Verhoudings is die sleutel by Haasjeskop Boerdery

Gepubliseer: 25 Februarie 2020

96
Jan Greyling,
SA Graan/Grain
medewerker

2019 Graan SA/Syngenta Graanprodusent van die Jaar.

“Ons aanslag is ‘vra, luister en implementeer’. Vir volhoubaarheid kies ons medewerkers wat bereid is om hul rol in ons avontuur honderd persent en vertroulik vol te staan. Ons fokus is op standhoudende verhoudings met enersdenkende rolspelers. Sonder die mens en die natuur sal daar geen boerdery wees nie. Daarvoor gee ons erkenning.”’

“Dames en here, die 2019 Graan SA/Syngenta Graanprodusent van die Jaar is Haasjeskop Boerdery by Caledon,” weerklink dit deur die ouditorium. Meer as 400 pare hande juig, terwyl die wenners verhoog toe stap.

Volgens die grondeienaar, Tonie Linde (32), was die toekenningsgeleentheid uitstekend georganiseer. “Ek is beïndruk deur die afsonderlike evaluering van boerderye van verskillende groottes en erkenning aan ons vrouens. Die kort grootskermvideo’s oor elke finalis is ongelooflik.”

Tonie Linde (vennoot), Sandi Jonck en Eldridge Mitchell by BDK Ouditeure op Caledon.

“Vir my was die ontmoeting met leiers en medeprodusente asook die stylvolle aanbieding ’n enorme blootstelling. Dit sal maar moeilik beter gedoen kan word!” sê Willie Beukes (53), die plaasbestuurder.

Lede van die voltydse saai- en skaapspan: Adrian Frans, Eduan Lewis, JP Frans, Willie Beukes, Kelvin Swartz en Jannie Swart.

Die pad na erkenning loop vir Haasjeskop, soos die titelakte uit die 1800’s lees, deur geslagte heen terug. “Ek en Willie het maar net die toekenning namens die hele span ontvang. Dit behoort ook aan oupa Kobus en pa Anton, beide nou oorlede, en my ma se neef, ‘oom’ Kobus Wessels. Dit is hulle lesse wat nou blom, nadat hulle die saadjies geplant het.”

Tonie en sy drie susters se pa, Anton, is op 47 oorlede. Sedertdien stap hulle saam om die oorspronklike familieplaas, Eureka en Grootvlei, én hul omliggende grond tot volle potensiaal te boer. Tonie se oupagrootjie, Barend Beukes, het ook relatief jonk weggeval. Sy oupa, Kobus Beukes, moes op 14 inspring en boer. Oupa Kobus, ’n groot mentor vir menige produsent, het in 1988 ‘semi afgetree’. Hy is in 2013 oorlede. Toe pa Anton in September 2005 sterf, was Tonie in matriek.

Haasjeskop Boerdery bestaan uit Grootvlei en Eureka (op die suidwestelike grens van Caledon), Drievlei (oos van Caledon) en Rietfontein op die Boontjieskraalpad. Hulle huur verder Ruigtevlei (agter Shaw se pas) en Steenboksrivier (aan die Bredasdorp-kant van Caledon).

Wisselbou
Haasjeskop se saailande lê uitgestrek oor die Overberg Rûens. Jaarliks saai hulle ongeveer 600 ha koring (SST88, SST0117 en SST0166), 700 ha gars, 300 ha kanola en 100 ha hawer. Buiten vir ’n skamele 28 ha onder spilpunt, word alles op droëland verbou.

“Tradisioneel het ons 350 mm tot 450 mm reën per jaar gekry. Vanjaar was dit net 280 mm, voor die onverwagse laat reëns. Ons het gelukkig ’n serwituut om uit die Badsrivier te pomp vir die 28 ha,” sê Tonie.

Die boerdery floreer op ’n twaalfjaar-wisselbou­stelsel (sewe jaar graan/vyf jaar lusern) – ’n nalatenskap van Kobus Wessels. “Ons plant per kamp in jaar een koring, gevolg deur gars en dan ’n peulgewas soos kanola. Dit word opgevolg deur koring, gars, ’n peulgewas en die sewende jaar word met koring afgesluit, voordat lusern vir vyf jaar volg. Dus soveel as moontlik koring, sonder drie grane na mekaar op dieselfde land, of koring op koring.”

