

Enigiemand kan aan die skietdae deelneem – ’n mens hoef nie lid van die organisasie te wees nie.

Skakel in
Eugene raai voornemende skuts egter aan om by ’n klub in te skakel wat gereelde skietdae aanbied en waar mense met dieselfde passie byeenkom en mekaar met raad en daad bystaan.

“Dit is sekerlik moontlik om alles op jou eie te bemeester, maar dit is net soveel makliker om saam met mense te skiet wat al skoolgeld betaal het en so vir jou baie onnodige koste en frustrasie kan spaar.”

ALRHA is geaffilieer by die Gauteng Jagtersfederasie met die Konfederasie van Jagtersverenigings in Suid-Afrika as lidliggaam. Mense wat belangstel om aan te sluit of meer inligting verlang, kan met Louis Cronje by lcronje@vodamail.co.za in verbinding tree.