Op marginale grond het hulle begin om koring heeltemal uit te haal. “Ons plant gars op gars. Op hierdie grond het die gars – selfs op die tweede drag – ’n beter opbrengs as koring gelewer. Gars laat ook meer materiaal agter, wat die grond weer vinniger opbou,” deel Tonie.

Willie bevestig dat hulle deurgaans met sowat 5 500 Döhne- en Merino-produksie-ooie boer. “Ons vul die vyf jaar se lusern aan met weihawer of bitter lupiene weihawer, om aan te pas by die aantal vee en risiko te versprei. Die vee is vir ons belangrik. Dit maak ook onkruidbeheer sinvol.” Onproduktiewe grond word deur ’n swart en rooi Angus-kudde van sowat 60 diere benut.

Graanprodusent van die jaar
Haasjeskop Boerdery is deur Richard Krige, streeksverteenwoordiger van Graan SA in die Overberg, benoem. Aanvanklik het Tonie teengeskop. Richard het hulle egter oortuig dat die blootstelling ’n maatstaf vir hul besigheid se gesondheid sou wees. “Soos die proses gevorder het, het ek besef hoe reg hy was.”

Tonie meen Graan SA se vraelys aan deelnemers verdien erkenning. “Met die eerste oogopslag is dit nogal oordonderend. Dit toets egter vir jou, jou besigheid, jou mense, plan en praktyk van alle kante af. Ek onthou vrae oor ons opleiding, stelsels, resultate, besluitneming, drakrag, bemesting, chemie en filosofie oor sleutelsake soos grondhervorming en heelwat ander. Dit vereis dat jy jou beginsels ondersoek en dieper delf. Om ons voortdurend met hierdie beginsels te belyn, het ons besluit om die vraelys voortaan jaarliks te voltooi.”

Na die sifting het Jaco Minnaar en Jozeph du Plessis (beide produsente), Kobus van Zyl (Omnia), Gerrie Ludick (Inteligro), Michael van Rooyen (NWK), Ruan Schutte (Graan SA) en Alzena Gomes (Graan SA) die plaas besoek. “Met goeie insig deur die beoordelaars was die gesprek in ’n goeie gees. Ons en ons antwoorde is deeglik getoets. Ek weet nie hoe die kriteria werk nie, maar het dit beleef as ’n proses met baie integriteit en min subjektiwiteit – waarskynlik slegs tydens nominasie.”

Dit moet, volgens Tonie, moeilik wees om droëland- en besproeiingskandidate met uiteenlopende somer- en wintersaaigewasse objektief teen mekaar op te weeg. Hy hoop dat veral jonger landbouers ook voortaan sal deelneem om hul besighede se potensiaal te meet. Willie sien die beoordeling as ’n geleentheid om “eerlik te wees, dit wat jy reeds doen en neerskryf sinvol te boekstaaf, en tot voordeel van groei te gebruik.”

Haasjeskop boer met sowat 5 500 Döhne- en Merino-produksie-ooie. Die veekomponent is belangrik en maak onkruidbeheer ook sinvol.

“Graan SA, landbouverenigings, Agri Wes-Kaap en Agri SA is noodsaaklik vir elke produsent,” sê Willie as bestuurslid van die Caledon Landbouvereniging. Tonie meld dat hoewel landbou ’n setel in die distriksmunisipaliteit het, hul belange en menings nie in die plaaslike munisipaliteit se besluite wys nie. “Georganiseerde landbou is die landbou se enigste werkende mondstuk by die owerhede. In ons geval speel Overberg Agri ook ’n sleutelrol,” sê hulle.

Só loop die ploegvoor
Tonie vertel dat hulle in 2005 moes besluit of hulle wou verkoop of wou boer. “Ek het voorgestel ons gee dit ’n kans. Oom Kobus het geroepe gevoel om te help. Hy het by Koos Badenhorst, ’n kenner in familie-opvolgboerdery by BDK Ouditeure, aangeklop om saam oor die toekoms te besin.”

Hulle het geadverteer. Willie is uit ’n kortlys van drie sterk kandidate uit die Caledon-omgewing aangestel om oor verloop van tyd saam met Tonie die leisels te neem. Tot in 2012 het Kobus en Manie Geldenhuys dié twee verantwoordbaar help maak.

Sowat 60 rooi en swart Angusse benut marginale grond in Haasjeskop se boerderyplan.

Met meer as 30 jaar se ervaring elk, is Pietie Dramat, Kurkie Jacobs en Fred Lakay die mees ervare plaaspersoneel. Vandag dra hulle hul kennis en vaardighede aan die jongeres oor.

“Sien jy nou die impak van verhoudings met die verlede, die hede en toekoms hier?” vra Tonie.

Hy het op Stellenbosch graad gevang. Daarna het hy en ’n vriend rugsakke gepak en die wêreld gaan ontdek. “Voor sy dood het my pa gesê dat hy my die landboukennis sou gee. Ek moes iets anders gaan studeer. Koos en Ian Herbst het my oortuig om nie as 18-jarige plaas toe te kom nie, maar te hou by my pa se ‘bloudruk’. Ek is dankbaar ek het.”

Tonie het sy wederhelf, Carla, in sy matriekjaar ontmoet. Sy was ’n nooi Van Schoor van Worcester. Hulle is in 2013 getroud. Vandag is sy mamma van hul twee seuns, Antonie (2) en Sebastian (11 maande).

Willie weer is ’n Caledonner in murg en been. Ná sy laerskooljare dáár, is hy Oakdale toe op Riversdal. Na weermagdiens het hy hom op Elsenburg verder in die landbou bekwaam. Hy en Carin se kinders is Johan – in die pakhuisbedryf – en Coeleen – ’n pas gekwalifiseerde veearts. Sy pa en Tonie se oupa was Beukes-neefs.

Grootvlei en Eureka is die oorspronklike familieplaas digby Caledon, beduie Willie hier by sy bakkie.

’n Uitdagende wenjaar
Weens droogte en skade deur buitengewoon laat reën, het Haasjeskop se Graanprodusent van die Jaar-erkenning te midde van uitdagings gekom. “Ons is, volgens die syfers, in 2019 in geheel sowat 40% af. Teenoor ’n normale 750 bale strooi op die kampe wat ons gereeld baal (vanweë hul ligging en brandgevaar), kon ons net 400 afhaal. Opbrengste wat van swakker gehalte was, is in kuilvoer omskep,” sê Willie.

Met ’n BCom Rek-graad en talle lewens- en boerderylesse op sy kerfstok, is Tonie verantwoordelik vir die strategiese visie. Hy bestuur alle kapitale allokasies, geleenthede vir uitbreiding en die besigheid se doeltreffendheid. “As ’n vennoot by BDK Ouditeure op Caledon en Stellenbosch, kan ek met perspektief groeivoorstelle maak en dit met Willie-hulle bespreek. Net een op ’n slag,” skerts hy.

Willie bestuur die dag-tot-dag-beplanning van operasionele take. Ian Herbst gee lank reeds bystand met die kleinvee. Van die ouer, meer ervare plaaspersoneel werk saam met goeie opvolg­kandidate. In twee spanne hanteer hulle, onder Willie se hand, afwisselend die 24/7-graantake. Só is die besigheid ook gedek wanneer werkers nie kan werk nie of weens siekte of dood opgevolg moet word.

Die boerdery
Haasjeskop is gebou op volhoubaarheid en aanspreeklikheid. Tonie wil dit wat hom as 18-jarige toegeval het, in ’n beter, gesonder en standvastige besigheid aan rentmeesters nalaat. “Dit dryf my. Ek is glad nie ’n ou wat sê my kinders moet kom boer nie, maar ons wil die volgende geslag nooit op enige manier indoen nie,” sê Tonie.

Hy verwys na ’n 1968-John Deere 1630 wat hulle vandag nog op die plaas gebruik. “Dit is vir ons opgepas. Oor 30 jaar moet van ons goed nog hier wees en werk. Soos met draadspan moet ons – met alles – elke jaar die regte ding doen. So sal die las om later alles gelyk te moet doen, nie op hulle val nie. Hou ons nie by nie, dan steel ons by die nageslag. Na die afgelope seisoen sien ons hoe ons ’n volhoubaarheidsvoorsprong opgebou het. In die maerder jare mag ons dan maar besteding op infrastruktuur eers weer inperk.”

Tonie sê: “Eerder as om te groot werktuie vir die kleiner take in te span, glo ek jy beplan tydig om die regte energiekoëffisiënt-implement vir die regte werk te gebruik. ’n Mens werk na jou perfekte vloot toe. Ons het kleiner kilowatt-trekkers aangeskaf. So hou ons die grotes gereed vir groot take in kritieke of ‘rooi’ tye soos met ploeg, plant, spuit en oes. Ons probeer byhou met die nuutste tegnologie en om nie meer as 3 500 uur per implement te doen voordat ons met opgradering nuwer tegnologie ontsluit nie. Oorkapitalisering sal nooit die som op die ysters laat klop nie.”

Haasjeskop is gebaseer op volhoubaarheid en aanspreeklikheid. Willie bestuur die operasionele take van dag tot dag.

Oor volhoubare grond sê Willie dat ’n mens nie kan bekostig om vanjaar iets te doen wat volgende jaar probleme bring nie. “Ons doen alles in ons vermoë: minimumbewerking, onkruidbeheer in lusernjare, strooi wat op die lande agterbly as ’n deklaag asook die uiters oordeelkundige, veilige gebruik van chemiese middels. Jy moet nou leef om volgende jaar te láát leef.”

Mensekapitaal
Haasjeskop het 22 permanente werkers. Tot ses tydelike werkers word tydens plant- en oestyd in diens geneem. Hulle werk ook as daar ander tydelike take is. Tonie sê egter dat die onwilligheid van die nuwe generasie om fisies te werk, ’n groot wisseling in tydelike werkers veroorsaak.

Willie en sy span beplan elke oggend saam. “Ons sal nooit iemand se werk vir iemand anders gee om te doen nie. Op die groot masjinerie werk ons met die ‘een drywer-een implement’-beginsel en haal so die beste uit die mense en uit die implemente.”

“As ’n voorkeurwerkgewer in die omgewing sien die besigheid om na die werkers en hul kinders. Ons vergoed – soos Overberg Agri se loonstudie wys – teen óp of bó die gemiddelde loon, maar help ook waar dit noodsaaklik is. Werknemersake word deur die werkerskomitee na bestuur toe opgefilter. Ons bespreek dit maandeliks of soos nodig,” sê Tonie.

Weens sy passie vir optimalisering sien Tonie sy rol by BDK Ouditeure as die beste platform vir kundige insette in die boerdery. “Met landboubesighede as 99% van ons kliënte, is dit hier waar ek perspektief kry en die toekomsprentjie vir Haasjeskop die beste kan ondersteun. Ander mense is baie beter as ek op die lande of tussen die beeste en skaap.”

Klimaat
Tonie beskou klimaatsverandering as die grootste onbestuurbare risiko. “Die res van die graanbedryf se uitdagings, soos die toenemende kosteknyptang en die prysmeganisme, kan ons bestuur met dit wat ons weet. Ons kan dit egter net klop deur beter opbrengs.”

Hy sê planterontwikkeling het die bedryf ’n groot hupstoot gegee vir beter, volhoubare opbrengste. As koringkultivar bly SST88 hier die beste. Ons weet nie noodwendig tot watter mate opbrengste verder verbeter kan word nie. Druk op pryse kan oor tyd tot besparing op agentkoste lei. Binne ons besigheid kan groter effektiwiteit ons bevoordeel, maar die kans vir besparing op insette is min, want ons het nie beheer daaroor nie.”

Onthou
Oor grondhervorming is die 2019 Graan SA/Syngenta Graanprodusent van die Jaar nie besorgd nie. “Die uitdaging is die onsekerheid. As landbouers is ons aanpasbaar. Ons wag vir die spelreëls. Leef en laat leef,” beaam Willie en Tonie.

Tonie groet met ’n stukkie waarheid vir medesaaiprodusente: “Ek is nog jongerig en moet nog baie leer en sien. My pa het my geleer boerdery werk in sewejaarsiklusse, waarvan twee baie goed is en die ander vyf gemiddeld tot moeilik. Niemand weet wanneer die goeies gaan wees nie. Die belangrikste is om gedurende die moeilikes teen die toue te boks met jou hande op, sodat jy gereed bly om vorentoe te gaan wanneer die goeies verby kom. Byt vas. Hande in die lug. Die goeies kom en dan moet ons vorentoe.”

Willie raai produsente en opkomende boere aan om by ouer mense te leer. “Jy kan nie dink dat jy die wêreld gaan verander nie. Daar is mense wat dit reeds gedoen het en dinge wat werk. Basiese dinge kan nie verander nie.”

Hulle beveel aan dat verbruikers die pad van graanprodukte van die plaas na die bord leer verstaan. “Ons sê dankie dat julle ons produkte gebruik. Ons glo egter dat produsente en plaaspersoneel ook bedank moet word vir volhoubare voorsiening van gesonde, bekostigbare kos.”